
Alternatiewe Kommentaar oor "Adolescence"
Ten beste goedbedoelde hiperbool, ten slegste 'n ideologiese gesmous.
Ek het Adolescence gekyk. Ek verstaan die bekoring. Die intense “one-take” filmstyl, die emosionele opbou, die puik toneelspel van Owen Cooper, en natuurlik, die morele kompleksiteit wat deur die skeppers uitgebeeld word as 'n soort kontemporêre tragedie. Dis goeie en vermaaklike televisie. En soos dikwels die geval met fiksie, is die storie, wel, fiktief. En dit is juis hier waar die hele Adolescence-fenomeen – en ek gebruik die woord “fenomeen” met opset – 'n interessante kulturele glips openbaar naamlik die verwarring van uitsonderlike fiksie met algemene realiteit.
Daar is 'n sekere ironie daarin dat Adolescence op hierdie oomblik in die Britse openbare diskoers so sentraal staan dat joernaliste op TV direk parlementariërs uitdaag met vrae soos “Hoekom het jy dit nog nie gekyk nie?” – asof dit 'n burgerlike plig geword het. 'n Onlangse voorbeeld hiervan was toe die BBC Breakfast-aanbieders vir die VK Konserwatiewe Party Leier Kemi Badenoch berispe het oor sy nog nie die reeks gekyk het nie, en die onderhoud derhalwe gebruik het om haar insig of empatie in die twyfel te trek. Verder het die Britse Eerste Minister dit nou aanbeveel (trouens, vriendelik verplig) vir hoërskole om te kyk, asof dit 'n dokumentêre verklaring van 'n maatskaplike epidemie is. Aan hierdie minireeks word die belangrikheid van 'n dokumentêr gegee. Dit is 'n keuse wat, in die beste geval, goedbedoelde oordrywing is en in die slegste, ideologiese smousery wat as opvoeding geklee is.
Kom ons begin by die storie self: Jamie, die dertienjarige seun wat skielik sy klasmaat vermoor, en nie as gevolg van 'n gewelddadige of gebroke huis of 'n lewe van agterstand nie. Die fiktiewe minderjarige moordenaar kom ironies genoeg uit 'n “goeie gesin”. Sy ouers is getroud, liefdevol, ondersteunend. Sy pa, gespeel deur Stephen Graham, is teenwoordig en betrokke in sy lewe al werk die pa hard om vir sy gesin te voorsien. Hy vat sy seun sport toe, stel belang in sy skoolwerk, en verteenwoordig die tipe vaderfiguur wat sielkundiges gewoonlik as ‘n goeie voorbeeld opper. Soos baie kykers, het ek gedink: maar dit is dan nou juis wat ons sê sal help voorkom dat kinders ontspoor. Dit is tog wat die navorsing aandui die soort ding keer, nie waar nie?
En dit is presies die punt: Adolescence neem 'n uitsondering, 'n radikale fiktiewe randgeval en hanteer dit asof dit 'n simbool is van die norm. Die skrywers het selfs openlik gesê hulle doel was om te wys dat só iets in enige huis kan gebeur, en dit is nie onwaar nie. Niks kan ooit 100% uitgesluit word nie. Maar in die reeks word 'n narratief omgeskakel tot 'n algemene waarskuwing.
Volgens my is die storie boeiend juis omdat dit buitengewoon is. As dit alledaags was, sou dit nie vier episodes van televisie regverdig het nie. Maar wat gebeur as buitengewone narratiewe begin om beleidsrigting te beïnvloed? Wat as die uitsondering die norm begin verteenwoordig in die populêre verbeelding?
Dit is waarin Adolescence se gevaar lê. Nie in wat dit is nie, maar in hoe dit uitgebeeld word: as 'n dokumentêr, as 'n maatskaplike diagnose en as opvoedkundige hulpmiddel. Die diagnose wat dit bied, is opvallend een-dimensioneel. Die skuld, soos ons dikwels sien in hedendaagse media, word geplaas by “toksiese manlikheid”, die “manosphere”, en onbetroubare aanlyn invloede soos Andrew Tate. Nou, daar is beslis kommerwekkende aanlyn invloede. Daar is ook gewelddadige ideologieë wat jong seuns kan beïnvloed. Maar die idee dat hierdie invloede spontaan in 'n vakuum ontstaan, is kortsigtig.
Daar is 'n alternatiewe raamwerk om hierdie jeugkrisis te verstaan, en dit word met veel meer empiriese steun aangebied in The Boy Crisis deur Warren Farrell en John Gray. Hierdie boek beskryf nie net probleme nie, maar probeer ook onderliggende oorsake kleinkry. Farrell en Gray argumenteer dat die werklike krisis waarmee jong seuns vandag gekonfronteer word, nie bloot 'n kwessie van negatiewe invloede is nie, maar 'n krisis van singewing en lewensdoel is. Jong mans is besig om hul ou rolle as verskaffers, beskermers, en leiers te verloor sonder om 'n nuwe model van betekenis te hê in die plek van die veranderende geslagsrolle. Die gevolg is 'n lewensdoel leemte waar jong mans ontheg raak, emosioneel terugtrek, en hul toevlug vind in onmiddellike bevrediging: videospeletjies, pornografie, ensovoorts.
Hierdie krisis is veelvlakkig en tref seuns wêreldwyd. Seuns is agter in akademiese prestasie, met laer geletterdheids- en wiskundevlakke as meisies. Hul geestesgesondheid verswak, met 'n toename in ADHD en selfmoordsyfers tot ses keer hoër as die van meisies. Die afwesigheid van betrokke vaders vererger die tendense. En sentraal hiertoe staan die verlies aan lewensdoel.
As 'n mens die aanlyn invloede wat Adolescence probeer uitbeeld regtig akkuraat wil identifiseer, is dit meer gepas om van elemente van die sogenaamde "red-pilled" gemeenskap te praat. 'n Groep wie se ideologiese wêreldbeskouing gewortel is in 'n diepgesetelde wrok teenoor vroue, en veral teenoor feminisme. Een van hul kernsienings is dat geslagsgelykheid te ver verskuif het in die guns van meisies en vroue, en dat dit nou eintlik seuns en mans is wat die ware slagoffers in die samelewing is.
Die Andrew Tates van die wêreld bied dan nie soseer oorspronklike ideologieë nie, maar eenvoudige en dikwels gevaarlike antwoorde aan seuns wat in 'n morele vakuum en sonder duidelike lewensdoel grootword. In daardie sin is Tate minder die oorsaak as die simptoom van ’n groter sosiologiese wanbalans. Die seun in Adolescence is 'n fiktiewe voorbeeld van hoe so iets sou kon verwesenlik, maar die werklike krisis lê nie in mans wat “toksies” is nie. Dit lê in mans wat nie weet hoe om mans te wees nie en in 'n samelewing wat óf die vraag bespot, óf dit met kontemporêre postmoderne dogma beantwoord.
En dis waarom dit my pla dat Adolescence as opvoedkundige materiaal voorgestel word. Dis nie dat dit nie goed gemaak is nie, inteendeel, dit is goed gedoen. Maar dit is steeds fiksie. En fiksie, hoe kragtig ook al, is in hierdie geval nie 'n weerspieëling van die werklikheid nie. Daar is nie 'n wydverspreide maatskaplike probleem van jong mans wat links en regs weens YouTube videos ander mense vermoor nie. Maar daar is 'n identiteitskrisis onder jongmans en seuns.
Om dit duidelik te stel, is ek nie besig om mense af te raai om Adolescence te kyk nie. Ek dink mense moet dit kyk, maar vir die regte redes. As 'n goed vervaardigde televisieprogram, met interessante toneel- en kamerawerk, en 'n goeie storie oor 'n uitskieter-maatskaplike geval. As 'n kunswerk wat emosies wek en vrae uitlok. Maar nie as handleiding vir opvoeding nie. Nie as 'n handleiding vir beleid nie. Want die probleem wat dit uitbeeld is nie wat hoofstroom media dit uitmaak om te wees nie.
Daar is min tot geen empiriese aanduiding dat die verspreiding van “red pill”-inhoud lei tot 'n massiewe toename in geweld teen vroue in die Weste. Trouens, die Crime Survey for England and Wales, byvoorbeeld, wat spesifiek fokus op geweld en misdaad wat dikwels nie gerapporteer word nie, wys 'n konstante afname in geweld teen vroue in die VK, waar Adolescence afspeel, oor die afgelope paar jaar.
Die reeks verg dus 'n mate van fiktiewe oorreding om die sentrale premis te aanvaar. Mesmisdade is 'n werklike probleem in die VK, maar dit kom selde uit die geledere van jong, wit, middelklas-seuns soos die fiktiewe Jamie.
Maar natuurlik, sulke vervelige statistiek maak nie 'n goeie storie nie.
Adolescence het 'n wêreldwye gesprek oor radikalisering en jeuggeweld aangevuur, maar poog om ’n krisis te verklaar op grond van ’n storielyn eerder as op werklikhede.