Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Die Derdepoort-aanval en sy nalatenskap
Die Anglo-Boereoorlog was nie bloot 'n "witmansoorlog" nie.
Die Anglo-Boereoorlog was maar ses weke aan die gang toe drie afdelings van die Kgatla-Tswana, bewapen met gewere van die Britse leër, die Rustenburg-kommando op 25 November 1899 by Derdepoort aangeval het. Die aanval, onder Segale, hoofman Lentshwe se halfbroer, was ’n vroeë aanduiding dat die oorlog nie ’n “witmansoorlog” gaan wees soos Britse en Boereleiers gehoop het nie.
Die gehuggie by Derdepoort was op die wal van die Marico-rivier in noordwes-Transvaal (vandag Noordwes-provinsie), oorkant die Betsjoeanalandse Protektoraat (vandag Botswana). Die aanval sou oorkant die rivier, vandag in die Limpopo-provinsie, plaasvind.
Kort ná die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 het gerugte die ronde begin doen dat die Boere die ondersteuning van ’n aantal Kgatla-gemeenskappe verkry het en die besetting van Mochudi, 43 km binne die Betsjoeanalandse Protektoraat, beoog. Op 23 November het kolonel G.S. Holdsworth met ’n Britse mag van 120 man opgedaag. Segale, wat klaarblyklik beter as Lentshwe die waarde van Britse ondersteuning besef het, het ’n gesamentlike aanval deur die Kgatla en Holdsworth se mag voorgestel. Die Kgatla sou glo op die grens stop sodat die Boere nie die Protektoraat binneval nie, terwyl Holdsworth se mag dan die laer by Derdepoort aanval.
Op 24 November het drie Kgatla-eenhede – die Makoba, Majanko en Mantwane onder onderskeidelik Ramono, Segale en Modise – saam met Holdsworth se mag na Derdepoort vertrek, vergesel van ’n paar Boesman-gidse. Onderweg het Holdsworth besluit die Kgatla moet direk aan die aanval deelneem. Uit vrees dat die Britte se swaar stewels hulle teenwoordigheid sou verraai, het Holdsworth beveel dat die Kgatla met hul kaalvoete voor moet loop na die Boerelaer oorkant die Marico-rivier. Segale sou die Britse kolonne na ’n punt lei waar hulle op die Boerelaer kon vuur. ’n Skoot uit Holdsworth se Maxim-kanon sou die teken vir die gesamentlike aanval wees.
Die volgende dag is die aanval te midde van heelwat misverstand uitgevoer. Onder dekking van vuur uit die Maxim was dit die Kgatla wat die Boerelaer aangeval het, terwyl Holdsworth se mag – in plaas daarvan dat dit die Kgatla volg, soos ooreengekom – basies niks gedoen het nie en doodluiters na die spoorwegstasie by Mochudi teruggeval het.
Boerebronne dui aan dat ses Boere in die verrassingsaanval gesneuwel het, onder meer die plaaslike volksraadslid Jan Barnard. Kgatla-bronne reken egter dat daar tussen 25 en 35 Boere omgekom het. Minstens 15 Kgatla is gedood en 17 is gewond.
Die Kgatla het ook die wit nedersetting by Derdepoort, 1,6 km van die Boerelaer, aangeval. Twee Boerevroue is vermoor en 17 Boerevroue en -kinders is tydelik na die Betsjoeanalandse Protektoraat ontvoer. Meer as ’n honderd beeste van die Boere is geroof.
Die moord by Derdepoort het vir die res van die oorlog ’n vyandelikheid teweeggebring tussen die Kgatla en die Boere-gemeenskap van die Rustenburg-Marico-distrikte. In reaksie het ’n Boerekommando onder kommandante C. du Plessis, D. Louw en P.D. Swart op 22 Desember die Kgatla-krale by Sikwane, Malolwane en Mmathubudukwane langs die Transvaalse grens verwoes. Volgens generaal Hendrik Janse van Rensburg was die Boere-ongevalle drie gesneuweldes en ses gewondes. Sy skatting dat 150 Kgatla gesneuwel het, was waarskynlik ’n oordrywing.
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog.
Volg sy werk hier.
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: