“Dis ‘n feit soos ‘n koei,” is ‘n gesegde wat my lank geïntrigeer het: Waar sou dit vandaan kom?
Totdat iemand daarop wys dat jy nie met ‘n koei kan stry nie. Wat weer impliseer dat sodra iemand iets as ‘n feit stel, sal ander mense daarmee begin redekawel. En, weet ons ook, selfs handgemeen raak as dit daarop aankom.
Sosiale media het natuurlik hierdie impuls veelvoudiglik versterk. En soos ons kan sien met Amerika se liegende Trump-krisis, het hierdie asimmetriese versterking van selfs die geringste, mees irrasionele betwyfeling van feite onmeetlike chaos in die openbare diskoers in bykans al sy vorme veroorsaak. Sodanig dat baie denkers praat van die nuwe Donker Eeue.
Talle voorbeelde is al bespreek, maar hier te lande is daar een kwessie wat bly aandag verdien, juis omdat die status van feite en feitelikhede so sentraal daartoe is. My gevoel is dat “plaasmoorde” as ‘n onderwerp op die agtergrond begin raak het in die jare sedert, sê maar die pandemie, en dat Donald Trump dit redelik onverwags - ook vir die mense in die AfriForum-dampkring - weer bo-aan die agenda geplaas het.
Plaasmoorde het ‘n soort aporia begin raak, ‘n argumentatiewe doodloopstraat. Dit was veral omdat die feite daaromtrent so skynbaar onvaspenbaar was en steeds is. Wie is die “boere” van wie gepraat word? Tel kommersiële maatskappye? Sluit hulle maplotters in? Waar pas die werkers in? Al die permutasies wat antwoorde op hierdie vrae verskaf het die kwessie in ‘n wolk van twis, botsende omskrywings en hareklowery laat vervaag.
So ook die motiewe agter die moorde. Wanneer is so iets beplan of spontaan? Hoe dikwels speel griewe oor swak behandeling ‘n rol? Wat beteken die gereelde martelings?
In hierdie kategorie is daar ‘n buitengewone stilte: Enige poging om by die misdadigers self uit te vind wat hulle aangespoor het en hoe hulle voel oor die feit dat hulle wit boere doodgemaak het, is so skaars soos, wel, koeie in tronke.
Die oorkoepelende probleem is nou dat hierdie benewelde diskoers ‘n alibi geword het om die probleem behoorlik aan te spreek. Sodra mense weens hulle trauma of meegevoel met lede van hul eie bevolkingsgroepe hulle uitspreek of gewoon net in die openbaar wil rou, stomp veral stedelinge van alle rasse sulke gevoelens onmiddellik af. Dit word gedoen met argumentasie wat lui dat plaasmoorde deel is van die algemene verval van die land, soos veral in misdaad vergestalt en waaraan ‘n mens prakties nie veel kan doen nie. En, wat jy nie moet toelaat om jou te verlei tot ras-uitsluitende oproepe of optrede nie.
Plaasmoorde het ‘n sjibbolet geword: Rep iets daaroor en jy maak jouself verdag as regs; spreek jou uit teen ‘n fokus op wit plaasmoorde alleen, en jy kry ‘n progressiewe ster op jou voorkop. Dis alles business as usual, word gereeld geïmpliseer. In die proses het daar ‘n skreiende, uniek Suid-Afrikaanse konsep ontstaan, dié van die gewone of “normale moord”.
So hoe kom ‘n mens uit hierdie aporia? Wat duidelik is, is dat nog ontledings en nog argumente net nog water op die meul gaan wees. As joernalis het ek al in die 1990’s vir ‘n paar weke lank voetgeslaan om die kwessie te ondersoek, en my gevolgtrekking was dieselfde as ander joernaliste wat dieselfde gedoen het - en inderdaad die aanvanklike navorsing van AfriForum nadat dit in 2006 gestig is: Elke plaasmoord is uniek, kompleks en moeilik om patroonmatighede in te vind.
Natuurlik is daar sedertdien veel deegliker monitering gedoen, maar my punt bly dieselfde: Om nog meer feite te versamel, gaan nie aan die gehele prentjie verander nie.
Maar ek dink daar is tog ‘n antwoord in die duimreël bekend as “Occam se skeerlem”. Willem van Ockham het in ‘n tyd geleef wat ooreenkomste met ons s’n vertoon. Wilde dog komplekse stellings oor Christelike onsigbaarhede was aan die orde van die dag en daar was hewige geskille oor vrae soos hoeveel engele op ‘n naald se punt kan dans, ensovoorts. Willem van Ockham het mense aangemoedig om eerder aandag te gee aan die eenvoudigste stellings omdat hulle die grootste kans het om waar te wees. Daarvandaan die beeldspraak van ‘n skeerlem wat minder tersaaklike en onnodige kompleksiteite wegsny.
Oorgeplaas na hierdie skrywe: Wanneer is ‘n feit so eenvoudig dat jy nie daarmee kan stry nie, soos ‘n koei dus? In ons kwasi-wetenskaplike tye word ons dalk te dikwels verlei om verwikkeling na te jaag, omdat dit so ‘n groter skyn van betekenisvolheid kry. Intussen sal ons dalk die verste kom deur gewoon met die eenvoudigste, mees onomwonde, mees koeilike feite te werk.
Wanneer dit by plaasmoorde kom dus: Boere is sedert 1994 in die honderde vermoor. Nie wit, of ryk, of groot of afgesonderde boere nie, net boere. En hou by honderde, nie die betwiste “duisende” nie.
Die moorde op boere gaan met trauma gepaard. Weereens, nie hoe groot, hoe wyd, hoeveel mense, hoe belangrik nie, net trauma.
Beperk ons die diskoers hiertoe, is ons vrae ook veel meer beperk, maar dit verskaf ‘n nuwe lens: In watter ander land is honderde boere hierdie eeu vermoor? Waarom word die trauma wat met plaasmoorde gepaard gaan as meer gering geag as die reg om “Kill the Boer” te sing?
In watter ander samelewing raak eenvoudige feite soos hierdie twee, in wolke van redenering en twis verswelg?
Hierdie benadering behels nie ‘n ont-politisering van die vraag, soos dit mag lyk nie. Inteendeel, dit gaan oor die diepste aard van die soort politeit wat ons het, een wat tydens noodtoestande, of state van uitsondering, boere tot essensiële werkers verklaar, wat dan ter wille van die oorlewing van die gemeenskap geoffer kan word aan iets soos die koronavirus.
Wat beteken dit dat die regerende party eers ná ‘n hoogs irrasionale, leuen-gedrewe ingrype deur ‘n onstabiele staatsleier verklaar dat die lied “Kill the Boer” nié deel van sy handelswyse is nie? En dan nie die logika hieragter oordra na die bestuur van die land nie?
Selfs al haat jy wit boere met ‘n passie, of glo aan offerandes op die altaar van wit bevoorregting, behoort jy jou af te vra: Watter soort politieke kultuur vestig ons as ons sleutelgroepe soos landbouers as moontlike fair game vir virusse of misdadigers benader?
‘n Koei is inderdaad ‘n essensiële wese in almal van ons se lewens. Sy mag nou nie in jou agterplaas wees nie, of in jou buurman s’n nie, of op jou strandhuis se grasperk nie. Maar sy is iewers nie te vêr van jou af nie. Sy verskaf lewensmiddelle soos suiwel, vleis, leer, gelatien, en werk.
Gee haar die aandag wat sy toekom.
Hans Pienaar is ‘n bekroonde Afrikaanse skrywer en joernalis.