"Geen Star Wars slottonele vir die Midde-Ooste nie"
Daar is nie juis sitplekke vir kundiges aan Trump se oorlogstafel nie.
[Dinge beweeg blitssnel in die Midde-Ooste. Ten tye van publikasie van hierdie bydrae, het die “12-dag Oorlog” pas met horte en stote tot 'n ongemaklike einde gekom, na aanleiding van die VSA se dramatiese middernagtelike bombardering van die Iranse kernfasiliteite by Fordow, Ishafan en Natanz. - reds.]
In die klimaktiese tonele van Star Wars; A New Hope bestudeer die Rebelle die planne van die Empire se Death Star en besef dit het 'n vernietigende swak plek. As die helde net één bom presies op die regte plek laat val, bars die stasie en val die Empire.
Gelei deur die stem van Obi-Wan Kenobi se gees, gebruik Luke Skywalker die Force om sy torpedoes te mik. Die Death Star ontplof oomblikke voordat dit die Rebelle-basis kan verwoes, en Luke word as die held van die sterrestelsel vereer.
Baie mense hierdie week uitgevind dat Donald Trump die VSA in ’n oorlog in die Midde-Ooste ingelei het. Die man wat Joe Biden se steun vir Oekraïne veroordeel het en aangevoer het dat Biden “sal ons [die VSA] in 'n Derde Wêreldoorlog injaag”, het ook self die 2003 Irak-oorlog veroordeel. Die MAGA (Make America Great Again) beweging het immers belowe om die reekse “ewige oorloë” van die VSA te beëindig.
Maar onthou, Trump lees nie boeke nie. Hy is 'n supermoondheid-leier vir 'n post-geletterde wêreld. Memes en flieks vul sy verbeelding, nie die geskiedenisse van mislukte krygsveldtogte nie.
As jy die krag van fantasie eerder as harde werklikhede verstaan, was dit altyd waarskynlik dat Trump Iran sou aanval.
Dink daaroor: êrens in die berge noord van Qom lê die Fordow-kernfasiliteit (of eerder, het dit gelê). Net een presiese bom en Trump red die wêreld. Gelei deur die gees van “Bibi-Wan” Netanyahu, het die VSA presies dit gedoen, en Trump wil nou glo die oorlog is verby.
Die aanvalle op Fordow en twee ander kernontwikkeling-liggings was 'n “skouspelagtige militêre sukses”, het Trump die oggend na die bomme geval het verklaar.
“Iran se sleutelverrykingsfasiliteite is heeltemal uitgewis. Iran, die boelie van die Midde-Ooste, moet nou vrede maak. Anders sal toekomstige aanvalle baie groter en baie makliker wees.”
Toe sluit hy af in taal so oordrewe dat selfs Hollywood sou bloos:
“En ek wil net almal bedank. Veral God. Ek wil sê: Ons het U lief, God, en ons het ons wonderlike weermag lief.”
Luister mooi, en jy sou dalk die Star Wars-temalied in die agtergrond hoor speel.
Voor ek verder gaan, moet ek erken: miskien sal die lewe wel soos 'n rolprent afloop. Dit sou ongetwyfeld goed wees as die VSA-aanvalle Iran se kernprogram beëindig het. 'n Kernwapenwedloop in die Midde-Ooste met Turkye, Egipte en Saoedi-Arabië wat haastig hul eie bomme bou sou 'n nagmerrie wees. En as die verskriklike Iranse teokrasie in duie stort omdat Trump besluit het om te slaan, sou drome inderdaad waar word.
Maar wat as die eindtitels nie rol nie? Wat as dit blyk dat God nie van Trump hou soos Trump van God hou nie? Die Trump-administrasie is nie toegerus vir 'n lang oorlog nie. Soos alle onsekere leiers het hy homself met ja-broers omring en die Amerikaanse burokrasie van dwarstrekker kundiges skoongemaak.
Iran kan die 40 000 Amerikaanse troepe in die Midde-Ooste aanval. “Operasionele planne is daarvoor opgestel,” het Abu Ali al-Askari van die Iran-gesteunde Irak-burgermag Kataib Hezbollah gesê.
“Amerikaanse basisse in die hele streek sal skietbaan-teikens word … om nie eers te praat van onverwagte verrassings in die lug nie.”
Verder kan Teheran die wêreld in 'n resessie dompel deur, soos in 2019, deur die Saoedi- en Golf-oliebedryf te tref of bloot die Seestraat van Hormoes te sluit.
En wat as Trump se bomme die kernsentrums nie werklik uitgewis het nie? Wat as die Iraniërs rondom hul leierskap saamtrek? Voor 'n land oorlog maak, het dit bekwame staatsamptenare nodig om al die “wat-as” scenarios te hanteer en Amerika het hulle dalk nie meer nie. Philip Gordon, voorheen Kamala Harris se nasionale veiligheidsadviseur, het dit laas week in die Financial Times treffend gestel dat Trump die Nasionale Veiligheidsraad en die Staatsdepartement uitdop en kundiges met politieke aanstellings vervang juis op 'n stadium dat die VSA oor oorlog dink.
Wie doen nou die harde werk met bondgenote, wie reel die ontruiming van Amerikaanse burgers uit die Midde-Ooste, vra Gordon. “Daar’s soveel dinge wat jy reg of verkeerd kan doen. Selfs in ideale omstandighede is dit moeilik, maar om dit te probeer sonder 'n Nasionale Veiligheidsraad en sonder kundigheid is waansinnig.”
Waansinnig of nie, Trump is nou in 'n oorlog gewikkel. Dalk is die wêreld gelukkig. Dalk laat vaar die ayatollahs hul kernplanne en sluit 'n ooreenkoms. Dalk pak hulle sommer hul tasse en verdwyn.
Maar op hierdie oomblik is daar geen teken dat hulle daarvoor bereid is nie. En elke teken is daar, om Obi-Wan te parafraseer, dat ons in groter moeilikheid is as wat ons ons kan indink.
Hierdie artikel het oorspronklik op Nick Cohen se Substack Writing From London verskyn en is met die outeur se toestemming vir OntLaer in Afrikaans vertaal.
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: