Die Stille Voortbestaan van Ras as Staatsidee
Die insameling van rasdata is nie neutraal nie. Ware regstelling lê in nie-rassigheid.
Dit is bitter ironies dat ’n vrygebore Suid-Afrikaner, wat grootgeword na apartheid, in 2025 nog moet pleit teen ras-klassifikasie. Dat dit in hierdie 21ste eeu, in ons konstitusionele demokrasie, steeds ’n strydpunt is om te sê: moenie mense volgens hul velkleur in staatsdokumente klassifiseer nie. Dis byna surrealisties. Maar hier is ons nou— weer.
Ek het onlangs die jongste omsendbrief van die Hoof Registrateur van Aktes gelees. Dié dokument is droog en tegnies soos staatsdokumente gewoonlik is, maar dra moontlik verreikende gevolge, wat vereis dat alle partye by eiendomsoordragte hul ras, geslag, nasionaliteit en burgerskap moet aanteken op ’n vorm genaamd Form LLL. Hierdie “vir statistiese doeleindes”: die insameling van data klink onskuldig. Maar die geskiedenis het geleer dat in die bestuur van ons staat, programme wat as iets tegnies begin, dikwels as iets ideologies eindig.
Dit is juis die gevaar. Soos die geskiedenis wys, is rasdata in staatsargiewe nie bloot statistiek nie.
Die historiese les van Nederland
Nederland het gedurende die Tweede Wêreldoorlog die hoogste Holocaust-verwante sterftes van enige besette land gedurende die oorlog ervaar. Nederland, wat selfs in daardie tyd beskou is as ’n land van regverdigheid en vooruitgang, het ’n eenvormige, hoogs georganiseerde bevolkingsregister gehad toe die Nazi’s inval. In 1941 is Jode beveel om hulself by hul plaaslike owerhede as “Joods” of “met Joodse bloed” te registreer. Merkertjies met ’n “J” of “B” is op hul kaartjies in die bevolkingsregister geplak.
Hierdie registrasie is later gebruik om Jode op te spoor en na konsentrasiekampe te deporteer. Teen die einde van die oorlog is sowat 70% van Nederland se Joodse bevolking uitgewis—’n syfer veel hoër as in lande soos Frankryk of België.
Let wel, dit was nie omdat Nederland meer antisemities as die ander lande was nie. Dit was omdat hulle uitstekende data gehad het. Die tragedie is nie gebore uit haat alleen nie, maar uit administratiewe doeltreffendheid. Dit was nie die gevolg van massahisterie nie, maar van goeie argivering.
Soortgelyke gevalle het elders in die wêreld ook afgespeel. In Rwanda is etniese identifikasie op ID-kaarte gebruik om mense letterlik by padblokkades ter dood te veroordeel. In Irak is bevolkingsdata gebruik om Koerdiese gemeenskappe sistematies te onderdruk. Ook in Sowjet-Rusland is mense op grond van hul klas, beroep, nasionaliteit of selfs hul ouers se politieke oortuigings geklassifiseer en geteiken. Vandag word Uyghur-Moslems in China met behulp van biometriese registers en digitale monitering geteiken en in “heropvoedingskampe” geplaas.
Dis belangrik om dadelik duidelik te wees dat nie ’n argument daarvoor is dat Suid-Afrika vandag Nazi-Duitsland is nie. Dit is ook nie ’n bewering dat daar ‘n bestaande risiko vir etniese uitwissing is nie— so ’n narratief is objektief onwaar en dikwels kwaadwillig. Suid-Afrika se realiteite, uitdagings en historiese pad is uniek. Ons is ’n grondwetlike demokrasie, en ons instellings, hoe gebrekkig ook al, funksioneer binne ’n regstaat.
Maar die punt bly dat die geskiedenis ons nie net teen idees waarsku nie, maar teen stelsels. Teen strukture wat skynbaar vir ’n onskuldige doel ontwerp is en later vir onderdrukking ingespan word. Teen data wat eers om statistiese redes ingesamel word, maar later die grondslag bied vir uitsluiting, diskriminasie, of erger. Dit is die les van Nederland—en dit is ’n les wat nie net ideologies is nie, maar prakties ook.
Ons vra dus nie die vraag “Dreig volksmoord in Suid-Afrika?” nie. Ons vra: “Waarom bou ons staatsargitektuur met dieselfde blokke wat ander lande, in ander tye, gebruik het om burgers in te deel, te beheer, en uiteindelik te onderdruk?” Dit is nie onnodige histerie nie— dit is nugter waaksaamheid.
Wat beteken nie-rassigheid regtig?
Die vraag verder is hoe hierdie soort praktyk geregverdig kan wees in ‘n land wat nie-rassigheid as ‘n fundamentele waarde van sy samelewing (ten minste op skrif) ag. Nie-rassigheid is nie ’n vae idealistiese droom wat net op plakkate pryk of in akademiese toesprake herhaal word nie. Dit is ’n duidelik uitgeskryfde en bindende waarde in ons Grondwet, ingegraveer in Artikel 1, saam met menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Dit is nie veronderstel om wensdenkery te wees nie. Dit is deel van die fondament waarop die hele konstitusionele orde rus. Trouens, nie-rassigheid as ‘n Artikel 1 funderende grondwetlike waarde kan slegs met ‘n supermeerderheid van 75% gewysig word, so fundamenteel is dit in ons grondwetlike orde, ten minste op skrif.
Hoewel daar nie ’n afsonderlike “reg op nie-rassigheid” in ons regstelsel bestaan nie, dra nie-rassigheid as grondliggende konstitusionele waarde dieselfde gewig as beginsels soos die oppergesag van die reg. Net soos daar nie ’n afdwingbare “reg op die oppergesag van die reg” is waarop ’n mens regstreeks kan steun as selfstaande reg nie, geld dieselfde vir nie-rassigheid. Tog gebruik ons howe hierdie waardes as rigtingwysers wanneer hulle sake oorweeg, veral in die uitleg van wette en die beoordeling van feite binne hul maatskaplike en geskiedkundige samehang.
Die oppergesag van die reg, soos vervat in Artikel 1(c) van die Grondwet, vereis juis ’n nie-rassige benadering tot regsuitleg. Dit sluit die idee van formele gelykheid voor die reg in: Dat elke persoon, ongeag ras of etnisiteit, op dieselfde wyse behandel moet word. Wanneer die regbank nie-rassigheid erken as ’n kernwaarde van die Grondwet, bevestig dit die beginsel dat die reg vir álle mense geld, sonder voorkeur of uitsondering.
Friedrich Hayek, ‘n Oostenrykse denker, het geskryf dat die reg in sy mees ideale vorm onpersoonlik moet wees. Die wetgewer en howe, sê hy, moet nie weet wie jy is, wat jy dink, of wat jy beleef het nie. Die reg moet algemeen wees, toepaslik op enige mens op enige tyd ongeag enige eienskap, insluitende ras.
Maar in die werklikheid van post-1994 Suid-Afrika het daar 'n merkwaardige verskuiwing plaasgevind in die interpretasie van hierdie kernwaarde. In plaas daarvan om nie-rassigheid as die rigtingwysende ideaal te sien— die bestemming waarheen ons op pad is— word dit deur ons wetgewers, regsgeleerdes, en beleidsmakers afgeraam as iets wat eers later kom. Eers moet ons ‘regstel’, en dan kan ons nie-rassigheid nastreef. Dit klink pragmaties, selfs redelik. Maar in daardie redelikheid lê die glibberige afgrond van beginselloosheid.
Want wat gebeur in daardie tussenfase van "regstelling"? Ras word weer die bepalende kategorie. Rasbewuste beleid word weer die instrument van staatshandeling. En so, ironies genoeg, begin die nuwe Suid-Afrika die ou metodes gebruik—dieselfde logika van klassifikasie, dieselfde indeling van burgers in groepe, net met nuwe morele regverdiging.
Die kern van die probleem is dat baie nie kan of wil glo dat ware en betekenisvolle regstelling sonder rasbewustheid moontlik is nie. Hulle sien nie-rassigheid as ’n luuksheid wat ons eers kan bekostig wanneer elke statistiek “verteenwoordigend” lyk, elke maatskappy se raad “die demografie” weerspieël en elke sportspan lyk soos ’n miniatuurweergawe van die sensus. Maar as daardie logika gehandhaaf word, sal nie-rassigheid altyd net ’n doel bly wat uitgestel word, ’n beloofde land wat altyd net-net buite bereik bly. Want statistiese gelykheid tussen groepe is ’n onmoontlike mikpunt in ’n uiteenlopende, dinamiese samelewing. En so word die ideaal van nie-rassigheid telkens verruil vir ’n nuwe stel rassige, selfs rassistiese regsreëls—met die beste bedoelings, maar dieselfde gevolge, naamlik die groepering van mense in suiwer rassegroepe.
Daar is nog ’n dieper gevaar in hierdie benadering. Wanneer ras die raamwerk word waardeur alle beleid gesien en bestuur word— of dit nou in onderwys, indiensneming, grondhervorming of eiendomsregistrasie is— dan begin dit die samelewing verdeel op ’n manier wat ons sogenaamd probeer herstel. Want as die staat vir my sê ek is eers ’n “wit” of “bruin” of “Indiër” burger, en dan ’n Suid-Afrikaner, dan gee dit vir daardie klassifikasie weer amptelike betekenis. Dan werk ons nie aan nasiebou nie— ons bou nuwe mure.
Dis belangrik om te besef dat nie-rassigheid nie kleurblindheid beteken nie. Dit beteken nie ons ontken die geskiedenis of die ongelykhede wat dit geskep het nie. Maar dit beteken dat ons weier om die logika van ras— die taal van apartheid— te hergebruik en boonop as die grondslag vir regstelling. Dit beteken ons soek ander maniere om ongelykhede aan te spreek: op grond van klas, behoefte, agterstand, gemeenskapsontwikkeling. Nie ras nie. Want ras is nie ’n moreel of wetlik geldige maatstaf vir geregtigheid nie, dit is ’n geskiedkundige kategorie wat reeds te veel skade aangerig het.
Trouens, ten spyte van die 318 stukke wetgewing wat tans op die Suid-Afrikaanse statuutboeke bestaan en waarin ras steeds ’n bepalende rol speel, is daar, genadiglik, geen enkele nasionale wet wat die kriteria vir rasbepaling op ’n objektiewe, amptelike of wetlik afdwingbare wyse vaslê nie. Die Wet op Bevolkingsregistrasie is lankal herroep, maar tog hou die praktyk van rasseklassifikasie in beleids- en administratiewe prosesse hardnekkig stand, asof dit vanselfsprekend en onvermydelik is.
Die ironie lê hierin: Die staat verwag van jou om op amptelike vorms jou ras aan te dui, maar het geen wetlike of beleidsraamwerk wat bepaal wat dit beteken om “wit”, “bruin” of “swart” te wees nie. Word ons dan eenvoudig vertrou om onsself te klassifiseer? En as jy “wit” invul, maar “nie soos ’n wit mens lyk nie”— wat dan? Sal daar iemand wees wat dit nagaan? Sal dit bevraagteken word? Dis ’n absurde, selfs ongemaklike vraag, maar een wat ons móét vra. Want selfklassifikasie maak die data onbetroubaar en metodologies nutteloos. Maar as die staat dit wil kontroleer, dan herroep dit die donker praktyke van die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950.
Maar hoekom hou die staat dan steeds vas aan ras?
Die antwoord lê in die huidige kultus van transformasie. Ras word relevant gehou omdat dit as die vertrekpunt van regstelling gesien word. Transformasie het ’n meta-doel geword, amper onaantasbaar, en dit gee aan die staat morele lisensie om rassige kategorisering in stand te hou. Hierdie transformasiedenke is nie eksplisiet in die Grondwet vervat nie, maar word eerder ingelees deur aktivistiese regspraak en beleidskonsensus. Dis belangrik om daarop te let: die woord “transformasie” verskyn nie eens een keer in die teks van die Grondwet nie. Nie-rassigheid, daarenteen, verskyn wél. Dit is gelys as een van die grondslagwaardes waarop die hele republiek berus. Die Grondwet self stel nie transformasie as ’n doel wat bo beginsels troon nie—inteendeel, dit bied nie-rassigheid aan as die uitgangspunt én die hoeksteen van enige hervorming.
Nie-rassigheid is dus inderwaarheid nie net ’n simboliese ideaal nie, dit is veronderstel om ’n werklikheidskeppende beginsel te wees. Dit sê dat die staat nie in jou identiteit belang mag stel om te bepaal of jy toegang tot regte het nie. Jou menswees, jou burgerlike status, jou individuele waardigheid—dít is wat saak maak. In dié lig moet ons vra, as die staat reeds nie kan of wil omskryf wat ras is nie, waarom hou die staat dan steeds aan om te vra dat dit verstrek word?
As ons nie-rassigheid prysgee, al is dit net tydelik, bou ons ’n samelewing wat steeds afhanklik is van rassige grense. Dan is nie-rassigheid nie meer ’n rigtingwyser nie, maar ’n verskoning. ’n Doelwit wat altyd net ná die volgende beleidsiklus sal kom. Ons moet ophou dink aan nie-rassigheid as iets wat wag vir ’n geskikte tyd. Die tyd is nou. Die dringendheid lê nie in rasbewustheid nie, maar in oorwinning oor rassigheid. Om verby ras as maatstaf vir besluitneming in die staat en samelewing te vorder.
Nie-rassigheid is dus nie die eindstreep nie. Dis die beginpunt van geregtigheid.
’n Ander pad vorentoe
Ons het baie om reg te stel in hierdie land. En ja, dit verg doelgerigte beleid. Maar nie-rassigheid beteken nie ons ignoreer ons verlede nie. Dit beteken ons weier om dit te herhaal.
Die Grondwet gee ruimte vir redelike maatreëls om geskiedkundige onregte reg te stel. Maar dit vereis ook dat ons nie daardie maatreëls gebruik om nuwe vorme van diskriminasie te wettig nie.
Daar bestaan alternatiewe maniere om ongelykhede aan te spreek—gemeenskapsgerigte steun, deernis-gebaseerde kriteria, doelgerigte opleiding, infrastruktuurontwikkeling. Maar daardie opsies verg meer werk en minder politieke teater. Daarom bly rassigheid en rassisme so aanloklik as beleidsinstrument: Dit is eenvoudig, onmiddellik, en die emotiewe boodskap is sterk. Maar rassigheid is ook gevaarlik, veral as jy reeds begin om dit amptelik in eiendomsreg in te bou.
Ek glo steeds dat Suid-Afrika ’n nie-rassige toekoms kan hê. Maar dit gaan nie gebeur as ons toelaat dat ras, soos in die verlede, aan die kern van ons samelewing voortbestaan nie.
Nie-rassigheid is soos om swanger, dood of eerlik te wees — mens is of mens is nie. Daar is nie skakerings van nie-rassigheid nie.