DinkWeer Donderdag: Skyn of Stof
'n Kopknikkende reaksie op Daniël se stuk in verlede week se OntLaer.
Om ‘n boek op te tel of ‘n meningstuk oop te maak is in ‘n sekere sin so bietjie soos om ‘n motor se petroltenk vol te maak.
Jy het ‘n bewuste besluit gemaak dat jy die afstand wat hierdie belegging moontlik maak gaan aflê, al is jy nog nie noodwendig seker hoe daardie pad gaan lyk nie. Sou jy byvoorbeeld in Bloemfontein brandstof ingooi, kan jy redelik seker wees dat jy tot by Driesusters kan kom, en al ken jy die pad goed, is dit nietemin onmoontlik om presies te bepaal wat jou deurlopende reaksie sal wees. Sal die koppies wat jy as kind deur die venster gesien het vandag anders lyk? Sal die trokke wat jou benoudheid by padvernouings in die rooi druk vandag besonders knaend, of dalk besonder rustig wees? Sal jou reisgenote kerm oor jou mussiekkeuse? Die pad wat jy ry en die reis wat jy onderneem is, selfs by bekende stof, selde presies eenders. So is dit ook met lees. Die stukkie teks wat jy oopslaan gaan homself nie net lyn vir lyn laat absorbeer nie, hy gaan stamp en stoot en druk en trek - meestal aan jou binnekant, in daai ruimte tussen naeltjie en adamsappel waar die bloedpompie regeer, of in daai rekenaartjie wat die septer tussen jou ore swaai. Soms, by absolute uitsondering, sal selfs jou nek saamwerk, met ‘n onbewuste knikkie wat bevestig dat jy regtig saamstem met wat hier geskryf staan. Toe ek Daniël se “Die Kaal Keisers van Kontemporêre Kuns” verlede naweek opgetel het, het ek myself per geleentheid in die middel van ‘n knikkie bevind. Hy skryf:
Net oos van Beverley Hills in Los Angeles (en nie Paternoster nie) staan daar 'n moerse rots (om vir Antjie Krog te parafraseer).
Dis nie 'n standbeeld wat beitel-vir-beitel geskep is en iets uitbeeld nie. Net 'n reuse rots wat 340 ton weeg en rus bo-oor 'n sementpad by die Los Angeles County Museum of Art. Die kunstenaar noem dit Levitated Mass en die museum beskou dit as baanbrekende kuns. Maar dis net 'n rots.
Ek het onlangs ‘n soortgelyke ervaring gehad. Die bekende Schirn museum in Frankfurt het van Januarie tot Maart vanjaar ‘n uitstalling van Hans Haacke se werke aangebied. Teen ‘n allemintige 17 Euro kon ek hierdie meester van moderne kuns se werk eerstehands aanskou. Haacke se bekendste werk, wat natuurlik ook op die program en op my kaartjie gepronk het, was ook daar. Die befaamde Blue Sail. Blue Sail is inderdaad ‘n blou seil, bo oor ‘n waaier. Ek plaas ‘n foto:
Blue Sail (1964-65) deur Hans Haacke.
© Artists Rights Society (ARS)
My ervaring, soos die van Daniël, was nie noodwendig verwondering nie, dit was veel eerder verbasing. Ek bewonder kunstenaars, atlete, groot denkers, en groot besigheidsmense juis omdat hulle die werk en die moeite ingesit het om iets te produseer wat ek nie kon produseer nie. Ek verstaan die logika agter moderne kuns - die idee is dit wat oorspronklik is, die kritiek wat gelewer word of die rigting waarin die medium gepluk word is dit wat geloof of geprys word. Nou goed, ‘n pianis wat met sy elmboog op ‘n diep C druk maak sekerlik een of ander punt oor die mens se verknogtheid aan perfeksie, maar is hierdie daad van elmboogdrukkery, wanneer ons die kritieke konteks waarteen dit geskep is, indrukwekkend? Sekerlik nie.
Meer indrukwekkend as kritiek op Bach en Mozart is Bach en Mozart. Natuurlik speel konteks ‘n rol, maar ek is geneig om te dink dat goeie kuns onder alle omstandighede goed is. Moderne kuns maak dikwels eers ‘n indruk as jy die brosjure oor die kunstenaar se ideologie gelees het. Buiten daarvoor dat hy dertien kinders gehad het en in 1750 dood is, weet ek nie veel van Johann Sebastian Bach nie. Maar sy Tjellosuite in G is dalk die mooiste stuk musiek wat ek al gehoor het. Ek hoef nie te verstaan wat alles in Leipzig aangegaan het in die 18de eeu nie, ek hoef geen esoteriese teorie te verstaan, of deel van een of ander Whatsapp-groep te wees om daardeur geroer te wees nie. Ek hoef maar net te luister.
Die versekeringspolis van enige meningstukskrywer is een of ander selfkastyende sinnetjie soos “nou ja, dalk is ek net nie slim genoeg vir moderne kuns nie”, en dit mag in hierdie geval waar wees, maar wat dalk meer waarskynlik is, is dat Daniël reg is, en dat nuutheid nie outomaties gelyk is aan goedheid nie.
Grové en ‘n intellektuele dwarsklap
Ek het in 2018 ‘n gedig geskryf wat ek gemeen het êrens gepubliseer behoort te word. Die redaktrise het my gedig ontvang, en beloof om dit vir ‘n paar beoordelaars aan te stuur. ‘n Rukkie later, dalk ‘n week of so, ontvang ek toe ‘n e-pos met die beoordelaar se kommentaar: “Nog nie regtig kuns nie, seker ‘n jong skrywer. Skryf vir hom/haar Woord en Wonder van A.P. Grové voor.” Met gekneusde ego ry ek toe na werk Hatfield toe en klop by Protea aan om te hoor of hulle toevallig ‘n eksemplaar van Woord en Wonder het - net nog enetjie op die rak, nogal uit 1973, maar vir R120,00 is hy myne. As mens pas begin werk het is R120,00 besonders baie, veral vir ‘n boek wat seker R1,00 gekos het toe dit gedruk is, maar goed, om 45 jaar op ‘n rak te staan is ook nie verniet nie, en al manier vorentoe is seker maar deur hierdie boekie, so ek offer toe nou maar wat gevra is, skryf my naam voor in, en spring weg. Die aand gaan sit ek toe in my kommunekamer en slaan die wynrooi boekie oop, en op die derde bladsy deel Grové toe met my hierdie tydlose stuk wysheid:
Die blote feit dat iemand ‘n goeie patriot, ‘n opregte gelowige is, sê nog nie dat dit wat hy in rymende reëls neerskryf, poësie sal wees nie. Een voorbeeld: In Ges.7 (van die vorige bundel) word die alomteenwoordigheid van God soos volg uitgedruk:
Op berge en in dale,
En oweral is God;
Waar ons ook telkemale
Mag swerwe, daar is God!
Waar ons gedagtes swewe
Of styg, ook daar is God;
Omlaag en hoog verhewe -
Ja, oweral is God!Suiwer poëties gesien, besit hierdie verse min waarde. Lê nou daarnaas enkele verse uit Ps. 8, waarin ‘n vergelykbare sentiment uitgedruk word:
Daar is geen land so ver of woes geleë,
Geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
Geen hemelsfeer in die oneindigheid -
Of orals blink u Naam en majesteit.Hier het ons met poësie te doen - kort en klaar.
Roger Scruton, na wie Daniël ook in sy stuk verwys, het baie oor skoonheid nagedink, en selfs hy is huiwerig om ‘n definisie daarvoor te gee, maar in sy denke kom vir my na vore dat skoonheid hoog is, dit is iets waarna gestreef word, iets wat nie sommer net bereik word nie. Talent en sweet en kennis moet bymekaar uitkom ten einde ware en werklike skoonheid te produseer. Wanneer nuutheid noodwendig as goedheid beskou word, dan word kuns soos een of ander Kriptogeldeenheid wat die geur van die dag is, die skepper oornag skatryk maak, maar geen werklike toevoeging tot enigiemand se rykdom is nie.
Lesse uit lap
Ek is wel, wat kuns betref, nie op moedverloor se vlakte nie. Ek dink byvoorbeeld aan die tekstielbedryf, waar massaproduksie, ondanks baie probleme, tog aan armes toegang tot moderne modes gegee het. Wat hierdie massaproduksie ook gedoen het, is om waarde aan handgemaakte klere en organiese materiaal en stof te gee, deur dit outomaties in ‘n ander kategorie te plaas. Hopelik besef die jong kunsliefhebber binnekort dat toepassings soos Sora, waarmee hierdie artikel se prentjie gegenereer is, die voordeel van unieke prentjies aan jong mediaplatforms gee, maar ook dat dit prentjies van kunswerke skei. Hopelik bring KI se oneindige kreatiwiteit ‘n einde aan die tendens van nuwe idees as werklike kuns. My ervaring van die huidige tiener en jongmens is dat egtheid en outentiekheid vir hulle baie meer waarde dra as vir generasies voor hulle, juis omdat fopnuus, fopkuns en fopaandag alomteenwoordig en maklik bekombaar is. In so ‘n wêreld, waar aandag nie meer ‘n maatstaf van sukses is nie, kan deug weer seëvier.
“Mooi” kuns het gesterf toe die kamera gebore is. Nou gaan kuns oor betekenis en nie vaardigheid nie. Mens sal nooit deur verf die realiteit so kan vasvang soos 'n kamera kan nie.