Ons spring met hierdie avontuur weg, asof ons karakters uit J.R.R Tolkien se verhale is. Ons weet nie presies waarheen ons op pad is nie, maar ons is gemaklik daarmee.
Ons wil antwoorde bied en vrae vra. Ons wil wyd luister en insette soek. Ons wil doelbewus uiteenlopend wees. Ons wil dink waaroor ons skryf, en daarom doen ons dit deur sloernalistiek: Bietjie stadiger, nadat die daaglikse nuusgolf se luidrugtige gespoel begin eb.
Wat is OntLaer nie? Ons is nie ‘n “huis” nie. Ons wil eerder aan elkeen van u die geleentheid gee om jou spreekwoordelike “huis”, daar waar jy gemaklik en tuis voel in jou gedagtewêreld, met uiteenlopende en besinnende Afrikaanse inhoud te omsoom. Elkeen van u is sekerlik groot en wys genoeg om self te besluit oor waar jou huis is en hoe dit binne moet lyk.
Ons bied bloot ‘n plek waar jy jouself kan kom inlig. Ons ont-laer, want ons stoot die waens oop, sodat die verskillende meningsvormende groepe en tendense in hierdie eeu van Afrikaanse eggokamers en aanlyn-selfvoldaanheid, ‘n nuwe lees en luistergewoonte kan aanleer.
Ons ont-laer, ook soos in ont-laag: Ons skep dieper en pak die lagies voorveronderstellings oor onderwerpe uit om wedersydse begrip te verbeter. En waar bydraers stellig standpunt inneem, lok ons juis deelname, kritiek en teengedagtes uit. Deurdagte, bedagte, diverse gedagtes.
Ons wil losmaak, oopmaak, afbreek wat verhard het— of dit nou groepsdenke, aannames of ideologieë is.
Ons wil nie opvoerig, oftewel performatief dwars wees nie. Kennis en meningsvorming kom juis vanuit die laers van opinie. Maar ons wil help dat insigte en polemiek nie in die laers vasgevang bly nie, en daarom is die “dwars” denker se insigte onontbeerlik vir ons waardeaanbod.
Ons stel nie belang om ‘n “boontjie-teller” redaksie te wees wat meningstukke teen wil en dank teen mekaar opweeg en afspeel om ‘n presiese narratiewe “balans” te vind nie. Soms gaan dit gebeur dat die somtotaal van bydraes wat ingedien word vir publikasie, meer na een soort ideologiese of narratiewe strekking toe oorhel as ander kere.
Daar is baie faktore wat so ‘n verskynsel kan onderskraag. Soos, wat is die algemene konsensus oor ‘n kwessie op ‘n gegewe tydstip? Of, as alternatiewe sienswyses dalk minder is omdat bydraers onbeskikbaar is? Ons onderneem egter om ons bes te probeer om elke uitgawe so uiteenlopend as moontlik te probeer hou.
Moet egter nie dadelik vingerwys en oor objektiwiteit of balans ontsteld raak nie: By OntLaer versoek ons, amper soos Fokofpolisiekar (maar dalk meer tong in die kies…) dat as jy kla oor die toestand van die Afrikaanse diskoers, “f*kk*n doen iets daaromtrent”. Skryf vir ons jou teenargument, jou kritiek op ‘n standpunt waarmee jy nie kan saamgaan nie. OntLaer is op die keper beskou ‘n projek vanuit Afrikaans en vir Afrikaans, en daarom sal die lesers en skrywers se insette en deelname die ding maak werk, of breek.
In die gees van Breyten Breytenbach, wil ons help dat Afrikaanse lesers mekaar “saam-anders maak”. Sien dus saam met ons uit na reekse uitgawes, beplan vir bepaald elke tweede Vrydag en rollend deur die week, vir skryfwerk wat ons in Afrikaans stadiger laat besin, hoflik debat laat voer en gesprek aanmoedig.
Gepraat van die Maer Man met die Groen Trui, het ons vandag ‘n aflewering oor die einste ontslape skilder en volksdigter van Afrikaans, se minder bekende nalatenskap in sy stryd om die voortbestaan van Afrikaanse naskoolse onderrig op Maties. Mede-redakteur Frederik van Dyk deel sy herinneringe oor Breyten in daardie woelige tyd.
Voormalige DA-LP Veronica van Dyk is bekend om haar vasbyterstryd teen vermeende boereverneukers en smokkelaars in die verre Weskus en Namakwaland (onverwant aan Frederik, hy is ‘n ‘Kenia’ Van Dyk, maar dalk het hul oer-oupas saam dekke geskrop op die Drommedaris - Red.) Veronica deel gedagtes oor die dilemmas met delwers en diamante: ‘n Verhaal van hoop en ontbering, en die kanse op blink oplossings vir die swaarkry in die streek.
Mede-redakteur, navorser en burgerregte aktivis, Paul Maritz, skryf oor die betekenislose staatkundige begrip van soewereiniteit in ’n land waar vegvliegtuie nie vlieg nie, fregatte nie vaar nie, en soldate nie huis toe gebring kan word nie. ’n Ontnugterende blik op ’n land wat sy plek in Afrika wil opeis, maar nie eers sy eie lugruimte kan beskerm nie.
Juanita du Preez van die burgerregte groep Action Society stel die saak oor hoekom die geveg teen misdaad nie van 'n kantoortafel in Pretoria gewen kan word nie, maar op die sypaadjies van elke gemeenskap begin.
Ons derde mede-redakteur Daniël Eloff skryf oor die subtiele voortbestaan van ras as staatsidee, in konteks van ’n onlangse beleidsontwikkeling wat vereis dat burgers hul ras op amptelike dokumente moet aanteken om eiendom te kan registreer. Teen die agtergrond van Suid-Afrika se grondwetlike belofte van nie-rassigheid, vra hy of ons nie dalk, onder die vaandel van regstelling, weer ou instrumente met nuwe morele regverdiging probeer gebruik nie. Dis ’n stuk wat stadig dink, maar helder praat en reaksie ontlok— presies soos OntLaer beoog.
Laastens, plaas ons ‘n vertaalde artikel deur die redakteur van die Kaapse nuusblad The Cape Independent, Rob Duigan, met sy vergunning. Rob vat dooierus op pogings ter verklaring van Trump se heffing chaos, en probeer ‘n suiwerder sein daaruit distilleer, wat tussen al die dollars, rande en persentasies deur meer verteerbaar is.
Geniet dit!
So begin ons stap, nie met vaandels en vuiste nie, maar met fyn vrae en oop oë. OntLaer is nie ’n kortpad antwoordblad nie. Dis ’n ruimte vir die geduldige ontginning van betekenis. As jy ook glo dat taal kan troos én terg, dat denke soms tyd nodig het, en dat die waarheid nie skree nie maar bespreek en verskil, dan is jy op die regte plek. Welkom.