Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Boerelaers tydens die Anglo-Boereoorlog
Ons eerste aflewering van verfrissende geskiedenisbrokkies met die gerekende Professor Fransjohan Pretorius.
'n Walaer of 'n Boerelaer word met die geskiedenis van die Afrikaner vereenselwig. Dit was 'n kamp wat uit ossewaens bestaan het en in 'n sirkel, 'n driehoek, in ovaalvorm of selfs in die vorm van 'n hoofletter D getrek is.
Gedurende die Groot Trek rondom 1838 het die laer as 'n mobiele verdedigingsbolwerk gedien – mobiel, omdat dit uit waens bestaan het; en verdedigingbolwerk, omdat die Voortrekkers die waens in ’n laer getrek het en dit as verdedigingskans gebruik het.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog het die laer sy funksie as verdedigingsbolwerk verloor, omdat dit nie teen moderne artillerie bestand was nie. Nou het dit die rol van 'n kommandokamp aangeneem, vanwaar die burgers te perd sou vertrek om stelling in te neem vir 'n geveg. As sodanig was die laer die middelpunt vir die Boere se daaglikse aktiwiteite, want veldslae het maar 'n klein gedeelte van die oorlog uitgemaak.
As deel van die Boere se krygstradisie om te perd na die front op te ruk, vergesel van hul waens, het die Transvaalse Wet No. 20 van 1898 bepaal dat opgekommandeerde burgers hul eie waens en osse moes voorsien. Een wa vir elke 25 tot 50 burgers.
'n Laerkommandant – 'n nie-vegtende offisier – was in beheer van 'n laer. Dit was sy taak om die laerplek te kies, die uitleg te bepaal, die offisiershoofkwartier op te rig, en brandwagte uit te plaas. Hy moes ook higiëne handhaaf deur slagplekke, drinkwaterbronne, wasplekke, en areas vir ablusie en weiding te bepaal.
'n Laerplek was gewoonlik 'n afgesonderde gebied, agter 'n heuwel of in 'n weggesteekte kloof. Lt.kol. Gurko, die Russiese militêre attaché by die Boeremagte, het beskryf hoe die laers rondom Ladysmith volkome vir die vyand se oog weggesteek was deur die omliggende heuwels. Die beskikbaarheid van water, weiding en vuurmaakhout was ander vername oorwegings vir 'n laerplek. In die guerrillafase was die wegkruip-faktor ook 'n belangrike oorweging.
Ná die oorgawe van genl. Piet Cronjé met 4 000 man te Paardeberg op 27 Februarie 1900, het die krygsraad by Kroonstad op 17 Maart besluit om van die hinderlike walaers ontslae te raak.
En tog, van tyd tot tyd het individuele Boere maar weer 'n wa bekom om hul enigste besittings – ná die afbrand van hul wonings – mee te vervoer. En as 'n offisier weer sien, was daar 'n menigte waens versamel. Genl. Christiaan de Wet het in sy herinneringe opgeteken: “Wat was dat mij tot onbeschrijfelijk overlast!”
Die guerrillafase met sy vereiste van snelle beweeglikheid, het beteken dat daar tog geleidelik minder waens op kommando was. Wanneer 'n kommando buite sig van die vyand uitgespan het, was daar van laervorming geen sprake meer, maar die Boere het hul kampe steeds laers genoem.
Toe die Vrystaters in September en Oktober 1900 ná die eerste dryfjag op De Wet van die Transvaalse Bosveld af huiswaarts gekeer het, was dit meestal uit noodsaak sonder waens. En genl. Koos de la Rey het sy walaer-probleem opgelos deur die burgers wat sonder perde was, met die waens die Wes-Transvaalse Bosveld in te stuur.
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: