Groot scoop: OntLaer se eerste vrystelling in wording!
Nuwe Afrikaanse aanlynpublikasie binnekort volledig op 'n skerm naby jou
Vriende, vennote en vernaamstes,
Ons is baie dankbaar vir die intekenaars tot dusver. Terwyl ons nog die ossewaens poleer vir die groot oopskuif, en brandhout vir die gesellige OntLaer-atmosvure aandra, het daar reeds etlike belangstellendes ingeteken.
Ons span is hard aan die werk om binne die volgende week of wat ‘n volledige en eerste amptelike vrystelling van stapel te stuur.
Julle kan uitsien na sloernalistiek wat bevestig en uitdaag, vrae vra en antwoorde verskaf, maar bowenal jou opnuut sal neerplak om te besin - in en deur Afrikaans.
Julle kan ook uitsien na bydraes van dwarsoor die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse politieke en filosofiese spektrums. Ons sien uit na opsetlik uiteenlopende debat oor opsetlik uiteenlopende onderwerpe in ons soepel en plooibare taal. Debat wat robuus dog hoflik is, met die doel om die Afrikaanse laerganger te lok om doelbewus uiteenlopende stukke inhoud neffens mekaar te lees en te oorweeg.
Intussen kan julle ons mede-redakteurs Paul Maritz en Daniël Eloff se toetsbydraes geniet: Paul besin of hy sy snoeiskêr uit Duitsland aan die opperstes in SA moet Pudo weens die opgeblase regering, en Daniël lig sy welige wenkbroue oor die Grondwethof se besluit oor “Kill the Boer”.
Merk ons sommer met ‘n sterretjie in jou Inboks, en bly op hoogte van hoe ons woeker om iets nuut en stigteliks in Afrikaans te skep.
Mooi loop,
Die OntLaer-span