Honger, hoop en ‘n handpalm vol diamante
Diamante in Namakwaland is nie meer bloot minerale nie
Namakwaland se onontginde diamante behoort op die gewete van die regering te rus wat, na soveel jare van groot myngroep monopolieë, steeds nie weet hoe om die ekonomiese potensiaal van die minerale rykdom wetlik toeganklik te maak vir die onwettige kleinskaalse myners wat desperaat is om brood op die tafel te sit nie.
Die regering gebruik eerder mag om die sektor te beheer. Die land se minerale rykdom, wat belofte en nuwe moontlikhede inhou, het eerder vir baie mense sinoniem geword met korrupsie, onreg, agteruitgang en politici wat eerder na hul eie sakke kyk.
In Suid-Afrika sal niemand seker ooit weer na ‘n diamant kyk sonder om aan die berugte beweerde Ponzi-baas, Louis Liebenberg, te dink nie. Sy bemarkingsfoefie vir sy “besigheidskonsep” was dat hy graag diamante in die hande van gewone mense wou sit. Hy het herhaaldelik gepropageer dat ‘n diamant se waarde tot agt maal vermeerder ná die slypproses. En terwyl meer as 44 000 “vennote” ingetrek is deur die belofte dat hul geld—gebruik om in te koop by sy skynbeleggings—binne rekordtyd sou verdubbel, het min mense die ander kant van hierdie gulsigheid besef.
Liebenberg het nie verniet gesê dat “die delwertjies van Namakwaland hom uit sy dilemma sou red” nie. Op sy WhatsApp-groepe, saam met Garies se vermaarde kubus-koning, oom Adriaan Nieuwoudt, het hy gespog oor sy vennootskap met die Namas en hoe diamante vir ’n appel en ’n ei by onwettige delwers gekoop en teen groot winste verkoop word. Hierin lê ook deel van die probleem. Solank as wat die regering nie die onwettige kopers aanpak nie, sal onwettige delwery voortduur—veral in die Noord-Kaap, waar werkloosheid floreer en delwery vir baie mense ‘n manier is om kos op die tafel te sit. Ander is eenvoudig net misdadig van aard.
Hier moet ons egter begin onderskei
Daar is ‘n verskil tussen die gemeenskapslid wat enersyds, uit nood en gebrek aan ander keuses, ‘n graaf opneem, en die sindikate andersyds wat ten koste van mense, infrastruktuur en die ekologie hulself verryk. Hierdie grys area, waar desperate oorlewing en georganiseerde misdadige mynbou mekaar ontmoet, is presies waar beleidsvorming en ingryping sinvol kan wees. Maar helaas, daar is min politieke wil en nog minder visie.
Namakwalanders het met afgryse gekyk hoe Liebenberg en Paul Swartbooi (’n inwoner van Steinkopf wat Liebenberg tot Nama-koning gesalf het) uitnodigings op sosiale media plaas. Swartbooi het niks daarvan gedink om mense uit te nooi om in die "welvaart van Namaland" te deel nie. Soms met ‘n gebalde vuis in die lug, ander kere met ‘n masjiengeweer in sy silhoeët. Vandag sit Namakwaland met ’n groot uitdaging, synde die onwettige delwers, en ongedokumenteerde mense uit buurlande wat ook deel wil in haar minerale rykdom. En as jy nie diamante kry nie, wend jy jou tot misdaad. Ons fauna en unieke flora ly ook erg onder onwettige stropery.
Belastingbetalers dra ongelukkig die las en betaal daagliks vir die gevolge van hierdie sogenaamde gasvryheid. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die weermag word ingespan om misdadige elemente en onwettige delwery onder bedwang te kry.
Gasvry is ons inderdaad in Namakwaland, maar die verwoesting van die omgewing en die onwettighede wat sedert ongeveer 2018–2019 opgevlam het, veral onder die aanhitsing van Liebenberg en Swartbooi, is moeilik om in Rand en sent te bereken. Asof die groot myngroepe soos Transhex, De Beers en West Coast Resources en ander nie reeds genoeg skade aan die Weskus aangerig het nie, en hul rehabilitasieverantwoordelikheid grotendeels op ander afskuif. Beelde op Google kaarte vertoon hierdie vergrype duidelik.
Ek was in 2019 die DA se kiesafdelingshoof in die Richtersveld, en het onwetend in Liebenberg se visier beland. Ek is as vyand van die onwettige delwers uitgekryt, terwyl delwerspermitte eintlik ‘n beleidsprobleem is. Terwyl ek opreg empatie het met mense wat swaarkry, kon ek onwettige delwery nie goedpraat nie— om die eenvoudige rede dat diegene wat ruwe stene opkoop, nie markverwante pryse betaal nie; die delwers in onveilige omstandighede myn; en as hulle gevang word, sit hulle met ’n misdaadrekord. My standpunt is uiteraard nie goed ontvang nie, selfs al het hierdie bedryf tot lewensverliese gelei. Sien byvoorbeeld die foto hieronder, van gate onder die teerpad in Kleinzee, waar twee persone met ‘n ineenstorting toegeval het. In 2012 het tien mense by Bontekoe omgekom nadat tonnels waarin hulle gemyn het, toegeval het— en daar is meer sulke gevalle. Dit het egter nie die delwers gestuit nie.
Wat van wettige delwery?
Suid-Afrika se mynbou lisensiëringsproses is buitengewoon ontoeganklik.
Om ’n kleinskaalse mynlisensie of die nodige permitte te bekom, is ’n proses vol onkostes, papierwerk en tegniese vereistes wat die gemiddelde werklose persoon in die Noord-Kaap eenvoudig nie aan kan voldoen nie. Die staat skep dus ’n omgewing waar armoede lei tot misdadigheid— en dán gebruik die staat geweld om dit te onderdruk.
Op Baken en Sanddrift is onwettige delwers aangemoedig om toerusting van onder meer Lower Orange River Diamonds (LOR) aan die brand te steek. Inwoners was oproerig. Liebenberg en Swartbooi het floreer te midde van hierdie anargie. Die diamantkoors was op 'n hoogtepunt.
In Kleinzee, waar die Nama Khoi Munisipaliteit onlangs van De Beers oorgeneem het, het duisende onwettige delwers op ‘n stadium toegesak. Die gekap en getimmer het deurnag geduur, selfs in dorpsgebied. Entrepreneurs het gou ’n geleentheid gesien en wyn, dwelms, en selfs prostitute beskikbaar gestel. Vakansiehuise is geplunder, koperkrane gesteel, en daar is tot op die skoolgronde gegrawe. In hierdie beginfase het ‘n baie selfversekerde Liebenberg op sy sosiale platforms, gemeenskapsradio en sy “onwettige delwers-bostelegraaf” nie net optogte gereël nie, maar homself as redder van die volk voorgedoen. Hy het selfs ‘n onwettige plaasbesetting aangehits en my persoonlike woonadres op verskeie forums versprei, wat my werkomgewing onveilig en beperkend gemaak het.
Ten spyte daarvan dat die Noord-Kaap die grootste provinsie volgens oppervlakte is deur nagenoeg 30,5% van die land se oppervlak te beslaan, ontvang dit die kleinste porsie van die "billike aandeel" (equitable share) van die regering se begroting vir ontwikkeling en werkskepping. Met al die diamante wat al uit hierdie provinsie ontgin word, sou ’n mens verwag dat daar infrastruktuur van so ’n aard sou wees dat dit ekonomiese groei en werkskepping kon stimuleer. In plaas daarvan sit ons met politici wat self aandele in hierdie myne hou en hulself, net soos Liebenberg, ten koste van Namakwaland se mense verryk.
Die nuwe myngroep, Kleinzee Holdings (“KH”), wat oorgeneem het by De Beers, het in drie myngroepe verdeel. Deel van KH se maatskaplike arbeidsplan wat die drie myne deel, fokus daarop om die probleem van onwettige delwery aan te spreek deur die AML-program (Artisanal Miner Legacy-program).
Blue Ocean Mining, een van die drie myngroepe, het reeds pro-aktief inisiatief geneem om die plaaslike gemeenskappe en baie voormalige onwettige delwers in ‘n wettige kleinmynprojek te integreer. Hierdie delwers word opgelei, met veiligheidsklere en toerusting voorsien, en delf in ‘n aangewese gebied onder veilige omstandighede met ondersteuning en billike winsdeling. Vir die eerste keer kry plaaslike mense in hierdie area ‘n regverdige geleentheid om ook in die minerale rykdom van Namakwaland te deel.
Dit is ’n model wat nagevolg moet word. Die Departement van Minerale Hulpbronne behoort sulke inisiatiewe aktief te ondersteun en administratiewe struikelblokke te verwyder. Hulle behoort ook te poog om vennootskappe met die privaatsektor te fasiliteer en programme vir opleiding, tegniese ondersteuning en mikrofinansiering op die been te bring. Die ingryping van die regering deur die toetrede van die SAPD en weermag om die zama zama-probleem onder beheer te kry sedert De Beers onttrek het, het die mynmaatskappye wat oorgeneem het by De Beers onder die Kleinzee Holdings vaandel, gebaat. Baie ongedokumenteerde delwers van buurlande is in hegtenis geneem. Tog bewys Blue Ocean Mining se projek, dat kleinskaalse, geïntegreerde delwery wettig, veilig en winsgewend kan wees—mits daar politieke wil is om dit te reguleer, nie net te kriminaliseer nie.
Die armoedesiklus sal slegs gebreek word as geleenthede soos hierdie verantwoordelik geskep word, sodat mense eerbaar kan werk, brood op die tafel kan sit en hul menswaardigheid herstel. Dit is tog jammer dat die ANC-raadslid sy naam bo-aan die lys geplaas het om van hierdie geleentheid gebruik te maak— ’n inisiatief wat juis vir die werkloses en behoeftiges bedoel is.
Blue Ocean Mining is tans besig met baanbrekerswerk. Hulle plaas werklik diamante in die hande van gewone mense. As die regering ernstig wil wees oor ekonomiese transformasie in die diamantbedryf, sal dit moet begin daar waar die mens en die grond mekaar letterlik ontmoet: Met beleidshervorming en deur vennootskappe met die privaatsektor om die bedryf meer toeganklik te maak.
Ook hier in die stof van Namakwaland, waar diamante wel meer as net klippe is. Dit is simbole, nie net van uitbuiting nie, maar ook van hoop en dalk uiteindelik, van herstel.
Veronica van Dyk is voormalige DA-LP en kiesafdelingshoof vir die Richtersveld. Sy is van Kleinzee.