In ’n era waar ’n kind in Kuruman binne sekondes dieselfde toegang het tot kennis as ’n professor in Cambridge (ten minste teoreties), voel dit amper argaïes om nog te praat van "geheue”of “memorisering”. Wat is die nut daarvan om die datums van die Anglo-Boereoorlog te onthou, of om te weet dat mitochondria die kragstasies van die sel is, as jy dit binne vyf sekondes op jou selfoon kan opsoek? Soos met markkragte, geld die beginsels van vraag en aanbod ook vir kennis of inligting: hoe meer inligting beskikbaar is, hoe minder voel mense die behoefte om dit self te besit of te onthou.
Op die Joe Rogan Experience is die frase “Pull that up, Jamie” ‘n bekende aanhaling—’n digitale beroep tot die alwetende algoritme. Daar sit Rogan en praat oor die geheimsinnige kragte van lion’s mane sampioene of doen navraag of sy gas dalk al 'n vreemde vlieënde voorwerp gesien het tydens sy onlangse jagnaweek, en dan maak iemand ’n halwe stelling oor die Romeinse Ryk, 5G-straling, of die eetgewoontes van Tibetaanse bergbokke en Rogan roep “Pull that up, Jamie.” En Jamie, Rogan se gewillige orakel agter die skerms, tik en klik totdat die waarheid—of iets wat soos waarheid lyk—op ’n rekenaarskerm verskyn. Dis infotainment se weergawe van klikkende kitskos vir intellektuele inspanning.
Wie’t tyd vir onthou as jy ’n Jamie het? Maar mens wonder soms of ons besig is om 'n kultuur van gesprek voer te kweek of net 'n lewendige speletjie van “Wie kan eerste Google?”
Die moderne 21ste eeu mens het 'n transaksionele verhouding met kennis begin ontwikkel. As kennis nie onmiddellik bruikbaar is nie, lyk dit oorbodig. En soos ’n ou boek in ’n biblioteek wat niemand meer uitneem nie, word geheue—persoonlike, interne kennis—stilweg gemarginaliseer.
En hier skuil die tragiese gevolg, wat ons samelewing besig is om te verloor: nie net die toegang tot feite nie, maar die vermoë om feite met mekaar te verbind - tot kritiese denke self.
Is Onthou Onnodig?
Ons word voortdurend blootgestel aan die mantra van onmiddellike toegang en kits genoegdoening. Jy hoef dit nie te weet nie, jy moet net weet waar om dit te kry. Hierdie idee het 'n soort populistiese aantrekkingskrag. Dis inklusief. Dis vinnig. Dis tegnologies geletterd.
Tydens my regstudies het dosente selfs met ’n bietjie ironie gesê: “’n Prokureur hoef nie die reg te ken nie—hy moet net weet waar om dit op te soek.” Dit was half tong-in-die-kies bedoel, maar tog het dit ’n nuwe soort professionele vaardigheid begin verheerlik: nie om dinge te onthou nie, maar om dit doeltreffend na te spoor.
Maar dit skep ’n illusie. Die aanname is dat toegang tot inligting gelykstaan aan begrip. Dit is soos om aan te neem dat toegang tot 'n woordeboek beteken jy verstaan 'n taal. Maar taal leef nie in die boek nie, dit leef in mense. Net so leef kennis nie in die rekenaar nie, maar in die mense wat dit internaliseer, assosieer en verwerk.
Om dus individuele geheue te ignoreer, is nie 'n neutrale keuse nie. Dis 'n wending weg van die vermoë om krities te dink—nie bloot om inligting te herhaal nie, maar om daarmee te werk, om dit te verbind aan ervaring, intuïsie, vorige gebeure en gesonde oordeel.
Geheue as Infrastruktuur van Denke
Wanneer ons iets onthou, plaas ons dit in ’n innerlike argief. Hierdie argief is nie staties nie, maar aktief, dinamies, en beskikbaar vir assosiasie en gedagtevorming. Jou brein maak sin van nuwe inligting deur dit met bestaande inligting te vergelyk, te kontrasteer en te verbind.
Neem byvoorbeeld 'n student wat leer oor die ekologiese impak van mynbou. As hy niks onthou van biodiversiteit, van basiese wetenskaplike beginsels, of van Suid-Afrika se eie minerale geskiedenis nie, dan is hy vasgevang in ’n noue kognitiewe straatjie wat tot simplistiese gevolgtrekking lei. Hy kan dalk 'n paragraaf opsê, maar nie kompleksiteite raaksien nie. Hy kan navolg, maar nie navraag doen nie.
Geheue gee nie net konteks nie, maar dit skep moontlikhede vir dieper kennis en gedagtes. ’n Skrywer sonder ’n interne biblioteek van beelde en woorde kan nie metafories dink nie. ’n Denker sonder 'n geheue-bank van vorige idees kan nie innovasie onderskei van herhaling nie. En ’n burger sonder historiese geheue is uitgelewer aan die herhaling van historiese foute.
’n Kultuur van Oppervlakdenke
Ons woon darem nie reeds in ‘n distopiese Black Mirror-wêreld nie, maar hierdie afsydigheid teenoor geheue vorm deel van ’n groter skuif in die samelewing. Die ophemeling van onmiddellikheid, gemak, en om algoritmies iets te “weet” is 'n tydsgees waarin "lees" dikwels beteken om deur opskrifte te blaai, en "kennis" beteken om ’n mening te hê oor iets waarvan jy pas gelees het. Dit is waarom mens dikwels deesdae mense sien met sterk opinies oor die konflik in Gaza, beleide van Donald Trump, of die geskiedenis van kolonialisme—sonder dat hulle noodwendig oor die konteks, kompleksiteite of die oorspronklike bronne beskik, want jy het mos “jou navorsing” gedoen.
In so ’n kultuur begin ons dink dat menings gelykstaan aan insig, en dat in agname van konteks opsioneel is. Dis ’n gevaarlike tendens. Want demokrasie, debat, en burgerlike vryheid vereis burgers wat nie net toegang tot inligting het nie, maar wat ingeligte oordeel kan fel—en dit kan jy nie Google nie. Dit verg 'n individuele en kollektiewe geheue.
Indien ‘n samelewing onsself oorgee aan totale geheue-uitkontraktering aan toestelle, verloor ons iets wat geen tegnologie kan vervang nie: die vermoë tot diep menslike insigte en begrip.
’n Mens met kennis in die kop, eerder as slegs in die sak (of handpalm), het ’n ander manier om in die wêreld te wees. Hy kyk met ’n oog vir patrone, vir betekenis, vir konteks. Sy denke is nie net reaktief nie, maar reflektief. Sy oordeel is nie afhanklik van die eerste tien Google-resultate nie, maar van 'n innerlike lewende biblioteek van ervaring en insig.
Selfs kreatiwiteit ly daaronder. Die digter, die komponis, die wetenskaplike—almal staan op die skouers van wat hulle onthou. Innovasie sonder ’n geheue is niks anders as toeval nie.
Wat om hieruit te onthou…
Die antwoord is nie om terug te keer na rote memorisering of die gesag van ander as onbetwisbare bronne van inligting te aanvaar nie. Inteendeel, dit is juis kritiese geheue wat ons moet koester: die vermoë om kennis te internaliseer, te bevraagteken, en te verstaan binne groter raamwerke.
Suid-Afrika het dalk ’n besondere behoefte aan hierdie soort geheue. In ’n samelewing waar amnesie dikwels as politieke taktiek gebruik word, en waar geskiedenis selektief onthou word, is dit noodsaaklik vir gemeenskappe om eerlik kompleksiteite te onthou. Nie net die feite nie, maar die lesse, die oorsake, die konteks. Onthou word ’n morele plig.
In ’n wêreld vol inligting, is dit die mens met ’n lewende geheue wat nog steeds die voordeel het— nie noodwendig omdat hy meer weet nie, maar omdat hy dink.
En dit is iets waarvoor daar geen vinnige soekterm bestaan nie.