Jakob se grootste behoefte: om vir Esau te paai
Jakob se ontmoeting met Esau ontbloot iets oor gelowiges se verhouding met God.
’n Aktuele gevaar
Min mense sal stry dat die wysste ding wat Suid-Afrika tans kan doen, ná die nuutste reeks handelstariewe wat die Trump-administrasie afgevaardig het, is om daardie administrasie te paai.
Om ons eie tariewe te laat staan, om binnelandse en buitelandse beleid aan te pas om te verhoed dat ons deur die magtige Amerika en sy ekonomie, politiek en krygslus die armlastigheid ingestuur word.
Daar is dié in Suid-Afrika wat hulle in hierdie werklikheid verlekker: "Die tyd het gekom dat dié poppe gaan dans!" En daar is ander wat hul daarteen verset: "Oor my dooie liggaam sal ek nooit so ’n toegewing maak nie."
Die menslike natuur verander nie
As predikant is dit belangrik om te sê dat niks in die mens se natuur sedert die skryf van die Ou Testament verander het nie...
Na ’n lang afwesigheid van die Beloofde Land is Jakob op pad terug. En hy is bang vir die regverdige woede van sy broer Esau.
Sien, Jakob het vir Esau bedrieg, ondergrawe, en sy blinde pa verneuk deur die Naam van die Here ydellik te gebruik.
Tussen twee gevare
Jakob is in die moeilikheid op pad vorentoe. Maar hy is ook in die moeilikheid agtertoe. Hy het ook vir Laban bedrieg en dáár, in Mesopotamië, kan hy nie meer bly nie.
Al weg wat vir Jakob oop is, is om Esau te paai—Esau wat met 400 man op pad is om hom van al sy aardse besittings te ontneem.
Geskenk na geskenk stuur hy daar in Pniël na Esau toe. Hy hoop dit sal Esau se woede laat bedaar.
’n Groter probleem
Maar daar in Pniël ontdek Jakob dat hy ’n groter probleem as Esau het. Sy grootste probleem is nie met Esau nie, maar met God. En God kom wys dit vir hom uit.
Jakob se groot fout was om te dink hoe hy Esau kon paai. God kom maak aan Jakob bekend dat sy grootste nood nie is om met Esau versoen te wees nie, maar met Hom.
Die werklike gevaar
Ja, daar is gevaar aan die tariewe wat Trump ingestel het. Maar die evangelie kom tot ons en laat ons sien dat ’n lewe los van God, los van Christus, ’n lewe is wat ’n totale flop van alles maak—die verlede én die toekoms.
En dat die groter en meer dreigende gevaar as handel en nywerheid wat tot ’n stilstand kom, die gevaar is dat my ewige siel hel toe kan gaan, en ek die ellendige lyding daarvan ewig gaan beleef omdat ek nie met God versoen is nie.
Dit is my gevaar!
Esau is nie die gevaar nie. Trump is nie die gevaar nie.
Nee, ek self is die probleem. Nie Esau nie, maar God. Nie Esau nie, maar ek self.
Nie besittings en huispaaiemente en skuld en dies meer is die kosbaarste goed in my lewe nie, maar my ewige siel.
Die oorwinning in Pniël
Die Engel van die HERE, Jesus Christus, het met Jakob kom stoei en hom tot die besef gebring: dat God gevaarliker en belangriker is as alles waarmee en waarom hy Esau wou paai.
En Jakob, daar in die stoeierarms van Jesus—dieselfde arms wat die heelal en Jakob self geskep het—oorwin.
Hoe kry hy die oorhand?
Hosea 12:4–5 openbaar sy geheime greep:
“𝘪𝘯 𝘴𝘺 𝘮𝘢𝘯𝘭𝘪𝘬𝘦 𝘬𝘳𝘢𝘨 𝘩𝘦𝘵 𝘩𝘺 𝘮𝘦𝘵 𝘎𝘰𝘥 𝘨𝘦𝘸𝘰𝘳𝘴𝘵𝘦𝘭.
𝘑𝘢, 𝘩𝘺 𝘩𝘦𝘵 𝘮𝘦𝘵 𝘥𝘪𝘦 𝘌𝘯𝘨𝘦𝘭 𝘨𝘦𝘸𝘰𝘳𝘴𝘵𝘦𝘭 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘰𝘰𝘳𝘩𝘢𝘯𝘥 𝘨𝘦𝘬𝘳𝘺,
𝘩𝘺 𝘩𝘦𝘵 𝘨𝘦𝘸𝘦𝘦𝘯 𝘦𝘯 𝘏𝘰𝘮 𝘨𝘦𝘴𝘮𝘦𝘦𝘬.”
Die antwoord op ons vrees
Die antwoord op ons eksistensiële angs is uiteindelik nie om dit wat ons angs veroorsaak te paai nie, maar om in die arms van Jesus te ween en te smeek.
En vir die wat só die koninkryk van God en sy geregtigheid eerste soek, sal ook die ander dinge bygevoeg word.
Soos met Israel die geval was. Al is dit dat ons na die ontmoeting mank moet gaan.
Ds Nikolaas Pienaar is ‘n predikant van die Gereformeerde Kerk, Hermanus, en dosent aan die Gereformeerde Teologiese Akademie. Hy is ook ‘n aanbieder op die Radio Scriptura Potgooi.