Kaapstad se jihadiste steek niks meer weg nie
Waarom het niemand kennis geneem van hierdie gewelddadige groep wat oproepe tot geweld maak nie?
Daar is 'n organisasie wat in Kaapstad gebaseer is en op die oog af baie edele werk teen bendes en dwelmgebruik in die gemeenskap doen. Hulle noem hulself PAGAD (People Against Gangsterism and Drugs). Ongelukkig het hulle ook 'n baie donker verlede wat veel verder strek as vreedsame aktivisme teen bendes en dwelms.
Die organisasie het in die middel-1990’s bekendheid verwerf en is veral berug vir die 1996-optog waartydens die Hard Livings-bendeleier Rashaad Staggie aangeval, geskiet en aan die brand gesteek is. In die daaropvolgende jare het Suid-Afrikaanse owerhede PAGAD en sy vermeende geheime G-Force verbind met moorde, intimidasie, onwettige vuurwapens, plofstof en 'n reeks stedelike terreuraanvalle in Kaapstad.
Hulle is ook verdink van betrokkenheid by verskeie bomaanvalle gedurende hierdie tydperk, hoewel die organisasie verantwoordelikheid ontken het en betrokkenheid by nie elke aanval in die hof bewys is nie. Hierdie geskiedenis is belangrike konteks wanneer PAGAD se hedendaagse militante retoriek beoordeel word.
Die nasionale koördineerder van PAGAD het onlangs belowe om “die party van Allah op die kus van Afrika los te laat” toe hy Sondag, 2 Augustus, 'n skare toegespreek het wat Hamas-, Hezbollah- en Palestynse Islamitiese Jihad-vlae op die Seepunt-promenade gewaai het.
Haroon Orrie het ook gesê: “Ons moet dit hard sê en ons moet dit vandag baie duidelik sê. Aan elke Sionis, aan elke onderneming wat Sionisme en onderdrukking ondersteun, aan elke politikus, aan elke politieke party, aan elke mens wat Sionisme en onderdrukking ondersteun: julle moet liewer vir julle 'n rots gaan soek om onder weg te kruip.”
Dit blyk toenemend dat PAGAD homself eerder besig hou met steun aan organisasies wat deur die Verenigde State en ander lande as terreurorganisasies geklassifiseer word en wat vir honderde aanvalle en jare van geweld verantwoordelik was, as met die bekamping van bendes en dwelms.
Om vir mense te sê dat hulle moet wegkruip voordat 'n skare aangespoor word om teen hulle te veg, oorskry 'n grens wat geen demokratiese samelewing kan bekostig om te ignoreer nie. Dit kom gevaarlik naby aan 'n dreigement van moord. Daar is verwys na Sahih Muslim, Boek 54, Hadith 103, waarin gesê word dat Jode agter rotse en bome sal wegkruip, en dat die rotse en bome sal uitroep: “O Moslem, daar is 'n Jood wat agter my wegkruip. Kom en maak hom dood.”
Orrie het verder gegaan en gesê: “Ons groet die leiers van die Mujahideen”, met ander woorde dié wat jihad voer. Daarna het hy gevra: “Hoeveel jare wil ons nog wag vir 'n opdrag, wanneer Allah julle beveel om in sy saak te veg?” Die skare het met “Allahu Akbar” geantwoord. Dit is 'n blatante oproep tot jihad.
Orrie het verder gesê hierdie “opdrag” is nie net aan Palestyne en Iraniërs gegee nie, maar aan die hele mensdom. Hy het die skare toegespreek en gesê: “Ons moet hulle veg waar ons hulle ook al kry, koeël vir koeël.” Dit klink soos die globalisering van die Intifada. Orrie is voorheen afgeneem terwyl hy 'n Hamas-kopband gedra get, en het in 2023 gevra dat LGBTQ+-mense met die dood gestraf moet word.
Die betoging van 2 Augustus is deur verskeie klein organisasies gereël. Sommige vroue het Hezbollah-kopbande gedra en kinders was ook teenwoordig. Deelnemers het op Israeliese en Amerikaanse vlae getrap en plakkate omhoog gehou met boodskappe soos “Dood aan Israel” en “Eer aan die martelare, lank lewe die verset”, tesame met 'n Hamas-logo.
Die leier van die organisasie Cape Town Intifada, Uzair Mohamed, het 'n Hezbollah-vlag vasgehou terwyl hy die skare toegespreek het. “Ons veg met die doel om Sionistiese Israel uit te wis, te vernietig en totaal uit te roei,” het hy gesê, waarop die skare met “Allahu Akbar” gereageer het. Sy organisasie ondersteun terrorisme en plaas gereeld die omgekeerde rooi driehoek, 'n simbool wat met Hamas-terreuraanvalle verbind word, op sy plasings.
“Dit is ons wat ons slagveld moet kies,” het hy aan die skare gesê. “Die belangrikste ding is om bewustheid oor gewapende verset te bevorder.” Weereens 'n oproep tot jihad en Intifada.
Hy het gesê daar kan “nooit ooit” 'n onderhandelde skikking tussen Israel en die Palestyne wees nie. “Hulle, Israel, is 'n onwettige en onregmatige regime, en hulle moet vernietig word.”
Hy het verder die “martelare” van Hamas, Hezbollah, Palestynse Islamitiese Jihad en die Islamitiese Republiek van Iran geloof en herhaaldelik geskree: “Dood aan Israel!” Gebaseer op wat op 2 Augustus in Kaapstad plaasgevind het, behoort die Joodse gemeenskap en Joodse ondernemings in Suid-Afrika, asook elke normale, vredeliewende Suid-Afrikaner, baie bekommerd te wees.
Dit is duidelik dat PAGAD al hoe meer selfversekerd en gevaarlik raak. Die herhaalde verwysings na martelaarskap laat my glo dat die organisasie besig is met 'n nuwe proses van radikalisering ter ondersteuning van Hamas.
Terrorismekenner professor Hussein Solomon sê Orrie en Mohamed se uitlatings is “aanhitsing”. Of dit tot aktiewe terrorisme sal oorgaan, sal ons moet sien, maar dit is beslis kommerwekkend.
Die teenterrorisme-spesialis Willem Els sê die Joodse gemeenskap behoort deur hierdie retoriek gewaarsku te voel. Ek sal byvoeg dat elke Suid-Afrikaner baie bekommerd behoort te wees dat daar organisasies is wat openlik terreur ondersteun en tot geweld aanhits. Hy sê dit is kommerwekkend omdat die taalgebruik maklik as ondersteuning vir gewelddadige optrede geïnterpreteer kan word.
Wat baie opvallend was tydens die optog, was die verwysing na “die party van Allah”, oftewel Hezbollah, en die aantal Hezbollah-vlae wat teenwoordig was. Dit is algemene kennis dat Hezbollah as Iran se gevolmagtigde optree. Dit laat die vraag ontstaan tot watter mate Iran ook sy voelers na organisasies hier in Suid-Afrika uitgestrek het.
Wat dit alles beteken, sal net mettertyd duidelik word. Wat wel baie belangrik is, is dat ons op ons hoede moet wees en wakker moet slaap, want dinge kan baie vinnig verkeerd loop.
Die Hezbollah-vlae waai in die daglig. Ons moet ons oë oophou.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










