“Kill the Boer” en die Stilswye van die Regstaat
Die reg en die werklikheid begin mekaar misverstaan
Hofuitsprake is veronderstel om ’n einde aan ‘n geskil te bring — om, soos die reg dit vereis, uitsluitsel te gee. Die gemeenregtelike beginsel van res judicata berus op die idee dat daar ’n punt moet kom waar dinge finaal besleg is, waar die wet en die howe wat die wet interpreteer haar sê gesê het, sodat die saak nie weer geopper hoef te word nie.
Wanneer die hoogste hof in die land besluit dat ’n omstrede politieke leuse of dreunsang nie regsgrense oorskry nie, is dit nie net ’n juridiese oordeel nie — dis ’n soort spieël. En wat daardie spieël vir ons wys, is nie net wat die reg sê nie, maar wat die reg nie sê nie.
Ek het nie altyd van buite af gekyk nie. Ek was die prokureur van rekord namens AfriForum toe die “Kill the Boer”-saak aanvanklik voor die Hooggeregshof in Johannesburg gedien het. Ek het ook die appèl in die Hoogste Hof van Appèl as prokureur van rekord gebring. Maar teen die tyd dat dit die Grondwetlike Hof bereik het — die eindpunt van juridiese gesag — was ek nie meer in praktyk nie.
Die uitspraak, soos dit nou staan, sê dat die Kill the Boer-dreunsang nie haatspraak is nie. Dit is, volgens die hof, politieke retoriek — simboliek, nie aanhitsing tot geweld nie. Maar wat beteken dit wanneer simboliek juis gebruik word om grenslyne te verskuif? Wanneer die een se beweerde erfenis ‘n ander se bedreiging word?
Dis hier waar die reg en die werklikheid mekaar begin misverstaan.
Die doel van hierdie stuk is nie om vir my uit te laat as regsgeleerde nie. Nie om in ’n debat betrokke te raak oor of artikel 10(2) van die Gelykheidswet konjunktief of disjunktief gelees moet word nie — in leke-taal, of haatspraak eers aanhits én diskrimineer, of bloot een van die twee nie. Ook nie oor of die Grondwet ’n absolutistiese of buigsame benadering tot vryheid van uitdrukking vereis nie. Hierdie meningstuk is nie ’n regsargument nie, maar ’n poging om sin te maak van wat dit beteken wanneer die howe begin praat op maniere wat gewone mense nie meer verstaan nie. Om vas te vat wat verlore gaan wanneer simboliek sterker weeg as betekenis, en wanneer die reg, ten spyte van al sy belowende teks, tog nie daarin slaag om gemeenskaplike morele grense te bevestig nie.
Wanneer die reg weet wie jy is
Die “Kill the Boer”-saak gaan uiteindelik minder oor die lied self, en meer oor hoe die reg, in verskillende kontekse en teenoor verskillende groepe toegepas word.
Friedrich Hayek die Oostenrykse denker het geskryf dat die reg, in sy mees ideale vorm, onpersoonlik moet wees. Die wetgewer en howe, sê hy, moet nie weet wie jy is, wat jy dink, of wat jy beleef het nie. Die reg moet algemeen wees, toepaslik op enige mens, oral, enige tyd.
Dis nie omdat die reg onmenslik wil wees nie. Dis juis omdat dit ál manier is waarop ons mense gelyk kan hanteer. Wanneer die reg begin onderskei tussen dit wat “uit woede” gesê is, en dit wat “letterlik” bedoel word — afhangende van wie praat — dan vervaag die lyn tussen regspraak en politieke oordeel. En sou daardie lyn verdwyn, begin die reg sy vermoë verloor om vertroue te kweek of te onderhou.
In die “Kill the Boer”-saak het die hof, ten spyte van eksplisiete getuienis onder eed deur Julius Malema dat hy nie die woorde figuurlik bedoel het nie, tot die gevolgtrekking gekom dat ’n “redelike persoon” dit tog sou hoor as simboliek. Maar wie is hierdie redelike persoon? En waarom verbeel die regbank hom juis in die gedaante van iemand wat simpatiek is tot politieke emosie?
Dis nie soseer dat die hof nie kon redeneer dat die lied in ’n spesifieke konteks figuurlik bedoel is nie. Die probleem is dat dit moes — dat die hof gekies het om begrip te hê eerder as om te oordeel. En wanneer howe begin begrip toon in plaas van om te oordeel, word hulle deel van die politiek.
Die lied wat ’n landskap vorm
“Kill the Boer, kill the farmer” is nie ’n akademiese stelling nie. Dis ’n lied wat mense sing — op verhoë, by saamtrekke, tydens straatbetogings. Dis klank, ritme, herhaling. En soos enige goeie lied, word dit met tyd nie dowwer nie, maar skerper en harder. Dit is ‘n dinamiese simbool wat ewigdurende sy betekenis en boodskap verander— en simboliek is altyd meer as wat dit sê.
Dat die lied uit ’n vryheidstryd spruit, is sonder twyfel waar. Maar wat is die lied nou? Is dit nog protes, of het dit al in iets anders oorgegaan — in politieke intimidasie, in etniese antagonisme, in iets wat mag ten toon te stel? Wanneer selfs die ANC afstand doen van die lied, nie omdat dit ongrondwetlik is nie, maar omdat dit onvanpas geword het in ’n veranderende politieke landskap, sê dit iets. Dit sê dat die simbool begin aftakel en afbreek en dat die tyd en konteks verander het.
Hier’s die realiteit: wanneer ’n politieke leier, in beheer van ’n organisasie met parlementêre setels, dit sing, is dit nie ’n melankoliese herinneringe van die verlede nie — dit’s ’n boodskap. En die boodskap is duidelik: ons onthou wie die vyand was, en jy lyk soos daardie vyand. Dis nie nostalgie nie; dis herbevestiging. ’n Herbevestiging van skeiding, van andersmaak, van magsposisionering teenoor ’n “ander” wat nou ’n minderheid is, maar steeds simbolies voorgegee word as die oormag.
Ons leef in ’n land waar woorde saak maak. Ons ken dit uit ons geskiedenis. Ons weet wat gebeur as mense begin sê: daardie groep is die probleem. En daarom is ons Grondwet so versigtig rondom uitdrukkings van haat en geweld. Dit beskerm vryheid van spraak — ja — maar nie absoluut nie.
As jy as boer, of wit Suid-Afrikaner, hoor dat dit wettig is om op ’n verhoog te skree “Kill the Boer”, en jy sien die hof sê dis maar politiek, dan voel jy nie beskerm nie. Dan voel jy uitgesluit, ongeag of jou bevolkingsgroep statisties minder werkloosheid ervaar as ander, of histories ‘n voordeel geniet het — want die reg moet nie afhanklik wees van demografiese skuld of groepsgeskiedenis om iemand se vrees ernstig op te neem nie. Wanneer die reg begin uitsluit, begin die samelewing skeur. Nie omdat almal ewe kwesbaar is nie, maar omdat almal nie meer as gelykwaardig beskou word nie.
Die reg moet ’n rem wees
Die reg is nie daar om emosie te versterk nie. Dit’s daar om die polsslag stadiger te maak, die bloeddruk te laat sak, die argument te verskuif vanaf die straat na die hof. Maar hoe doen ’n regbank dit wanneer sy eie lede deel is van die geskiedenis wat uitgespeel word in die saak voor hulle?
Dis nie maklike vrae nie. Suid-Afrika se regbank is nie homogeen of boos nie. Maar dit is, soos alles hier op aarde, menslik. En menslikheid is juis wat die reg moet beheer — nie wegneem nie, maar orden.
Die reg moet nie olie op die vuur gooi nie — dit moet water na die vuur toe bring. Dis nie daar om mense se woede te beaam of hul frustrasies te verwoord nie, maar om ’n neutrale ruimte te skep waar selfs moeilike sake kalm en regverdig hanteer kan word. Wanneer emosies hoog loop en die gemeenskap verdeel is, moet die reg die plek wees waar dinge tot rus kom, nie waar dit verder opgesteek word nie.
Maar dis ingewikkeld wanneer die regters self ook mense is, met hul eie geskiedenis, oortuigings en ervarings — dieselfde geskiedenis wat dikwels in die saak voor hulle ter sprake is. Dit beteken nie hulle is sleg of bevooroordeeld nie, maar dit wys hoekom dit só belangrik is dat die reg nie bloot deur simpatie of politieke gevoel bestuur word nie, maar deur beginsels wat vir almal geld. Dis juis omdat ons menslik is, dat ons ’n regstelsel nodig het wat die soort ding keer, nie dryf nie.
Wat is haatspraak, regtig?
Daar’s ’n tendens om haatspraak te definieer as woorde deur mense wat eksplisiet geweld aanhits teen beskermde groepe. Maar hierdie siening ignoreer die sosiale werklikheid waarin die meeste geweld verwoord begin — in memes, in liedjies, in slagspreuke, in groepstaal wat die ander “ontmens”.
Wat die media egter dikwels verkeerd verstaan — of verkeerd weergee — is dat haatspraak, selfs hoe verwronge of ongelyk dit toegepas word, tegnies nie vereis dat daar ’n gevolg bewys moet word vir die spraak nie. Die wet vra nie dat ’n slagoffer fisies benadeel moet wees voordat die uiting as haatspraak kwalifiseer nie. Daar hoef dus nie bewys te word — hoe grusaam die voorbeelde ook al is, en ja, daar is verwys na tonele waar “Kill the Boer” in die bloed van slagoffers teen mure geverf is — dat Malema se aanhitsing tot daad gelei het nie. Wat bewys moet word, is dat die uiting objektief gesien waarskynlik aanhits tot haat teen ’n beskermde groep, en dat dit nie redelik is om dit as ’n toelaatbare uitoefening van vryheid van spraak te sien nie. Die bewyslas is dus inhoudelik: wat is die aard, konteks, en waarskynlike impak van die woorde — nie of iemand reeds in reaksie daarop gesterf het nie.
Die aanname dat die lied nie dodelik is nie ignoreer die sfeer waarin dit gesê word: Suid-Afrika, met sy gespanne plaasmoord-realiteit (en algemene enorme probleem met geweld en moord), met sy belaaide politiek, met sy geskiedenis van geweld teen mense op grond van ras én beroep.
Dalk is die probleem dat Suid-Afrikaanse haatspraakreg in die eerste plek nie ontwerp is om die samelewing teen nuwe vlamme van verdeeldheid te beskerm nie, maar om die letsels van die verlede te probeer hanteer. Dis wetgewing met ’n terugwaartse blik — gefokus op die herstel van historiese magswanbalanse, eerder as die voorkoming van toekomstige konflik. Daar’s ’n diep ingeboude wantroue teenoor groepe wat voorheen met strukturele mag geassosieer is, en dit beïnvloed hoe die reg toegepas word. ’n Uitdrukking van woede teen “Boere” word makliker geregverdig, terwyl dieselfde tipe taal teenoor ’n ander groep vinniger as haatspraak geklassifiseer sou word. Die gevolg is dat die reg, ten spyte van sy eie bewoording, nie soseer beskerm teen aanhitsing nie, maar teen herhaling van vorige onderdrukking. En só raak dit meer ’n instrument van herstel as van universele geregtigheid.
Reputasie en regverdigheid
Daar’s ’n wêreld buite ons grense wat kyk — en soms kyk dié wêreld skerper as ons self. Wanneer politieke figure herhaaldelik haatvolle taal gebruik, en dit wettig verklaar word deur ’n hof, sê dit iets oor ons. Dit sê dat ons toleransie vir verdeeldheid groter is as ons toewyding aan vrede tussen gemeenskappe en groepe.
En die wêreld let op. Nie omdat hulle wit boere wil beskerm nie, maar omdat hulle weet: waar geweldsretoriek geduld word, volg onstabiliteit. En onstabiliteit maak nie net die slagoffers kwesbaar nie — dit maak almal armer, minder veilig, minder vry.
Dit is hoekom internasionale instellings hulle oor Suid-Afrika begin uitspreek het. Die Anti-Defamation League (‘n New York-gebaseerde internasionale nie-regeringsorganisasie) het reeds in 2023 die “Kill the Boer”-dreunsang as gevaarlik en onaanvaarbaar beskryf, met verwysing na die herhaalde gebruik daarvan deur invloedryke figure in ’n nasionale klimaat van plaasaanvalle en politieke spanning.
Selfs die VSA se nuwe minister van buitelandse sake Marco Rubio het onlangs opnuut gewaarsku dat die aanmoediging van geweld teen ’n groep nie net moreel onaanvaarbaar is nie, maar dat dit ook ernstige gevolge vir Suid-Afrika se internasionale betrekkinge kan inhou. As ’n staat sigbaar nie daarin slaag om basiese beginsels van gelykwaardigheid te handhaaf nie — nie net in wet nie, maar in die norme wat dit bevestig — dan begin buitelandse vertroue en vennootskappe wankel.
En tog… wat nou?
Suid-Afrika staan nie hier met ’n eenvoudige probleem nie. Ons het nou regspraak wat deur die hoogste hof in die land geregverdig is, maar moreel onheilspellend is. ’n Lied wat histories verstaanbaar is, maar hedendaags onaanvaarbaar. ’n Regbank wat formeel die reg, reg of verkeerd, toegepas het, maar volgens die meerderheid gewone mense, van verskeie agtergronde, rasse en plekke verkeerd besluit het.
Wat doen ’n mens dan?
Miskien moet ons begin deur eerlik te wees oor die betekenis van woorde, oor die effek van simboliek, oor die rol van die reg. Ons moet erken dat versoening nie net neerkom op nie-terugveg nie, maar op die opbou van ’n kultuur waar almal kan glo dat hulle gesien en beskerm word — deur politieke strukture en deur die howe.
En miskien is dit nie heeltemal buite bereik nie. Suid-Afrika is ’n komplekse, uiteenlopende samelewing — ja — maar dis nie sonder gedeelde morele bronne nie. Al verskil ons in kultuur, taal en leefwêreld, is daar tog iets wat gemeenskappe in Suid-Afrika in die onderstroom in gemeen het. ’n Morele intuïsie wat nie van bo af afgedwing hoef te word nie, maar wat reeds in Suid-Afrikaanse gemeenskappe se gewetes leef.
Ons is — ten spyte van sekularisering — steeds ’n land waar die oorgrote meerderheid hulself as Christene beskou. Selfs dié wat nie kerk bywoon nie, leef binne ’n morele landskap gevorm deur Christelike waardes: verantwoordelikheid, vergifnis, waarheid, regverdigheid, die waardigheid van elke mens. Hierdie gedeelde fondament is ’n moontlike brug. Gemeenskaplike morele grense beteken nie almal moet dieselfde dink nie — dit beteken ons moet ten minste saamstem oor wat nie gedoen of gesê kan word sonder gevolge nie. En dalk is dit juis dáár waar ons moet begin bou: by wat ons reeds deel, en nie waar ons verskil nie.
Slotgedagtes
Die reg is iets wat ‘n land saam aan bou — ’n stel reëls, beginsels en norme wat werk omdat ons almal instem om daaraan gebind te wees. Wanneer daardie instemming begin verbrokkel — nie weens ’n verlies aan mag nie, maar weens ’n verlies aan vertroue — dan help dit nie om te sê “die hof het beslis” en dus is die saak klaar nie. Dan is die saak juis nie klaar nie.
Suid-Afrika se pad na ’n werklik gedeelde samelewing — waarin regspraak as regverdig ervaar word, en waarin woorde nie meer as wapens dien nie — is lank en broos. Maar dit is nie onmoontlik nie.
As die reg nie meer vir almal voel soos iets wat hulle beskerm nie — selfs wanneer dit teen hulle beslis — dan verloor dit nie net gesag nie. Dan verloor dit bestaansreg.
En as ons die reg verloor, wat is daar oor om ons uiteenlopende vryhede en vrese bymekaar te hou? Wat bind ons dan nog? Miskien net dit: ’n gedeelde begrip dat hierdie plek, met al sy pyn en belofte, steeds ons almal s’n is.
Verduidelik asb vir ons waarom "Kill the boer" in ons reg "aanvaarbaar" is, maar om die ou landsvlag by groot saamtrekke van mense soos 'n groot rugbywedstryd rond te swaai nie aanvaarbaar is nie