Melankolie, migrasie en die gesplete hart van 'n generasie
Oor plek, pyn en die pad tussen bly en gaan. 'n Besinning oor 'n liedjie, 'n generasie, en die geheue van gemeenskap.
Daar was nog altyd vir my iets vertroostend, op 'n vreemde manier, aan Afrikaanse alternatiewe musiek wat nie regtig gelukkig klink nie. Dink Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel, Bittereinder en Jan Blohm.
Selfs wanneer die kitare hard was, was daar altyd 'n soort dowwe soekende ondertoon, 'n klank van iets wat nie kan rus nie. Dis die liriek wat jy aan die binnekant van jou boek se agterblad gekrap het en die tydskrif uitknipsels van bandfotos wat ons op ons spacecases met sellotape vas geplak het.
En mettertyd het dit onbewustelik meer as net musiek geword. Dit het 'n anker geword vir 'n tyd, en vir 'n plek en vir ‘n identiteit.
Vir my is “Tale of Three Cities”, die liedjie van Bittereinder (oor Pretoria), Tumi Molekane (voordat hy Stogie T geword het), oor Johannesburg, en Jack Parow (oor Kaapstad) nie net 'n lekker kletsrym oor drie metropole nie - dit is 'n elegie oor ons generasie se wortels. Dis 'n melankoliese liedjie oor die plekke wat ons gevorm het. Vir my is dit 'n herinnering van die verlange wat by jou bly wanneer jou mense weggaan, en jy agterbly. Skoolpelle en universiteitsvriende, familie en bekende gesigte wat oorsee is.
Plekke as anker
“Tale of Three Cities” begin in Pretoria. Nie die hoofstad wat op wêreldkaarte bestaan nie, maar ons generasie se weergawe van Pretoria. Die een met die snoekertafels, die karre op Voortrekkerstraat, die goths by Zeplins, en parkeerterrein van Menlyn. Vir my is Pretoria 'n stad van detail en diepte. In Kerkorrel se Snor City is daar merkwaardige plekke wat jy net sal ken as jy daar geleef het.
Bittereinder se vers in “Tale of Three Cities” is nie poësie in die klassieke sin nie - dis 'n straatkaart in strofes wat tog lees soos 'n gedig. Want herinnering is altyd konkreet. 'n Mens onthou nie in sinne nie, ‘n mens onthou in sintuie. As ek terug dink aan my jeug onthou ek Magnolia Dal toe daar nog water was, oor my skouer kyk by die fontyne-sirkel se rooi verkeerslig en die reuk van rook in my trui na 'n aand by Burnettstraat. En soos elkeen van die plekke opgenoem word, voel dit soos die herstel van ’n gebroke argief. Ek was daar. Dis my stad, al het ek en ander hom lankal agtergelaat.
Ek bly al sedert 2020 nie meer in Pretoria nie en het sedertien ook in Johannesburg en Kaapstad gaan draai. Maar, “soos 'n hoëveldweerligstorm is daardie stad in my ingebrand en bly Pretoria in my hart”.
In my Kaapstad kantoor wat uitkyk oor Jan van Riebeeck se standbeeld in Adderleystraat, spog ek steeds met kunswerke van die Uniegebou, my alma mater in Lynnwoodweg en die Paleis van Justisie op Kerkplein teen my muur.
Hoekom werk dit so? Hoekom is plek so verweef met identiteit?
In Poetics of Space skryf Gaston Bachelard dat ons nie net in die ruimte lewe nie maar die ruimte lewe ook in ons. Ons dra ons kamers, ons strate, ons stad soos 'n tweede vel. Soos 'n anker vir ons geheue. As jou ruimtes verander voel dit soos verlies. In die sielkunde word daar lank reeds gewys op die impak van episodiese geheue op identiteit. Ons onthou nie net 'n gebeurtenis nie, ons onthou waar ons gestaan het, wat ons gehoor het en hoe die lug gevoel het. So vorm plek deur sintuig deel van die self. Ons deel die ervarings van daardie ruimte soos die kerkklok van die Oos-Kerk wat na skool lui of hoe uniek 'n sonsondergang in Pretoria lyk. Dit alles sal vir jou ewig by bly.
Sielkundig gesproke is daar ook 'n diep menslike behoefte om deur plek geanker te wees. Die Britse psigoanalis Donald Winnicott het in die middel van die twintigste eeu geskryf oor wat hy 'n “holding environment” noem. Dit was oorspronklik geskets as die veilige ruimte wat 'n moeder vir haar kind skep, maar later breër toegepas as 'n manier om te verstaan hoe ons as volwassenes ook ruimtes nodig het wat ons vashou of anker - nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Stede, dorpe en gemeenskappe word sulke houplekke. Hulle skep konteks, betekenis en grense. Dis hoekom dit so destabiliserend is wanneer daardie ruimtes uitrafel, wanneer die infrastruktuur breek of die mense verdwyn. Dan verloor jy nie net 'n plek nie maar jy verloor die gevoel van geanker wees.
Soortgelyk skryf Danie Goosen dat gemeenskap nie net iets is wat ons kies nie, maar iets waarin ons ingebed word - deur plek, kultuur, geskiedenis en gedeelde herinnering. In 'n wêreld behep met mobiliteit en individualisme herinner hy ons daaraan dat werklike vryheid eers moontlik word wanneer mens behoort. Plek is nie net 'n agtergrond nie, dis 'n vormende krag. As daardie plek begin disintegreer of ons hom agterlaat, verloor ons nie net grond onder die voete nie, maar ook 'n stuk van onsself en verloor jy nie net 'n plek nie maar jy verloor die gevoel van geanker wees.
Die generasie wat skeur
Maar dis juis hierdie anker wat weens die getye van die lewe verskuif. Want van al die mense wat pouses saam op die wal gesit het, sit een nou in Londen, een in Amsterdam, een in Melbourne en ekself sit in Kaapstad.
Iewers in die tydperk nadat ons met skool klaar gemaak het, het daar iets gebeur met ons born-free generasie - of dalk moet ons liewer sê die verpletterde verwagtings-generasie. Diegene wat grootgeword het met die belofte van 'n nuwe land, maar nou op 30 sit met skuld, werkonsekerheid, beurtkrag en voortslepende politieke geploeter. .
Baie het gegaan en baie beplan nog om te gaan. Net in 2025, selfs met die groot belofte van die regering van nasionale eenheid en die Springbokke wat dubbel kampioene is kry ek WhatsApps:
"Ons oorweeg dit ernstig nou…"
"Daar’s 'n opportunity in Nederland."
"Ek het op LinkedIn begin werk oorsee soek."
En jy wat bly, voel terselfde tyd lojaal en dom.
Is dit regtig patrioties om te bly, of is dit 'n tekort aan waagmoed? Is ons bang om weer oor te begin? Bang vir visums en koue weer? Bang dat jou kind nie sy oupas en oumas gaan ken nie? Bang dat jou seuntjie nie die lewe wat jy geken het ook gaan ken nie? Of is dit dalk 'n onbewuste hoop dat dinge tog sal verbeter en dat die land iewers langs die pad 'n ekonomiese u-draai gaan maak?
Tumi Molekane se lirieke in “Tale of Three Cities” vang iets vas van hierdie innerlike konflik. Johannesburg is die stad van dualiteit. Daar is liefde en haat, glans en misdaad, belofte en verval. Die stad waar ras, klas en geskiedenis in dieselfde straat bots. Dit kon net sowel oor Suid-Afrika as geheel gegaan het.
Die gesplete hart
Dis ook belangrik om eerlik te wees. Baie van ons generasie wat steeds in Suid-Afrika is, leef goed. Nie altyd sonder spanning nie, maar tog in globale terme gemaklik, en dit is moeilik om te ignoreer. Baie van ons woon in mooi buurte, vat ons kinders skool toe in motors met kindersitplekke en luister soggens na podcasts deur Amerikaanse joernaliste terwyl ons die nuutste small batch koffie drink. Middelklas Suid-Afrikaners leef dikwels beter as middelklas-Europeërs en sonder twyfel beter as miljoene van ons eie landgenote. Vir baie van ons is die werklikheid van Suid-Afrika een van beide voorreg en beperkinge - 'n lewe van oorvloed, maar vol gapings. In vergelyking met vriende in Berlyn of Brisbane het ons dalk meer ruimte, ’n tuin en huishoudelike hulp. En tog leef ons in 'n staat van kroniese waaksaamheid teen misdaad, staatsverval en teen die onsekerheid van die toekoms. Ons is nie heeltemal vry nie, maar ons is ook nie vas nie. Dis hierdie ongemaklike tussenwêreld wat so moeilik is om te verwoord.
Maar die dilemma van Suid-Afrika vir ons generasie is nie slegs van 'n praktiese aard nie. As dit net oor veiligheid en welvaart en die gerief van openbare vervoer gegaan het, was nog meer van ons al oorsee. Die probleem is dat dit emosioneel is.
Hoe hou 'n mens van 'n land wat jou so dikwels teleurstel? Wat dikwels jou familie en vriende ver oorsee dryf? Wat jou dwing om planne buite die staat te maak. Want soos Jack Parow in “Tale of Three Cities” uitwys, Kaapstad (en Suid-Afrika) is “fun maar dis mean”. Jy’t jou familie, maar jy het korrupsie. Jy’t die Bosveld, maar jy’t beurtkrag. Jou gevoel van broosheid gaan nooit heeltemal weg al word jy hoe staatsbestand nie.
Maar wat beteken dit vir die van ons wat agterbly? Ons maak ons kinders groot in 'n land waar ons nie seker is of hulle of ons kleinkinders sal kan, of wil, bly nie. En tog, kweek ons by hulle 'n liefde vir ons taal, vir die landskap, vir die sonlig op die stoep terwyl ons weet daardie liefde mag dalk later vir hulle ook soos 'n las voel. Dit is die gesplete hart, om aan iets vas te hou wat ons self gereeld bevraagteken, om vir ons kinders 'n tuiste te bou met 'n nooduitgang altyd in die agterkop.
En tog bly ons. Nie altyd uit beginsel nie. Soms weens ekonomiese realiteite. Soms weens gemak. Soms uit liefde. Soms uit 'n skuldgevoel.
En daardie mengsel van motiewe en redes is wat die moderne Suid-Afrikaanse identiteit van ons generasie so kompleks maak.
Die Afrikaners se wortels het begin in Afrika maar vandag is ons wortels oor die wêreld versprei.
Gemeenskap
Diep onder al die politiek, ekonomie en kultuur lê 'n eenvoudiger verlange, die verlange na gemeenskap. Nie net na mense om jou nie maar na mense wat jou verstaan.
Om hierdie selfde rede is oorsee trek ook moeilik. Want jy kan dalk in München bly, met goeie werk en sekerheid, maar niemand daar het ooit 'n piekniek gehou by die Voortrekkermonument nie. Niemand het ooit jou naam op die muur van Tings gekrap nie. Niemand verstaan die gevoel van Desember vakansie met toetskrieket in die agtergrond aan nie.
En die van ons wat bly het ook ons gemeenskap verloor, nie net fisies nie, maar in taal, in verwysings, in 'n gedeelde geheue. En jy’t nie net een keer verloor nie, maar oor en oor. Elke keer as iemand anders verhuis, elke keer as die gesprek op jou skool of koshuis WhatsApp groepie stil raak en elke keer wat jy hoor van oumas en oupas wat op Skype met hulle kleinkinders praat.
Hierin lê die ware melankolie. Wanneer mense praat van emmigreer praat hulle van trek- en stootfaktore, maar iewers in hierdie getoutrekkery verloor ons almal ons gemeenskap.
En tog, is daar mense wat terugkom. Een van my beste vriende van skool het, na drie jaar in Nederland, besluit om weer huis toe terug te keer, nie uit mislukking nie, maar uit keuse. Vandag woon hy en sy vrou saam met ons in Kaapstad, ry fiets teen die Weskus op, en op Saterdae braai hy weer. Dis 'n herinnering dat die stroom nie net een rigting het nie. Dat die anker in beide rigtings skuif.
Ons tiener Afrikaanse alternatiewe musiek, met sy dowwe akkoorde is nie uniek in sy vermoë om melankolie op te wek nie. Kuns in al sy vorme het nog altyd vir mense regoor die wêreld daardie vreemde mengsel van pyn en vertroosting gebring. Of dit nou Amerikaanse folk in die 60’s of Franse chanson na die oorlog was. Daar is altyd tye en plekke waar klank en gevoel saamvloei in ’n taal wat die siel verstaan.
Wat wel vir ons uniek is, is wat hierdie musiek vir ons verteenwoordig het. Dit was die klankbaan van 'n geslag wat nie net met 'n nuwe land nie, maar met 'n nuwe self moes worstel.
Wat nou?
Miskien begin jy jou eie Polly’s daar in Perth. Miskien begin jy ’n braaigroep in Toronto. Miskien begin jy skryf. Miskien luister jy weer na die ou MK liedjies, nie om terug te gaan nie, maar om jou voete in die herinnering te plant. En jy leer om met die melankolie saam te leef en nie om dit op te los nie maar om dit te te omarm.
Want dalk is dit wat volwassenheid in Suid-Afrika beteken. Om met onvolledigheid vrede te maak. Om nie seker te wees nie. Om in-die-tussenin te woon. Tussen plan A en plan B. Tussen bly en gaan. Tussen melankolie en moed.
Dis hoekom “Tale of Three Cities” vir my so betekenisvol bly. Want dis nie ’n lied van triomf nie. Dis nie 'n lied van “ons sal oorwin” of “ons vat terug wat ons s’n is” nie. Dis 'n lied van blywende geheue. Van onvoltooide stories. Van drie stede, maar eintlik van duisende harte wat geskeur is weens vertrek en bly en tussen vergeet en onthou.
So wat maak 'n mens met hierdie gesplete hart?
Miskien niks.
Miskien net leef.
Maar miskien skryf en sing ons verder, waarookal ons is.