Toe Breyten Breytenbach vir my ook sterf, bevind ek my in ‘n streek van windmeulens, wat bekend is om die risiko dat hul blitsige lemme allerlei voëls, veral bedreigde krans-aasvoëls, verwond of dood. Ek was op weg tussen St.Francisbaai en die PE lughawe, en het hartseer-vervaard gescroll op soek na dáárdie vers: Die eerste bladsy van Breyten se Katalekte: artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan (2012) spring uit ‘n webbladverwysing na iemand se stokou plasing op ‘n Facebook-blad:
… want ons moet sterk wees
want ons weet nie watter een
nie weer terug gaan keer
dalk verdrietig wakker word
in ‘n streek van gewonde wit voëls
of waar die sneeu verewig skitter
of miskien beland aan die oewer
van ‘n dynserige rivier
met ‘n eerste vuur in die bome
van waar die gids met die mus
ons een vir een in die bark oor sal neem
na die grot van die gesalfde likkewaan
My paadjie met Breyten was, ten minste in my eie geestesoog, iets rolprentagtig, toevallig en miskien meer verbeeldingsvlugtend as enigiets anders. Toe ek Katalekte in my voorlaaste skooljaar aangeskaf het, was meeste skoolseuns seker ingestel op meer “konkrete” en onmiddellike helde en heldinne: sportspelers, sangeresse en so meer. Vir my was Breyten - die een wat oopskryf deur vreemdskryf, wat nuwe klanke en tongvalle kon inploeg in digtersafrikaans - ‘n avant garde held. ‘n Stem wat andersheid kon “normaliseer”... wat in ‘n sekere sin die begin van ‘n eindelose anders-normaal siklus moet wees.
Ek het op universiteit eers met Breyten se fyn filosofie van “saam-andersmaking” in die konteks van sy strydwoorde om meertaligheid op Maties bekend geword. Dit was die jare van #OpenStellenbosch en die #Fallist bewegings, en ek was die bloedjong voorsitter van die Afrikaanse studenteorganisasie Adam Tas.
Breyten, so het dit uitgedraai, was soortvan die beskermheer van die organisasie. Adam Tas het die doel gehad, sedert 2007, om Afrikaans as lewenskragtige kampustaal te midde van ‘n transformerende studenteomgewing te ondersteun, en as’t ware aan die “saam-andersmaking” van die Matie-kampus deel te neem.
Dit was wel glad nie hoe die praktyk gelyk het nie, en ‘n hele geskiedenisboek kan seker geskryf word oor hoe die roekeloos ongeërgde universiteitsleierskap, en die Fallist leiers wat Afrikaans as een van die kampustale uit die staanspoor geminag en wantrou het, tot die relegasie van Afrikaans aan die universiteit ten gunste van Engels bygedra het. Vir Breyten was die sameswering van bestuursbewimpelings met ideologies-absolutistiese studenteleierskappe in die besonder sleg. In sy toespraak van Januarie 2016 voor die Universiteit Stellenbosch se Konvokasie, het hy onder die plaaslike Afrikaanse intelligentsia en US-tegnokrasie ingeklim soos net hy kon:
“Daarby het ek ’n skimmelappeltjie te skil met Stellenbosch-universiteit as versinnebeelding van parogiale Afrikaanse eienskappe – hardvogtigheid en skynheiligheid. Dat dit, in my boek, by uitstek nog altyd die teelaarde was vir allerlei gewasse van gedienstigheid teenoor die heersers van die oomblik. En dan nogal dikwels, uit hoofde van ’n selfbelangrike geleerdheid waar daar in feite net omgesien word na eie aansien en status, arrogant ook met ’n moralistiese opgeblasendheid. So asof politieke korrektheid hier as wiel ontwerp is …”
“Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ’n onvermydelike tot niet maak van ’n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei. Dit sal die delegitimering van Afrikaans meebring, en die mense wie se moedertaal dit is, marginaliseer en beroof van erfgoed uit baie kombuise, en dus van die moontlikheid om hulle potensiaal tot almal se beswil te ontwikkel.”
Ek was stom van verbasing. Hier is die man wat nie net die organisasie wat ek lei die seremoniële voorloper van is nie, maar hy is ook ‘n strydgenoot, ‘n kameraad, ‘n mede-pleitbesorger vir die redelike standpunt dat Afrikaans nie met die badwater van uitgediende praktyke en eksklusiewe orientasies in die leivore weggespoel moet word nie.
Tog het Breyten steeds buite bereik gebly. Vir my was dit nog genoeg: Hy was een van die groot stemme, saam met JM Coetzee en ander van Gelyke Kanse, wat vir die US bestuur en hul lakeie vlymskerp teregwysings kon bulder. Terwyl ons jongeres die stryd om Afrikaans se billike plekkie in die Matie-son in die rookgevulde loopgrawe van die 2015/2016 kampusopstande kon stry.
Uiteindelik ontmoet ek toe vir Breyten in persoon: Ek verneem van sy betrokkenheid by ‘n boekbekendstelling aan die Protea Boekhuis in Andringastraat. Ek pluk my mede-Adam Tas bestuurslid Gayla saam en ons haas ons soontoe.
Na sy spreekbeurte nader ons die man, die mensgod op weg na kû, daardie volkome stilte tussen die in- en uitademing van bewustheid. Ons skud blad. “Gebruik julle nog my gedig?” vra hy. “Natuurlik”, sê ek, wat nie wou waag om dit uit die vuis voor te dra nie:
wie is Adam Tas?
die wat sê weet nie
die wat weet, sê nie
maar vir seker
maak hy ‘n las van homself
vir al die gatlakeie
met die skoon handjies
sy hart lê immers
vas geklou en gewortel
in die suisende blou aarde
van hierdie suiderland
as vryburger
(geskryf deur Breyten vir die Adam Tas Studentevereniging, by stigting in 2007)
Daarna het ‘n geleentheid of twee gevolg, te midde van die boem-boem van kanonne in die meningsblaaie, veral op Litnet, waaroor hy in 2012 reeds gedig het asof heldersiende: “ek verlustig my in die anonieme varke / wat mekaar op Litnet beswadder (uit “Moermikland: ‘n ‘vertaling’ van Alan Ginsberg se ‘America’”, Katalekte, 2012).
Vir Breyten het ek daarna slegs in my inboks raakgesien. Die eerste en vernaamste keer, was sy brief aan my (nou soek) waarin hy my vra om tog te oorweeg dat Adam Tas saam met Gelyke Kanse in hul litigasie teen die Universiteit Stellenbosch betrokke raak.
Maar my held se versoek was te gewigtig: ons jeugdige vrese vir kostebevele en ‘n meerderheidsbestuursresolusie om op ander wyses die taalstryd voort te sit, het korte mette met sy wense gemaak. Vandag wens ek dat ons tog aan sy versoek gehoor gegee het. Wie weet hoe ons insigte ‘n regter sou kon laat nadink?
Nietemin, die klok het in die Konstitusionele Hof onder omstrede omstandighede vir Gelyke Kanse se taalstryd gelui. Adam Tas het reeds voor dit, onder nuwe leierskap, ‘n skadu van ditself geraak. Die guerillafase moes nou begin, en daaroor kan ‘n paar deeglike hoofstukke ook geskryf word. A luta continua op ‘n kampus wat nou in effek slegs op Engels aangewese is.
Met Breyten het ek steeds bly wissel, so paar keer. In sy briewe kon ek my held sien vergaan wat betref die Stellenbosse “ysterkoei” en hul verstokte voorkeur, soos Breyten graag sou murmereer, vir “globish” oftewel Wêreldwye Tegnokratiese Engelstaligheid, terwyl hulle hoog opgee oor rasse- en ander identiteitstransformasies. Uiteindelik wys hy iewers in 2022 ons uitnodiging af, tydens my termyn as lid van die US Konvokasiebestuur, om by die algemene jaarvergadering as gasspreker op te tree.
“Daarby, sug, kom die oortuiging dat die koeie met kallers en al lankal deur die Strooidakkerk is, en dit deur die toedoen van die vrome gemeente self: ek bedoel die alumni van julle universiteit (goddank nie almal nie) en die gemoedelike vetboere wat nog nooit ‘n veesmous aan bewind teëgekom het voor wie hulle nie in alle pragmatisme sou swymel nie”, is sy woorde.
Daarna het ek nie weer regstreeks met Breyten gesels nie. Ek is spyt dat ek nagelaat het om uit te reik, maar die een of twee e-posse wat ek wel gestuur het, is nooit beantwoord nie. Later het ek verneem dat Breyten se gesondheid reeds nie goed was nie.
Breyten Breytenbach was “ ‘n kommunis toe [hy] jonk was / en [hy] is dit nog steeds” (uit ‘Moermikland’, Katalekte, 2012), maar bes moontlik in die sin daarvan dat die onderdrukking, uitbuiting en rassistiese ongelykwaardigheid wat deur Apartheid afgedwing is, iets was wat met radikale ammunisie teengestaan moes word. Ek dink beslis nie Breyten sou kon assosieer met Stalinisme of die vergrype van daardie ideologie nie, baie soos die meer konstruktiewe Afrikaanse nasionaliste van veral die 1920’s nie hul weg kon oop sien om heelhuids die fasciste van Europa te steun nie. Breyten se weersin was in die vertrapping van gewone mense en hul kulturele ervarings in die naam van een of ander onopregte burokratiese gepruttel, soos hy aan die Konvokasie in 2016 verduidelik het:
“Mens kan verseil raak in wette en regulasies en min of meer bindende “besluite” en ander jakkalsdraaie – “bestuur” se soettand vir die afdwing van kommaneukers se besluite wat dan gepaard moet gaan met die dwang van “dissipline” en “spontane lojaliteit” teenoor die hiërargie: ’n konformisme so tekenend van die totalitaristiese omgewing wat ons ook in die apartheidsjare geken het as die heimat van ons tuisgefokte fascisme.”
Breyten het sy stryd teen onreg en verdrukking in die post-apartheidsjare voortgesit, kaalvuis, terwyl soveel van die Afrikaanse intelligentsia die ANC regime se uitbuitery en korrupsie met whataboutery en sofismes oor identiteitspolitiek en verdraaisels van kritiese rasseteorieë probeer verskoon het. Hy was gewoon nie bereid om geregtigheid, vryheid en gelykheid in die hande van sosiale ingenieurs en beterweterige tegnokrate te laat om oor identiteit te fikseer wanneer armoede, Engelse taaloorheersing en materiële ongelykheid so voortgedonder het nie:
“[O]m die gedagte verder te neem in die woorde van Josie Fanon, Frantz Fanon se weduwee (sy was ’n wit Franse vrou): “We are not going to limit each other to race! Otherwise, where is the revolution?” (Konvokasie toespraak, 2016)
In Desember 2024, na sy dood, kug ek in my koffie terwyl ek ‘n artikel op Vrye Weekblad lees. ‘n Video word daarin opgehaal waarin Breyten hom oor ‘n genuanseerde benadering tot Stellenbosch se taaldinge uitlaat. Dit frustreer my dat Breyten, wat juis aangedring het op die nuanses in beleid wat nodig sal wees om Engelse taaloorheersing te keer, se woorde so ná die feit gebak en verbrou word om ‘n posisie te probeer pasmaak wat redelike Afrikaanse selfgeldendheid as iets onwensliks probeer wanvoorstel. Breyten se geduld met die Afrikaanse intellektuele establishment en hul tekort aan begrip vir wat nodig is vir Afrikaans om te kan floreer was min, soos daardie selfde video in die werklikheid illustreer. Ek het selfs met meer verontwaardiging gekug toe ek onthou dat dit juis ‘n video is van daardie selfde boekgesprek, waar ek vir Breyten die eerste keer ontmoet het.
Sedert Breyten se dood, het dit geblyk dat sommige uit die Afrikaanse intellektuele kringe oor sy beginselvaste taalstryder dae begin herbesin. Piet Croucamp skryf in een van Vrye Weekblad se laaste uitgawes:
“Van agterna beskou, vermoed ek Breyten het nie die behoud van die Afrikaanse taal met taalnasionalisme vermeng nie. Hy het waarskynlik gedink indien die sogenaamde hoër funksies van Afrikaans verskraal, wanneer dit nie meer voortbestaan as 'n wetenskapstaal nie, die oorlewing van sy moedertaal gedoem is.”
Die spyt kom altyd te laat, en ek vermoed daardie afdelings van die Afrikaanse intelligentsia wat die ou nomenklatuur van “verkramptheid” en “regsheid” en “konserwatiewe reaksionêres” so kwistig ingespan het teen die mense van Adam Tas, Gelyke Kanse en iedereen wat redelike aansprake vir Afrikaans as kampustaal geopper het (Breyten inkluis), sal waarskynlik skaamkwaad en lafhartig nooit om verskoning vra of ander insigte erken nie. Piet is van die min eerlikes, en ek is seker Breyten se gees kan rus vind daarby. Koos Kombuis, wat in sy boek Vêr in die wêreld, sushi! verklaar het hoe hy Breyten se “politiek” verag het (skynbaar verwysend na sy insigte oor taal) het seker lankal en gerieflik aanbeweeg van die onderwerp af.
**
Toe ek met die vliegtuig koers kies huistoe, as een van vele gewonde Afrikaanse voëls wat die tyding oor Breyten ontvang het, sluit ‘n hoofstuk in my lewe af. Breyten was ‘n Herakles, maar ook ‘n Sappho, iemand wat taal en aksie kon vervleg in die lewe wat tog net ‘n asem lank is.