Die Trump administrasie se onlangse beleide was onnodig chaoties. Min sou anders kon beweer. Maar indien ons oordeel aan die hand van wat reeds deur sy gekose raadgewers gepubliseer is, blyk daar ‘n metode agter die waansinnighede te wees – ‘n ongelooflik riskante metode, maar tog ‘n metode, of dit nou goed of sleg is.
Die sleutelprobleem met die onlangse ingrypende veranderinge is dat, in teenstelling met vorige administrasies, hierdie veranderinge nie vooraf aan sleutelfigure in vriendelike kommunikasiekanale en media deurgegee is nie. As gevolg hiervan het die reaksies bestaan uit óf verstomde verbasing oor die algehele waansin óf ‘n blinde en breinlose partydige gedrag om lojaliteit aan die nuwe stelsel te sein, eerder as noukeurige en deeglik oorwoë verdedigingstrategieë en vooraf opgestelde herraming van uitdagings..
Geen van die tipiese reaksies wat tans bestaan, is gesond nie – wat nodig is, is ‘n empiriese maatstaf vir sukses of mislukking. Dit beteken dat die beleide op hul eie meriete beoordeel moet kan word. Deur die raamwerk te analiseer wat deur die voorsitter van Trump se Raad van Ekonomiese Raadgewers, Stephen Miran, voorgestel word, kry ons ‘n objektiwe maatstaf. Dan hoef ons net met ‘n kontrolelys te sit en wag, sodat ons kan sien hoeveel van die plan geïmplementeer word, en wat reg of verkeerd loop.
Die gebrek aan duidelikheid in openbare verklarings, die skynbare wisselvalligheid, en die agressiewe kommunikasiestrategie is nie net geraas nie – hulle gee ook nie suiwer seine weer nie. Ons moet fokus op wat die werklik verklaarde doelwitte van die Trump administrasie is en nagaan tot watter mate dit ooreenstem met werklike besluite en reaksies. Ook moet ons kyk na die logika van die vertrekkende stelsel.
Die stand van kritiek
Kritici aan beide kante van die politieke spektrum het aangevoer dat die MAGA-basis verward en verdeel is oor wat die doel van hierdie nuwe beleide eintlik is, en dit is duidelik tot ‘n beduidende mate waar.
Sommige sien dit as ekonomiese nasionalisme om vervaardiging te stimuleer, terwyl ander dit beskou as ‘n onderhandelingsmanoeuvre om globale handelshefffings te verlaag en vryer handel te bevorder. Dit is duidelik ‘n teenstrydigheid. As herindustriëring die doel is, behoort heffings presies te wees, en nie ‘n vae, algemeen toepasbare formule wat verbind is aan handelstekorte nie. Absurde voorbeelde, soos ‘n 90% heffing op Viëtnam, invoerbelasting op klein Afrika-landjies en ‘n eiland bewoon deur pikkewyne, laat alles ietwat mal en tekenprentagtig voorkom.
Klassieke liberale ekonomiese leer suggereer dat die obsessie met handelstekorte heeltemal mislei is. Handelstekorte beteken eenvoudig slegs die uitruil van geld vir goedere, en is nie noodwendig ‘n verlies nie. Om daaraan vas te klou, weerspieël eerder ‘n oppervlakkige afkeur vir die estetika van die woord “handelstekort” as werklike ekonomiese logika. In wese het Amerikaners baat gevind by goedkoop invoere, te danke aan die oorheersing van die dollar – ‘n teken van imperiale mag, nie van slagofferskap nie. Heffings sal dit alles wegneem deur koopkrag en lewenstandaarde te verlaag – veral soos gekenmerk deur die vermoë van Amerikaners om goedkoop verbruikersgoedere aan te koop.
Selfonderhoudendheid is ook net ‘n droom. Die VSA voer jaarliks goedere in ter waarde van 3.38 triljoen dollar, omdat dit nie by wêreldwye doeltreffendhede kan byhou nie. Om hierdie voorsieningsketting tuis te repliseer is onmoontlik, weens skaalgrootte, arbeidskoste en wêreldwye spesialisasie. Die vervaardiger Nike se skuif na Viëtnam, waar lone tussen 100 en 200 dollar per week is teenoor 600 to 800 dollar per week in die VSA, kan nie ongedaan gemaak word sonder groot ellende nie. Vergelykings met 19de-eeuse heffingsoorwinnings pas ook nie in vandag se konteks nie. Toe Amerika ‘n opkomende mag was wat die naoorlogse markte gevoed het, was dit gepas; vandag is dit die top-ekonomie wat steun op sy aankoopkrag, nie op produksie vir verbruik deur armer nasies nie.
Die Trump-span se openbare kommunikasiestrategie is ook swak, aangesien dit komplekse makro-ekonomiese doelwitte reduseer tot oppervlakkige populistiese slagspreuke, soos “wederkerige handel,” of selfs die berugte “pragtige beesvleis” opmerking van Howard Lutnick, Amerikaanse Minister van Handel.
Die spin op die nuwe beleide word oor die algemeen as oneerlik beskou – wat ek dink akkuraat is – want niemand het blykbaar die beleidsraamwerke gelees nie en gaan bloot op sterkte van daaglikse persverklarings voort, wat beteken dat sowel voor– as teenstanders van die administrasie se ekonomiese beleide, van die een losstaande kwessie na die ander spring.
Die administrasie se bot benadering loop die risiko om bondgenote soos die EU en Kanada te vervreem, wat hulle moontlik na China of BRICS kan dryf vir stabiliteit, veral as korttermyn pyne ‘n finansiële ineenstorting veroorsaak.
Kiesers mag Trump dalk ook blameer vir die styging in die koste van goedkoop goedere, wat die Demokrate ‘n maklike verkiesingsnarratief sal gee om in die middeltermynverkiesings teen Trump te gebruik. 'n Afnemende lewenstandaard loop die risiko om Trump se projek in duie te laat stort en die regterkant in die Weste vir ‘n geslag te verpletter. Hoër pryse en laer lone kan kiesers, wat gewoond is aan oorvloed, irriteer – hulle is 'n goue era beloof, hulle was moeg vir stilstaande aspirasies en dalende lewenstandaarde.
Indien Trump nie ‘n stewige landing maak nie, loop hy die risiko om alles wat sy ondersteuners voor hoop, en selfs die hele wêreldwye Amerikaanse imperium, ongedaan te maak – en die wêreld oor te dra aan China.
So, geen druk nie.
Keisers en wat hul toekom
In sy boek Super Imperialism maak Michael Hudson ‘n elegante, al is dit ‘n teenintuïtiewe, argument dat die Verenigde State se wêreldwye gevestigde orde funksioneer het as ‘n imperiale tributestelsel.
Tipies sou daar in die ou keiserryke, soos China of Rome, provinsies wees wat hul tribuut betaal as direkte belasting, of dit nou in goedere of geld was. In die Britse Ryk was provinsies georganiseer onder ‘n sentraal beplande ekonomie, waarin elke kolonie aangewys is om ‘n sekere kategorie van (gewoonlik primêre) goedere te produseer, wat met die voltooide vervaardigde goedere van Brittanje verhandel is, en hul posisie hoër in die waardeketting verseker het. Dit het hulle in staat gestel om ‘n hoogs merkantilistiese beleid as vrye handel te vermom, en goedkoop grondstowwe na ‘n vinnig-industrialiserende samelewing te laat vloei.
Hudson se basiese idee is dat Amerika hierdie tributestelsel ‘n tree verder gedryf het deur ‘n stelsel te organiseer waarin Amerika feitlik monopoliegeld betaal vir verbruikersgoedere. Hulle gebruik die wêreldwye reservestatus van die dollar en buitelandse skuld as ’n middel om Amerikaners toe te laat goedkoop goedere uit die buiteland aan te koop, terwyl hulle skuld “uitvoer” in die vorm van staatseffekte, wat hulle dan afbetaal deur geld te druk.
Hierdie stelsel het hoofsaaklik na 1971 ontstaan, toe die VSA onder Richard Nixon uiteindelik die laaste skakel met die goudprys losgemaak het en die hele wêreldwye ekonomiese stelsel oorgeskakel het na sogenaamde fiatgeld (geldwaarde deur bevel, of fiat). Hierdie besluit, wat gevolg het op die ontbinding van die Londense Goudpoel in Maart 1968, het sentrale banke gedwing om Amerikaanse skuld in plaas van goud aan te hou. Hudson betoog dat dit ‘n "Tesouriebewys standaard" geskep het, waar buitelandse sentrale banke oormatige dollars in Amerikaanse staatseffekte herwin, en sodoende Amerikaanse tekorte finansier.
Om hierdie skuldlas te verlig deur dollars te druk, in teenstelling met ander lande, lei tot min inflasie, aangesien die meerderheid van hierdie dollars buitelands gehou word. Dit beteken dat selfs verkwistige quantitative easing (“kwantitatiewe verligting”) relatief min impak op die plaaslike mark het. Korporasies in die plaaslike mark, wat as eerste ontvangers optree, trek voordeel uit die Cantillon-effek, en word minder deur inflasie geraak as verbruikers; ook die plaaslike mark in sy geheel word minder geraak as die buitelandse mark.
Amerikaanse skuld kan tot enorme vlakke opblaas en verg vergelykbaar min belasting om af te betaal. Terwyl Amerikaners geskok was oor die inflasie in die jare onder Joe Biden, sou die effekte van om meer geld te druk as wat in die afgelope 200 jaar in omloop was, enige ander ekonomie gezimbabwefiseer het. In Amerika het mense gesien dat pryse oor 'n vierjarige tydperk, vanaf begin 2020 tot einde 2024, kumulatief slegs met ongeveer 20.5% gestyg het. Natuurlik het die prys van baie verbruikersgoedere en noodsaaklike voedselitems teen ‘n veel hoër tempo gestyg, en baie verbruikers het tot 'n viervoudige styging in die koste van sekere mandjies van goedere gerapporteer. Maar ons sal die fyn kwantifisering van hierdie stygings oorlaat aan mense met meer tyd.
Wat egter baie meer opval, is dat hierdie stelsel die VSA toelaat om hul militêre besteding te finansier. Byvoorbeeld, tydens die Viëtnam-oorlog is kumulatiewe tekorte van 50 miljard dollar van 1968 tot 1973 verreken deur buitelandse regerings wat effektief 42 miljard dollar uit ‘n netto openbare skuldstyging van 47 miljard dollar gefinansier het.
Die dollar se reservestatus stel die VSA ook in staat om sanksies op te lê (soos om bates te bevries, of SWIFT-beperkings) teen minimale koste. Maar dit werk nie teen Rusland of China wat op ‘n moeiliker en tasbaarder wyse gekonfronteer moet word as Amerika hulle wil inperk nie.
Die nadele van die dollar imperium
In November verlede jaar het Hudson Bay Capital ‘n dokument vrygestel, geskryf deur Stephen Miran, tans voorsitter van die Raad van Ekonomiese Raadgewers van die Trump-administrasie. Dié man, wat ‘n PhD van Harvard het, het tydens die Biden administrasie by die Amerikaanse Tesourie gewerk en was ‘n sleuteltaktikus by HBC.
Die dokument betoog dat die oorwaardering van die Amerikaanse dollar, te danke aan sy reservestatus, vervaardiging en handel benadeel, en stel uitvoertariewe en geldeenheidbeleide voor om dit aan te spreek.
Dit voer ook aan dat die huidige toestande fundamenteel onstabiel is.
Die Triffin-dilemma, vernoem na die ekonomis Robert Triffin, beskryf ‘n bepaalde probleem – die land wat ‘n globale reserve geldeenheid uitgee, moet ‘n lopende rekeningstekort hê om likiditeit aan die globale ekonomie te voorsien, maar hierdie tekorte kan op die lang termyn die vertroue in sy geldeenheid ondermyn.
Lande hou dollarreserwes aan om internasionale handel en belegging moontlik te maak, wat ‘n vraag na dollars skep. Om aan hierdie vraag te voldoen, moet die VSA ‘n lopende rekeningstekort hê, wat beteken dat dit meer goedere invoer as dit uitvoer. Dit kan lei tot ‘n opbou van skuld en potensieel tot ‘n verlies van vertroue in die geldeenheid namate die tekort ‘n kritieke punt bereik – die reservestelsel kan ‘n groot mate van kwantitatiewe verligting verduur, maar nie ‘n oneindige hoeveelheid nie.
Hier lê die spanning. Druk te min geld, en die skuld raak onbestuurbaar. Te min lenings, en die internasionale stelsel raak onbevoeg.
Deur die status quo te handhaaf, kan pogings deur ander nasies intensifiseer om hul dollarblootstelling te verminder, wat voordelig is vir alternatiewe soos goud of kriptogeldeenhede, ten spyte van uitdagings in die internasionale inskakeling van die Chinese renminbi.
Sedert 2014 is daar reeds pogings aan die gang om dedollarisasie na te streef. Rusland het begin om sy dollarafhanklikheid te verminder ná Amerikaanse sanksies oor die Krim. Rusland het dollar-denomineerde bates tot 16% van sy reserwes gesny teen 2021 en het dollars uit sy Nasionale Welvaartsfonds verwyder. Rusland se uitvoere na BRICS-nasies het verander van 95% dollar-gebaseerde uitvoere in 2013 tot minder as 10% teen 2020, met ‘n voorkeur vir rubels en Chinese yuan, en in 2017 het dit die Stelsel vir Oordrag van Finansiële Boodskappe (SPFS) bekendgestel as ‘n SWIFT-alternatief.
Die Oorgrens-Interbank Betalingsisteem (CIPS), wat in 2015 bekendgestel is, het tussen Januarie en Oktober 2023 goedere ter waarde van 125.5 miljard RMB (17.33 miljard dollar) verwerk – ‘n styging van 61% teenoor 2022. China en Rusland se yuan-rubel oliehandel het versterk ná die sanksies in 2022 wat Rusland se 300 miljard dollar in reserwes bevries het. China het ooreenkomste met 48 lande geteken vir die grensoverschrijdende gebruik van die yuan, wat sy globale transaksie-aandeel teen 2023 tot ‘n beskeie 7% verhoog het.
BRICS-nasies, wat 35% van die globale BBP (PPP) verteenwoordig, het in 2023 ‘n gemeenskaplike geldeenheid ondersoek, en pogings het na die Russiese inval van Oekraïne in 2022 hul hoogtepunt bereik, en het teen April 2025 geen duidelike afname getoon nie, met dollarreserwes wat sedert 2016 met 11% gesak het, volgens BNN Bloomberg.
Saudi-Arabië het ook aangesluit by BRICS en het sedert 2014 nader aan die Ooste beweeg. Saudi-Arabië se 50-jaar petrodollar-ooreenkoms met die VSA het op 9 Junie 2024 verval, wat olieverkopers gedwing het om hul verkope in verskeie geldeenhede te doen, insluitend yuan, euro's en jen. Die Saudi finansminister Mohammed Al-Jadaan se openheid vir nie-dollar-handel het ‘n draaipunt aangedui, met moontlik 17% van globale ru-olieverkope wat geraak word.
Die dollar se reservestaatstatus vereis aanhoudende lopende rekeningstekorte, wat sedert 1982 voortduur – behalwe vir twee kwartale in 1991. Onlangse fiskale jare wys tekorte wat naby 7% van die BBP belê, wat die uitvoersektore onder druk plaas namate die globale BBP groei. Die Social Security Trust Fund word voorspel om teen 2033 uitgeput te raak, wat die behoefte aan nuwe lenings verhoog. Dit kan lei tot onhoudbare skuldlaste en dreig om daardie kantelpunt te bereik waar kredietrisiko in reserwebates die dollar se status ondermyn.
Amerika is nog nie op daardie punt nie, maar Miran wil voorbly – om hierdie beleide voort te sit lei tot onhoudbare openbare en buitelandse skuld, met die VSA se aandeel in die globale BBP wat afneem van 40% in die 1960's tot die huidige 26%.
Die beleide plaas ook ‘n groeiende las op Amerikaanse belastingbetalers, aangesien hulle effektief die globale finansiële stelsel befonds. Daar is ook ‘n risiko van dollarafwaardering en verhoogde markvolatiliteit, veral indien ander lande hul blootstelling weg van die dollar diversifiseer, wat moontlik rentekoerse sal laat styg en finansiële markte raak.
Reserve-houers veroorsaak daarom ‘n las op Amerikaanse belastingbetalers, wat feitlik die uitvoersektor subsidieer. Eensydige benaderings soos gebruikersfooie op buitelandse amptelike Tesouriebates (byvoorbeeld, deur terughouding van 1-2% op rentebetalinge) kan hierdie las verminder, maar loop die risiko van dollarafwaardering en markvolatiliteit, wat moontlik langtermyn opbrengste kan laat verskerp en die aandelemarkte kan beïnvloed.
Miran se dokument skat dat, indien reserwe-opbou deur die Federale Reserwe nagestreef word, belastingbetalers blootgestel kan word aan 1 triljoen dollar in buitelandse batekredietrisiko, wat waarskynlik sal lei tot verliese as gevolg van negatiewe beleggingsdraging, veral met rente op reserwebalanse. Inflasionêre druk weens die skep van nuwe dollars om buitelandse valuta te koop word ook van kennis geneem, wat steriliseringsmaatreëls soos die verkoop van effekte vereis – wat die dollar ondersteun, maar die afwaarderingseffekte teenwerk.
Die huidige stelsel kom ook ten koste van plaaslike vervaardiging, wat op lang termyn Amerika al hoe meer afhanklik maak van internasionale voorsieningskettings, veral in ‘n tyd waarin China sy invloed toenemend uitoefen – soos in die geval van die Suezkanaal. Oosters-geallieerde magte soos die Houthies het feitlik die Rooi See geblokkeer, wat internasionale skeepsvaart na die Kaap die Goeie Hoop herlei, terwyl vrye deurvaart vir Rusland, Iran en China toegelaat word.
'n Wêreldkonfrontasie is op die horison, en sagte finansiële mag sal net so lank kan voortduur in die aangesig van werklike waardeverskuiwings in vervaardiging – jy kan nie hoop om ernstige wêreldbesluite te neem terwyl voorsieningsketteings vir noodsaaklike goedere, wat nie maklik vervang kan word nie, deur jou teenstander moondheid beheer word nie.
So, wat is die plan?
Wel, so kom ons dan by heffings. Die idee, volgens die White House Feiteblad, is ‘n basiese wêreldwye tarief van 10%, met strenger tariewe vir lande met groter handeloorskot jeens Amerika, en ‘n selfs stewiger benadering teenoor China. Sekere vrystellings is van toepassing:
“Sekere goedere sal nie onderhewig wees aan die Wederkerige Tarief nie. Hierdie sluit in: (1) artikels onderhewig aan 50 USC 1702(b); (2) staal-/aluminiumartikels en motors/motordele wat reeds onderhewig is aan artikel 232 heffings; (3) koper, farmaseutiese produkte, halfgeleiers en houtprodukte; (4) alle artikels wat in die toekoms dalk onderhewig mag wees aan artikel 232-heffings; (5) edelmetaal; en (6) energie en ander bepaalde minerale wat nie beskikbaar is in die Verenigde State nie.”
Maar hierdie is ‘n rou dokument wat bloot die idees in baie breë bepalings oordra, en bespreek dus nie die risiko’s nie. Miran is egter uiters bewus van die risiko’s:
“Daar is ‘n roete waardeur hierdie beleide geïmplementeer kan word sonder wesenlik nadelige gevolge, maar dit is smal, en sal geldeenheidsverrekening vereis vir heffings en óf geleidelikheid óf samewerking met bondgenote of die Federale Reserwebank oor die dollar.”
Wat hy betoog, is dat die nuwe heffingstelsel voorkeur sal moet vertoon aan bondgenote, en ‘n betekenisvolle geldeenheidafwaardering sal vereis. Dit sal lei tot ‘n effens meer gelyke verhouding binne Amerika se invloedsfeer en groter outonomie vir bondgenote, maar terselfdertyd ‘n baie strenger globale finansiële stelsel met stywer krediettoegang.
Miran se eie raamwerk stel ‘n tarief van 60% op China voor en 10% wêreldwyd. Daarna bespreek hy ‘n "Mar-a-Lago-akkoord" om alle huidige handelsooreenkomste te vervang met ‘n massiewe, gelyktydige onderhandeling van handelsooreenkomste, sowel as multilaterale geldeenheidsooreenkomste.
Hy verwys na vorige Trump-uitvoerheffings van 2018-2019 en betoog dat China maklik in staat was om dit te verreken deur eenvoudig geld te druk – China het ‘n tweevoudige geldeenheid, met ‘n buitelandse handelgeldeenheid (die renminbi) en ‘n plaaslike geldeenheid (yuan), wat hulle toelaat om hul handel en binnelandse beleide te skei, en maak gebruik van ‘n federasie-gebaseerde plaaslike bankstelsel waar monetêre gevolge op provinsiale vlak ontlont kan word.
Trump se heffings tydens sy eerste termyn het met 17.9 persentasiepunte gestyg, maar dit is sorgeloos verreken deur ‘n 13.7% afwaardering van die RMB, wat gelei het tot ‘n 4.1% styging in die USD-invoerkoste ná tariewe. Miran stel ‘n geleidelike implementering voor en dink dat optimale heffings ten minste 20% moet wees om markbeskerming en impak in balans te bring.
Die Amerikaanse dollar word as oorwaardeer beskou weens die onbuigsame vraag na reserwebates, met ongeveer 12 triljoen dollar in wêreldwye buitelandse wisselvoorraad, waarvan 60% in dollars belê is. Die argument is dat hierdie oorwaardering lei tot handelstekorte wat Amerikaanse vervaardiging benadeel.
Die dokument beklemtoon beduidende werksverlies in vervaardiging as gevolg van handel met China, met ramings van 600 000 tot 1 miljoen werkgeleenthede wat tussen 2000-2011 verlore gegaan het, met breër kategorieë wat oor die dekade ‘n verlies van 2 miljoen werkgeleenthede ervaar het. Dit meld ook verskille in effektiewe tariefkoerse, met die VSA by ongeveer 3%, die EU by 5% en China by 10%, sowel as spesifieke bilaterale teenstrydighede soos Amerika se 2.5% teenoor die EU se 10% op motors.
Die voorgestelde geldeenheidsbeleide behels moontlike verminderinge in die waarde van Amerikaanse Tesourie-effekte (UST), wat opbrengste beïnvloed (10-jaar teen 4.25%, 3-jaar teen 4.1%) en 'n verhoging in die VPI (verbruikersprysinflasie) van 60-100 basissepunte vir ‘n 20% dollar afwaardering – dit is alles in ag geneem. Multilaterale benaderings behels buitelandse wisselvoorraad soos die 280 miljard dollar wat deur die EU aangehou word, 800 miljard dollar in Switserland, 3 triljoen dollar in China, en 1.2 triljoen dollar in Japan. Hulle mik om eensydige gebruikersfooie op buitelandse amptelike Tesouriebates op te lê, wat gerig is op die opbou van reserwes.
Die dokument beklemtoon dat heffings as ‘n eerste stap gebruik sal word om hefkrag te verkry, en beklemtoon geleidelikheid, die afwagting van laer inflasie/tekortes, en samewerking met die Federale Reserwe deur gebruik te maak van instrumente soos SOMA, met historiese verwysings na Operasie Twist – laer langtermynrentekoerse om die Amerikaanse ekonomie verder te stimuleer.
Die dokument beveel aan om volatiliteit te beperk deur klein, gedifferensieerde stappe deur die Reserwebank te neem, terwyl dit waarsku teen sterker vriend/vyand afbakenings, moontlike intrekking van die sekuriteitssambreel (bondgenote moet maar beheer neem), en verhoogde geldeenheidvolatiliteit, met pogings om dollarblootstelling te verminder (beleggers wat na goud en kriptogeld oorskakel).
Hoe nou gemaak?
Op 2 April 2025 het President Trump ‘n nasionale noodtoestand uitgeroep en ‘n minimumheffing van 10% op alle lande ingestel. Ná hierdie openingspel het hy die deur oopgemaak vir vrye bilaterale handel met almal behalwe China, met ‘n 90-dae pouse vir almal anders terwyl onderhandelinge aan die gang kom.
Diegene wat na Amerika toe gekom het om voorkeurhandelsooreenkomste te onderhandel, sluit na gerugte oor die 70 lande in, alhoewel nie almal gesamentlik vermeld word nie. Israel, Japan, die Verenigde Koninkryk, Viëtnam, Kambodja, Thailand, Indië, Suid-Korea, Australië, Argentinië, Kanada, Meksiko, Switserland, Maleisië, die EU en Indonesië is maklik om op te spoor – ‘n ordentlike lys. Sommige, soos Israel, het selfs voorgestel om heffings op Amerikaanse goedere geheel op te skort, as ‘n teken van lojaliteit en goeie trou.
China het duidelik nie van hierdie nuwe reëling gehou nie en het hul teëgesit. Hulle het ook die invloed om dit te doen, met ‘n groeiende en wye handelsnetwerk regoor die wêreld.
Kanada en die Europese Unie het egter baie onseker opgetree. Net voor die groot “Bevrydingsdag” aankondiging het Kanada 25% heffings op 29.8 miljard dollar Amerikaanse goedere ingestel, effektief vanaf 13 Maart 2025, wat staal en aluminium teiken. Dit is egter ‘n beperkte reaksie op spesifieke staal- en aluminiumtariewe wat vroeër in die jaar deur die Trump-administrasie ingestel is, en mag in die huidige ronde heronderhandel word.
Hierdie staal- en aluminiumtariewe het ook ‘n vergeldingsreaksie van die EU opgedwing (alhoewel hulle, soos gewoonlik, langer geneem het om op te tree) en Brussel het vergeldings-tariewe op 21 miljard euro se Amerikaanse goedere goedgekeur, teen koerse van tot 25%, wat vanaf 15 April 2025 effektief is en items van amandels en sojabone tot motorjagte insluit.
Maar die aard van hierdie vergeldingstappe is beperk. Terwyl Mark Carney en Ursula von der Leyen ‘n sterk retoriese houding aangeneem het, was hulle ietwat bedagsaam oor waarop hulle heffings wil instel. Kanadese beamptes het aangekondig dat hulle nie die meerderheid van voedsel en ander noodsaaklikhede sal teiken nie, om werksverlies en lewenskoste krisisse te vermy, en soortgelyke standpunte kom ook uit die EU.
Die probleem is dat Trump ‘n vaste reputasie het vir sy malheid en bestandheid teen kritiek, wat beteken dat hy ‘n enorme intimidasiefaktor in sy guns dra, afgesien van Amerika se blote enormiteit as nasie.
Ekonomiese adviseurs wat naby Trump staan, insluitend voormalige handelshoof Robert Lighthizer, het besprekings gevoer oor maniere om die Amerikaanse dollar af te waardeer om uitvoere te stimuleer – wat pas by die dokument se argument om geldeenheidbeleide te gebruik om die oorwaardering van die dollar aan te spreek – maar hierdie voorstelle bly tans in die beplanningsfases.
Sinkgate vir mooi planne
Die samewerking met die Federale Reserwebank bly onseker. Die dokument waarsku teen moontlike finansiële en geopolitieke volatiliteit, en dit is reeds waarneembaar. Chatham House suggereer dat Trump se heffings die dollar kan versterk, en dat die afwaardering en die “Mar-a-Lago-akkoord” nog nie verwesenlik is nie. Die Federale Reserwebank word gelei deur Jerome Powell, ‘n langtermynkritikus van Trump wat hy nie konstitusioneel kan verwyder nie, met ‘n ampstermyn wat in 2028 eindig.
Boonop is finansiële strawwe teen opstandige konserwatiewe regerings nie nuut nie, soos getoon deur Liz Truss – die hopeloos naïewe dame wat vir ‘n kort tydperk die Verenigde Koninkryk gelei het en probeer het om belasting en regeringsuitgawes te sny teen die sin van die Bank van Engeland, wat toe deur Mark Carney, die huidige Eerste Minister van Kanada, gelei is. Die bank se ingrypings, soos om effekte op te koop nadat hy aanvanklik die verkoop daarvan aangekondig het, was nie stabiliserende maatreëls nie, maar nogal blatante markmanipulasie wat tydsbereken was om onstabiliteit te verhoog en Truss se ietwat gematigde fiskale posisie te diskrediteer.
Die Fed mag egter moet toegee aan voorstelle oor dollarafwaardering, aangesien die weiering daarvan die Westerse markte wyd sal benadeel.
Dit is duidelik dat nie alles volgens plan verloop het nie. Terwyl verskeie lande na die VSA toe gekom het om heronderhandelinge te voer, bly die kernprobleme hang. Hierdie veranderinge sal ontwrigtend wees en die lewe vir verbruikers in die VSA op kort tot mediumtermyn bemoeilik.
Boonop is bondgenote nie verheug oor die veranderinge nie, en selfs dié wat by die onderhandelinge aansluit, doen dit met geknersde tande.
Presedente deur presidente: Maatstawwe van sukses
Soos die vorige stelselverandering, word hierdie plan bevorder deur ‘n konserwatiewe populis. Richard Nixon was die man wat Amerika van die goudstandaard weggetrek het en internasionale handel herorganiseer het na die imperiale stelsel wat (na die finansiële hervormings in die 1980's, natuurlik) daardie heerlike vryhandelswinste gegenereer het wat Amerika tot en met 2008 as sy bron gehad het, met steeds aansienlike winste selfs ná die groot ineenstorting van daardie jare.
Maar die globale en binnelandse skoke het lewensstandaarde in die 1970's verlam, en Nixon is deeglik daarvoor beskuldig. Nie net dit nie, maar soos die Nixon-stigting tot op hede volhard, is daar ook bewerings dat die CIA bygedra het om hom te teiken– iets wat skynbaar in politieke oorgange vandag algemeen voorkom. Daar word beweer dat die mense wat in Watergate ingetree het, en dié wat daaroor gerapporteer het, saam met die FBI en CIA gewerk het, en nie sonder bewysstukke om die bewerings te steun nie.
Alhoewel pogings om Trump teen te staan afgeneem het, hang sy sukses of mislukking nou af van die vermoë om ‘n onmoontlike tou deur ‘n onmoontlike naaldogie te ryg. As hy nie korttermynwins en langtermynheerskappy kan verseker nie, ondanks die strukturele teenstrydighede, sal hy sekerlik ‘n nederlaag en kiesersontnugtering in die gesig staar.
Die risiko lê daarin dat Trump toegelaat word om die wêreldwye handelstelsel te herorganiseer ter voorbereiding op ‘n konfrontasie met China wat hy nie self sal aanskou nie, en intussen sal sy ondersteuningsbasis opgeoffer word, terwyl ‘n progressief-liberale koalisie die golf van herstel ry na die finale botsing tussen die nuwe Sparta in die Ooste en die Amerikaanse Athene.
Rob Duigan is die redakteur van The Cape Independent. Hierdie artikel het oorspronklik daarop verskyn en is met die skrywer se vergunning met ons gedeel.