Om ‘n seepkissie vir die wêreld neer te sit, en ‘n tree terug te neem.
Dit is wat ons met OntLaer wil regkry. Niks meer nie, niks minder nie. Om slegte idees en goeie idees toe te laat om te bepaal wie nou eintlik wie is. Teen daardie agtergrond deel ek hierdie week se uitgawe van OntLaer met ‘n rustige en dankbare glimlag: Ons seepkissie word gesien, en hy word gebruik.
Ons kyk Suid-Afrika as’t ware vanweek van alle kante af uit die boom uit. Propvol idees en analise vir die ernstige leser, soos wat ons dit graag hier by OntLaer doen.
Eugene Brink daag ons uit om na te dink oor die vorm en inhoud van selfbeskikking in die Suid-Afrikaanse konteks met sy stuk oor sesessie en Suid-Afrika. Reuben Coetzer is oor ons kollektiewe beursie besorg, en bring ’n aksieplan vir ’n ekonomie wat sukkel om sy voete te vind.
Oor die voorkoms van spanning tussen vryheid en reg laat Martin van Staden sy politiek-filosofiese ontleding hard en duidelik spreek. Frederik van Dyk kyk na hoe ons mekaar in woord en sin takel met sy stuk oor die die groot bekgeveg tussen die prokureur Willie Spies en News24 se Pieter du Toit oor die @twatterbaas petalje.
Hierdie week handel my eie bydrae oor die idee van Subsidiariteit, wat ek glo ‘n sleutelrol in ons pad vorentoe moet speel. In Daniël Eloff se “Jy kla oor die toestand van ons land” word die hartseer hiërargie van tragedie aan die hand van twee brande in Kaapstad uitgelig.
Met toestemming van Professor Joseph Heath plaas ons ook ‘n vertaalde weergawe van sy artikel oor ‘n veelbesproke wanvoorstelling van gelykheid.
Hierdie week plaas ons ook twee lesersbriewe. Eldridge Jason grinnik oor die VSA se skynbare afname in invloed, en die spraaksame Sulla Felix is weer terug met ‘n gevleuelde blik op die werklikhede van spraakvryheid, en voer aan ons leef in ’n era waar die totalitêre so hoeka weer kop uitsteek.
Waarheen nou?
Hierdie vraag weerklink hierdie week deur elke artikel. Vir die fundamentalis of sosialis is die antwoord te maklik, maar vir hom wat sy energie in diens van sy medemens uit wil stort sal vrae oor die welsyn van die staat nooit te ver weg van die kopseer net so duskant die haarlyn wees nie.
OntLaer nooi jou uit om saam te dink, te bevraagteken en nuwe paaie te verken. Want soms lê die antwoord nie in die herhaling van ou antwoorde nie, maar in die moed om nuut te dink oor ou probleme.
Dink saam, dink anders, Ont-laer.
Groete van huis tot huis,
Paul