Sny, Smelt saam, of Stuur Provinsies toe: Drie planne vir ons Sowjet-Kabinet
Bring die snoeiskêr.
’n Opgeblaasde regering met ’n permanente begrotingstekort. Wetgewing geskryf deur ’n politieke elite wat verwyder is van die realiteite van wat die land werklik kan bekostig of wat die mense, wat uiteindelik onder hierdie wetgewing moet leef, nodig het. Privaat dienste vir die politieke elite en ’n publiek wat gebuk gaan onder die al groeiende staat. Bejaarde leiers met geen plan om die tuig te ontruim nie. Mooi praatjies.
Vir die meeste lesers behoort hierdie beskrywing ‘n klinklare daarstelling van die Sowjetunie te wees. Op ‘n letter die korrekte beskrywing vir Lenin se eerste administrasie in Moskou, of enige van die daaropvolgende, ewe verskriklike skrikbewinde. Tog is hierdie teks nie ‘n uittreksel uit ‘n boek oor Leonid Brezhnev se stagnasieregering nie, dit is die realiteit van Suid-Afrika in 2025. Ons het ‘n staat wat groei, nie in kapasiteit of doeltreffendheid nie, maar in omvang, koste en burokrasie. Soos die Sowjetunie se oordrewe staatsbestuur, is daar in ons huidige kabinet ‘n massiewe wanbalans tussen mag en funksie—te groot om hanteerbaar te wees, te swak om basiese dienslewering reg te kry.
Die Sowjetunie se ministeries, wat na 1946 die plek van volkskommissariate ingeneem het, was ’n mallemeule van titelveranderings, nuwe strukture, herverdelings en ‘n eindelose herrangskikking van poste. Teen die 1980’s was daar al meer as 120 verskillende ministeries en departemente—elkeen op sy eie manier ‘n rat in ‘n nuttelose, selfversorgende masjinerie. Ministers is nie geëvalueer op grond van hul vermoë om iets te verbeter nie, maar bloot verskuif tussen poste soos ‘n eindelose musikale stoele-wedstryd.
Die Leninisme het daarin geslaag om die evaluasie van prestasie ‘n kenmerk van kapitalisme te tipeer, en dus as boos af te maak. Staatsdepartemente, so is gemeen, moet gemeet word aan hul bydrae aan die alledaagse burger, nie aan winsgewendheid nie. So hoogdrawend liries as wat dit mag klink, het die identifisering van prestasie of wins as deel van ‘n vyandige regime vir amptenare ruimte gegee om dienslewering ten volle te minag en opsy te skuif.
Klink dit bekend?
Suid-Afrika se kabinet is een van die grootste en duurste ter wêreld, en soos sy Sowjet-eweknie, ‘n monument vir politieke patronaatskap eerder as funksionele regering. Met 34 ministers en 43 adjunkministers huisves ons ‘n regering wat so lomp is dat dit nie net deur sy eie interne kompleksiteit verlam word nie, maar boonop miljarde rande per jaar aan salarisse, personeel en sekuriteit verspil. Dit is nie ‘n kabinet wat ‘n moderne, mededingende ekonomie dryf nie; dit is ‘n oorblyfsel van ‘n verouderde politieke model. Hierdie kolos van ‘n regering is ‘n luuksheid wat ons eenvoudig nie kan bekostig nie - dit is baie soos om vir jouself ‘n Europese vakansie te bespreek terwyl jou kind nie ‘n bed het om in te slaap nie. Die prioriteit is nie om staatsinstrumente te misbruik ten einde politieke guns binne en om die eie party te wen nie - oftewel, dit is nie veronderstel om die prioriteit te wees nie.
Die ooreenkomste met die Sowjetmodel strek verder as net die groote van en die aantal ministeries. Net soos in die USSR, het Suid-Afrika ‘n politieke klas ontwikkel wat ‘n lewe in die kabinet maak. ‘n Mens hoef net te kyk na die herwinning van ministers wat, ongeag hul prestasie of mislukkings, eenvoudig tussen verskillende poste geskuif word. Ons het ministers wat oor gesondheid toesig gehou het, net om later in binnelandse sake te beland; ministers van justisie (sonder ‘n LLB) wat skielik na menselike nedersettings geskuif word. Dit is ‘n stelsel waarin ervaring en kundigheid duidelik nie hoog op prys gestel word nie. Waaraan word geskiktheid vir politieke posisie dan gemeet, indien nie kundigheid nie? Die hartseer realiteit is dat dit gemeet word aan lojaliteit, jare se diens aan ‘n struggle wat meer as drie dekades gelede al gewonne is, en bereidwilligheid om nie vrae te vra nie.
Geld, so baie geld.
In ‘n dinamiese, funksionele regering sou ‘n minister wat ‘n sleuteldepartement laat faal, eenvoudig verwyder word - sonder die moontlikheid van herontplooiing na ‘n ander pos. Tog, in Suid-Afrika, net soos in die Sowjetunie, word ministers eerder rondgeskuif na ander portefeuljes—nie om dienste te lewer nie, maar om politieke balans te handhaaf. Die kabinet is ‘n stoorkamer vir veterane wat ongeag hul prestasies of gebrek daaraan, altyd ‘n nuwe pos sal kry. Ten dele moet hierdie tipe optrede daaraan toegeskryf word dat die President nie die mag binne sy party het om faksies se aangewese kandidate te verwyder nie. So word Jan Alleman die slagoffer van die ANC se binnegevegte.
Terwyl ministers en adjunkministers miljoene per jaar verdien, krepeer miljoene Suid-Afrikaners sonder basiese dienste. Die staat, wat op papier groei, raak in werklikheid al hoe minder sigbaar waar dit volgens hul eie skatting van wat ‘n staat veronderstel is om te wees saak maak—by kragopwekking, misdaadvoorkoming, gesondheid en onderwys. (Dit is te vroeg in die jaar of eeu om te vra of hierdie pligte werklik by die staat hoort, maar daardie gesprekke kom ook nog… )
Hierdie patroon van ondoeltreffende staatsbestuur is niks nuuts nie. Die Sowjetunie se ekonomiese ondergang was deels te danke aan ‘n regering wat nie geweet het hoe om sy eie groei te beperk nie. Hoe groter die regering geword het, hoe minder was dit in staat om die probleme van sy mense op te los. Dit het eerder ‘n selfonderhoudende monster geword, ‘n groot administratiewe apparaat wat meer belang gestel het in sy eie voortbestaan as in die lot van die bevolking.
Suid-Afrika se huidige pad wys duidelike tekens van dieselfde regeringskwale. Ons begrotings is in ‘n permanente toestand van tekorte, nie omdat ons nie inkomste het nie, maar omdat ons regering te veel spandeer. Ons moet daaraan dink dat die tesourie en die kabinet eerder ‘n BTW-verhoging sal toestaan as om ‘n laer salaris te aanvaar. Natuurlik is die twee nie direkte vervangers van mekaar nie, maar die punt bly staan dat die skuld eerder teen die bult afgeskop word as om op hoogste vlak saam te dra daaraan. BBP-sekuriteit sal bly. Ampsvoertuie sal bly. Die miljarde aan staatsuitgawes aan huurkantore en spesiale komitees sal voortduur. Net soos in die Sowjetunie sal die bevoorregtes altyd versorg word, terwyl die gewone mense net gevra word om nog ‘n bietjie langer geduldig te wees.
Wat is die oplossing?
Die ruisende oproepe vir ‘n baie kleiner kabinet is ‘n stap in die regte rigting. Dit is nie ‘n revolusionêre konsep nie—dit is presies wat florerende demokrasieë doen. Dit is eenvoudig onhoudbaar dat ons ministers in ‘n enkele jaar meer verdien as wat ‘n minimumloonwerker in ‘n leeftyd sou verdien. ‘n Land met ekonomiese groei van minder as 2% kan eenvoudig nie bekostig om ‘n uitvoerende tak van regering te hê wat so groot is nie. Dit is ekonomies onregverdigbaar. As die staat beskou word, soos wat iemand soos Thomas Hobbes dit dalk sou sien, as verteenwoordiging van gesamentlike gesag waaruit daar dan opgetree mag word in die naam van die groep, dan is die verteenwoordigers van die kollektiewe gesag besig om buite die lyne van ordentlikheid en logika te speel.
Die sewe-en-sewentig koppige draak moet ‘n hele paar koppe verloor. Daar is heelwat departemente wat op nasionale vlak gewoon onnodig is, omdat die probleme plaaslike oplossings kort. Daar is departemente wat eenvoudig nie sin maak nie, wat moet weg, en daar is departemente wat eintlik maar konstant dieselfde dinge probeer bereik - waarom nie maar net onder een dak saamwerk nie?
Die maklikste pad vorentoe is die 3 S’e:
Sny,
Smelt saam,
Stuur na provinsies toe.
Dit is nie sinvol dat ‘n skool in die Noord-Kaap se probleme deur dieselfde nasionale instelling bestuur moet word as ‘n skool in Gauteng nie. Dit is net so onsinnig om te dink dat misdaadbestryding in ‘n stad soos Johannesburg op dieselfde manier hanteer moet word as ‘n plattelandse dorpie in Mpumalanga. In hierdie gevalle moet gesag van Pretoria na provinsies afgewentel word - of vir meer die klassieke lesers van demokrasie: Gesag moet teruggeneem word deur die provinsies, wat as verteenwoordigers van gevestigde gemeenskappe inderwaarheid lank voor die staat reeds daar was.
Sommige departemente, soos die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne maak in ‘n era van private kompetisie en internasionale toetrede geen sin nie. Hier sou ons aanbeveel dat daar diep gesny moet word, met die tesourie wat administratiewe pligte oorneem soos nodig.
Ek is deeglik daarvan bewus dat die staat homself nie kleiner gaan maak nie, waarom sou hy? Voordat ‘n probleem opgelos kan word moet daar erkenning wees dat daar in werklikheid ‘n probleem is. Die regering is nog nie op die punt waar die erns van die probleem besef word nie, deels omdat die luuksheid te lekker is, en die soustrein te veel momentum het, en deels omdat die regering grotendeels saamgestel is uit leiers verslaaf aan ‘n sentraliserende ideologie, wat die staat aan die middelpunt van die menslike verhaal wil plaas.
Die werklike vraag vir hulle wat Suid-Afrika wil sien werk, is eintlik: Hoe lank gaan ons na hierdie verhaal luister voordat ons ons eie verhaal begin vertel?
Gee jou steun hier.