So waarom OntLaer?
Oor grense, gesprekke en gemeenskap. Waarom drie Afrikaners besluit het om digitale laers te oorsteek en hoekom dit dalk die belangrikste Afrikaanse debatplatform kan wees.
Die ontvangs van OntLaer oor die afgelope week was vir my, om die minste te sê, oorweldigend. Drie debat-pelle besluit om die moderne tegnologie tot ons beskikking aan te wend, en `n landingsplekkie vir ons eie idees, en die idees van almal wat bereid is om saam te praat, die wye wêreld in te stuur. Soos wat ons verwag het, en ook intern bespreek het, was een van die eerste vrae wat na ons kant toe gekom het die vraag oor ons naam. Wat presies bedoel ons nou eintlik met ontlaer? Skaar ons onsself deur middel van hierdie keuse by die brekers en ontkenners van grense, by die aanhangers van `n oop gemeenskap en een of ander globale sekulêre liberalisme?
Ek kan en wil myself nie namens my twee mede-redakteurs uitdruk nie, maar ek wil myself graag uitdruk oor wat ek dink ons mee besig is, en wat OntLaer graag wil regkry. Hierdie vrae is gesond en nodig, en hy wat wil antwoord op `n roepstem is daartoe genoop om te antwoord op `n vraagstem. Tydens ons dinkskrums hieroor het Frederik dit mooi saamgevat toe hy noem dat die ope vraag aan die hart van OntLaer, aan die hart van ons behoefte vir `n oop verhoog vir debat en redevoering eintlik eenvoudig is: Is dit moontlik om die voor die hand liggende voordele van laers van opinie (grense van oortuiging) te versoen met die duidelike en onvermydelike noodsaak van oop, diep, en eerlike onderlinge gesprek in `n funksionele samelewing?
Die maklike antwoord is dat ek nie weet nie, maar dat ek nietemin bereid is om te probeer.
Onder geen omstandighede dink ek dat `n oortuiginglose samelewing sonder enige vorm van grense moontlik is nie. Om eerlik te wees, ken ek nie een jong Afrikaner wat dink dat so `n samelewing enigsins wenslik is nie. Om dit dan meer akademies te stel, is ek ten diepste daarvan oortuig dat die oorgrote meerderheid jongmense lankal deur die kaal keiser van `n sogenaamde “Oop Samelewing” se drogkleed kan sien. Die idee van `n stelselmatige versmelting en verdwyning van minderhede sowel as hul kulture en tale is, na my beoordeling ten minste, feitlik oorwin.
Alhoewel die gesprek aan universiteite met hul effens stadiger intellektuele metabolisme, nog lank nie verby is nie, is die media wat deur die jeug, en dan veral die Afrikaner jeug, verkies word tot oorlopens toe vol met bewyse daarvan dat plaaslike en partikuliere kulture en gemeenskappe ruimte geniet wat hulle in die laaste halfeeu nie geniet het nie. Dit is asof daar `n stille konsensus bereik is dat dit normaal is dat ons in die openbaar met mekaar saam kan leef binne die grense van hoflikheid, burgerlikheid en gelykheid voor die reg, ten volle bewus daarvan dat niemand bereid is om hul kultuurgoed in afsonderlike privaatruime op te gee nie.
My doelwit is nie om doodgewone tradisionele grense van menswees te probeer afbreek nie. Min ideologieë vind ek so destruktief en inherent vyandig soos dié wat in die naam van samewerking of brugbou die plaaslike en tradisionele uit die weg uit wil ruim. Meer duidelik myself hieroor nie uitdruk nie.
Ongelukkig is so `n opvatting van OntLaer se doelwit myns insiens onkundig teenoor die baie spesifieke konteks waarbinne hierdie inisiatief tot stand gekom het. Dit is, indien die opvatting sou wees dat ons bedoel dat die Afrikaners hul grense tot so `n mate moet verwyder dat hulle hulself kultureel opgegee het. As die gevoel was dat Afrikaans nou vir eens en vir altyd moet ophou glo dat die bloubokkie se gal in sy kop sit en homself by die “verligte sekulêre Weste” moes aansluit, dan sou die huidige benadering geheel en al nie sin maak nie, en dan sou ek myself nie regtig daarmee kon vereenselwig nie. Maar dit was nie die punt nie. Dit is ook nie die punt nie.
Teen die agtergrond van die geweldige toename in internasionale aandag wat die Afrikaner en Afrikaans sedert die troonwisseling in die VSA ervaar, het dit vir enigiemand wat omgee om te kyk duidelik geword dat daar `n groterwordende kloof onder Afrikaanse denkers en kommentators ontwikkel. Verskillende kante sal daar maar altyd in `n gemeenskap wees en wie dink dat hy met een ou aanlynplatformpie of publikasie van een of ander aard permanente en oorkoepelende eenstemmigheid of eendragtigheid sal bewerk is nie net naïef nie, maar sommer onkundig. Dit is in ons aard om van mekaar te verskil. Die abnormale is eerder die manier waarop daar tans van mekaar verskil word. Gesprekke tussen kampe, tussen laers as ek dit so mag stel, bestaan eenvoudig nie meer nie. Die afgelope eeu het vir Afrikanerdenkers by uitstek drie ruimtes vir buite die laer redevoering gebied: Die Nasionale Vergadering, die Staatsuniversiteit, en die openbare media. Hoe onafhanklik die openbare media ooit werklik was is oop vir bespreking, maar die feit bly staan dat al drie hierdie drie kringe groot-en-deels vir die Afrikanerdenke verdamp het. Afrikanerkwessies word om logiese redes nie meer in die Parlement bespreek nie, universiteite in nasionale besit het hul fokus verander, en buiten vir enkele uitsonderings is alle Afrikaanse media in privaatbesit en ervaar hierdie media ook die uitdagings wat alle tradisionele hoofstroom media die wereld heen ervaar. So waar sal ons nou met mekaar in gesprek tree?
Ek is vol lof vir die maatskappye en organisasies agter Afrikaanse massamedia, maar hierdie organisasies sal self erken dat hulle nie neutraal is nie, en nie neutraal probeer wees nie. Die wip waarin ek myself nou redelik maklik kan vang is die idee van neutraliteit. Is ek dan neutraal? Is OntLaer dan neutraal? En indien wel, is neutraliteit en verdraagsaamheid vir alle idees nie juis kenmerke van kulturele relativisme, en stroomop van een of ander kulturele Globalisme nie? Onverdraagsaamheid teenoor almal wat nie ten volle verdraagsaam is nie, as ek Leo Strauss so effens mag parafraseer.
Nee. Ook neutraliteit is nie die doelwit nie - ek is nie eens seker wat presies `n neutrale debatplatform is nie, en of so `n ding bestaan nie. Die doelwit is om `n seepkissie neer te sit en terug te tree. Die doelwit is om ruimte te skep. Indien `n outeur onbeskaamd teen ons redaksionele beleid ingaan, sal ons die stuk natuurlik nie mag plaas nie, maar OntLaer wil `n verhoog wees waar ons kan praat, kan stry, en hopelik iets by mekaar kan leer.
Waar `n weldeurdagte stuk inkom waarmee ek glad nie saamstem nie staan ek natuurlik voor `n keuse: Blokkeer, of publiseer en hoop dat iemand bereid sal wees om `n antwoord te waag, dat iemand die monster onder die bed sal uitjaag. Die eerste opsie, waar sommige idees eenvoudig gekanselleer word omdat ons nie dink dat ons lesers opgewasse is nie, of omdat hulle uitdagend of vreemd is, is myns insiens altyd erger as die alternatief. Dalk is dit op hierdie punt waar heelwat lesers van my verskil. Waarom ruimte skep vir idees waarmee jy nie saamstem nie? Waarom lugtyd gee aan ideologiese opponente?
Die antwoord is omdat OntLaer in diens van die vloei van idees deur die samelewing wil staan, en daarom noodwendig `n ruimte vir moeilike gesprekke moet wees.
Ek weet hoe gemeenskappe lyk wat boeke brand waarmee hulle nie saamstem nie. Ek weet hoe volwassenes lyk wie se ouers hulle met intellektuele oogklappe grootgemaak het. Ek weet dat `n samelewing vol van mense wat `n gesprek met iemand buite die starre grense nie durf waag nie, verdoem moet wees tot `n afwesigheid van nuwe idees, en van antwoorde op die lewensstorms wat maar al te gedurig om ons losbars.
Dit is altyd vir my verstommend om in Plato se dialoë te sien hoe Sokrates sy intellektuele opponente se argumente nie net aanhoor nie, maar dikwels eers duideliker en sterker stel voordat hy daardie idees met beter idees oorwin. Dit is my oortuiging dat die Weste intellektueel vooruitstrewend geword het omdat hy met vreemdheid en vreemdelinge buite sy laers in gesprek getree het, die ware, die goeie, en die skone behou het, en die slegte oorwin het. Deur in gesprek met hulle buite ons eie laer te tree loop ons die vername risiko van konfrontasie met gevaarlike idees, maar die enigste manier om gevaarlike idees uit die weg kan ruim, is deur hulle met beter idees te oorwin.
Die tyd sal leer, maar ek is daarvan oortuig dat OntLaer `n plek sal wees waar beter idees oorwin. Al wat ons vra is redelikheid, hoflikheid en jou beste argumente.
So kom. Kom stry, kom stem saam, kom raas, kom OntLaer.