Soewereiniteit Sonder Spiere
Met 'n gebreekte verdedigingsmag is SA ontdaan van selfgeldendheid.
Soewereiniteit.
‘n Ware tongknoper. Die woord rol maklik oor die lippe van kenners en denkers, soms in ‘n vroom toespraak, dikwels onder ‘n ietwat verhewe morele stemtoon.
Ons hoor dit in parlementêre debatte, in persverklarings, op internasionale forums. “Suid-Afrika sal nie sy soewereiniteit prysgee nie.” En tog, wanneer daar ’n beroep gedoen word op daardie soewereiniteit — nie in ‘n metaforiese sin nie, maar in die bloed-en-sweet werklikheid van militêre bedreiging, rampe of reddingspogings — dan is daar niks. Dan is die keiser maar weer kaal. Die toets van soewereiniteit is nie in die parlement, verklarings of diplomatieke betoë nie. Dit lê in die eenvoudige, harde vraag:
Kan jy jou land teen verwagte gevare verdedig?
Geen vlerke in die lug nie. Geen skepe op die water nie. Geen vervoer op die grond nie. Geen staatsingryping wat daardie soewereiniteit kan verdedig of bevestig nie. Die logiese gevolgtrekking moet dan wees dat Suid-Afrika tans in praktyk nie eintlik ‘n soewereine staat is nie. Kommerwekkend, om die minste te sê.
So hoe het ons hier uitgekom?
Daar was geen oorlogsverklaring nie. Geen openbare krisis of dramatiese afskaling nie. Soos Hemingway in The Sun also Rises skryf: Geleidelik, en toe eweskielik. Eers stadig, en toe seker, het die Suid-Afrikaanse verdedigingsmagte in duie gestort.
‘n Goeie voorbeeld is die Suid-Afrikaanse Lugmag, vandag maar net ’n skaduwee in vergelyking met die mag wat dit eens was. Van die oorspronklike vloot van 388 vliegtuie is ses vandag in werkende toestand: Twee Gripen-vegvliegtuie, drie Hawk-opleidingsvliegtuie, en ‘n eensame Oryx-helikopter wat in Februarie 2025 vir diens herstel is. Die res — Rooivalk-aanvalshelikopters, Hercules-vervoervliegtuie, ligte verkenningsvliegtuie — lê verlate - soos Klopjag so mooi gesing het: “Opgejack en gestrip vir parte iewers langs die pad…”.
Dit gaan verder as die blou van onse hemel. Ook die diepte van ons see toon die agteruitgang. Die Suid-Afrikaanse Vloot is in benarde toestand.
En op die grond? Die Weermag veg dapper, maar dikwels ontbloot. Sonder lugsteun. Sonder behoorlike logistieke kapasiteit. Sonder moderne toerusting. In Januarie vanjaar is 14 Suid-Afrikaanse soldate in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) dood in ’n geveg teen M23-rebelle. Nie een van hulle kon gered word nie. Die gewondes moes vir weke wag, omsingel deur vyandelike magte, voordat ’n buitelandse vragvliegtuig uiteindelik hul liggame huis toe bring.
Suid-Afrika het nie sy soldate huis toe gevlieg nie. Dit het daarvoor ’n vliegtuig gehuur — in Rwanda.
Soewereiniteit as Politieke Sprokie
En tog, praat die regering steeds van “soewereiniteit” — luidkeels, verontwaardig, selfs moreel selfvoldaan. Toe Donald Trump onlangs aangekondig het dat die VSA alle finansiële hulp aan Suid-Afrika sou opskort, het die ANC se kabinetslede en woordvoerders soos een man opgestaan: “Ons sal nie buig vir buitelandse druk nie.” Die Departement van Internasionale Betrekkinge het verklaar dat die VSA ons onafhanklikheid aanval. Twitter het gegons.
Maar die werklikheid is eenvoudig. Jy kan nie jou soewereiniteit verdedig met persverklarings nie.
Wat beteken soewereiniteit wanneer jy nie jou eie lugruimte kan beveilig nie? Wanneer jou staatshoof kommersieel moet vlieg omdat die presidensiële vliegtuig nie kan opstyg nie? Wanneer jou troepe kos en water moet ontvang van vyandelike rebelle omdat ons geen logistieke vermoë het om dit self te doen nie?
Die ANC verkondig soewereiniteit in teorie, maar faal daagliks in uitvoering. Soewereiniteit is nie net ’n konsep nie — dit is ’n kapasiteit. En Suid-Afrika het dit nie meer nie.
Van Kontinentale Leier tot Logistieke Passasier
Daar was ’n tyd toe Suid-Afrika as kontinentale ruggraat gedien het. Ons was die geskilbeslegters in Burundi. Die helde van die Sikloon Idai-ramp. Dikwels die stem van rede in die Afrika-unie. Nou is ons bywoners.
In MONUSCO, die VN-missie in die DRK, speel Suid-Afrika skaars meer as ’n simboliese rol. Ons helikopters is ingeperk. Ons troepe geïsoleer. Selfs die Rooivalk, wat in 2012 die M23-rebelle help terugdryf het, is nou niks meer as ’n dekorstuk langs die lugmagbasisse nie.
Vier Rooivalk-helikopters wag tans in Kempton Park vir onderdele wat ons nie kan bekostig nie. Die regering skuld Denel meer as R1 miljard in herstelwerk. Intussen is daar nie een Rooivalk wat gereed is vir ontplooiing nie.
En wat van die Vloot se fregatte en duikbote? Hulle sit vas aan die kaai, sonder diesel, sonder dele, en dikwels sonder bemanning. Ons grootste bedreiging op see — van dwelmsmokkelary tot seerowery — ontwikkel sonder teenvoeter. Suid-Afrika is afwesig.
Die beeld van ’n staat sonder vlerke, sonder ankers, en sonder wiele is nie ’n metafoor nie. Dit is die huidige stand van nasionale verdediging.
Wanneer Redding Onmoontlik Word
Miskien is die skokkendste aspek van hierdie militêre verval die verlies van vermoë om reddingspogings uit te voer — daardie mees basiese funksie van enige weermag: Om lewens te red, nie net om lewens te beskerm nie.
In 2000 het ’n Oryx-helikopter wêreldwyd opslae gemaak toe dit Rosita Mabuiango en haar pasgebore baba uit ’n boom gered het tydens die vloede in Mosambiek. Dit was ’n simbool van Suid-Afrikaanse heldhaftigheid, van noodlogistieke vermoë, van medemenslikheid.
Vandag is daardie helikopter ingeperk — en al 38 van sy sustermasjiene daarmee saam.
Sou ’n soortgelyke ramp môre plaasvind, is daar geen waarborg dat enige vliegtuig, helikopter of skip sal kan reageer nie. Suid-Afrika se vermoë om sy burgers tydens ’n nasionale krisis te beskerm is, eenvoudig gestel, nie meer daar nie.
’n Beroep op Beleidmakers
Aan diegene in die Parlement wat toesig hou oor die land se weermag, lugmag en vloot, aan die Minister van Verdediging, aan elke kabinetslid wat in ’n privaat jet sit terwyl die Rooivalk roes — die tyd vir verskonings is verby.
Hierdie is nie iemand anders se probleem nie. Dit is ons s’n. En dit is nou.
Om die weermag, lugmag en vloot te herstel sal geld kos. Politieke kapitaal. Kundigheid. Dit sal nie gewild wees nie. Maar sonder ’n funksionele weermag — in die lug, op land en op see — kan Suid-Afrika nie sy soewereiniteit handhaaf, sy burgers beskerm, of sy plek op die vasteland herwin nie.
Dit gaan nie oor militarisme nie. Dit gaan oor verantwoordelikheid. Dit gaan oor waardigheid. En dit gaan oor eer — of die staat sy mans en vroue in uniform kan stuur, en hulle weer huis toe kan bring.
As ons dit nie meer kan doen nie, dan is ons nie meer ’n staat nie.
Ons is dan net ’n vlag — wapperend, rigtingloos — in die winde vanuit ander streke.