Sedert die oorgang na demokrasie in 1994 het Suid-Afrika se pogings om misdaad te bekamp grootliks gesentreer rondom 'n gesentraliseerde polisiemag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Soos die Suid-Afrikaanse publiek deeglik van bewus is, het hierdie benadering egter nie die verwagte resultate gelewer nie. Misdaadstatistieke bly kommerwekkend hoog, en gemeenskappe voel dikwels onveilig en verwaarloos. Dit is dus tyd vir die publiek om ernstig en met ywer te oorweeg of 'n gedesentraliseerde polisiestelsel nie 'n meer effektiewe oplossing bied nie. Ons kan nie aanhou verwag dat ’n handvol amptenare in Pretoria werklik verstaan wat op straat gebeur nie. En nog minder dat hulle dit wat wel gebeur, doeltreffend kan beheer.
Die Beperkings van 'n Gesentraliseerde Polisiestelsel
In 'n land so divers en uitgestrek soos Suid-Afrika, is 'n eenvormige, van-bo-na-onder benadering tot polisiëring problematies en lei dit dikwels tot dodelike gevolge. Verskillende streke het unieke uitdagings. Die misdaadpatrone in 'n stedelike gebied soos Johannesburg verskil drasties van dié in 'n landelike dorp in die Karoo. Wanneer besluite oor polisiëring sentraal geneem word, is daar 'n risiko (en realiteit) dat plaaslike nuanses en spesifieke behoeftes oor die hoof gesien word. Dit is soos om iemand van die dak van 'n gebou af te probeer vertel hoe om op 'n pad vol slaggate sy voertuig te bestuur– sonder dat jy self die slaggate van daar bo af kan sien. Hierdie gebrek aan plaaslike insig en aanpasbaarheid lei tot ondoeltreffende misdaadvoorkoming en -reaksie en die gevolg van ‘n disfunksionele polisiediens wat ons almal ongelukkig te goed ken.
Sentralisering lei dikwels tot traagheid en ondoeltreffendheid in besluitneming. Wanneer 'n polisiestasie in 'n afgeleë dorpie of township 'n spesifieke misdaadkrisis ervaar – soos ’n skielike toename in huisbrake of dwelmsindikate – moet versoeke vir bykomende hulpbronne of strategiese aanpassings dikwels deur verskeie lae van burokratiese goedkeuring gaan voordat daar enige reaksie plaasvind. Teen die tyd wat toestemming of ondersteuning uiteindelik kom, is die situasie reeds vererger of die skade klaar berokken. Dit maak nie net die polisie se werk moeiliker nie, maar dit ondermyn ook die publiek se vertroue dat die owerhede hul veiligheid ernstig opneem. 'n Stelsel wat nie aan gemeenskappe, wat die onmiddelike effek van misdaad voel, enige mag gee nie, is soos 'n brandweerman wat moet wag vir ’n oproep uit hoofkantoor voordat hy 'n brand mag begin blus.
Die Skyn van Gemeenskapsbetrokkenheid
In Suid-Afrika se vroeë demokratiese era is Gemeenskapspolisieringsforums (GPF’s) ingestel as instrumente om gemeenskappe se stem in polisiëring in te bring. In teorie sou hierdie forums ’n brug vorm tussen die SAPD en gemeenskappe. In praktyk het dit egter geword dat GPF’s geen gesag, mandaat of hulpbronne het om ten volle hul impak te maak nie. Hulle het simboliese strukture geword, wat dikwels dien as klankborde vir die SAPD sonder dat enige van hul insette werklik polisiëringstrategieë beïnvloed. Almal wat al ‘n GPF vergadering bygewoon het, weet dat tydens hierdie vergaderings word daar deur die gemeenskap gekla en dan deur die polisie vertel wat die SAPD (dikwels nasionaal of provinsiaal) se planne voorskryf daar gedoen moet word, maar nooit wat werklik gedoen gaan word nie.
Die mislukking om GPF strukture behoorlik te benut as skakels met gemeenskappe in misdaadvoorkoming, bewys dat ware gemeenskapsbetrokkenheid nie ’n opsionele bykomstigheid moet wees nie, maar ’n noodsaaklike voorwaarde vir doeltreffende polisiëring. Suid-Afrikaanse gemeenskapveiligheidstrukture is in baie gevalle die enigste doeltreffende teenwigte teen misdaad waar die SAPD totaal hulle verantwoordelikhede versaak het.
Internasionale Voorbeelde van Desentralisasie
Die Verenigde Koninkryk bied 'n insiggewende voorbeeld van hoe 'n gedesentraliseerde polisiestelsel kan funksioneer. Met 45 streekspolisiemagte, elk verantwoordelik vir hul eie jurisdiksie, het hierdie polisiedienste die bevoegdheid om strategieë te ontwikkel wat pasgemaak is vir hul spesifieke gemeenskappe se behoeftes. Hierdie operasionele onafhanklikheid, hoewel steeds onder toesig van die Home Office, stel hulle in staat om vinnig en effektief op plaaslike misdaadkwessies te reageer. Hier sien ons hoe ’n polisiemag wat naby die grond funksioneer, met sy ore en oë in die gemeenskap, meer suksesvol is as ’n mag wat van bo af probeer sin maak van wat aangaan.
Maar die VK is nie alleen nie. In lande soos die VSA, Duitsland, Brasilië en selfs Kenia is daar grondwetlike raamwerke wat voorsiening maak vir ‘n federale of sterk gedesentraliseerde benadering. In die VSA, byvoorbeeld, bestaan daar duisende plaaslike en staatsbeheerde polisiemagte wat binne hul eie jurisdiksies funksioneer, maar met federale samewerking. Hierdie strukture laat toe vir groter innovasie, direkte aanspreeklikheid en ‘n pasgemaakte reaksie op plaaslike veiligheidsuitdagings. Die les is duidelik: desentralisasie is nie net ’n teoretiese droom nie, maar ’n praktiese realiteit regoor die wêreld. Een wat beproef, verbeter en gevestig is oor dekades heen. Suid-Afrika hoef nie die wiel te herontwerp nie. Ons moet net die bestaande kennis en ons eie grondwetlike moontlikhede benut. En die grondwetlike moontlikheid vir gedesentraliseerde polisiemagte in Suid-Afrika bestaan reeds.
Die Suid-Afrikaanse Konteks en Grondwetlike Raamwerk
Suid-Afrika se Grondwet bied, in teenstelling met wat dikwels aangevoer word, wél ruimte vir desentralisering van polisiemag. Artikel 205 bepaal dat die polisie se doel is om misdaad te voorkom, die orde te handhaaf en die veiligheid van inwoners te beskerm. Verder erken Artikel 206 die rol van provinsiale regerings in die bepaling van polisiëringsprioriteite en in die oorsig van SAPD se doeltreffendheid. Hierdie bepaling skep dus die grondwetlike fondament waarop ’n sterker provinsiale en munisipale rol binne veiligheid gebou kan word.
Daarbenewens skep artikel 64F(2) van die Suid-Afrikaanse Polisiewet ’n regsgrondslag vir die Minister van Polisie om spesifieke uitvoerende magte van die polisiediens aan munisipale polisie-eenhede (trouens, aan enige sfeer van die regering) toe te ken. Hierdie mag vereis nie parlementêre goedkeuring nie – dit kan deur ’n ministeriële besluit toegepas word, binne ’n tydperk van slegs een maand, nadat openbare deelname in ag geneem is. Hierdie bepaling is ’n wetlike snelweg na plaaslike bevoegdheid – ’n geleentheid wat, met politieke wil, dadelik benut kan word.
En as hierdie een artikel in die Suid-Afrikaanse Polisiewet soveel potensiaal inhou, kan ‘n mens net dink wat moontlik is met ’n meer omvattende wysiging van die SAPD-wet. ’n Enkele verandering – soos om artikel 64E(c) uit te brei om misdaad ondersoekwerk formeel as funksie van munisipale polisie in te sluit – kan die regstaal in lyn bring met wat reeds in praktyk nodig is en trouens wat stede soos die Stad Kaapstad in elk geval reeds doen. Dit sou nie net die hande van plaaslike owerhede versterk nie, maar ook die las op die reeds oorbelaste SAPD verlig.
Hierdie opsie, hoewel tegnies 'n tussentydse of uitvoerende meganisme, kan die grondslag vorm vir ’n breër verandering. Selfs al word daar aanvanklik slegs sekere munisipaliteite gemagtig om bykomende polisiemagte uit te oefen, skep die stappe ’n konsepgetuiens, oftewel proof of concept. Dit bied ’n toetsgrond vir groter desentralisering, en 'n model vir ander stede en provinsies om te volg. Die Kaapse Metropolisie en LEAP-beamptes het reeds begin wys wat moontlik is wanneer plaaslike strukture inisiatief neem en deel word van ’n gekoördineerde stryd teen misdaad.
Diegene wat bekommerd is oor die oorgawe van te veel magte teen ‘n oordadige pas, moet erken dat daar niks is wat keer dat ministeriële mag gebruik word om spesifieke funksies stapsgewys te delegeer nie. Die minister kan byvoorbeeld bepaal dat 'n sekere aantal munisipale beamptes misdaad ondersoekmagte toegeken word, of dat daar in sekere gebiede bykomende bevoegdhede toegestaan word. Hierdie buigsaamheid maak dit moontlik om beleidsveranderinge stelselmatig en aan die hand van kapasiteit en behoefte te implementeer – en terselfdertyd lesse te leer vir wyer toepassing.
In die praktyk is daar weinig deursigtige en sinvolle desentralisering van bo na onder, oftewel vanaf die nasionale regering na die provinsies of plaaslike regerings. Hoewel die Grondwet ruimte bied vir die drie sfere van regering – nasionaal, provinsiaal en plaaslik – bly polisiebeheer hardnekkig gesentraliseerd, weens ideologiese oortuigings van die ANC. Dit is asof die ANC bewus is van die stel trappe om van die gebou af te klim, maar verkies om steeds van die dak af te skree in plaas daarvan om af te klim en saam met die mense op die grondvlak die werk te doen. Dit is nie omdat desentralisering dus onmoontlik is nie – dit is omdat die ANC tot op hede nie wil nie.
Die illusie van (gesentraliseerde) veiligheid?
Ten spyte van die ANC se ideologiese hardnekkigheid, is Suid-Afrikaners reeds noogedwonge dog meermale onbewustelik (en soms doelbewus) besig is om veiligheidsdienste te desentraliseer. Privaat sekuriteitsmaatskappye, buurtwagte, plaaswagte en selfgeorganiseerde veiligheidsinisiatiewe ontstaan juis omdat die sentrale stelsel misluk het. Suid-Afrika het nou meer aktiewe privaat sekuriteitsbeamptes dan polisielede, en tientalle meer onaktiewe maar geregistreerde veiligheidswagte teenoor polisielede. Hierdie selfstandige pogings wys nie net op die wantroue in staatsveiligheid nie, maar op 'n diep begeerte van gemeenskappe om beheer oor eie veiligheid terug te neem. As die mense op straat reeds hul eie beskerming moet reël, hoekom gee ons hulle dan nie die formele strukture en regshandhawende gesag om dit regtig te doen nie?
Deur polisiëring te desentraliseer, kan verskeie voordele gerealiseer word. Plaaslike aanspreeklikheid en gemeenskapsbetrokkenheid sal versterk word. Wanneer ’n gemeenskap ’n regstreekse verhouding het met hul plaaslike veiligheidstrukture het (nie slegs polisie nie) is daar meer vertroue, groter samewerking en verhoogde doeltreffendheid. Beleide en hulpbronne kan plaaslik gefokus word – ’n misdaadkrisis in Mitchells Plain kan onmiddellik prioriteit word vir ’n plaaslike veiligheidstruktuur, sonder om in ’n nasionale administratiewe burokrasie vas te val.
Boonop lei desentralisasie tot beter begrotingsbeheer. Gemeenskappe kan hul eie prioriteite stel in terme van befondsing – ’n nedersetting wat sukkel met veediefstal kan byvoorbeeld fokus op landelike misdaadstrategieë, terwyl ’n ander dalk bendegeweld wil prioritiseer. Hierdie kontekstualisering van begrotings en strategieë is baie meer doeltreffend as sentrale begrotingstoekennings, sonder begrip vir plaaslike werklikhede. En wanneer mense self in hul sekuriteit belê, lewer dit nie net resultate nie, dit bou burgerskap en eienaarskap.
Die pragmatiese pad vorentoe
Suid-Afrika se provinsies, stede en dorpe is nie te arm of te ongeorganiseerd om ’n desentraliseerde polisiestelsel te hê nie. Suid-Afrikaners is eerder oor die algemeen te sentraal ingestel in ons denke. Wanneer gemeenskappe hul eie veiligheid begin bestuur, word daar nie net misdaad beveg nie – ’n gevoel van eienaarskap en burgerlike verantwoordelikheid word versterk. ’n Kind wat sien hoe sy buurt saamstaan teen misdaad, sien iets meer as polisiëring – hy sien ‘n aanspreeklike en deelnemende demokrasie in aksie.
Die pragmatiese pad vorentoe is dus duidelik. Benut die bestaande wetgewing, brei dit uit waar nodig, en gee aan gemeenskappe die reg én die gereedskap om hul eie veiligheid te verseker. Miskien is dit tyd dat Suid-Afrikaanse leiers begin luister na die mense wat nie op dakke staan nie, maar op sypaadjies leef. Die mense wat nie toegang het tot konferensies of beleidsraamwerke nie, maar wel toegang het tot die harde werklikheid van misdaad. Hulle weet wat werk, en wat nie werk nie. Hulle weet dat veiligheid nie in Pretoria geskep word nie, maar in elke straat, buurt en gemeenskap waar mense saamstaan. As ons hulle vertrou met hul stem in 'n demokrasie, behoort ons hulle ook te vertrou met hul veiligheid. Want net daar, naby die grond, kan ’n regverdige en werkbare polisiestelsel tussen die slaggate wortel skiet.
Juanita du Preez is woordvoerder vir Action Society, 'n burgerregte organisasie wat hom beywer vir gemeenskapsveiligheid, regshervorming en die beskerming van kwesbare groepe soos vroue en kinders in Suid-Afrika.