Suid-Afrika se Skynvordering na Nie-Rassigheid
Volgehoue rasbeleid is apartheidslogika, met 'n nuwe baadjie.
In 1991 is die Wet op Bevolkingsregistrasie, die hart van die apartheidstaat se raswette, herroep. Dit was simbolies en wetlik die einde van amptelike rasseklassifikasie deur die staat in Suid-Afrika. Tog, drie dekades later, sit Suid-Afrika steeds met talle stukke wetgewing wat, ironies genoeg, rasseklassifikasie nie net subtiel impliseer nie, maar afdwing en vereis. Al verklaar die Grondwet nie-rassigheid as fundamentele grondbeginsel is dit merkwaardig dat ras steeds 'n bepalende faktor in wetgewing en regeringsbeleide is.
Die regering se sektorale indiensnemingsteikens, ingevolge nuwe regulasies van die Wet op Gelyke Indiensneming, herinner sterk aan die gees van die ou bestel, iets wat vir my as 'n post-1994 jeug besonders vreemd is en wat afbreek maak aan die visie van 'n verenigde en gelyke Suid-Afrika.
Nou word spesifieke teikens vereis—per sektor, per rassegroep—en moet werkgewers hulle aan hierdie numeriese teikens onderwerp, met strawwe soos boetes of die verlies van tendergeleenthede indien hulle dit waag om meer op meriete as op demografiese vooropgestelde regeringsteikens te fokus.
Maar as daar geen wetlike raamwerk meer bestaan om ras te definieer nie, hoe kan die staat dan verwag dat individue hulself as "swart", "bruin", "Indiër" of "wit" moet klassifiseer? En watter grense onderskei dan 'n "wit" van 'n "bruin" persoon? Velkleur? Kultuur? Hulle van? En wie verifieer of monitor die antwoorde wat ontvang word?
Suid-Afrikaners is in 'n absurde posisie waar die staat wetgewing afdwing op grond van 'n klassifikasiestelsel wat dit self nie mag (of kan) definieer nie en sonder enige daadwerklike beleidsuitkomste om die insameling van hierdie data te reverdig. Die inhoud van 1950s apartheidera wetgewing wat duidelik en eenvoudig rasisties is, word in 2025 as “transformasie” beskryf.
Maar is transformasie nie 'n grondwetlike doelwit nie?
Dis 'n vraag wat dikwels met oortuiging gevra word, veral deur beleidmakers en aktiviste wat glo dat enige weerstand teen rasgebaseerde ingryping 'n weerstand teen geregtigheid self is. Maar hierdie aanname verdien deeglike ondersoek, want dit rus op 'n semantiese slaggat. Die woord “transformasie” verskyn nêrens in die teks van die Grondwet nie. Nie in die oorspronklike Engels nie, en nie in enige van die ander tien amptelike vertalings nie.
Wat wel daarin verskyn, en duidelik beklemtoon word as kritieke pilare van ons demokratiese bestel, is die strewe na gelykheid, menswaardigheid, en nie-rassigheid. Hierdie drie waardes is diep ingebed in Artikel 1 en Artikel 9 van die Grondwet. Artikel 9(2) gee die staat wel ruimte om regstellende maatreëls te tref om “die bereiking van gelykheid te bevorder,” maar dit is nie 'n carte blanche vir onbeperkte ingryping op grond van ras nie. Die maatreëls moet redelik en proporsioneel wees, en in lyn met die breër grondwetlike raamwerk wat individue as individue beskou en nie as rasgroepe groepeer nie.
Die probleem met hoe “transformasie” toegepas word, is dat dit dikwels funksioneer as 'n politieke slagspreuk eerder as om daadwerklik individue wat voorheen benadeel is te bemagtig en geleenthede te bied om hul eie weg te baan. Dit word gebruik om belangrike en nodige wanbalanse reg te stel, ja, maar ook om strukture van mag en bevoordeling op nuwe maniere te konsolideer ten koste van die waardes wat die Grondwet veronderstel is om te beskerm.
Kortom: Transformasie mag dalk 'n beleidsdoelwit wees, maar dit is nie 'n grondwetlike beginsel op sigself nie. Die Grondwet vra nie vir “transformasie” nie. Dit vra vir regverdigheid, nie-rassigheid en menswaardigheid. En wanneer transformasie ten koste van hierdie waardes bevorder word, is dit ons plig as burgers om die semantiek te ontmasker en die oorspronklike belofte van die Grondwet te verdedig.
Die Probleem met Self-klassifikasie
In 'n regstaat wat sedert 1991 geen wetlike raamwerk het wat ras objektief definieer nie, bly daar in beginsel net een moontlikheid oor: selfklassifisering. Omdat die Wet op Bevolkingsregistrasie afgeskaf is het die staat, gelukkig, eenvoudig geen mandaat om jou ras amptelik toe te ken nie. Geen wet in die post-apartheid era spesifiseer presies wat “bruin”, “wit” of “swart” beteken nie, wat beteken dat die enigste basis vir enige vorm van rasseklassifikasie jou eie verklaring is.
Wanneer burgers verplig word om hulself volgens ras te etiketteer – nie uit identiteit nie, maar uit noodsaak vir nakoming – word 'n diepgaande morele lyn oorgesteek wat in besonder belangrik is in Suid-Afrika gegewe ons geskiedenis.
Die vraag is wat sal gebeur as jy, omdat jy gedwing is om jouself te klassifiseer, jouself in so ‘n mate klassifiseer dat die staat nie met jou klassifikasie saamstem nie? Wat as jy as “wit persoon” jouself as “bruin” verklaar, op grond van jou kultuur, jou ouma se agtergrond, of eenvoudig uit protes? Gaan 'n staatsamptenaar jou ras vir jou regstel? En hoe gaan hy weet? Gaan hy ‘n kissie vol toetsinstrumente saamdra? Gaan 'n menslike hulpbronbestuurder jou velkleur, van, of huistaal evalueer om jou “reg” te herklassifiseer? Kom ons gooi sommer bloed- en DNA-toetse in terwyl ons nou besig is. Dis presies hierdie scenario wat wys hoe absurd die hele stelsel is, en hoe gevaarlik. Sodra die staat of 'n instelling begin om jou identiteit te betwis of te herdefinieer, is ons terug in die denkraamwerk van die Bevolkingsregistrasiekantoor. In so 'n stelsel word individue verminder tot slegs hul groepe sonder om hul bydraes te evalueer. En so verloor ons die ruggraat van nie-rassigheid en die vermoë om mense as unieke en nie as funksies van hul velkleur te sien nie en vernietig ons dan die droom van ‘n verenigde Suid-Afrika wat ons wou bewerkstellig met die instrapslag van die nuwe demokratiese era in Suid-Afrika.
Benewens hierdie uitdagings volg daar nou ook die sogenaamde “numeriese teikens” – sentrale beplanning van demografie asof mense net pionne op 'n skaakbord is, net nuttig vir die funksies van die staat. Wanneer die staat besluit dat wit mans byvoorbeeld slegs 4% van 'n sekere sektor mag uitmaak, of dat net soveel Indiër vrouens 'n kans mag kry, verskuif beleid van inklusiwiteit na identiteitsdiktatuur. Dit is nie transformasie nie. Dis eerder ras-ingenieurswese met 'n Excel-blad as gewete. Dis 'n vorm van ideologiese sentralisme wat identiteit nie vier nie, maar reguleer.
Kan ras ooit regverdig wees as maatstaf vir toegang? Diegene wat transformasiebeleid verdedig, meen dit is 'n manier om historiese ongelykheid te korrigeer. Maar hierdie benadering ignoreer die feit dat ras nie meer 'n voldoende of wettige aanduiding is van sosio-ekonomiese agterstand nie.
Twee mense wat as “bruin” geklassifiseer word, kan in radikaal verskillende sosiale omgewings grootgeword het—een in ’n arm gemeenskap, die ander in 'n gegoede buurt met privaat onderrig en toegang tot geleenthede. Tog word hulle gelyk behandel in die berekening van "demografiese teikens". Om dus ras as die bepalende maatstaf te gebruik, is nie net simplisties nie, dit is misleidend. Ons moet eerder poog om as 'n land gesamentelike ekonomiese groei te bewerkstellig, om vaardigheidsontwikkeling te prioritiseer en om te poog om gelyke geleenthede en toegang tot geleenthede vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel.
Slot
Die ware toets vir Suid-Afrika se demokrasie lê nie in hoeveel regstellende aksie geïmplementeer word nie, maar in hoe daardie regstelling gelykheid bevorder sonder om opnuut nuwe ongelykhede te skep of die ekonomie te belemmer. Dit lê in hoe ons weg beweeg van groepsidentiteite as beleidsinstrumente, en eerder fokus op menswaardigheid, meriete en die opheffing van diegene wat werklik hulp nodig het ongeag hul velkleur om daadwerklik 'n gesamentelike, verenigde Suid-Afrika na te streef.
'n Nie-rassige samelewing is nie kleurblind nie. Dit is net nie rasbehep nie. Dis 'n samelewing wat die geskiedenis erken, maar nie daarin vasgevang bly nie. Dis een wat weet dat ware regstelling nie kom deur nuwe kategorieë nie, maar deur die afskaffing daarvan.
Om ras aan te hou gebruik as grondslag vir beleid, is om die logika van apartheid te herhaal net met 'n nuwe baadjie aan.
Reuben Coetzer is die woordvoerder van Free SA.