Private sekuriteitsregulasies: Die kruitklankie van vrees vir magsverspreiding?
Die regering probeer private sekuriteitswese beheer, ten koste van gemeenskapsveiligheid.
Wanneer die stof oor 'n misdaadtoneel gaan lê, is dit dikwels nie die SAPD wat eerste opdaag nie.
Dis die wit Hilux met oranje ligte, die wag by die winkel se ingang, die man met 'n kortgolfradio en 'n kevlarbaadjie wat 'n naam dra soos "Titan Tactical" of "SecureAll."
In ons post-staat werklikheid het privaat sekuriteit nie net 'n bykomstige rol nie. Dit het die hoof rolspeler van openbare veiligheid in Suid-Afrika geword, ten minste wanneer dit by misdaadvoorkoming kom. En tog, in 'n skynbare daad van beleidkundige blindheid, stel die regering nou regulasies voor wat hierdie sektor eerder wil straf as steun.
Wat is aan die gebeur?
Regulasie sonder realisme
Die voorgestelde wysigings aan die regulasies ingevolge die Private Security Industry Regulation Act (PSIRA) lees soos ‘n kantoor-oefening in abstrakte staatsbeheer. Hierdie voorgestelde regulasies beoog om semi-outomatiese gewere in die hande van privaatsekuriteit te verbied, beperk hul ammunisie op grond van ’n ongedefinieerde begrip van “redelikheid,” vereis vuurwapen-opspoortoestelle wat in praktyk nie bestaan nie, en verbied nie-dodelike skarebeheerinstrumente soos rubberkoeëls en waterkanonne. ’n Lys wat meer tuis sou voel in ’n Europese beleidsdokument as in ’n land waar privaatsekuriteit soms die enigste teenvoeter is vir die AK-47’s op straat.
Hierdie is nie net oorregulering nie, maar ‘n doodskoot. Die vermoë van gemeenskappe om hulself te beskerm, van munisipaliteite om dienslewering te beveilig, en van gewone mense om met minder vrees te leef word deur die voorgestelde beperkings op privaatsekuriteit belemmer.
Vrees vir die verspreiding van mag
Wat dryf hierdie regulasies? Dis sekerlik nie empiriese realiteit nie. Die privaatsekuriteitsbedryf het meer as 580 000 aktiewe beamptes – vier keer die grootte van die SAPD en die weermag saam. In ‘n land waar polisiekapasiteit afgeneem het, het hierdie sektor in die gaping ingetree. Dit vul nie net ’n leemte nie maar dit is die vorm van wet en orde in plekke waar die staat onttrek het.
En dit is presies die probleem. Want hierdie beleidsvoorstel is tekenend van ’n onderliggende foutiewe wêreldbeskouing, naamlik die diep ongemak by die staat oor magsdeling. Die oortuiging dat enigiets wat staatsfunksies verrig, of dit nou veiligheid, gesondheid of onderwys is, maar vanuit die privaat sfeer voortkom, ’n bedreiging vir staatsbeheer inhou. Selfs al werk dit.
Dit is, in wese, 'n botsing tussen twee logikas: die sentraliserende logika van 'n staat wat beheer bo kapasiteit verkies, en die gedesentraliseerde logika van werklike dienslewering, plaaslik, dikwels geïmproviseer, maar doeltreffend en die beste wat ons tans het.
Na hewige openbare teenkanting teen die voorgestelde regulasies het PSIRA (nie die bovermelde Wet nie, maar die Private Security Industry Regulatory Authority, wat onder die Wet tot stand kom) verduidelik dat die bedoeling nie is om die privaatsekuriteitsbedryf te versmoor nie, maar bloot om toesig en professionaliteit te verbeter. Hulle verwys na sogenaamde “onwenslike verskynsels” soos wagte met aanvalsgewere in winkelsentrums, of individue wat met 28 lyfwagte rondbeweeg. Dit, sê hulle, is wat die regulasies poog om te verhoed. Maar indien dit werklik die probleem is, waarom word dit nie spesifiek en direk aangespreek nie? Wat het daardie geïsoleerde probleme te doen met die ontwapening van taktiese spanne wat bendes moet trotseer?
Hierdie vae, veralgemenende motivering herinner aan Albert Camus se waarskuwing dat die welsyn van die volk nog altyd die alibi van tiranne was. Wanneer die uitsondering die norm word, en regsraamwerke ontwerp word vir uiterstes eerder as vir die alledaagse, begin een man se lyfwag die regverdiging word vir ’n nasionale verstrengeling van veiligheidsvermoë. Dit is nie regulering nie. Dit is rasionalisering van beheer. En dit is iets waarteen ’n samelewing moet waak.
Reguleer teen die mense, nie vir hulle nie
As daar ’n tragiese ironie aan die voorstel is, is dit dat die regulasies nie die bevoorregtes sal raak nie. Mense in sekuriteitskomplekse sal steeds hul wagte hê en hulle eie infrastruktuur finansier. Maar vir mense in gemeenskappe soos Manenberg, Vosloorus of uMlazi, waar privaatsekuriteit dikwels die enigste werkende veiligheidsvorm is, kan hierdie regulasies rampspoedig wees.
Wie ly as taktiese spanne ontwapen word? Wie ly as privaatsekuriteitsmaatskappye se lisensie opgeskort kan word sonder ‘n bevinding van skuld, slegs omdat daar ’n ondersoek hang? Wie ly as private sekuriteit nie meer toegerus is om by ’n huislike geweldsituasie op te daag voor dit te laat is nie?
Die antwoord is nie ideologies nie. Dit is nie ‘n debat tussen links en regs nie. Die eenvoudige en ongelukkige gevolg is dat die publiek sal ly.
Wat nou?
Daar is plek vir regulasie. Die veiligheidsbedryf moet aanspreeklik wees.
Maar regulasie moet die publiek beskerm sonder om veiligheidsdienste onmoontlik te maak. Dit moet onderskei tussen oortreders en die wat gemeenskappe beskerm.
En, bowenal, reguleerders moet ‘n eenvoudige vraag kan beantwoord: maak hierdie regulasie mense veiliger? En die antwoord, in hierdie geval, is nee.