
Waarom is gebeure in die Midde-Ooste relevant tot die regte van Suid-Afrikaners?
Dit is 'n baie goeie vraag. Eerstens kan 'n mens sien hoe gebeure in die Midde-Ooste die petrol- en voedselpryse beïnvloed, veral as 'n mens 'n regering het wat nie regtig vooruit beplan nie, om die minste te sê.
Verder, wanneer jou regering hom inwurm by konflikte duisende kilometers ver, wat niks met die probleme van Suid-Afrika uit te waai het nie, maak hulle daardie konflik ook ons s’n. Of ons daarvan hou of nie. En omdat ons deesdae meer tyd op sosiale media as in die normale wêreld deurbring, word ons beïnvloed deur wat elders in die wêreld gebeur. Almal kies 'n kant en het 'n mening oor 'n konflik ver weg van ons af. Dit veroorsaak ook, vreemd soos dit mag wees, wrywing tussen burgers in die werkplek en elders.
Ek dink daarom is dit relevant vir die regte van Suid-Afrikaners, sodat ons weet wat die waarheid is en wie die goeie stryd voer en wie nie. Op 7 Oktober 2023 het duisende inwoners van Gasa Israel binnegeval. Hulle het onskuldige mense, vroue en kinders vermoor, verkrag en verbrand, en ongeveer 250 gyselaars geneem. Ongeveer 1 200 mense is op die een dag vermoor. Dit was die grootste slagting van die Joodse volk sedert die Holocaust.
Die wêreld se simpatie het omtrent net 'n dag lank gehou. Die dag daarna is Israel weer, soos altyd maar verkeerdelik, as internasionale muishond beoordeel en beskuldig van disproporsionele geweld.
Ware konteks
Talle mense sê op die punt dat ons die konflik in konteks moet sien. So kom ons doen dit dan.
7 Oktober het nie onverwags gebeur nie. Terreurgroepe in Gasa het vir jare voor 2023 duisende vuurpyle op Israel afgevuur. Die konflik het reeds dekades voor 7 Oktober bestaan. Israeliese burgerlikes het lank voor 2023 met Palestynse terreuraanvalle, vuurpyle en ander geweld gelewe as deel van hul dag-tot-dag bestaan.
Israel het in 2005 uit Gasa onttrek. Alle Israeliese nedersettings is ontruim en die permanente militêre teenwoordigheid binne Gasa is beëindig. Hamas het daarna die Palestynse verkiesing in 2006 gewen en in 2007 beheer oor Gasa oorgeneem. Toe het Hamas 'n massiewe en uitgebreide ondergrondse tonnelstelsel gebou om Israel aan te val, wat volgens sommige ramings groter as die New Yorkse moltreinstelsel is. Hierdie tonnels is egter slegs vir Hamas se militêre doeleindes gebou en is nie as bomskuilings vir die burgerlike bevolking van Gasa beskikbaar gestel nie. En tog het duisende inwoners van Gasa voor 7 Oktober permitte gehad om in Israel te werk, waar hulle aansienlik hoër lone kon verdien as in Gasa. Israel het letterlik die mense wat hom aanval en haat toegelaat om in sy land te kom werk.
Pasiënte uit Gasa is ook in Israel medies behandel. Voor die oorlog het pasiënte permitte ontvang om Gasa vir mediese behandeling te verlaat, hoewel die permitstelsel ook kennelik beperkings gehad het. Israel se veiligheidsbeleid teenoor Gaza het dus 'n geskiedenis. So ook het die reaksie van Israel na 7 Oktober. Die onttrekking in 2005 is deur Israel voorgestel as 'n geleentheid om wrywing te verminder en Palestynse ontwikkeling te bevorder. Daarna het Hamas se oorname, herhaalde vuurpylvuur en uiteindelik 7 Oktober gevolg.
Die wêreld het in drie jaar in so 'n mate verander dat antisemitiese, pro-terreurgroepe nou herdenkingsgeleenthede vir 7 Oktober hou ter ondersteuning van Hamas en Hezbollah. Net onlangs was daar 'n protesoptog in Kaapstad waar Hamas- en Hezbollah-vlae teenwoordig was.
Kan jy jou indink om pro-Nazi-optogte ná die Tweede Wêreldoorlog te sien?
Antisemitisme groei plaaslik
Ongelukkig ervaar die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika, as gevolg van die tragiese gebeure in die Midde-Ooste, meer antisemitisme as ooit tevore. Dit het ons nader aan mekaar gebring en almal meer bewus van veiligheid gemaak. 'n Mens sou dink dat 7 Oktober die teenoorgestelde sou bewerkstellig. Ná drie jaar het die wêreld heeltemal vergeet wat op daardie verskriklike dag gebeur het en fokus dit slegs op die gebeure wat daarop gevolg het en Israel se reaksie. Israel, en ook Jode, word van verskriklike dinge beskuldig. Ek hoef nie veel daaroor uit te brei nie. Ek vertrou dat die leser deeglik bewus is waarvan ek praat.
Van die ongeveer 250 gyselaars het slegs 168 lewend teruggekeer, en Israel het 'n duur prys betaal deur 4 190 terroriste in ruil vir lewende en vermoorde Israeliese gyselaars vry te laat.
Daar is natuurlik ook 'n sterk menslike kant aan die verhaal van die gyselaars wat dikwels verlore raak wanneer ons net oor getalle praat. Die vraag is wat met hierdie mense gebeur nadat hulle terugkeer huis toe. Hoe bou jy weer 'n lewe nadat maande of selfs jare van jou lewe van jou gesteel is en mens deur daardie trauma moes gaan?
Rom Braslavski is een van die mense vir wie dit moeilik is om selfs van “herbou” te praat. Hy is ná 737 dae in Gaza vrygelaat. Hy het sedertdien openlik gepraat oor sy stryd met trauma en hoe sy eie persoonlike oorlog nie noodwendig geëindig het toe hy huis toe gegaan het nie. Hy probeer sy lewe weer hervat, maar praat ook in die openbaar oor wat hy in gevangeneskap ervaar het.
Yarden Bibas het ná 484 dae teruggekeer, maar sonder sy vrou, Shiri, en sy twee klein seuntjies, Ariel en Kfir. Hy het hom later op die Golanhoogte gevestig, die plek waarheen hy en Shiri voor 7 Oktober gehoop het om saam met hul kinders te verhuis. Hy probeer weer 'n daaglikse lewe opbou, maar het gesê dat die lewe sonder sy vrou en kinders vir hom moeiliker is as die gevangenskap self. Vir Yarden beteken “herbou” dus nie om aan te beweeg nie, maar om te leer hoe om voort te leef met 'n verlies wat nooit werklik verdwyn nie.
Eli Sharabi het 491 dae in gevangenskap oorleef. Eers nadat hy teruggekeer het, het hy uitgevind dat sy vrou, Lianne, en hul dogters, Noiya en Yahel, op 7 Oktober vermoor is. Sedertdien het hy sy boek Hostage geskryf waarin hy oor sy ervaring praat. Nou gebruik hy die tragiese verhaal en sy stem om die verhale van die gyselaars te vertel. Hy het ook betrokke geraak by pogings om families wat trauma beleef het, te ondersteun. Hy probeer sy verlies in iets omskep wat ander mense kan help.
Emily Damari het op 'n heel ander manier begin om haar lewe terug te neem. Sy het in Augustus 2026 met Danielle Amit getrou en 'n klerereeks met die boodskap “Never Lose Yourself” begin. Vir haar het gewone dinge wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar, ná gevangenskap nuwe betekenis gekry. Haar nuwe lewe gaan oor verhoudings, werk en die herwinning van haar eie identiteit.
Dan is daar Liri Albag, Naama Levy, Karina Ariev, Daniella Gilboa en Agam Berger, die jong waarnemingsoldate van Nahal Oz. Hulle het saam 'n lang rehabilitasieproses deurgegaan. Liri probeer weer voluit leef, terwyl Agam na haar viool en haar geloof teruggekeer het. Vir hierdie jong vroue beteken herstel nie dat 7 Oktober vergeet word nie. Dit beteken dat hulle weier dat 7 Oktober die res van hul lewens bepaal.
Drie jaar ná 7 Oktober gaan die verhaal van die gyselaars dus nie meer net oor wie ontvoer en wie bevry is nie. Dit gaan oor Yarden Bibas wat moet leer om sonder sy vrou en kinders te leef, Eli Sharabi wat sy verlies in 'n doel probeer omskep, Rom Braslavski wat steeds elke dag teen trauma veg, Emily Damari wat trou en 'n besigheid begin, en Hagar Brodutch wat leer bak omdat sy weer iets met haar eie hande wil skep.
Net soos die gyselaars deur 'n uiters traumatiese tyd gegaan het, het die hele Joodse nasie ook deur 'n moeilike tyd gegaan. Maar dit het ons almal sterker gemaak.
Ná drie jaar staan Israel op die vooraand van 'n verkiesing, en dit sal wys waar die Israeliese publiek hulle polities bevind. Op 27 Oktober sal die wêreld sien hoe Israel stem en in watter rigting die mense Israel wil stuur.

Nog artikels deur Barend Wesseloo:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







