Bevry van die “ras las”: 'n Herwaardering van etnisiteit
Etnisiteit is 'n onvermydelike punt in die openbare diskoers.
Gedurende die afgelope paar maande was Suid-Afrika se wette wat myns insiens op onregverdige wyses op grond van ras teen witvelliges in hierdie land diskrimineer gedurig in die kollig, veral te danke aan die feit dat president Donald Trump en Elon Musk daarin geslaag het om dit op die internasionale agenda te plaas.
Verskeie organisasies, onder andere die Solidariteit Beweging, het hierdie geleentheid aangegryp om hul jarelange stryd teen staatsvergrype by wyse van SEB-wetgewing en ander soortgelyke diskriminerende aksies wat op Afrikaners en ander minderhede in Suid-Afrika gemik is, met hernude ywer voort te sit. Om bevry te word van die “las van ras” is een van die bekendste slagspreuke wat dikwels in veldtogte aangewend word ter bevordering van die idee dat Afrikaners, as Suid-Afrikaners, bevry behoort te word van 'n rasbehepte regering se raswette.
“Teen die idee van atomistiese individue”
Die wette ter sprake is ongetwyfeld tirannies van aard, veral in die lig daarvan dat daar onregverdig gediskrimineer word teen minderhede wat geen ander land van hul eie het waar hul volledige burgerregte sou kon opeis nie, maar ook bloot omdat dit in stryd is met die mees basiese taak van die owerheid, naamlik om wet en orde te handhaaf sodat mense die nodige ruimte en vryheid gegun word om hul talente te kan uitleef tot voordeel van almal.
Dit impliseer natuurlik gelykheid voor die reg, maar impliseer nie dat elke onderskeid opgehef behoort te word nie, want om sodanige ruimte te skep is dit nodig dat die regering die bestaan van bepaalde natuurlike samelewingsverbande erken, eerder as om bloot alle mense te reduseer tot atomistiese individue wat saam 'n monistiese geheel vorm. Die Britse filosoof Roger Scruton (1944 - 2020) verduidelik dat aangesien die burgery nie 'n produk van die owerheid is nie, deel van die taak van die owerheid insluit om daardie verbande waaruit die burgerlike samelewing saamgestel word (soos die gesin, familie, gemeenskap, buurt, stad, kerk, skool en klub) te erken en aan hierdie verbande die nodige vryheid en ruimte te gun om op organiese wyse te floreer. Scruton wys egter ook uit dat sodanige organiese ontwikkeling alleenlik kan geskied binne die raamwerk waar etnisiteit sy regmatige plek inneem. Hy gebruik die voorbeeld van Brittanje self:
“[T]he idea of a British national identity makes sense only because of the other and more deeply rooted identities that it subsumes. The Scots continue to describe themselves as Scots; the Irish as Irish—or, if they reject the Republic, as ‘Unionists’, meaning adherents to the strange legal entity described in their passports. The Welsh, who provided us with our most determinedly English kings, the Tudors, are still, in their own eyes, Welsh. The English remain English, and in their hearts it is England that secures their loyalty; not Scotland, Ireland or Wales. Only one group of Her Majesty’s subjects sees itself as British, but not English, Scottish, Irish or Welsh—namely, those immigrants from the former Empire who have adopted British nationality while retaining ethnic ... loyalties forged far away and years before.”
Scruton wys dus op die belangrikheid daarvan om mense se etniese identiteit te erken om sodoende vreedsame naasbestaan en sosio-politieke harmonie op federale grondslag te bewerkstellig. Die Britse identiteit kan alleen bestaan wanneer die samestellende dele van daardie identiteit, ook in terme van hul unieke etniese karakter, erken en waardeer word vir wat dit werklik is. Teenoor die modernistiese teorie waarvolgens volkskap of nasieskap verstaan word in terme van 'n verbondenheid aan 'n gemeenskaplike idee of ideaal skryf die Afrikaanse filosoof H.G Stoker (1899—1993) dat “die funderingsfunksie van die volk sy biotiese (sy afstammingsverwantskap, sy bloedsband)” is1, dit wil sê dat 'n volk eerder die karaktertrekke van 'n uitgebreide familie vertoon as dié van 'n uitgebreide klub, maatskappy, of kerk.
Die erkenning van die etniese aard en karakter van 'n volk is dus wesenlik, nie alleen vir daardie volk se voortbestaan as sodanig nie, maar soos Scruton by wyse van die voorbeeld van Groot-Brittanje uitwys, ook vir daardie volk se interaksie met ander volke. In die Suid-Afrikaanse konteks was die voormalige president Jacob Zuma se erkenning van die Afrikaner as 'n “wit stam in 'n swart kontinent” byvoorbeeld 'n noemenswaardige bevestiging van 'n realiteit wat uiteindelik net ten koste van almal ontken kan word. Die feit dat die Afrikaner 'n volk van Europese afkoms is gee immers aan sy etniese identiteit op soveel vlakke 'n bepaalde uniekheid binne die konteks van Suidelike-Afrika wat nie prysgegee behoort te word nie, selfs nie in die naam van “nie-rassigheid” nie.
Die feit dat geregtigheid noodsaak dat almal gelyke geleenthede behoort te kry in terme van die uitlewing van hul roeping en talente, en dat raswette tans in die pad daarvan staan, behoort ook nie gebruik te word om elke verwysing na etniese verskille, ook selfs wanneer rasseverskille oftewel die verskillende volkefamilies ter sprake kom, taboe te verklaar nie. Dit is nou eenmaal so dat Afrikaners, ten spyte van die geografiese afstand, steeds 'n kulturele en geskiedkundige band met Nederlanders en Vlaminge as broersvolke deel, soortgelyk aan die een wat die verskillende Britse volke onderling saambind tot 'n gemeenskaplike identiteit. Afrikaners, soos die naam aandui, is inderdaad 'n Suider-Afrikaanse volk, maar ook 'n Dietse volk met Europese wortels.
“Eenheid in uniekheid”
Die Afrikaner se unieke etniese identiteit is in die praktyk ook 'n bepalende faktor vir interaksie met ander gemeenskappe en groepe in Suider-Afrika. Dit is wel so dat gesprekke rondom etnisiteit (veral wanneer 'n biotiese begrip soos ras ter sprake kom) dikwels emosioneel belaai is, gegewe die konnotasies met onderdrukking en onreg wat dikwels in die proses gemaak word. My pleidooi is egter juis dat ons die konsep etnisiteit hiervan bevry en met hernude nugterheid sal herwaardeer as iets wat vir die harmonieuse naasbestaan van al die Suider-Afrikaanse volksgemeenskappe met hul verskillende agtergronde van onskatbare waarde kan wees.
Hiervoor is dit nodig dat bepaalde voorveronderstellings en gangbare narratiewe rondom hierdie onderwerp deurbreek moet word, sodat ons nie in die strik trap om op 'n gnostieke wyse werklikhede te misken bloot omdat dit misbruik kan word nie. Soos die Nederlandse Gereformeerde filosoof Bart-Jan Spruyt onlangs nog in 'n opiniestuk in die Nederlands Dagblad skryf, as dit kom by identiteitsomskrywing “gebruik [ik] ook nog gewoon het woord ‘blank’,” sonder enige negatiewe bydedoelinge, of konseptualisering van meerderwaardigheid teenoor ander mense of groepsidentiteite.
Die erkenning van die Afrikaner se unieke etniese karakter deur leiers soos Jacob Zuma en meer onlangs ook op die internasionale toneel deur Donald Trump, veral in 'n era waar nasiebou wêreldwyd deurlopend onder druk geplaas word deur die kompleksiteite en uitdagings wat gepaard gaan met multikulturalisme, is iets wat omhels behoort te word as van wesenlike belang vir voortgaande gesprekke rondom hierdie belangrike onderwerp.
Dr Adi Schlebusch is 'n teoloog, filosoof en geskiedkundige.
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Stoker, HG. 1954. “Afrikaanse volkswording en Suid-Afrikaanse nasievorming. Koers 21(6): 243.’