“Die oorweldigende meerderheid van vroue aanvaar die patriargie sonder om dit te bevraagteken.”
– Helen Suzman, anti-apartheidsaktivis
46% van Suid-Afrika se parlementslede is vroue.
47% van die arbeidsmag bestaan uit vroue.1
57% van eiendomseienaars in Suid-Afrika is vroue.2
Tog is daar steeds ’n geslagsloonverskil van 28% tussen mans en vroue in die land.3 Met ander woorde: ’n vrou moet omtrent twee ekstra maande per jaar werk om net soveel as ’n man te verdien.
Waarom dié onreg?
Hierdie statistieke skets ’n teenstrydigheid. Aan die een kant is daar onmiskenbare vooruitgang in die posisie van vroue in die samelewing – in politiek, arbeid en eiendomsreg. Aan die ander kant bly daar meetbare ongelykhede bestaan, waarvan die geslagsloonverskil een van die mees aangehaalde is. Hierdie spanning tussen strukturele gelykstelling en aanhoudende verskille roep ’n dieper vraag op: hoe interpreteer jongmense vandag hierdie gelyktydige realiteite? En waarom blyk hul reaksie nie altyd te wees wat die progressiewe verwagting sou voorspel nie?
Die vraag ontstaan dus waarom die jeug al hoe meer na regs of na meer konserwatiewe denke skuif ten spyte van skynbaar duidelike ongelykhede tussen geslagte.
Die vraag dwing ons om dieper te kyk as net die statistiek. Ons moet ook dink oor kultuurverskuiwings, waardesisteme en die manier waarop mense betekenis heg aan werk, identiteit en geregtigheid.
Jongmense in die Weste is konserwatiewer as wat hulle in dekades was. Donald Trump geniet ’n 53%-goedkeuring onder jongmense tussen 18 en 29,4 en die 18 tot 21-jarige groepering lê nou polities 11.7 persentasiepunte na regs – vir ’n eerste keer in jare.5 Deur sosiale media betree die Afrikanerjeug dieselfde ideologiese speelgronde as hul Amerikaanse eweknieë en doen dit met oorgawe.
Hierdie regsverskuiwing is nie bloot ’n jeugrebellie nie, maar weerspieël ’n groeiende gevoel dat die gevestigde progressiewe narratief nie al die antwoorde het nie. In plaas daarvan ontstaan ’n hunkering na orde, betekenis, en ’n herwaardering van tradisionele rolle, veral in ’n wêreld waar normvervaging as morele deug aangebied word, maar dikwels siniese resultate oplewer.
Die 2020’s sal waarskynlik die geskiedenisboeke haal as die dekade van ’n kulturommekeer in die Weste. Die goue era van linkse politiek is besig om te vervaag.
Die 1990’s, 2000’s en 2010’s het ons figure gegee soos Nelson Mandela, Barack Obama, Ellen DeGeneres, Justin Trudeau en Oprah Winfrey – ikoniese voorstanders van ’n liberale stryd teen die sogenaamde oorheersing van wit patriargale magte.
En nou, in Amerika ten minste, is dit die Republikeine wat die werkersklas se stem dra, en word Hollywood-sterre uitgejou op X (‘n oorheersende bron van inligting) en TikTok (Gen Z se gunsteling platform) vir hul geïsoleerde, glansryke wêreldbegrip.
Maar waarom die fokus op Amerikaanse beroemdes, as die 28%-loonverskil ons hier plaaslik raak?
Omdat Amerikaanse kultuur deur TikTok, X (voorheen Twitter), Instagram en YouTube steeds diep insypel in die Westerse psige en elders ter wêreld, dalk meer as ooit. Hierdie platforms vorm ’n wêreldwye ideologiese markplein waar oortuigings nie geografiese grense eer nie. Ons jeug dink internasionaal maar stem steeds plaaslik.
Jordan Peterson
Ironies genoeg het die konserwatiewe oplewing ’n onwaarskynlike oorsprong:
’n Kanadese sielkundeprofessor van die Universiteit van Toronto, Dr. Jordan Peterson.
Dr. Peterson is een van die invloedrykste niefiksie-outeurs van ons tyd. Sy boeke 12 Rules for Life en Beyond Order is saam op pad na 20 miljoen verkope. Maar hy was nie altyd ’n huishoudelike naam nie.
In ’n werklik Nietzscheaanse “mal man in die markplein”-oomblik, het sy roem ontstaan toe hy in 2016 weerstand gebied het teen Wetsontwerp C-16 in Kanada. Die wetsontwerp het gepoog om die gebruik van alternatiewe voornaamwoorde soos “zhe”, “they” en “zir” deur wetgewing af te dwing. Die versuim om iemand volgens hul voorkeurvoornaamwoord aan te spreek, kon as haatspraak beskou word en tot gevolge lei.
Peterson het vreedsame protes op kampus aangevoer. Tussen media-hysterie oor die sogenaamde “verregse professor wat haatspraak aanhits”, het hy ’n internasionale platform verkry en die konserwatiewe wêreldbeeld begin populariseer. Sy kritiek tydens hierdie tyd het ook die berekening van die geslagsloonverskil geopper en met die hoofstroomdenke daaroor verskil.
Vir die eerste keer het die publiek toegang gekry tot die binnekamers van linkse argumente en het gesien hoe dun daardie argumente regtig is.
Linkse helde soos Obama en Katy Perry het lank teen “wit manlike oorheersing” geveg dikwels met behulp van statistieke soos die geslagsloonverskil. Maar was hierdie statistiek regtig so toonaangewend, of dalk net te simplisties?
Peterson het op platforms wêreldwyd begin verduidelik waarom die berekeninge dikwels gebrekkig is en dít in gewone, verstaanbare taal.
Die geslagsloonverskil word gewoonlik bereken deur die gemiddelde inkomste van alle werkende mans met dié van vroue te vergelyk – sonder om vir ander belangrike faktore aanpassing te maak.
Sommige van die faktore wat dikwels verwaarloos word, sluit in:
Vroue en mans kies verskillende beroepe. Mans kies meer dikwels rigtings soos ingenieurswese en in finansies, terwyl vroue dikwels velde soos onderwys en gesondheidsorg kies, velde met laer salarisse.
Mans werk gemiddeld langer ure en streef dikwels ’n hoër inkomste na om finansieel te voorsien. In kontras daarmee, verkies vroue dikwels deeltydse of buigsame loopbane om gesinsverantwoordelikhede te balanseer.
Mans het meer ononderbroke werkservaring weens minder tyd buite die arbeidsmark vir kinderversorging.
Vroue is vier keer minder geneig as mans om oor salarisverhogings te onderhandel.6
Hierdie faktore is nie oppervlakkig of verskonend nie, maar hulle dui op dieper strukturele en persoonlike keuses wat die ekonomiese uitkomste tussen mans en vroue beïnvloed.
Die sogenaamde 28%-verskil is dus nie ’n presiese wetenskaplike maatstaf nie. Indien bogenoemde faktore verreken word, daal die werklike verskil na sowat 5%.7 Dit bly ’n verskil, maar een wat moeiliker is om eenvoudig as “onreg” te klassifiseer sonder verdere ondersoek.
Daar is ook sielkundige en neurobiologiese verskille tussen mans en vroue; ’n veld wat diepgaande navorsing lok.8 Hierdie verskille beïnvloed nie net gedrag nie, maar ook motivering, lewensdoelwitte en risiko-aanvaarding, wat regstreeks op loopbaankeuses inspeel.
Met Peterson se opkoms het mense begin vra: Is baie van die aannames wat ons as vanselfsprekend waar aanvaar, dalk net ideologies gemotiveerd?
Onder meer het vrae soos die volgende onder jongmense begin opborrel:
As daar natuurlike verskille tussen mans en vroue is, hoekom is dit dan ’n probleem as hulle verskillende beroepe kies?
As vroue werklik minder betaal word vir dieselfde werk, waarom stel sakemanne nie net vroue aan vir goedkoop arbeid nie?
Waarom sien ons neer op vroue wat hul tyd en energie aan gesinne wy?
En wat is die motief agter progressiewe ideologieë wat alle vroue in die arbeidsmag wil sien?
Hierdie vrae daag ’n eensydige siening van feminisme en arbeidsmarkgelykheid uit en dwing ’n dieper gesprek op oor menswaardigheid, keusevryheid en kulturele waardes.
Tot dusver bly die politieke antwoorde vaag en daarom vind konserwatiewe idees weer aanklank.
Verklarings en motiverings
Een moontlike rede vir die linkse dryfkrag om vroue in die werkplek te kry, is die eenvoudige realiteit van ’n arbeidstekort in die Weste. Iemand moet immers die piramides bou en die Israeliete is nie meer slawe in Egipte nie.
Deur vroue by die arbeidsmag in te sluit, verdubbel jy die beskikbare arbeid. Dit kan op die lang termyn skade aanrig aan geboortesyfers en huishoudelike stabiliteit, maar binne een generasie verlaag jy arbeidskoste dramaties tot groot voordeel van groot korporasies.
Maar dít is ’n onderwerp vir ’n volgende artikel.
Theo van der Westhuizen is ‘n ouditeursklerk van Johannesburg.
Statistiek SA QLFS, 2024
Lightstone, 2024
International Labour Organization (ILO) Global Wage Report 2018/19
AtlasIntel, 2025
Yale Youth Poll, 2025
Women Don’t Ask: Negotiation and the Gender Divide, 2003
Women's Earnings: Work Patterns Partially Explain Difference between Men's and Women's Earnings, 2003
Proceedings of the National Academy of Sciences, 2024