PISA, die Programme for International Student Assessment, is 'n grootskaalse internasionale studie wat elke drie jaar deur die OECD geloods word word. Die toets meet die lees-, wiskunde- en wetenskapvaardighede van 15-jariges in verskeie lande en ekonomieë, met die fokus nie net op basiese kennis nie, maar op hoe goed studente dit wat hulle weet op werklike wêreldprobleme kan toepas.
Die resultate word noukeurig deur regerings, opvoeders en die media dopgehou omdat hulle 'n seldsame, vergelykbare momentopname van onderwysstelsels wêreldwyd verskaf. Toe die nuutste PISA-resultate vrygestel is, het hulle 'n duidelike daling in wiskunde- en leesprestasie oor die meeste OECD-lande getoon — 'n tensens wat al 'n dekade lank terug begin het.
Media-dekking en politieke kommentators het dit vinnig as 'n “krisis” omraam: Westerse studente is besig om “agter te raak,” veral wanneer vergelykings getrek word met hoëpresterende Oos-Asiatiese stelsels soos Singapoer, Japan, Korea en Taiwan. Hierdie reaksie, dikwels dramaties, soms alarmisties — word die “PISA-paniek” of “Pisa Shock” genoem. Suid-Afrika is nog nie op die lys van lande nie, maar soortgelyke toetse het reeds bevind dat ons kinders blykbaar ook nie kan tel nie.
Wat ons nooit moet vergeet nie, is dat daar 'n industrie van opvoedkundige tegnokrate is wat probeer om aan skole en state beleidstukke te verkoop met die doel om “oplossings” vir 'n krisis te vind. Soos die ekonoom F.A. Hayek destyds gesê het, tegnokrate is mense wie probleme probeer oplos wat nie bestaan nie.
Ten spyte van die gesofistikeerde taalgebruik is dit duidelik dat die “wiskundeprobleem” 'n bemarkingsfoefie vir “nuwe oplossings” geword het. Die “kenners” gebruik presies dieselfde statistiese manipulasietegnieke as sigaretverkopers om ons te probeer oortuig van hulle “kundigheid”.
Die OECD het byvoorbeeld die volgende figuur op sy LinkedIn-profiel geplaas en duidelik as jy hierdie grafiek onkrities sou lees, sou dit lyk asof die kinders sukkel met wiskunde.
Wat interessant is aan hierdie grafiek is die manier waarop die OECD die data aanbied. Op hierdie punt is daar 'n boek wat ek gereeld aan my ingenieursklerke aanbeveel How to Lie with Statistics, geskryf deur Darrell Huff in 1954. Hy het gewys hoe basiese statistiese redeneringsfoute maklik in die media kan insluip en dikwels tot morele paniek lei. Een van die eerste toertjies wat hy bespreek is die gebruik van afgekapte y-as, wat die skynbare omvang van 'n verandering kan oordryf.
As 'n mens net vir hierdie skaal korrigeer, vind jy die grafiek aan die regterkant. Nou lyk dit nie juis skrikwekkend nie, in werklikheid mag daar glad nie 'n krisis wees nie.
Daar mag wel verskeie redes vir hierdie ongelykheid wees (as dit inderdaad statisties beduidend is). Byvoorbeeld, word Asiatiese kinders harder akademies in wiskunde gedruk? Het kinders in Westerse lande bloot meer opvoedkundige en buitemuurse keuses wat nie intensiewe wiskundestudies prioritiseer nie?
Of soos geïmpliseer word, is die Weste regtig besig om te val en moet ons almal begin wiskunde soos in Sjina te leer?
My mening is dat iets soortgelyk mag aangaan soos wat in die voormalig Sowjetunie gebeur het. Die USSR het van die wêreld se sterkste skaakspelers en wetenskaplikes voortgebring. Hulle het ware intellektuele prestasies gehad, wat selfs gelei het tot die feit dat die USSR die eerste man in die ruimte gehad het. In die geskiedenis van die koue-oorlog die die USSR amper elke jaar, met enkele uitsonderings soos Bobby Fischer, die wêreldskaaktitel gehad. Die rede, soos die wêreld kampioen Garry Kasparov jare later vertel het, was omdat die Sowjetunie opleidingsprogramme gehad het vir skaak, terwyl dit in Amerika 'n stokperdjie was.
Die probleem was nie 'n tekort aan opvoeding of slim mense nie, dit was eerder ekonomies. Daardie gespesialiseerde kennis kon nie effektief in 'n funksionele markekonomie gekanaliseer word nie, wat een rede was waarom die stelsel selfs teen die einde gesukkel het om sy eie burgers te voed.
Die moderne ekonomie in Westerse lande is baie divers. Buite 'n selektiewe paar beroepe het die meeste mense nie 'n hoë vlak van wiskunde nodig om funksionele burgers te wees nie.
Ek sou wed dat baie kinders instinktief weet dat baie van wat hulle in die wiskundeklas leer nooit sal gebruik nie en in effek verveeld word met 'n te sterk fokus op wiskunde. Kinders wat regtig belangstel sal nuuskurigheid wys en self op hulle eie tempo na die velde toe dryf.
Kinders is gewoonlik van die eerstes om aan te pas by hul omgewing en soos opvoedkungie sielkundiges soos Peter Gray al gewys het, speel jong kinders reeds met die toerusting wat hulle gaan toelaat om dit as volwassenes te kan bemeester.
Met rekenaars, kunsmatige intelligensie en moderne tegnologie bly ons in 'n moderne wêreld wat ongetwyfeld deur wiskunde en wetenskap gebou is, maar ons leef ook met die teenstryd dat baie beroepe nou minder wiskunde als voorheen nodig het. Byvoorbeeld 'n restaurant kelner van die 1930s het nie matriek nodig gehad nie, maar hy moes die berekeninge in sy kop doen. Vandag doen 'n matrikulant daai selfde werk, sonder 'n sakrekenaar. Die matrikulant is beter opgelei, maar pas minder toe wat hy of sy in die klaskamer geleer het.
Negentig persent van wat ek op skool en universiteit in die wiskundeklas geleer het, ek het nog nooit gebruik nie. Ek sê dit as 'n ingenieur (wat daagliks vergelykings oplos) en met 'n wiskundige getroud is. Vir wat dit help stem my vrou saam met my.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












