Iran: Is die Straat van Schrödinger oop of toe?
Daar wentel baie stories oor Hormoes, maar die feite praat anders.
Soos Erwin Schrödinger se kat wat tegelyk lewend en dood is totdat iemand kyk, lyk die Straat van Hormuz vandag gelyktydig oop én gesluit, afhangend of Iran of Amerika die storie vertel. Teheran hou vol dat hy volle beheer oor die nou, 21 seemyl-wye waterweg uitoefen.
Intussen verkondig Donald Trump dat Amerikaanse vlootmagte dit weer “oop vir besigheid” gemaak het.
Voor die konflik het sowat 20 % van die wêreld se see-olie en 'n kwart van alle vloeibare aardgas daagliks deur hierdie seestraat gevloei. Dit maak Hormuz een van die belangrikste knelpunte in die globale ekonomie.
Iran se geografiese voordeel bly onbetwis. Die land beheer die noordelike kus, sleutel-eilande en 'n digte netwerk van militêre basisse, waaronder die Iranse Revolusionêre Wag se vloot. Lugaanvalle het dié vermoëns nie uitgewis nie.
Maar militêre oorheersing is nie eens nodig om die seestraat te ontwrig nie. Blote onsekerheid is genoeg, soos moontlik gemaak deur see-myne, teenskeepsmissiele en swermvlote vinnige bote kan selfs die magtigste vlootmagte laat huiwer.
Op 2 Maart het Iran die seestraat amptelik gesluit ná die Amerikaanse-Israelse aanvalle. Die uitwerking op die wêreldekonomie was onmiddellik. Die werklikheid, soos die syfers wys, is dat daar sedertdien baie min skepe deur die knooppunt vertrek het.
Waar daar voor die oorlog gemiddeld 130 tot 138 skepe per dag deurgevaar het, het die verkeer tot byna nul gekrimp. In die volgende ses weke is slegs 279 deurgange geregistreer – minder as twee dae se normale verkeer. Sedertdien word toegang onvoorspelbaar bestuur. Die seestraat was in Maart gesluit, is ná ’n wapenstilstand op 8 April gedeeltelik heropen, en op 17 April simbolies “heeltemal oop” verklaar. Kort daarna het dit egter weer effektief toegeslaan, terwyl Amerikaanse druk op Iran se hawens onverpoos voortgeduur het.
Die Skeepsverkeer vloei steeds
Ten spyte van Washington se triomfantelike verklarings bly die werklike verkeer baie beperk. Op 13 en 14 April – juis tydens die beweerde hoogtepunt van die Amerikaanse blokkade – het onderskeidelik net 12 en 8 vaartuie deurgekom. Van dié was sommige gesanksioneerde tenkskepe wat met Iran se goedkeuring gereis het.
Die United States Central Command beweer dat hulle “'n handjievol skepe” teruggedwing het. Tog het dit weinig aan die algehele vloei verander.
Die Februarie-aanvalle het nie Amerikaanse beheer oor die Persiese Golf herstel nie – inteendeel, dit het Iran se invloed net verder versterk. Waar Teheran vroeër slegs sy kernprogram as hefboom gebruik het om van sanksies ontslae te raak, beskik die Islamitiese regering nou oor ’n veel direkter en dodeliker drukmiddel: die vermoë om die wêreld se belangrikste olie-deurgang na willekeur oop of toe te draai. Met die verlies van Hormuz het Amerika ’n strategiese nederlaag gely wat Iran nou kan uitbuit om toegang tot wêreldenergie te verruil vir diplomatieke steun en om die petrodollar te ondermyn.
Hoe kon ’n wêreldmoondheid met ongeëwenaarde militêre oormag beheer oor hierdie strategiese waterweg verloor aan ’n streeksmag wat dit jare lank probeer inperk het?
Nog artikels deur Hügo Krüger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














