DinkWeer Donderdag: Verkoop jou verveling beter
'n Terugblik op verlede Vrydag se bydraes, en meer.
Neem kennis, julle: By OntLaer het ons na aanleiding van die meningsopname oor watter soort ritme ons lesers verkies, 'n nuwe vrystellingsmodel begin toets.
Julle sal agterkom (veral diegene wat die Substack app afgelaai het… onthou dis gratis en uiters gerieflik!) dat ons rollend deur die week nuwe artikels plaas, soos wat die bydraes inkom. Ons het ook besluit om jou moontlike weersin in 'n oormaat e-posse elke tweede Vrydag te voorkom. Daar is nou een weeklikse, dog wisselende, Vrydag e-pos vrystelling: Een Vrydag sal 'n vol uitgawe wees, en die volgende 'n korter nuusbrief. En natuurlik “DinkWeer Donderdag” vrystellings na elke vol uitgawe week.
Laat ons gerus weet in die kommentare hoe julle voel oor ons nuwe uitleg, wat korter is, met e-skakels wat regstreeks en spotmaklik na die artikels heen lei.
Enkele opmerkings oor aanlyn gewoontes…
Gepraat van Substack en spotmaklikheid, eersgenoemde het my vanweek weer laat besef dat daar 'n sinvolle en heilsame kant aan sosiale media (in die breë sin van die woord) is. Van julle sou oplet dat ek nie baie tyd en geduld met sosiale media het nie. Tydens my navorsing vir my artikel wat Dinsdag verskyn het, maak ek kontak met Professor Nils Gilman, wie se navorsing baie van my denke agter my skrywe gevorm het. Toe ek weer sien, gesels ons land en sand in 'n thread oor mekaar se artikels, en die man - 'n Yank - leer sommer die begrip “begraafplaas-gelykheid” in Afrikaans aan. Sosiale media kan die wêreld op 'n gesonde en opbouende manier met mekaar verbind, mits ons bedag is op die soort inhoud wat ons besig en waaraan ons tyd spandeer, en dis immers waar dinge ingewikkeld raak.
By OntLaer gaan alles nie oor gerief en gemaklikheid nie. Ons pleeg onbeskaamd sloernalistiek. Dit verg dat ons bereid is om soms etlike minute aan langlees af te staan en om iets nuuts te oorweeg wat dikwels jou denke gaan uitdaag. My advies: in 'n wêreld waar “effektiwiteit” verheilig en die groot maatskappye letterlik triljarde uit jou ledige oomblikke maak, spandeer eerder daai tydgleuwe om jou grysstof uit te daag met die soort inhoud wat ons en ander mense op platforms soos Substack aanbied.
Dis dalk nie so snaaks soos die strontium op die Instagram reels nie, maar ek dink jy gaan steeds beter voel, al is dit net die gevoel wat vir jou tel.
Belesenheid, taal en 'n gesonde heen-en-weer
In aansluiting by my prekie oor beter aanlyn inhoudsopsies, lees asseblief Paul Maritz se Saak vir Belesenheid, oftewel waarom ons spreekwoordelike dik boeke moet lees. Ja, romantasy is ook reg, hoewel ek kan meedeel dat ouens nie aldag lus is om na werk en bepaald voor ete soos 'n elfkoning aan te trek of andersins (by wyse van spreke) die draak te steek nie. Trek gerus 'n digbundel of drie weer nader, dis ook moeranties. Ek en Paul het weer kortliks gesels oor die digter Etienne van Heerden, en noudat ek hom weer deurwerk, besef ek opnuut Afrikaans is 'n hele paar skatkiste van die beste letterkundige gehalte werd. Die ATR se Hendrik Theys bevestig dit met sy bydrae dat tale nie net gereedskap is nie, maar ook magtige wapens en kreatiewe kragtoere kan wees.
Verder sal ek julle verwys na die uiteenlopende bydraes oor die Afrikanervlugtelinge. Ek het die klassige nuanses van Afrikaners se vrese (en hoop) vir Suid-Afrika belig en ons gasskrywer Christoff Odendaal het gewaarsku teen inligtingsverbruik wat jou meer reaktiewe kante kan opwakker. Daniël het hierdie tema afgesluit deur uit te wys dat ons nie so absoluut oortuig moet wees dat daar kante gekies en streng standpunte oor die vlugtelingesaak ingeneem moet word nie. Ek dink sover slaag OntLaer met doelbewuste uiteenlopendheid as redaksionele motto.
En as jul my nie glo nie, gaan lees Daniël en Professor Henk Botha van die US se artikels oor vryheid neffens mekaar: een skrywer verdedig 'n sin vir vryheid wat minder staatsomskrewe is, en die ander lewer 'n geweegde repliek dat vryheid regtig slegs betekenis verkry tussen-ander. Dit sal jou uitdaag, en ook totaal nuwe denkdeure oopmaak.
Die beste is: Hiervan en meer kom daar nog baie.
Mooi loop en lekker lees!