Afrikanervlugtelinge: Een foto lanseer 'n duisend tonge
Afrikaanse klassigheid verduidelik talle reaksies.
Omstreeks 04:00 SAST, verlede Woensdagoggend, het ek eers die moed om behoorlik na daardie eerste foto van die aankomelinge by Dulles Lughawe buite Washington, D.C te kyk.
Die vroegoggend vrae stroom saam met die oggendkoffie. Is hulle verwese slagoffers? Is hulle verlig dat 'n eg-Afrikaanse verneukery uitgewerk het? Is húlle die verneukte Boere? Iets van alles? Is daar gronde vir hulle om aan my bekend te voel? Moet ek enigiets voel?
Daar was natuurlik reeds 'n stortvloed menings. Die Engelse pers het hul neuse voorspelbaar gelig; 'n gebruiker op Daily Maverick onderaan Richard Poplak se artikel, praat van “our Afrikaaners” met 'n “rich culture and pride” wat deur die hele “racist stunt” ontsteld gelaat sou wees, asof Afrikaners 'n oulike vertoonstuk-stam is, wie se goeie vibes and vibrancy jy kan aanwend om jou gevolgtrekkings oor húl lot te rasionaliseer. Veral wanneer dit kom by jou oordele oor hoe hulle oor hul lot moet voel.
Oor Angelsaksiese hoogdrawende fassinasie met die Ander, ook Afrikaners, as eksotiese “etniese” vertoonstukke, kan ek net grinnik. Onhandige fuddy-duddy Engelse intellektualisme steur my nie in die minste nie.
Wat wel vreemd is en 'n mens tot insig kan dwing is hoe Afrikaners op die vlugtelinge kwessie reageer. Interessant genoeg, merk ek op aan 'n skrywersvriend, is die Afrikaanse pers amper onseker en gedemp oor die hele dramatiese verwikkeling. Miskien is almal eintlik nog te verbaas dat die Trump administrasie se dreigemente van voornemens rondom Afrikanervlugtelingstatus, verwerklik het. Ons woon immers in 'n land waar grootse beloftes deur politici omtrent altyd onvervuld bly, en waar daar geen rede is om te vermoed dat dieselfde sotlike, arrogante regeerbesluite wat al vir 30 jaar aan die dag gelê is, enigsins ander uitkomste kan hê nie. En boonop, wie kan nou só in Suid-Afrika geïnteresseerd wees dat drastiese ondernemings oor vlugtelingstatus waar sal word?
Die skeptisisme was geldig, totdat dit nie meer was nie: daar ís politici, boonop uit 'n wêreldmoondheid, wat aardskuddende besluite op tuisbodem kan laat inspeel en skynbaar baie in ons geïnteresseerd is, weens watter motief ookal. En nou sit talle in die Afrikaanse gemeenskap met 'n soort “tuislike ontuisheidsgevoel” (die Duitsers praat van umheimlichkeit) toe die groepie vlugtelinge wél in Amerika voet aan wal sit.
Afrikaanse klassigheid
Uit dele van die Afrikaanse intelligentsia het daar 'n sedige koorsang opgeruis wat, in aansluiting by party Westerse mediahuise en meningsvormers, die moraliteit van die Afrikanervlugtelingstatus betreur het, veral noudat dit uitgevoer word. Gewone dog betreklik welaf stedelike Afrikaners, buiten die intellektueles, die kommentariaat en die res van die denkersklasse, dryf steeds die spot met die hele gedoente. Memes en grappies word wyd en syd gedeel, miskien as plaasvervanger van om te hard oor die “tuislike ontuisheid” van die kwessie na te dink. Ons braai maar vleis en vier fees hier in Afrika, halala, kumbaya, Afrikaners is plesierig, skink nog een en sit die musiek harder.
Ek gaan nie maak asof ek nie bietjie met 'n voet in beide van hierdie wêrelde staan nie. Die grappies is werklik snaaks. Dis eietydse, immer ironiese Afrikaanse humor en skep 'n soort kameraderie om die swarigheid van die hele groter gedagte te ontvlug. Om andersins ook krities oor die moraliteit van die saak na te dink, opper geldige vrae oor of Afrikaners werklik so moes voorkeur kry, soos wat talle uit die intelligentsia tot hul krediet doen.
Maar diegene wat grappige of morele reaksies kan “bekostig”, in die materiële sin (met die tyd vir hierdie soort oordenkinge en reaksies) maar ook in die sin daarvan dat die ligsinnigheid en selfs sarkasme gepas is in die kringe waar binne hul beweeg, is 'n aanduider van die maatskaplik-ekonomiese klassigheid van die Afrikanerleefwêreld. “Klassigheid” beteken nie “klassisme”, soos in die diskriminerende en chauvinistiese ingesteldheid teen relatief armer mense nie. Dit wys eerder - soos “rassigheid” - op die ingewortelde relevansies, konvensies en blindekolle wat klasseverskille tussen Afrikaners veroorsaak. Dis die klassige kleur van die agtergrondgeraas en die dekor, eerder as die regstreekse vooroordele van die akteurs.
Vir die geleerdes en die braaivleisvuur-vierende grapgatte, is dit dalk aanvaarbaar om aannames te maak oor die motiewe en beweegredes van die vlugtelinge. Maar daar is baie Afrikaanse mense wat in gemeenskappe woon waar almal welbekend is met relatiewe ontbering, geweld, diskriminasie, werkloosheid of loopbaan-vooruitsigloosheid, en die realiteit van 'n bedeling waaruit geweldstaal dikwels voortkom en verdra word. Waar hierdie dinge tasbaar is en aan die bas gevoel word, is intellektuele moralismes en memes om die braaivleisvuur, veilig voorstedelik omhein, nie 'n opsie nie. 'n Jong Afrikaanse bornfree uit post-industriële suid-oostelike Johannesburg en omstreke, of uit die Pretoriase Moot, of die etlike kleiner vervallende, gevaarlike dorpies oor die ou Transvaal heen, kyk met ander oë na 'n Donald Trump wat verklaar dat vlugtelinge ontvang sal word in Amerika en hul velkleur nie teen hulle gehou sal word nie. Ek vermoed sterk dat die “ander rasseminderhede” bepaling in die Amerikaners se asielbepalings ook vir 'n jong Afrikaanse (of selfs nie-Afrikaanssprekende) persoon uit die mensonterende verskrikking van die Kaapse Vlakte of die gevaarlike buurte van Eldorado Park, aantreklik sal lyk.
Hierby moet ek voeg: Opvallend minder van die land se kommentariaat praat oor die “ander rasseminderhede” bepaling, wat natuurlik die vraag opper oor waarom. Kan dit wees dat die intelligentsia self die gesprek Afrikanersentries gemaak het, terwyl die Amerikaners eerder besorg is oor die implikasies van 'n ANC-geleide regering wat 'n toenemend regse en etnies-nasionalistiese “Swart Eerste” benadering tot verhoudings met sy burgers bewerk? Daarom, miskien, dat die VSA hul beleid verder as die Afrikaners geskryf het?
Haastige tonge agter hoë mure
Kyk jy na die fotos van die 49 vlugtelinge, kan jy nie veel oor hulle aflei nie. Nou in die dae sedert hul aankoms in Amerika het 'n onderhoud of twee opgeduik. Thea van Straten het gevlug weens die geweld waaraan sy onderwerp was in Van Reenen. 'n Ander vlugteling se storie, aldus Rapport van 18 Mei 2025, is meer omstrede. Wat wel die geval is, is dat niemand presies elkeen van hierdie mense se - verskoon my - beweegredes ken nie. Geen van die (veral Engelse) persblaaie en meningsvormers wat hul tonge laat klap het, het hierdie mense se stories en agtergronde enigsins verder as Thea en een of twee ander, gaan vasstel om hul afleidings te boekstaaf nie. Ons ken nie hul maatskaplik-ekonomiese agtergronde nie. Ons weet nie watter soort trauma hulle beleef het nie, indien hul enigsins het.
Dit kan wees, en ek is oop vir die moontlikheid, dat die meeste van hulle kansvatters is wat daarin geslaag het om die ideologiese instinkte van die Trump-administrasie in hul guns te gebruik. Dit is ten minste wat soveel van die plaaslike pers, veral kommentators met 'n links-progressiewe en regs-liberale neiging, blykbaar vir hulself as die feit van die saak gaan rasionaliseer het.
Gun my dan ook 'n nederige rasionalisasie: Is dit ook moontlik dat hierdie mense die simptome is van 'n Afrikaanse (en erger, Suid-Afrikaanse) werkers- en middelklas is vir wie die pas van verval en wanbestuur werklik onhoudbaar geword het? Waarom sou enige van ons, bepaald uit die kommentaarklasse en gegoede echelons van Afrikaans, kla oor verval en swak regering as die kanse om dit aan jou bas te voel, net teoreties was? Ontken ons voorvalle van ontbering en slagofferskap, uit vrees daarvoor dat dit 'n erkenning kan wees dat ek of jy volgende kan wees? Is die bravade in die lesinglokale, in meningsartikels in die pers en van agter die hoog-omheinde braaivleislapas, 'n manier om heeltemal rasionele vrese onder lae van bevoorregting te verdoesel?
Vir die Afrikaanse chattering classes en diegene wat nie die onsekerheid van die laermiddelklas beroepslewe of die werkersklas se bisantynse bevorderingsiklusse ken nie, is dit net té maklik om die vlugtelinge op Dulles as dom, lui, rassisties of onpatrioties te brandmerk.
Dubbele standaarde
Dit sluit aan by die diep ontologiese soort ontkenning onder soveel uit die intelligentsia en die hoër middelklasse dat Afrikaners ook slagoffers kan wees, 'n ideologiese abstraksie wat selfs voor die feit al besluit het om met die moontlikhede en risikos van die werklikheid tred te verloor, asof in 'n kristalbal gekyk kan word.
Een variasie van hierdie aanmatigende sekulêre dogma het wortels in argumenteerbaar goeie grond, synde die antirassisme opstande in die VSA in 2020. Die slagspreuk “Black Lives Matter” het tot 'n hele beweging uitgebrei wat kapsie gemaak het teen die beleefde geringskatting van swart lewens deur staatsowerhede die wêreld oor. Wanneer die teen-spreuk “All Lives Matter” geopper is, is daar streng berispe: Om te preek dat “alle lewens saak maak” is uit die aard van die saak waar en geldig, maar die punt van die BLM-slagspreuk was om klem te plaas op die geskiedkundige en voortgesette geringskatting van swart lewens. “Alle lewens maak saak” is dus onbehulpsaam wanneer 'n spesifieke agendapunt - swart lewens onder sekere toestande - die besprekingspunt is.
Hierdie is wat my betref 'n geldige punt. Om “alle lewens maak saak” te opper wanneer 'n partikuliere maatskaplike probleem aangespreek word, klink soos 'n valskermverweer, en help beslis nie om die spesifieke probleem ter sake beter te begryp nie. Daarom is dit vir my geweldig ironies dat baie van dieselfde aktivisties-georiënteerde joernaliste en meningsvormers van daardie woelige BLM-dae, veral hier plaaslik, hulself tot 'n variasie van die “alle lewens maak saak” teen-slagspreuk gewend het, toe die kwessie van Afrikaanse asiel weens die regering se beleide, misdaad en geweldstaal na vore kom: “Alle Suid-Afrikaners kry swaar!”
So, die feite van relatiewe swaarkry en redelik geantisipeerde vervolging maak nie saak nie: die geldigheid van 'n spesifieke maatskaplike probleem word eerder volgens ideologiese dogma rondom wie slagoffers kan wees en waarom, vooraf bepaal. En daarvolgens kan spesifieke probleme wat deur 'n gemeenskap ervaar word, met 'n beroep op “alle lewens se geldigheid” weggewuif word, óf ernstig opgeneem word, afhangende wie die “ervaarder” is (soos bepaal deur etniese afkoms). Ontsag vir wat die werklikheid mag leer en watter gevalle billikheidsoorwegings mag vereis, is doodgebore in hierdie soort denkpatroon.
Daar is 'n ander teenstrydige soort denkpatroon wat hierby aansluit: Het enigeen al opgelet hoe skisofrenies sommige uit die Afrikaanse intelligentsia met Afrikaanse eendersheid omgaan? Afrikaners is monolities en sonder meer “eenders” wanneer bevoorregting en welvaart bespreek word, maar skielik “verskillend” wanneer politieke oortuigings, verteenwoordiging deur die Solidariteit Beweging en bepaald gevoelens oor asiel en die redes daarvoor, ter sprake kom.
Die gevolge van 'n doodgebore werklikheidsin
Pres. Cyril Ramaphosa het in die dae sedert die vlugtelinge se aankoms ontken dat hulle vlugtelinge kan wees, aangekondig dat hy na die VSA sal reis om met pres. Trump te beraadslaag, en toe ook by Nampo uitgeval.
Ten spyte van sy ooglopende PR-poging, is daar iets afgrysliks arrogant aan 'n knaend beveiligde, biljoenêr president wat by 'n landbouskou (waar, soos Rapport se gevatte Pollux reken, Afrikaners nie anders as gasvry kan wees nie) vir 'n klomp moontlik werkers- of middelklasvlugtelinge in die openbaar laat hoor dat hulle “lafaards” is, wat glo nie wil bly om hand aan die ploeg te slaan nie. Hy sê dit nie net onder omstandighede wat die rooi ligte van sy onopregtheid laat flikker nie, maar ook voor 'n landbougemeenskap wat die soort geweld waaroor mense landuit wil vlug, in groot getalle en in grusaam gereelde wreedheid voel. Terloops: 'n “lafaard”, herinner 'n vriend my, is mos eintlik iemand wat van gevare of probleme af wegvlug, so is daar dan wel iets wesenliks waarvan gevlug word, Cyril?
Of die vlugtelinge opreg is of nie, of hulle antisiperend gevlug en dalk verkeerd bewys gaan word of nie, is minder tersaaklik as die die oorhoofse vraag: Waarom moet ons in 'n land met soveel moontlikhede om geweldsprobleme en misdaad op te los, soveel energie om maatskaplike uitdagings moedig aan te pak, en soveel duidelike waarborge in die Grondwet om, byvoorbeeld, vrye taal- en kulturele florering daar te stel, nogsteeds sukkel onder toestande van maksimale ont-magtiging en on-vryheid?
Ek het nie meer hoop dat die ANC-geleide regering hierdie probleme bevoeg kan aanspreek of oplos nie. Miskien beskaam my wanhoop, maar intussen, bietjie soos 'n vlugteling, is die wyser weg om in antisipasie van verdere verval, jou en jou plaaslike gemeenskap se voortbestaan self te beplan en self te bewerk.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: