In Stellenbosch het ons saam met 40 ander dorpe en gemeenskappe in Suid-Afrika en Namibië, ‘n inklusiewe 80-jarige verjaardagherdenking van Die Voortrekkers gevier in 2011, met 'n inklusiewe verjaardag partytjie. Hoe dit gebeur het is 'n ander dag se storie.
Vir vandag is ek dankbaar dat een van die uitvloeisels van daardie inklusiewe verjaardagpartytjie, die e’Bosch toekoms-erfenisprojek, oor die volle lengte en breedte van die Suid-Afrikaanse samelewing ons onderskeie erfenis en kultuurtradisies saam kan vier. So het ons, e’Bosch, in 2024 die dertigjarige herdenking van Vryheid gevier. Of dalk nie.
Iets skort
Die e’Bosch erfenisprojek het op 27 April 2024 'n 30 Jaar van Demokrasie-viering aangebied. Hoe meer mense genooi is, hoe meer uiteenlopend was die menings. Nie een was positief nie. Ek het myself begin afvra, het ons regtig aan die Suid-Afrikaanse projek gewerk oor die afgelope 30 jaar?
Gegewe al die uiteenlopende menings, het dit duidelik geword dat 'n paneelbespreking die beste manier is om die pad van demokrasie te vier. Sodat meer stemme gehoor kan word.
Vier generasies is genooi: studente; jong werkende mense; dié met gevestigde loopbane; en dan mense wat afgetree is en voor 1961 gebore is. Daar was mense van hoofsaaklik Europese afkoms, en iemand wat in Distrik Ses gebore is, voor apartheid se implikasies vir die woonbuurt. Daar was selfs 'n vredeskommissaris van 1994 wat baie trots deelgeneem het. Deelnemers is genooi om te reflekteer oor waarvoor hulle dankbaar is, waaroor hulle hartseer is, en wat gedoen kan word om ons toekoms te vorm. In e’Bosch-taal: ons toekomstige erfenis. Die besinnings het verder as net die afgelope 30 jaar gestrek, tot by 1961. Daar is ook gepraat oor dit wat die vorige 30-jaar ingelei het, synde die tydperk wat tussen 1991 en 1994.
Positiewe terugvoering het waardering ingesluit vir die feit dat mense van verskillende agtergronde mekaar kon aanhoor. Ander hoogtepunte was: Suid-Afrika se deelname aan wêreldsport; die bou van 'n sterk opvoedkundige en waardegerigte grondslag vir die volgende geslag; vryheid van spraak; groter toegang tot geleenthede; en die vreugde van diverse vriendskappe en samewerking.
Kommer en hartseer is ook uitgespreek: Waarom is soveel van ons leiers, wat nou uit die meerderheid kom, so selfsugtig en korrup? Waarom tree hulle nie op tot voordeel van almal nie? Geweld en misdaad wat gemeenskappe bedreig, die ondermyning van demokrasie, groeiende ongelykheid, armoede, en 'n wankelende onderwysstelsel is alles genoem.
Wat lê voor? Daar is voorgestel dat ons die geleenthede moet aangryp en 'n verskil maak; jong mense moet bemagtig, veral dié ouer as 18; en die waardes van Vryheidsdag moet oorgedra word. 'n Verskuiwing in denkpatrone onder die jeug is nodig, asook die vestiging van 'n gedeelde grondslag vir burgerskap, gebaseer op waardes soos onderwys, groei, ontwikkeling, respek, lojaliteit, versoening, geslagsgelykheid en veiligheid.
Deelnemers is deur mekaar aangemoedig om die verandering te wees wat hulle in ander wil sien: belê in die jeug, leer hulle oor burgerskap, stel self die voorbeeld, raak betrokke by gemeenskapsinisiatiewe, en oefen leierskap uit om die bose siklus van misdaad, geweld en dwelmmisbruik te verbreek.
Daar was vir my twee sake duidelik uit die 30-jarige viering van die Vryheid in Suid-Afrika.
Suid-Afrika is 'n jong land. Daar was die projek van 1961 tot 1991, 'n drie jaar oorgang en dan die tweede projek van 1994 tot 2024.
Wat duidelik geword het, is dat ons nie praat oor wat dit beteken om ’n Suid-Afrikaanse burger te wees nie. Dit gaan selfs verder, ons praat steeds nie met mekaar nie, maar oor mekaar.
So wat kan 'n mens daaraan doen? Wat is ons kollektiewe wekroep? Wie is ons? Wat is die opbrengs? Wat as ons dit nie regkry nie? Hoe lyk die padkaart?
Dit kan beter wees. Soos indien die mense en groeperings met 'n eerstewêreldse wêreldbeskouing, pro-aktief kan deelneem daaraan om kernuitdagings van elkeen van ons land se gemeenskappe, eerstehands en saam te oorkom, en daardeur erkenning en respek gee aan ons medelandsburgers. En sodoende, ook respek vir onsself verwerf. Daarmee saam kan die waardes wat suksesvolle, selfhandhawende, samewerkende gemeenskappe kenmerk, oorgedra word sodat meer mense daaruit kan voordeel trek.
As ons dit nie regkry nie, en solank as dat ons net aan ons reddingsbootjies werk, kan ons verder uitsien na die verval van openbare instellings, die toename in misdaad en verdere ekonomiese verarming.
'n Nuwe Padkaart vir SA
Die padkaart begin deur belyning van 'n program vir 'n verenig suksesvolle Suid-Afrika. Net deur die openbare Suid-Afrikaanse vakansiedae te vier saam met die res van Suid-Afrika, skep reeds die geleentheid om oor sleutel-onderwerpe te belyn, soos oor menseregte, vryheid, die jeug, respek vir vroue, en om ons elkeen se erfenis saam vier, soos die viering van God se beskikking by Bloedrivier, die versoening waarvoor daar selfs 'n nasionale vakansiedag gereserveer is.
Die uitkoms is 'n samelewing wat belyn is rondom die waardes en doelstellings wat ook vir ons, almal wat deelneem, belangrik is.
Praktiese stappe
Wat kan ons doen om verhoudings te bou, sodat ons met mekaar kan begin praat oor gemeenskaplike belange?
Vier openbare vakansie dae saam met alle belanghebbendes van die breë gemeenskap wat daardie belang deel.
Bemeester die gereedskap om positiewe verandering teweeg te bring ten spyte van die skade van die ouer verdelingslyne in Suid-Afrika.
Mobiliseer intellektuele kapitaal om die moeilike probleme aan te pak, soos beste praktyke vir ekonomiese groei, teenkorrupsie aksies, en praktyke wat lei tot die omkeer van ongelykheid, armoede en werkloosheid.
Verander die narratief van 'n gekla en oor-en-weer beskuldigings, na die positiewe eienskappe van Suid-Afrika. As 'n mens nadink oor net een van die vier stappe, is hierdie een trouens die een wat dalk die maklikste is.
Woorde skep wêrelde. Elke keer wanneer 'n toegewyde staatsamptenaar hoor hoe daar oor sy of haar werk sleg gepraat word, word moraal 'n stukkie afgebreek. Die wortel van verandering moet geïdentifiseer, behoorlik aangepak word en 'n narratief wat hoop en groei bring, moet gebesig word. Die aksiestap is om die feite uit die regte perspektief te kry en te kommunikeer – op elke vlak.
'n Belynde Nasionale Visie
As ons nie saamspan en 'n belynde visie vir Suid-Afrika ontwikkel nie, gaan ons eindig as 'n kolonie van wie ook al die moondheid is wat die meeste voordeel trek uit die misbruik van Suid-Afrika, of wie die meeste druk uitoefen.
Of dit nou Europa, die Midde-Ooste, die Verre Ooste, Rusland of deesdae ook die VSA is, die uiteinde is 'n land sonder soewereiniteit, wat nie in staat is om dienste wat menswaardigheid meewerk, te kan implementeer nie.
Hoe vier jy vanjaar die 31ste jaar van vryheid in Suid-Afrika?
Dr Sias Mostert is opgelei as 'n elektroniese ingenieur. Hy werk in sy dagtaak met satelliete, en na-ure aan jeugontwikkelling en “sosiale weefsel” projekte.
Soortgelyke artikels op OntLaer: