Ken jy jou links van jou regs?
Politieke terminologie is hulpmiddels, nie alleenstaande argumente nie.
Een van die mees fassinerende filosofiese omskrywingsprobleme het te doen met watter hand die ander een was.
Daarmee bedoel ek dit so letterlik as wat dit is: Die liggaam het 'n aantal funksionele “perspektiewe”, en een daarvan noem ons regs, en die ander een links.
Dit is so - verskoon my - voor die hand liggend, dat jy ‘n kindjie se een handjie sal vat en vir hulle sal leer, hierdie hand is links, en die ander regs. Dit word so oorgelewer, van ouers na nageslag, ensovoorts. Daar is geen rede afleibaar vanuit die natuur waarom links “links” of regs “regs” is nie, dis bloot name wat ons gee aan die twee rigtingperspektiewe relatief tot die liggaam. Die rigtingsperspektiewe “links” en “regs” word deur kulturele oordrag van konvensies, met behulp van opvoeding, vasgestel en oorgedra. Tog is dit skynbaar nie moontlik om links en regs volgens die geometrie van ons natuurlike omgewing vas te stel nie.
Hierdie onmoontlikheid sinspeel op die metaforiese manier waarop ons in die huidige politieke tydsgewrig, links en regs gebruik om politieke posisies op die tradisionele politieke spektrum uit te druk. Op 'n soortgelyke manier, het die betekenis van links en regs in die politiek, weens konvensionele gebruik, konteksverskille, moedswillige retoriek en soms bloot lui pogings tot redevoering, in 'n soort ongedefineerdheid vasgeval.
Rigtingbedonnerd
Op 13 April vanjaar in Rapport, redeneer die Stellenbosse historikus Ruhan Fourie dat die aktivis en stigter van die Pionier Stigting Ernst Roets, nie die eerste “regse” sou wees om na die “ultaregses” in Amerika te vry nie. Hy skep dan 'n geskiedkundige vergelyking tussen Roets se pogings en dié van die apartheidsbedeling se Koot Vorster en vriende.
Ek stel nie juis belang om Fourie se substantiewe punte hier te ontleed nie. Roets het dit reeds gedoen en sy repliek, wat karikatuurskepping deur Fourie uitwys, kan hier gelees word. Fourie se artikel dien eerder as ‘n voorbeeld om mee weg te spring, en om aan te dui hoe regs en links as politieke aanwysers ietwat rigtingbedonnerd geraak het.
Fourie gaan vanuit die veronderstelling dat Roets 'n “regse” politieke oortuiging huldig en dat dit sy aktivistiese inisiatief verbind met die pogings van die Verkramptes van die pre-Vorster era.
Dit is opvallend dat die gebruiksfrekwensie onder talle mense, veral vanuit dele van die Afrikaanse intelligentsia en sekere mediahuise (onder andere, op Daily Maverick) van die byvoeglike naamwoorde “regse” en “verregse” om die Solidariteit Beweging en sy leiers te beskryf, skynbaar skerp toegeneem het sedert laasgenoemde se Amerikaanse uitstappie.
Vir jare reeds sien 'n mens ook die gebruik van die begrippe “verlinks”, “links-liberale” en “woke linkses” om mense se politiek te beskryf. Alida Kok skryf byvoorbeeld op Netwerk24 dat die kunste “in die besit van links-liberale praktisyns en gehore” sou wees.
Maar is Fourie en Kok en soveel ander in die moderne tydsgewrig, se konseptualisering van regsheid of linksheid nuttig en korrek? Nie een van hulle, en soveel ander kommentators, omskryf ooit wat hulle met daardie soort etikettering bedoel nie. Maak dit enigsins ‘n verskil, of is dit net lastige retoriese taalgebruik?
Hoe onderskei ons ons politieke linkerkant van ons regterkant?
Die regsfilosoof en etiekkenner John Tasioulas skryf in Januarie 2021 'n belangrike en rigtinggewende artikel op die aanlynpublikasie Aeon, getiteld “Conceptual overreach threatens the quality of public reason”. Tasioulas se kernargument is dat die begrippe wat ons in openbare debat en gesprekvoering gebruik om ons politieke idees oor te dra, die slagoffers is van “begripskruip”: Begripsomskrywings word onoordeelkundig uitgebrei om die emosionele en retoriese krag wat daarin opgesluit is, te ontgin vir strategiese politieke redes. 'n Belangrike aandrywer van begripskruip is die geweldige spoed waarteen inligting in die moderne era vloei, en die impuls-geleide, “massa-mens” effek wat sosiale media moontlik maak.
Aldus Tasioulas:
“[Conceptual overreach] occurs when a particular concept undergoes a process of expansion or inflation in which it absorbs ideas and demands that are foreign to it. In its most extreme manifestation, conceptual overreach morphs into a totalising ‘all in one’ dogma.”
Tasioulas beskryf hoe begripskruip 'n probleem raak en lei tot intellektuele verwarring en veroorsaak dat mense verby mekaar praat oor politieke en sosiale vraagstukke:
“At a time of political polarisation domestically, during which we’re also witnessing the rise of authoritarianism globally, it’s all the more imperative to keep the concepts on which our public discourse relies in good repair.”
Die willekeurige en onoordeelkundige gebruik van die links-regs etikette val ook binne die begripskruip-gevaarsone. Dit het gewoon te maklik geword om 'n politieke opponent of teenstander in 'n debat of oop gesprek, met 'n totaliserende regs of links etiket te karakteriseer. Die gevoelens, retoriese mag en pathos wat daardeur oor en weer gegooi word, vertroebel en brandmerk mense. In Podcastistan of in ideologiese mediaborrels kan hierdie praktyk natuurlik baie punte wen, veral indien vrye debatvoering as 'n soort Nietzschiaanse geveg tot die dood toe opgestel word.
Maar as ons vrye debat en die oop gesprek eerder as 'n belangrike instrument om waarheidsoeke en oplossinggerigtheid beskou, gaan dit nie help as ons die boublokke van goeie argument met ondeurdagte of misbruikte terminologie vertroebel nie.
Paddas, bergklimmers en die Franse Revolusie
Die links-regs politieke spektrum het sy wortels in die revolusie in Frankryk in die laat 1700’s. Tydens sessies van die Nasionale Vergadering, wat die nuwe wetgewer en samekoms van revolusionêre politieke groeperinge was, het politieke faksies, klubs en proto-politieke partye konvensioneel in sekere blokke op die banke van die Salle du Manège in Parys plekke ingeneem. Die regterbanke was groepe soos die Club des Feuillants, wat 'n voorsetting van die monargie soos gekwalifsieer deur 'n grondwet, voorgestaan het. In die linkerbanke was daar partye soos die Jakobynse politieke klub, wat uit twee vername faksies bestaan het, naamlik die Girondyne en die sogenaamde “Montagnards”, of “berggangers”. Die Bergganger-faksie het hoog bo in die linkerbanke gesit en oor die res van die vergadering getuur, vandaar hul benaming. Daar was ook afgevaardigdes wat nie juis by die groepe in die linker- en regterbanke ingepas het nie. Hulle het maar gesit waar daar plek was, of naby die groter linker- of regterbanksitters met wie se standpunte hul die meeste kon vereenselwig. 'n Vername groep uit hierdie geledere was “die Moerasgangers” (le Marais) wat gereeld as paddas (crapauds du Marais) uitgekryt is.
Hierdie groepe het nie op die linker- of regterbanke gesit omdat links of regs iets inherent polities beteken nie. Ons moderne toekenning van links-regs etikette het eerder te doen met die geskiedenis wat uit hierdie sitplek konvensies voortgevloei het. Die linkerbanksitters het oor die algemeen beleide en ideologiese posisies nagestreef wat op meer maatskaplike gelykheid gemik was. Die regterbankers het eerder verlief geneem met beleid wat maatskaplike hiërargieë ter wille was. Links en regs het in omgangstaal egter vertroebelend vermeng geraak met die begrippe liberaal en konserwatief, en deesdae veral met die begrip progressief.
“Gelykheid versus hiërargie” verskil van “Behoudendheid versus Verandering”
Die Franse revolusionêre afbakening, wat uit iets so eenvoudigs soos sitplekkeuses voortkom, skep 'n tydloos gerieflike spektrum, al is dit net vir die gelykheidsvraagstuk. Dit vra die aanvangsvraag, waar staan ‘n politieke rolspeler wat gelykheid betref? Die antwoord hierop, op ‘n glyskaal tussen ekstreme gelykheidstrewes en ekstreme hiërargiese strewes, kan gerieflik deur die aanwysers “links” en “regs” begryp word.
Maar liberalisme het regstreeks min hiermee uit te waai. In kort, dui dit eerder op ‘n ideologie wat met die mens se vryheidstrewes gemoeid is, daarom die Latynse wortelwoordjie “liber”, wat vryheid beteken. Daarom dat jy linker- en regterkant liberalisme kry: Eersgenoemde beskou vryheid- en gelykheidstrewes as belangrike politieke sienings, terwyl laasgenoemde vryheid beklemtoon, maar dalk minder gepla is oor gelykheid.
Konserwatisme is ook nie per definisie op maatskaplike hiërargie of gelykheidstrewe ingestel nie. Dit verwys na ‘n ideologiese posisie wat erns maak met die behoud van kulturele, ekonomiese en ander maatskaplike praktyke, om verskeie redes. Soos dat verandering versigtig aangepak moet word, of nie noodwendig goed is nie. Of dat ouer of eietydse samelewingstrategieë gewoon werk, of nie werk nie. Laasgenoemde is ‘n soort “pragmatiese” konserwatisme, wat argumenteerbaar dalk die posisie van oom Paul Kruger was, met sy bekende aanhaling: “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is en bou daarop die toekoms”.
Progressivisme plaas weer ‘n premie op verandering en die goedheid wat daarin opgesluit sou wees. Sommige progressivismes beskou die nastreef van maatskaplike gelykheid as kernbelangrik, en vorm dus links-progressivisme. Regs-progressivisme is minder gepla oor gapings in maatskaplike gelykheid tussen mense, en beklemtoon die proses om vooruitgang deur groei aan te por. Die Substacker N.S Lyons het hieroor ‘n besondere insig geskryf, getiteld “The rise of the Right-Wing Progressives”.
Progressivisme en konserwatisme is dus baie meer duidelike teenpole, of minstens reaksies op mekaar se agendas, as wat liberalisme en konserwatisme is. Dikwels word liberalisme en konserwatisme kwaai teen mekaar opgestel, terwyl hulle in die praktyk baie meer in tandem funksioneer as konserwatisme en progressivisme.
Waar kom die verwarring tussen die links-regs spektrum met konserwatisme, liberalisme en al die ander “-ismes” dan vandaan? Vermoedelik vanuit dieselfde Franse revolusionêre konteks. Die regterbankers van die Franse Nasionale Vergadering was weens hul aandrang op die behoud van die monargie in een of ander vorm, regs en konserwatief, omdat die behoud van die ancien régime ook sou neerkom op die behoud van die maatskaplike hiërargieë wat uit die ou feodale tyd voortbestaan het. Die linkerbankers was links en progressief, omdat hulle verandering wou sien, en bepaald in die rigting van maatskaplike gelykheid.
Vandag aanvaar ontleders en kommentators sommer maklik dat linksheid, progressivisme en sosialisme, byvoorbeeld, in een mandjie hoort. Dat regs en konserwatief dieselfde ding is. Sommige gooi links en liberaal sommer gou en sonder meer in dieselfde kraal. Maar 'n argeologie van hierdie begrippe wys dat hulle eintlik besonderhede van ons politieke ervarings aanspreek, en nie versamelbegrippe is wat sonder meer teen mense vasgespeld kan word, asof dit opsigself die argumentslyn volbring nie.
Behoorlik beskou, is linksheid en regsheid onafhanklike veranderlikes: Ongeag die tydsgewrig, vra dit hoe 'n politieke rolspeler ten opsigte van gelykheid en hiërargie geposisioneer is.
Konserwatisme en progressivisme is eerder kontekstuele, tydsgebonde veranderlikes: Gister se progressiewe ideale, soos die strewe na staatsbeheerde industrieë tydens die Russiese Rewolusie, word gou vandag se konserwatiewe beleide, soos die pogings om ‘n staatsbeheerde ekonomie in Rusland na die val van die Sowjetunie te behou.
Daarom dat 'n mens verskynsels soos linkse konserwatisme kry: ‘n Strewe om maatskaplike gelykheid kan saamloop met ‘n ideologiese premie op die behoud van bestaande of ouer samelewingstrategieë. Die Duitse Sahra Wagenknecht Alliansie is hiervan ‘n eietydse voorbeeld.
Daar is ook linkse nasionalisme, wat maatskaplike gelykheid en selfbeskikking vir ‘n etniese of nasie-groep identiteit terselftetyd nastreef. Ouer weergawes van die ANC en die Ierse party Sinn Fein is voorbeelde hiervan. Ek sal selfs reken dat die Solidariteit Beweging, gegewe hul stryd om maatskaplike gelykheid deur 'n aandrang op gelykwaardige kulturele- en arbeidsregte, eerder ‘n soort links-konserwatiewe en links-nasionalistiese beleidsraamwerk volg.
Dit is moontlik dat verskillende interpretasies van maatskaplike gelykheidstrewes, soos die van die Solidariteit Beweging, Sinn Fein en die ANC, ideologies “soortgelyk” kan wees, hoewel hul praktiese programme en kiesafdelings baie verskillende prioriteite kan bevat. Politieke teenstanders is nie noodwendig ook ideologiese teenstanders nie. Daarvan is die faksies van die Jakobynse Klub wat ek hierbo bespreek het, goeie voorbeelde. Die Girondyne en Montagnards was ideologies op dieselfde bladsy, maar hul kiesafdelings het geweldig verskil.
Pas ons gedeelde tools op
Tydens 'n RSG onderhoud met my en die politieke ontleder Theo Venter vroeër vanjaar, het Venter heftig gestribbel teen my stellings oor skynbaar teenintuïtiewe politieke posisies, soos regs-liberalisme en links-konserwatisme, wat ek ook in my artikel op Netwerk24 op 14 Februarie vanjaar bespreek het. Venter was onthuts: links en regs, ageer hy, het te doen met konteks, en in Suid-Afrika het dit te doen met wit en swart.
Met alle respek aan Theo, was ek verbyster deur die gereduseerde aard van sy teenargument. Eerstens, waarom sou witheid en/of swartheid op linksheid en/of regsheid neerkom? Daar was geen verduideliking daaroor nie, miskien oor daar nie tyd was in die onderhoud nie. En tweedens, het dit gedui op die anargiese aard van ons openbare redevoering wanneer dit by die behoorlike aanwending van politieke begrippe kom.
Almal maak soos hulle wil, en soos John Tasioulas aanvoer, kan dit nie goed wees vir die gehalte van openbare diskoers nie. Ons het in die eerste plek die vermoë, en het die praktyk ontwikkel, om nuwe begrippe te skep om ons politieke en ander werklikhede te beskryf juis omdat alles nie uniform en eenvoudig is nie. Verskillende begrippe is as gevolg van die kompleksiteit van die menslike bestaanservaring. Ons kan nie kompleksiteite en politieke aansprake vereenvoudig, of erger, wegwens, deur ons begripsmatige gereedskap weens misbruik van sinvolheid en betekenis ontdaan te laat nie. Soos Tasioulas sy skrywe afsluit:
“Preserving the integrity of our concepts, in other words, is not the same as ossifying our political opinions or arrangements… The responsibility to do so falls on all of us, but especially on the wielders of great public and private power. Not succumbing to conceptual overreach cannot, of course, guarantee success in our political endeavours, but it does remove one important cause of failure.”
Gaan maak dus weer seker waar sit links en waar sit regs. En moenie skroom om vir ander deelnemers aan die groter oop gesprek, op daardie naunses te wys nie.
Nog artikels deur Frederik van Dyk: