My reis na radikaal bevrydende humaniteit: 'n Vlam wat motte trek
’n Lewe sonder dogma, maar nie sonder betekenis nie.
Soos motte na 'n kers, trek my gedagtes en plasings op sosiale media dikwels die aandag van dwepers en skynheiliges. Onlangs het 'n plasing van my op Facebook weer 'n stortvloed van reaksies uitgelok – veroordelende kommentaar, dreigemente van hellevuur, en selfs goedbedoelde maar neerbuigende beloftes dat ek op die oordeelsdag my tande sal kners.
Hierdie ervaring, hoe onaangenaam ook al, het my weer laat nadink oor my reis: waarom ek vandag 'n radikaal bevrydende humaniteit verkies bo die dogmatiese Christelike geloof, waarin ek eens gewortel was.
In 'n wêreld wat al hoe meer divers en kompleks word, is verdraagsaamheid en medemenslikheid deugde wat 'n gesonde samelewing onderlê. Tog is dit ironies dat baie georganiseerde godsdienste, veral die Christelike geloof soos dit dikwels op platforms soos Facebook en in kerke verkondig word, meer bekend is vir hul veroordelende houding as vir hul omgee.
My reis na radikaal bevrydende humaniteit is nie een van haat of verwerping van moraliteit nie. Dit is 'n bewuste keuse vir 'n meer inklusiewe, mensgesentreerde benadering tot die lewe. Hierdie artikel vertel die verhaal van daardie reis, en waarom ek glo dat radikaal bevrydende humaniteit nie net vir my vryheid gegee het nie, maar ook 'n pad bied na 'n meer deernisvolle wêreld.
Wanneer geloof se mantel ’n meulsteen word
Die skaduwee van georganiseerde godsdiens hang soos ʼn doodskleed om baie gelowiges en word ʼn meulsteen om hulle nek. Ek is grootgemaak in 'n Christelike tradisie, waar geloof nie net 'n persoonlike oortuiging was nie, maar 'n allesomvattende raamwerk vir moraliteit, gemeenskap en betekenis.
Die kerk was 'n plek van troos, maar ook van reëls – reëls wat dikwels rigied en uitsluitend was. As kind het ek die stories van Jesus se deernis en liefde vir die gemarginaliseerdes met verwondering aangehoor, maar namate ek ouer geword het, het ek 'n kloof begin opmerk tussen sy leerstellings en die praktyke van die kerk.
In my tienerjare en vroeë volwassenheid het ek reeds al hoe meer ongemaklik gevoel met die veroordelende toon van baie Christelike gemeenskappe. Die klem was dikwels op sonde, gehoorsaamheid en die vrees vir goddelike oordeel, eerder as op die liefde en aanvaarding waaroor Jesus gepreek het.
Mense wat nie aan die kerk se norme voldoen het nie – of dit nou oor hul seksualiteit, lewenstyl of selfs hul vrae oor die geloof gegaan het – is dikwels uitgesluit of as "verlore" bestempel.
Hierdie houding het my diep geraak, veral toe ek as nuusredakteur van Kerkbode begin vrae stel het oor die logika en etiek van sekere leerstellings. Ek het vanuit die binnekring van die NG Kerk al hoe meer tot die besef gekom “something is rotten in the state of Denmark”. Daar is 'n wydverspreide en ernstige probleem in die Christelike geloof wat aangespreek moet word.
Twis in die binnekamer
My twyfel was nie gebore uit rebellie nie, maar uit 'n opregte soeke na waarheid. Hoe kon 'n God van liefde mense verdoem oor dit vir wie hulle liefhet? Waarom was kritiese denke en vrae oor die Bybel so dikwels taboe? En hoekom het die kerk se fokus op dogma dikwels meer skade as goed gedoen? Hierdie vrae het my gelei tot 'n pynlike maar bevrydende besef: die Christelike geloof, soos wat ek dit ervaar het, is nie meer versoenbaar met my waardes van verdraagsaamheid, rede en medemenslikheid nie.
Gaandeweg het dit gelei tot 'n innerlike ontwaking en die ontdekking van 'n radikale bevrydende humaniteit.
My eerste kennismaking met die beginsels van hierdie lewensbeskouing was nie 'n dramatiese openbaring nie, maar 'n geleidelike proses van lees, nadenke en gesprekke met ander wat soortgelyke vrae gevra het. Ek het begin verstaan dat 'n lewensbeskouing gegrond in die waardigheid, gelykheid en potensiaal van alle mense moontlik is sonder die beperkings van godsdiens. Hierdie benadering plaas rede, etiek en empatie bo dogma of bonatuurlike gesag, en dit streef na 'n wêreld waar mense saamwerk om die menslike ervaring te verryk.
Van dogma na deernis
Wat my die meeste aangetrek het tot humaniteit, of humanisme as jy dan wil, was die inklusiwiteit daarvan. In teenstelling met die uitsluitende aard van baie godsdienstige stelsels, omhels humaniteit mense ongeag hul agtergrond, geloof of lewenskeuses. Dit erken dat moraliteit nie afhanklik is van 'n goddelike bron nie, maar gewortel is in ons gedeelde menslikheid – ons vermoë om mee te voel, te redeneer en te sorg. Hierdie insig is bevrydend: dit het my toegelaat om my morele kompas te herdefinieer, vry van die skuld en vrees wat so dikwels met godsdiens gepaard gaan.
Tog was my oorgang na hierdie lewensbeskouing nie sonder uitdagings nie. In 'n gemeenskap waar godsdiens diep gewortel is, word die keuse om geloof te verlaat dikwels met argwaan of vyandigheid begroet. Veral op sosiale media kry ek gereeld te make met veroordelende kommentaar van gelowiges wat my siening as "boos" of "antichristelik" beskou. Hierdie reaksies het my laat besef hoe min mense werklik verstaan wat 'n mensgesentreerde benadering behels – en hoe diep die vrees vir verandering in sommige godsdienstige kringe gewortel is.
In my reis het ek soms oomblikke ervaar wat dieper voel as wat woorde kan beskryf – 'n gevoel van verwondering, verbondenheid of betekenis wat my herinner aan die rykdom van die menslike bestaan. Dit kan die stilte van 'n sonsondergang wees, die warmte van 'n gedeelde lag, of die besef dat ons almal deel is van iets groter – nie in 'n bonatuurlike sin nie, maar in die ingewikkelde tapisserie van lewe en verhoudings.
Die hiermaals as heilig
Hierdie ervarings is vir my nie gewortel in 'n hiernamaals of bonatuurlike kragte nie, maar in die hiermaals – 'n term wat die Afrikaanse digter Lina Spies gebruik om die waarde en skoonheid van die hier en nou te beklemtoon, as teenpool vir die godsdienstige fokus op 'n lewe na die dood.
Spies se "hiermaals" resoneer diep met my visie van radikaal bevrydende humaniteit. Dit is 'n oproep om die huidige oomblik te vier, om betekenis te vind in die alledaagse, en om die menslike ervaring te omhels sonder die behoefte aan bonatuurlike verduidelikings. Vir my is die hiermaals die ruimte waar ek de diepte van menslike emosies en verbintenisse vind – oomblikke wat my laat voel ek is deel van iets groters, nie omdat daar 'n goddelike plan is nie, maar omdat die lewe self so ongelooflik kompleks en kosbaar is. My benadering gee my die vryheid om hierdie hiermaals ten volle te waardeer, vry van de vrees vir oordeel of die afleiding van 'n beloofde hiernamaals.
Ek is versigtig om hierdie gevoelens aan terme soos "spiritualiteit" te koppel, want dit word dikwels verkeerd verstaan as iets wat met bonatuurlike kragte verband hou. Vir my is die hiermaals heeltemal menslik en natuurlik – dit is die hart van wat dit beteken om lewendig te wees. Dit is die vreugde van 'n vriend se glimlag, die stil krag van 'n oomblik alleen in die natuur, of die warmte van 'n daad van vriendelikheid. My radikaal bevrydende humaniteit vier hierdie oomblikke as die kern van betekenis, en die hiermaals is die lens waardeur ek dit sien.
Een van die mees treffende insigte van my reis was die besef dat die "oorvertelde Jesus" – die figuur wat in die Evangelies, veral in die Bergrede, as 'n voorstander van deernis, vergifnis en menslike waardigheid uitgebeeld word – in wese 'n humanis was.
Ek verwys nie na die dogmatiese Jesus van die kerk, wat dikwels in rigiede leerstellings en oordele gevange is, of selfs na die historiese Jesus, van wie ons feitlik niks met sekerheid weet nie. Om die waarheid te sê, ek is nie eers oortuig dat Jesus, soos hy in die verhale beskryf word, noodwendig bestaan het nie. Tog glo ek dat iemand, miskien in die stofstrate van Judea, sulke waardes van liefde en gelykheid verkondig het, en dit is die beginsels wat vir my saak maak.
In die Bergrede, soos dit in die Evangelies opgeteken is, sien ek 'n visie van 'n wêreld waar die sagmoediges geseën is, waar vyande liefgehê word, en waar mense opgeroep word om mekaar te behandel met die respek en deernis wat hulle self verlang. Hierdie Jesus het met die verstotelinge van sy tyd geassosieer – tollenaars, prostitute, melaatses – en hy het die godsdienstige elite gekritiseer vir hul skynheiligheid en rigiditeit. Sy oproep om "jou naaste lief te hê soos jouself" en om die "minstes" in die samelewing te dien, weerspieël die kernwaardes van humaniteit: empatie, gelykheid en die strewe na 'n beter wêreld.
Tog het die georganiseerde godsdiens wat in Jesus se naam ontstaan het, dikwels in stryd geraak met die gees van hierdie boodskap. Oor die eeue het kerke klem gelê op dogma, beheer en uitsluiting, eerder as op die radikale aanvaarding wat die oorvertelde Jesus voorgestaan het. Die ironie is dat baie van die Christene wat my op sosiale media veroordeel, blykbaar blind is vir hierdie gaping. Hulle fokus op reëls en oordeel, terwyl die Jesus van de Bergrede se boodskap een van medemenslikheid en verlossing was – waardes wat radikaal bevrydende humaniteit ook omhels.
Hierdie insig het my gehelp om afstand te kry van die Christelike geloof. Ek het nie geloof verlaat omdat ek de beginsels van die oorvertelde Jesus verwerp het nie, maar omdat ek glo dat sy waardes beter buite die beperkinge van georganiseerde godsdiens verwesenlik kan word. Radikaal bevrydende humaniteit, met sy fokus op rede en deernis, voel vir my soos 'n natuurlike verlenging van die ideale wat in die Bergrede gevind word, vry van die dogma en skynheiligheid wat so dikwels met kerke geassosieer word.
Vir my was ʼn radikaal bevrydende humaniteit 'n nuwe begin.
My keuse om myself as 'n radikaal bevrydende humanis te beskryf, is nie bloot 'n etiket nie, maar 'n verklaring van vryheid en doelgerigtheid. Die term "radikaal" dui op 'n fundamentele breuk met die tradisies en instellings wat my eens gedefinieer het.
Dit is 'n erkenning dat die Christelike geloof, soos wat ek dit veral by Kerkbode ervaar het, nie meer versoenbaar is met my ideale van ware menslike vryheid, kritiese denke en onafhanklike morele ontwikkeling nie.
Wat in ’n naam skuil
"Bevrydend" verwys na die proses van losbreek uit die kettings van dogma, skuld en vrees – 'n proses wat soms pynlik maar uiteindelik verlossend was.
My vriend Ben du Toit, die oud predikant en teoloog, het my laat besef alle gelowe is in wese fundamentalisties. Dit maak nie saak hoe akkommoderend die boodskap is wat hulle probeer verkondig nie, iewers is daar 'n punt waaragter mens nie meer vrae mag vra nie. Dit was Ben wat die term radikaal bevrydende humaniteit by my geplant het. Hy skryf breedvoerig daaroor in sy boek God: Is daar 'n ander antwoord?
Hy verkies die term humaniteit omdat humanisme met die -isme aan die einde net soos ateïsme en ander –ismes dikwels ʼn negatiewe konnotasie dra, veral in godsdienstige kringe waar dit as antichristelik of moreel relatief beskou word. Terwyl humanisme 'n filosofiese stelsel is wat menslike waardes en rede sentraal stel, fokus humaniteit op die praktiese, universele deugde van medemenslikheid en empatie.
My radikaal bevrydende humaniteit omhels hierdie deugde, maar gaan verder deur 'n lewensbeskouing te bied wat vry is van dogma, gegrond in die hiermaals en die krag van menslike potensiaal. Humaniteit verwys na die eienskap of deug van menslikheid, wat dikwels geassosieer word met medemenslikheid, deernis, empatie en goedhartigheid teenoor ander mense (en soms diere). Dit is 'n morele of emosionele kwaliteit wat mense se vermoë beskryf om meegevoel en sorg vir mekaar te toon.
Met 'n radikaal bevrydende humaniteit, grond ek my lewe in drie kernbeginsels:
Redenasie: Ek glo in die krag van kritiese denke en logiese besluitneming om morele en eksistensiële vrae te beantwoord. Dit beteken nie dat ek die diepte van menslike ervaring verwerp nie, maar dat ek rede as 'n betroubare gids beskou.
Empatie: My menslike verbintenisse is gewortel in die vermoë om die wêreld deur die oë van ander te sien. Empatie laat my toe om mense te aanvaar en te ondersteun, ongeag hul agtergrond of oortuigings, en;
Gelykheid en regverdigheid: Ek streef na 'n wêreld waar alle mense se waardigheid en regte gerespekteer word. Dit beteken om onreg te bevraagteken en te werk aan 'n samelewing wat inklusief en ondersteunend is.
Hierdie beginsels vorm die basis van my lewensbeskouing, maar hulle is nie staties nie. Humaniteit moedig voortdurende refleksie en groei aan, en ek is steeds besig om my begrip van wat dit beteken om mens te wees, te verdiep.
Gelowiges wonder dikwels waarom stap mense weg van geloof. My reis is nie uniek nie. Wêreldwyd wend baie mense hulle tot humaniteit of ander sekulêre lewensbeskouings as 'n reaksie op die beperkinge van georganiseerde godsdiens.
Die redes hiervoor is uiteenlopend, maar sluit dikwels die volgende in:
Etiese konflik: Baie mense vind dat godsdienstige morele raamwerke verouderd of problematies is. Byvoorbeeld, die Bybel se standpunte oor kwessies soos homoseksualiteit of vroue se rolle strook nie meer met moderne begrippe van gelykheid en regverdigheid nie.
Gebrek aan bewyse: Vir sommige, soos ek, is die afwesigheid van empiriese of rasionele gronde vir geloof in God of bonatuurlike gebeure 'n deurslaggewende faktor. Humaniteit bied 'n alternatief wat gegrond is in wat ons kan waarneem en verstaan.
Persoonlike groei: Die proses om geloof te verlaat is dikwels deel van 'n breër soeke na selfbeskikking en outonomie. Dit gaan oor die begeerte om self antwoorde te vind op die groot vrae van die lewe, eerder as om afhanklik te wees van 'n voorgeskrewe dogma.
Hierdie faktore weerspieël nie 'n verwerping van moraliteit of die diepte van menslike ervaring nie, maar 'n heroriëntering van waar ons betekenis en etiek vind. Vir my was dit 'n bevryding om te erken dat ek my eie morele kompas kon bou, gegrond in menslike behoeftes en empatie, eerder as in goddelike bevele.
Teen die karikatuur in
Ondanks die positiewe aspekte van radikaal bevrydende humaniteit, bly dit 'n benadering wat dikwels misverstaan word, veral in godsdienstige kringe. My ervaring op sosiale media is 'n treffende voorbeeld hiervan. Die kommentare wat my plasings uitlok wissel van openlike vyandigheid tot neerbuigende “bekeringspogings”. Wat opvallend is, is die gebrek aan begrip oor wat my siening werklik is. Vir baie van my kritici is my benadering 'n vae sinoniem vir ateïsme, morele relativisme of selfs Satanisme – 'n karikatuur wat weinig met die werklikheid te doen het.
Hierdie wanpersepsies spruit uit verskeie bronne. Eerstens is daar die historiese spanning tussen mensgesentreerde benaderings en godsdiens, veral tydens periodes soos die Verligting, toe rede en wetenskap die gesag van die kerk uitgedaag het.
Tweedens speel vrees 'n groot rol: vir sommige gelowiges is die idee dat moraliteit en betekenis sonder God moontlik is, ondenkbaar. Laastens dra die gepolariseerde aard van hedendaagse debatte, veral op platforms soos Facebook, by tot die vereenvoudiging van komplekse idees tot etikette wat maklik deur Bybelboelies as wapens gebruik word.
Tog glo ek dat hierdie misverstande oorkom kan word deur dialoog en opvoeding. Humaniteit is nie teen godsdiens nie; dit is vir mense. Dit is 'n uitnodiging om saam te werk aan 'n wêreld wat meer regverdig en deernisvol is, ongeag ons oortuigings. Deur my eie storie te deel, hoop ek om ander aan te moedig om humaniteit met 'n oop gemoed te benader.
My reis na radikaal bevrydende humaniteit is uiteindelik 'n viering van vryheid, rede en deernis. Dit is 'n verwerping van die beperkinge van dogma en 'n omhelsing van die moontlikhede wat kom wanneer ons mense in die middel van ons wêreldbeskouing plaas. Dit is ook 'n oproep tot aksie: om die skynheiligheid van georganiseerde godsdiens uit te daag, om verdraagsaamheid en empatie te bevorder, en om 'n samelewing te bou waar alle mense se waardigheid gerespekteer word.
’n Uitnodiging tot menswees
In die woorde van Yuval Noah Harari: “For thousands of years, humans believed that authority came from the gods. Then, during the modern era, humanism gradually shifted authority from deities to people.”
Hierdie verskuiwing is nie 'n verwerping van moraliteit of die diepte van menslike ervaring nie, maar 'n erkenning dat ons, as mense, die krag en verantwoordelikheid het om ons eie lot te vorm. Met 'n radikaal bevrydende humaniteit dra ek hierdie visie met trots, en ek nooi ander uit om saam met my te droom van 'n wêreld wat waarlik menslik is.
Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis.
Bravo, Jean. In liefde
Sjoe. Moeilike woorde. Heeltemal verstaanbaar en eerlik- my reis is ook een van ontnugtering.
Self wonder ek oor die skade wat dogmatiese veroordelings, leerstellings aan die mensdom gemaak het.
Ek wonder tog ook of die idee van ‘n self-verlosde humaniteit genoeg gewig dra, genoeg werk kan doen, vir ‘n ware bevryding vir ‘n dieper betekenis in menswees.