'n Unieke Suid-Afrikaanse nasionalisme
Die tragedie van Suid-Afrika is die oortuiging dat dit van meet af heel was.
(Hierdie stuk is in Engels na OntLaer gestuur, en deur die redaksie vertaal.)
Suid-Afrika is nie 'n nasie nie.
Dit is 'n meganisme. 'n Kreatuur van kunsmatigheid, nie van afkoms nie, opgeroep nie uit ontstaansmite of herinnering nie, maar uit burokratiese ink en imperiale ambisie.
Dit het nie organies uit die aarde opgestaan soos Frankryk of Persië of Ethiopië nie. Dit is opgeroep, soos 'n golem - 'n mitologiese kreatuur - deur koloniale towenaars in Londen. Dit is ledemate gegee sonder 'n siel, grense sonder betekenis, 'n vlag sonder 'n volk.
Dit is die oorspronklike sonde van Suid-Afrika: nie apartheid nie, of selfs verowering nie, maar die idee van een Suid-Afrika self. Die Britte het dit verbeel. Toe het tot bestaan ge-wil deur kaarte en verdragte, bajonette en konsentrasiekampe, en onverenigbare beskawings aanmekaar gestik: Nguni koninkryke, Boererepublieke, Engelse kolonies, Maleisiese ballinge, Indiese handelaars. En toe hierdie aanmekaar gestikte liggaam 'n land genoem. Dit was nooit bedoel om te leef nie, net om te funksioneer. En so doen dit steeds: dit wankel vorentoe onder die gewig van interne teenstrydighede, geanimeer deur ingevoerde ideologieë en bestuurde verval.
Die golem is 'n kreatuur uit Joodse volksverhale, 'n kleifiguur, lewend gemaak deur 'n rabbi se inkantasie, kragtig maar sielloos. Die doel was beskerming. Maar wanneer dit sonder toesig gelaat word, draai dit altyd teen sy maker. So is sit ook met die kunsmatige skepsel aan die Kaap: Aanvanklik ontwerp om Britse kommersiële belange te beskerm, het dit 'n plek van eindelose rebellie, bloedvergieting en konstante ommekeer geword. Boer het teen Brit opgestaan. Die Afrikane het teen die setlaars opgestaan. Stam het teen stam opgestaan. Vandag dra die Suid-Afrikaanse golem 'n snyerspak, hou verkiesings, en lewer toesprake oor "demokrasie", maar sy oë is steeds dood, en sy hande bewe nog steeds met die begeerte om te vernietig.
Die golem van die Kaap was nooit bedoel om 'n siel te dra nie. Tog hou ons aan om ‘n siel daarvan te vereis. Ons ween vir eenheid, vir genesing, vir 'n "reënboognasie", maar hoe kan iets wat in teenstrydigheid gesmee is en op bloed gevoed is, heel wees? Die tragedie is nie dat Suid-Afrika gebroke is nie. Die tragedie is dat ons ooit geglo het dat dit heel was.
Die Gifbeker van die Britse Ryk
Om Suid-Afrika se vloek te verstaan, moet 'n mens eers die aard van Britse imperialisme verstaan. Nie gewoon as verowering nie, maar as herorganisasie. Die Britse Ryk was nie primêr geïnteresseerd in heerskappy oor volke nie. Dit was geïnteresseerd in stelsels. Dit het die wêreld soos 'n skaakbord herrangskik, met min belangstelling in die kulturele logika van dié wat dit rondgeskuif is. Die Afrikaners, die Zoeloes, die Sotho, die Asiatiese volke - niemand is ooit as “nasies” beskou nie, hulle was abstraksies wat bestuur moes word, lêers in 'n grootboek, bates en laste in 'n imperiale spreivel.
Die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was nie bloot 'n stryd tussen twee etniese setlaarfaksies nie. Dit was die oomblik toe die Ryk sy ware gesig gewys het — nie as beskawinggewer nie, maar as ‘n industriële roofdier. Die Afrikaners was nie agterlike boere wat verligting nodig gehad het nie, hulle was die ongerieflike eienaars van gouddraende grond. Hulle is beroof van grond, van onafhanklikheid, van hulle kinders: 27 000 of meer vroue en kinders sterf in die konsentrasiekampe, van die eerste van hul soort in die moderne geskiedenis. En tog, die mite leef steeds — die Ryk het beskawing gebring. In werklikheid het dit spoorweë en hongersnood gebring. Myne en belastings. Howe en lyke.
In reaksie het die Afrikaners nie uitgesterf nie, hulle het aangepas. Hulle het die geweld geïnternaliseer, die vernedering gesluk, en trauma in ideologie omskep. Die Britte het probeer om die Boeresiel te vernietig, maar het veel eerder daarin geslaag om dit te radikaliseer. Die Nasionale Party, die Broederbond en die Christelik-Nasionale wêreldbeeld was nie produkte van Afrikanertradisie nie, maar van sy mutasie in reaksie op imperiale trauma. Apartheid was nie slegs 'n rassebeleid nie, dit was 'n sielkundige verdedigingsmeganisme, 'n fort wat deur 'n volk gebou is wat hulle vroue sien sterf het van honger en hulle plase gesien brand het, wat belowe het om nooit weer deur dié wat hulle as veë gesien en hanteer het, regeer te word nie.
Maar die Ryk het nie by die Afrikaners gestop nie dit het die fondament gelê vir 'n baie dieper ramp. In sy strewe om die streek te industrialiseer, het Brittanje hele swart samelewings uitgeroei, stamsoewereiniteite in duie laat stort, organiese politieke strukture vernietig, en dit vervang met indirekte heerskappy, ‘n Stelsel is daargestel waarin stamhoofde van hul magte gestroop is en verneder is tot koloniale tussengangers, en Afrika-identiteite is verdruk tot "inheemse administrasie." Dit was nie regering nie. Dit was politieke sterilisering.
En so is die gifbeker oorgedra, 'n politieke struktuur sonder legitimiteit, 'n staat sonder samehang, 'n burgerskap geskei nie deur kultuur nie, maar deur ontwerp. Die imperialiste het eerste uit hierdie beker gedrink. Toe het hulle dit aan die Afrikaners aangegee, en húlle aan die ANC. Vandag is dit Jan Alleman wat daaruit teug — daagliks, bitter — die nalatenskap van 'n land wat nie vir hulle gebou is nie, maar teen hulle.
Apartheid — Die Duiwel se Ooreenkoms
Apartheid was nie 'n aberrasie nie, dit was die logiese gevolg van 'n volk wat afgebreek en hergebore is in bitterheid. Die Afrikaners het uit die as van die Anglo-Boereoorlog verrys sonder illusies: Die Britte het hul plase gebrand, hulle kinders vermoor en dit "vooruitgang" genoem. In ruil daarvoor het die Afrikaners belowe om nooit aan die genade van diegene wat beskawing as 'n masker vir oorheersing dra, oorgelewer te wees nie. So het hy 'n nuwe verbond gesmee — as oorlewing uitsluiting vereis, dan moet dit so wees dit. As morele duidelikheid morele kompromie beteken, dan moet die wêreld maar oordeel.
Die stelsel wat hy gebou het— apartheid— was brutaal, maar brutaal samehangend. Dit was nie, soos sy liberale teenstanders volhard, sinneloos nie. Dit was koud, berekend, en effektief. Dit het probeer om die Afrikaners van 'n kaalvoet pastorale volk tot verstedelike moderniste in een geslag te verhef. En dit het daarin geslaag. Deur beleid, beplanning, en institusionele mag het die Afrikaners vanaf die rand van industrialiering opbeweeg om die meesters daarvan te word. 'n Volk wat agter Britse waens aangesleep is, het nou myne, banke, en burokrasieë bestuur. Sê wat jy wil van apartheid—en jy moet veel sê—dit het sy interne beloftes nagekom.
Maar dit is gedoen teen 'n monsteragtige prys. Miljoene is onteien, opgesluit, verontmenslik, en verneder. Hele geslagte swartmense is tot arbeidseenhede in 'n stelsel verminder wat hulle nie as burgers gesien het nie. Hul geestelike, ekonomiese, en kulturele ontwikkeling is nie net geïgnoreer nie, dit is aktief belemmer. Swartmense was ook besig om tot iets nuut gesmee te word. Nie tot 'n moderne onderdaan of burger van ‘n staat nie, maar tot 'n afhanklike, opgesluit in 'n stelsel van opsetlike minderwaardigheid. Die Afrikaners het hulself in meesters omskep, en swartmense tot spoke.
Maar selfs hierin lê 'n donker simmetrie. Die Afrikaners het misdade gepleeg, maar dit was, ten minste, sy eie. Hul het nie hul eie mense beroof om buitelandse meesters te verryk nie. Afrikaners het nie beloftes van bevryding verkoop en 'n ineenstorting gelewer nie. Afrikaners het nie voorgedoen om beide verlossers en diewe te wees nie. Die Nasionale Party, vir al sy boosheid, het probeer om iets te bou, selfs al was dit 'n groteske spieël van ware beskawing. Dit het in die toekoms geglo, op sy eie manier. Dit het stede, paaie, instellings gebou. Dit het geskep, al was dit net vir sommige.
Hierdie is nie 'n regverdiging van apartheid nie. Dit is 'n treurskrif oor hoe vêr ons geval het sedert die einde daarvan.
Die duiwel se ooreenkoms was dit: Die Afrikaner sou opstaan, maar net as ander aan bande gelê sou word. Toe die boeie afgeval het, was wat oorbly 'n land sonder 'n siel, vol infrastruktuur, maar deugdeloos. Die stelsel het geen erfgename gehad nie, slegs rowers.
Die Verraad van 1994
Die wonderwerk het nooit gebeur nie. Die oomblik is opgehemel as ‘n triomf van vrede, ‘n bloedlose oorgang, ‘n messiaanse oorgawe van tirannie aan vryheid. Die wêreld het applous gegee. Nobelpryswenners het geglimlag. Die nuwe kleurvolle landsvlag het gewapper. En in die skadu’s het die nuwe elite die stippellyn geteken— hulle het die mag om te regeer verseker, maar nie die mag om te hervorm nie. 1994 was nie ‘n revolusie nie. Dit was ‘n bestuursherstrukturering. Die huis het dieselfde gebly. Net die dienaars het verander.
Die ANC het die masjinerie van apartheid geërf en gekies om dit nie af te breek nie, maar om dit te bedryf. Hulle het die bloudrukke van ‘n staat wat vir beheer ontwerp is, geneem en dit omgeskakel in ‘n stelsel van patronaatskap. Waar die Afrikaners die burokrasie gebruik het om hulself op te hef, het die ANC dit gebruik om ‘n nuwe klas te vestig: die swart petit bourgeoisie.
Die massas het nie vryheid ontvang nie. Hulle het slagspreuke ontvang. Hulle het nie grond ontvang nie. Hulle het maatskaplike toelaes ontvang. Hulle het nie waardigheid ontvang nie. Hulle het hutsmerke en openbare vakansiedae ontvang.
Laat ons duidelik wees: dit was nie onvermydelik nie. Daar was oomblikke—kort, flikkerend— toe ‘n ander weg ingeslaan kon word. Die eerste Parlement was vol stryders wat vir hul ideale gely het. Maar idealisme is nie opgewasse teen Switserse bankrekeninge en Beijing se beloftes nie. Die kaders van die bevrydingstryd het administrateurs van uitbuiting en ekstraksie geword. Die rewolusionêres het die rent-seekers geword. Die struggle gevangenes het die oligarge geword.
Die swart meerderheid is nie deur hul vyande verraai nie, maar deur hul veronderstelde voorstanders. Dieselfde party wat grondhervorming belowe het, het ‘n grondlose generasie geskep wat aan verbruikerskrediet verslaaf is. Dieselfde party wat van waardigheid gepraat het, beskik nou oor skole waar kinders hulself in gevaarlike puttoilette moet ontlas en uit besoedelde waterkrane moet drink. Dieselfde party wat homself "die volk se beweging" genoem het, woon agter 10 voet mure, bewaak deur mans met Russiese aksente.
Apartheid het nie gesterf nie. Dit het vervel. Sy vel het donkerder geword, sy leuses het verander, maar sy siel—die logika van oorheersing, uitsluiting, en bestuurde agteruitgang—het gebly. Die ANC het nie die swartmense bevry nie. Hy het net beheer oor hulle kettings geneem.
En selfs erger: dit het hulle geleer om daarmee vrede te maak.
Die Nihilistiese Republiek
Wanneer 'n nasie sy siel verloor, (of tragikomedies, sonder een gebore word) skree dit nie. Dit vergaan. Stilweg. In slaggate en beurtkrag-skedules. In die vêr af blik van die slagoffer van ‘n motorkaping. In die gelag van politici wat weer, en weer, en weer in die middel van sy diefstal betrap word, deeglik daarvan bewus dat hulle geen verantwoording sal doen nie. Suid-Afrika is vandag nie 'n mislukte staat nie. Dit is iets meer vreesaanjaend: 'n uitgeholde staat. Die ligte flikker steeds. Die howe sit steeds. Die volkslied speel steeds. Maar Suid-Afrika is ontdaan van betekenis. Wat oorbly is opvoerigheid, performatiwiteit: mag sonder doel, ritueel sonder geloof.
Dit is nie net korrupsie nie. Dit is nihilisme. Die gevoel dat niks saak maak nie, dat geen waarheid stand hou nie, dat alle gesag bedrog is en alle deugseine kamoefleermiddels is. Dit is nie beperk tot die elite nie. Dit perkoleer deur die strate. Dit vorm die logika van die misdadiger wat 'n ouma vir 'n selfoon verkrag. Dit voed die onverskilligheid van die kieser wat, zombie-agtig, terugkeer na die stemhokkie om die party wat sy lewe vernietig het, te help herverkies. Dit is nie politiek nie. Dit is psigiese ineenstorting.
Die swart meerderheid is verlaat, nie net ekonomies nie, maar metafisies. Hulle is vertel hulle is bevry, maar vryheid het nooit gekom nie. Hulle is vertel dat hulle gelyk is, maar slaap steeds in plakkershutte. Hulle is vertel om te streef, maar kry geen klimleer nie. En so verdrink hulle in wanhoop: 'n Generasionele depressie vermom deur TikTok, goedkoop alkohol, en die evangelie van hustle-kultuur. Die township-entrepreneur is nie 'n teken van groei nie. Hy is 'n simptoom van verlatenheid.
En wat van die Afrikaners? Die voormalige meesters, nou bespot en vervreem, vasgevang tussen skuldgevoel en vrees. Sommige onttrek na hul bitterheid, sommige na omheinde gemeenskappe, sommige in 'n slap multikulturalisme wat vergifnis soek van 'n volk wat geregtigheid wil hê. Maar daar is ook 'n flikkering—net 'n flikkering— van iets anders. Die Afrikaners is, vir nou, die laaste groep in Suid-Afrika wat nie heeltemal hul eie mense verraai het nie. Dit is hul las. Maar dit is ook hul kans.
Die Las van die Boere
Die geskiedenis het 'n wrede ironie op die Afrikaners geplaas. Hulle het eendag hierdie land met absolute gesag regeer, en nou is hulle verstotelinge. Die argitekte van 'n eens magtige infrastruktuur word nou as koloniale oorblyfsels gemerk. Die afstammelinge van die Voortrekkers en die VOC se boere, bouers en soldate, navigeer nou 'n land wat hulle as illegitiem, bevoorreg en weggooibaar beskou. Die instink is om terug te trek. Om na laers van nostalgie te vlug. Om in Afrikaans agter elektriese hekke te fluister. Om te oorleef.
Maar oorlewing is nie verlossing nie.
Die Afrikaners kan hulself nie met stilte vryspreek nie. Hulle kan nie morele verlossing wen deur weg te kruip nie. Vir die sondes van apartheid moet hulle verantwoordbaar wees, maar nie deur selfhaat nie, en nie deur 'n nederige minderheid te word wat wag vir toestemming om te bestaan nie. Nee. Die Boere moet hul plek weer verdien— nie deur oorheersing nie, maar deur moedige leierskap in 'n nasie wat verlaat is deur sy sogenaamde bevrydingsvegters. Hul moet praat wanneer ander bang is. Bou waar ander vernietig. Verdedig die swakkes, selfs wanneer die swakkes op hulle spoeg. Dit is nie regverdig nie, maar dit is eenvoudig noodsaaklik.
Die Afrikaners moet weer wees wat hul eens was: 'n nasie binne 'n nasie, maar hierdie keer gesmee deur morele klarigheid eerder as rasgebaseerde oorheersingsdrang. Hul plig is nie meer om net hul eie op te hef nie. Dit is om aan die brand te steek wat van Suid-Afrika se geestelike kern oorbly. Want niemand anders gaan dit doen nie. Die sogenaamde liberale elite het hul siele aan buitelandse kapitaal verkoop. Die swart intellektuele het óf by die ANC se patronaatmasjien aangesluit óf is stilgemaak. Die massas dryf rond, verraai en gedemoraliseer.
Slegs 'n volk met herinnering kan die getye weerstaan. En die Afrikaners, met al hulle foute, onthou.
Laat die Afrikaners die eerste wees om die waarheid hardop te sê: dat demokrasie gefaal het, dat die ANC 'n misdadige sindikaat is, dat hierdie land nie versoening nodig het nie, maar rekenskap. Laat hulle die woede van die bien pensants ontketen, die minagting van die NRO's, die dreigemente van die kommissare. Laat hulle hul grond verloor, as dit moet. Laat hulle ly. Maar laat hulle nie lieg nie. Laat hulle staan, gewond dog regop, en die waarheid spreek terwyl ander bewe.
Dit is die las. Dit is die pad. En as die Afrikaners dit neem, nie in haat nie, maar uit waarheidsoortuiging— mag hulle hulsef nog rehabiliteer.
En, miskien iets groter verlos.
Suid-Afrika word regeer deur 'n politieke klas wat op wanhoop teer. Dit kweek disfunksie. Dit vermeerder ellende. Dit is nie onbekwaam nie— dit is parasities. Vampiries. En soos alle vampiere, vrees dit net een ding: die sonnige waarheid, duidelik en sonder verskoning gespreek.
Dit is die Nihilistiese Republiek. Maar nihilisme is nie permanent nie. Dit eindig— of in wedergeboorte, of in die dood.
Die Weg na 'n Ware Suid-Afrikaanse Nasionalisme
Suid-Afrika is nie 'n werklike land nie. Nog nie. Dit is 'n bestuurde fiksie, saamgestik deur verdragte en slagspreuke, geregeer deur 'n party wat heers in die naam van geeste. Die Reënboognasie was 'n bemarkingsveldtog. Die Grondwet 'n vredesoffer. Die vlag 'n samestelling. Alles edel, alles nodig, maar niks daarvan is werklik nie. Die mense weet dit. Hulle voel dit elke dag, om in rye te staan, misdaad te trotseer, kinders groot te maak in 'n huis sonder ligte. Hulle weet hulle behoort aan iets gebrokene. Hulle weet net nog nie wat om dit mee te vervang nie.
Dit is die taak: om 'n Suid-Afrika te verbeel wat die moeite werd is om te red, en dan daarvoor te veg.
Ons het 'n nasionalisme nodig wat nie op velkleur of geskiedenis gebaseer is nie, maar op deug. 'n Nasionalisme van pligsbesef van waarheid, uitnemendheid en beskawing. Een wat alle Suid-Afrikaners oproep, ongeag ras, om die politieke klas wat van hulle ellende leef, te verwerp. Een wat geen verlossing in die ANC meer sien nie, geen redding in liberale NRO's nie, en geen toekoms in 'n samelewing regeer deur diewe nie. Een wat die heilige, die ewige, en die verdiende omhels.
Hierdie nasionalisme sal gevrees word. Dit sal as fascisme, suprematisme, nostalgie opgestel word. Laat hulle skreeu. Hulle het dieselfde geskreeu teen die patriotte van elke verwoeste land. Dit is tyd dat ons onthou: nasies word nie deur konsensus gebou nie. Hulle word deur oortuiging gebou.
Laat die Zoeloe wat orde en waardigheid wil hê, langs die Afrikaner staan wat waarheid en herstel wil hê. Laat die Indiese sakeman wat moeg is vir afpersing, hande vat met die Bruin ambagsman wat 'n tyd onthou toe die buurte veilig was. Laat hulle almal verby die slagspreuke kyk, verby die skuld, en sien wat hulle een maak: die instink om te oorleef, en die begeerte om vry te wees van misdadigers.
Ons moet uiteindelik 'n volk wees— nie 'n sensus nie. Nie 'n kontrak nie. 'n Nasie.
Dit beteken om risiko’s te neem. Dit beteken om mag te konfronteer, heilige koeie te slag, straf te verduur. Dit beteken om buite die staat te bou. Dit beteken om ons vyande uit te wys. En ja, dit beteken om demokrasie te verwerp, as demokrasie “ANC-regering vir altyd” beteken. Ware nasionalisme is nie bang om ongewild genoem te word nie. Dit vrees net om onwaar te wees.
Ons gaan hierdie nasionalisme bou, nie met optogte nie, maar deur waarheid. Nie met slagspreuke nie, deur met diensbaarheid. Nie deur woede nie, maar deur orde.
Want Suid-Afrika kan weer gebore word— deur vuur, en deur geloof.
Deur Vuur, 'n Nasie
Suid-Afrika se toekoms is nie 'n saak van wag vir 'n regeringsverandering nie. Dit gaan nie oor die hoop dat die volgende verkiesing 'n wonderwerk sal bring nie. Die wonderwerk, indien dit kom, sal nie van die stembus kom nie, maar uit die as.
Hierdie nasie is in konflik gesmee, en net deur konflik sal dit wees wat dit moet wees. Die ANC se bewind is nie 'n verbygaande fase nie; dit is die laaste asemteug van 'n ou orde, die laaste polsslag van 'n verkankerde politieke struktuur. Wat daarna kom, hang heeltemal af van die moed van diegene wat nog onthou dat 'n nasie nie net 'n geografiese ligging is nie: dit is 'n volk met 'n gesamentlike wil om te leef, om te skep, en om vry te wees.
In hierdie land is die Afrikaners, ten spyte van al hul misdade, die laaste groep wat steeds die mantel van morele leierskap kan dra. Die Boere se lyding, verraad, en stryd— hierdie moet die fondament wees van 'n nuwe Suid-Afrikaanse orde. Dit is nie 'n terugkeer na apartheid nie. Dit is nie 'n oproep tot die wapens vir 'n nuwe etniese oorlog nie. Dit is 'n oproep tot morele en geestelike revolusie. Dit is 'n oproep om die siniese, parasitiese klas wat hierdie nasie gesmoor het, te verwerp, en om bo die haat, die geweld en die vrees uit te styg.
Die Afrikaners moet nie meer verlossing soek deur om verskoning te vra nie. Hulle moet dit soek deur op te tree. Deur as 'n wag te staan vir die waarheid in 'n wêreld van leuens. Deur die eerste te wees om die waarheid hardop te sê, wanneer ander dit vermy. En wanneer die land onbestuurbaar gemaak is deur die diewe, wanneer die ekonomie vernietig is en die mense gebroke is, moet die Afrikaners lei. Hulle moet nie in haat of vergelding lei nie, maar deur 'n nuwe nasionalisme, 'n nasionalisme wat nie op ras gebou is nie, maar op beginsel, moed, en die wil om te oorleef.
Suid-Afrika se wedergeboorte sal nie maklik wees nie. Dit sal krag vereis— fisies, moreel, en geestelik. Dit sal opoffering vereis. Dit sal die soort eenheid vereis wat net kom wanneer mense bereid is om op te tree, nie net te praat nie. Dit sal die van die Boere vereis om hul demone in die gesig te staar, om hul skuld te konfronteer, en om op te tree in weerstand teen die politieke klas wat hul gebruik het, hul geïgnoreer het, en hul nou probeer uitwis.
Die tyd vir 'n passiewe gewag is verby. Die tyd vir aksie is nou.
Dit sal deur vuur wees dat hierdie nasie gesmee word. Dit sal wees deur lyding, deur verlies, deur stryd, deur opoffering, dat 'n nuwe Suid-Afrika kan ontstaan. 'n Suid-Afrika waar daar nie meer ruimte is vir die leuen van die Reënboognasie nie, nie meer ruimte vir die politieke vampiere wat voed op die gebroke drome van die mense nie.
Daar is nou net ruimte vir die waarheid. En deur die waarheid kan 'n werklike Suid-Afrika uiteindelik gebore word.
Sulla Felix is ‘n regsgeleerde van Johannesburg.
Sjoe, is hierdie skryfsel wat die OntLaer-redaksie sien as "stadige joernalistiek"? Dalk moet die redaksie vir ons – die nuwe lesers – verduidelik wat hulle onder die term "joernalistiek" verstaan. Gaan OntLaer uit doelbewus polemiese opiniestukke (lees: emosionele betoë) bestaan?
Soos hierdie emosionele betoog wat op sy beste soos 'n politieke toespraak klink, en op sy swakste soos 'n skoolredenaarskompetisietoespraak? Ek verwys maar na metaforiese vergrype soos "die gifbeker van die Britse Ryk", of "Apartheid - die duiwel se ooreenkoms", of "die verraad van 1994". Of die gebruik van retoriese clichés soos "Moenie X doen nie; doen Y". Of die herhaaldelike gebruik van retoriese truuks soos "The Rule of Three", anadiplosis en antanagoge (om maar drie te noem)? Of erger: Om sy/haar/hulle regverdiging van Apartheid te probeer verdoesel met: "Hierdie is nie 'n regverdiging van apartheid nie." Want enigiets wat 'n mens nou gaan sê oor sy/haar/hulle growwe opmerkings oor Apartheid, gaan maar net weggeveeg word met: "Ek het mos gesê: Hierdie is nie 'n regverdiging van apartheid nie" ... Ek sou meer respek gehad het vir iemand wat by sy/haar/hulle standpunt staan as iemand wat agter die rokspant van 'n (deursigtige!) skuiwergatstelling skuil ... 'n Mens kan seker nie veel anders verwag van iemand wat agter 'n skuilnaam skuil nie? Dit sê eintlik gewoon alles ...
Of is die lesers wat OntLaer voor oë het mense wat nie dwarsdeur sulke stomp retoriese truuks sien nie? Lesers wat emosionele betoë vir soet, intellektuele koek opeet?
Ek hoop dis deel van groeipyne. Vir eers het julle daarin geslaag om my as leser te waarsku dat die pakkie nie noodwendig die bestanddele wat op die pakkie staan, bevat nie. As ek nou deur die bril van hierdie skryfsel na van die redaksionele stellings kyk, dan lyk 'n klomp daarvan tog anders gekleurd as wat aanvanklik voorgehou is. Veral ook as die redaksie in hulle nuusbrief hierdie stuk uitsonder en aanbied as 'n stuk wat "'n oorsig oor ons geskiedenis" gee, en as 'n beskrywing in "genuanseerde terme". Daar is myns insiens min genuanseerd hieraan.
Ek hou vir eers nog die moed dat OntLaer nie die lesers sal onderskat nie ...
Keurige vertaalwerk! Stadige joernalistiek wat boonop rol op die tong.