Oor Koeie, Kundigheid en Keuses
Daniël Eloff reflekteer oor die waarde van ou waarhede, die verval van kundigheid, en wat gebeur wanneer gevoel die plek van feite inneem.
Hierdie week melk ons die koei as beeldspraak.
Een van my voornemens met my bydraes tot OntLaer is om ou ideologiese en geskiedkundige koeie op te grawe. Nie om te herkou uit nostalgie nie, maar om te ondersoek of dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar nog regtig vanselfsprekend behoort te wees. Soms beteken dit om algemeen aanvaarde idees krities te bevraagteken, ander kere om te herbevestig waarom sekere waarhede juis so waardevol is. Soos Chesterton se heining ons waarsku, moet ons nie iets afbreek net omdat jy nie weet hoekom dit daar is nie. Eers moet jy die oorspronklike onstaansrede verstaan. In dieselfde gees wil ek terugdelf tot by die wortels van sommige oortuigings en sienings, nie net om te kritiseer nie, maar ook om self weer te leer.
Hierdie week het drie uiteenlopende stories my laat dink aan die waarde van so ’n benadering: Hans Pienaar se bydrae op OntLaer oor plaasgeweld; Konstantin Kisin se helder analise van die Douglas Murray–Dave Smith debat op The Joe Rogan Experience; en die immer tersaaklike geskiedkundige waarskuwing van William Shirer se matrasdik boek The Rise and Fall of the Third Reich.
Pienaar het self die beeld van ’n koei gebruik, “`n feit soos `n koei”, om die idee van `n onaantasbare waarheid te illustreer. En dalk is dit presies wat ons nodig het in `n tyd waar ou koeie óf vergeet, óf verkeerd onthou word.
Wanneer feite voel en gevoelens feite word
Pienaar se bydrae op OntLaer herinner ons daaraan dat elke plaasmoord uniek is — `n saak wat dikwels verlore raak tussen grafieke, menings, en politieke gesprekke oor plaasmoorde. Die menslike komponent, die lewens wat onherstelbaar beëindig word, word dikwels verswelg in die geveg oor wie die reg het om wat te sê, en hoe.
Ek moes terugdink aan my eie stuk vroeër op OntLaer oor die Kill the Boer-uitspraak deur die Konstitusionele Hof — spesifiek die gevaar wat ontstaan wanneer hofuitsprake deur die man op straat nie verstaan of aanvaar word nie. Dit is die skeur tussen die gereg en geregtigheid, tussen wet en waardes, wat gevaarlik is. En dit is presies waaroor Pienaar skryf: wat gebeur as traumatiese, werklike belewenisse vir mense op die platteland nie meer geld nie — of erger, as verdag verklaar word bloot omdat hulle in botsing kom met `n sekere wêreldbeskouing?
En dan, soos ’n kloutjie by die oor, sit Psira (die privaatsekuriteitsreguleerder) nou met voorstelle om die magte van sekuriteitsmaatskappye in te perk, die instansies wat vir duisende Suid-Afrikaners die laaste buffer teen gewelddadige misdaad is, insluitende op die platteland. Juanita du Preez het hieroor op OntLaer geskryf, en dis duidelik, ons verstaan van veiligheid, risiko, en verantwoordelikheid is self in `n aporia vasgevang.
Podcastistan en die oorlog teen kundigheid
Ek het lankal `n sagte plek vir Douglas Murray, al sedert ek as skoolseun sy Neoconservatism: Why We Need It as my eerste Kindle e-boek ooit gelees het. Hy het vir my sin gegee aan verwarrende ideologiese debatte en die waarde van die Westerse nalatenskap helder verwoord lank voor dit eers aanstootlik en nou meer hoofstroom geword het. Ek het dus met afwagting uitgesien na sy onderhoud saam met die gas Dave Smith op The Joe Rogan Experience oor die oorlog in Oekraïne en die Gazastrook.
En tog, hoe vreemd dit ook al klink, hoewel ek dink hy was feitelik reg in sy argumente, het hy vir baie luisteraars sleg oorgekom. Die debat met Smith (`n komediant wat onlangs `n politieke baadjie aangetrek het) was minder oor feite, of oor wat reg en wat verkeerd is. Dit het gegaan oor die breër publiek se persepsie van geloofwaardigheid. In Podcastistan, soos Konstantin Kisin dit doop, wen jy nie argumente met kennis nie, jy wen met gevoel.
Kisin se daaropvolgende Substack-artikel is `n meesterklas in nugter denke. Hy wys hoe die demokratiese impak van nuwe media, hoewel eers ’n groot hoop vir vryheid van spraak en inligting, intussen die waarheid in `n sirkel van relativering laat verdwyn het. Kundigheid is nie meer gesog nie, dit word verdagtig beoordeel.
In hierdie nuwe pers-landskap het die rol van die kenner begin versplinter. Om `n “expert” te wees beteken al hoe minder — nie omdat mense nie meer glo dat daar so iets soos kennis bestaan nie, maar omdat die publiek hul eie kenner kan kies, een wat pas by hul wêreldbeskouing en emosionele behoeftes. In plaas daarvan om kennis op te bou deur ondersoek en studie, word dit nou ingevoer vanuit ’n podcaster se ateljee of soms selfs van `n TikTok-videogreep.
Die ironie is natuurlik, soos Kisin tereg uitwys, dat hierdie sogenaamde verwerping van gesag net nuwe gesagsfigure geskep het. Dave Smith mag nie akademiese kwalifikasies hê nie, maar hy het `n gehoor. En met `n gehoor kom invloed en met invloed, kom `n vorm van epistemologiese immuniteit in Podcastistan. Jy word nie meer beoordeel op die waarheid van wat jy sê nie, maar op hoe dit mense laat voel.
Dit bring ons by die probleem dat gevoelens wel feite begin vervang. Murray het gepraat uit ervaring, studie, en `n diep verstaan van die geskiedenis. Smith het gepraat uit 'n plek van oortuiging, gemak en die gesag van 'n vertroude stem in 'n informele ruimte. En toe Murray voorstel dat sekere stemme dalk nie gesaghebbend is nie — dat sommige mense dalk eerder behoort te luister as om te praat — het hy die groot taboe van Podcastistan oortree, hy het durf aanvoer dat sommige opinies beter as ander is. ‘n Beroep op gesag wat een van Podcastistan se grootste sondes is, sedert die Covid-19 pandemie se “kundiges” ons grootliks in die steek gelaat het.
Die geskiedenis as waarskuwing
Dalk is dit juis hierdie onwilligheid om onderskeid te tref tussen feite en opinies, tussen kundigheid en dit wat ons graag wil hoor wat my weer laat terugkeer het na Shirer se The Rise and Fall of the Third Reich. Dis `n boek wat voel soos ‘n blok graniet, beide weens sy stewige bladsytelling maar ook sy reputasie as die toonaangewende kompendium oor die geskiedenis van die Nazïsme.
Wat vir my weer opval is hoe stelselmatig die Nazi's hulle posisie opgebou het. Nie deur revolusie nie, maar deur demokratiese deelname. Toe die Biersaal-Putsch misluk, het Hitler ’n nuwe pad gekies, naamlik om mag te verkry deur die stelsel self, deur legitimiteit te versamel in ’n proses wat wettig, demokraties en aanvaarbaar gelyk het. Die Nazi's het nooit `n volstrekte meerderheid gewen nie. Hulle het net genoeg steun gehad om hulle mag absoluut te kon maak met die hulp van `n paar kortsigtige bykomende politieke partye wat nie die uitdruklike beleidstellings van die Nazi's geglo het nie (iets om later oor te skryf met ‘n opvolg artikel oor “Kill the Boer”).
Die geskiedenis wys dat dit nie `n meerderheid neem om `n samelewing te destabiliseer en later te oorheers nie. Dit kort net genoeg mense om nie onreg te veroordeel nie.
Terug na die koei
In `n era waar almal “hulle eie waarheid” gegun word, klink eenvoud en morele helderheid verdag. Maar dalk is dit juis tyd om terug te keer na die koei toe.
Dit is ook `n feit, hoewel ongemaklik, dat die ontkenning van kundigheid, die afbreek van gesag, en die romantisering van “alternatiewe waarhede” presies die tipe atmosfeer skep waarin die slegste soort mense kan floreer.
So, ja, die koei staan daar. Jy hou dalk nie van die koei nie, maar sy is daar. En dalk moet ons voor ons weer begin baklei oor simboliek, stemtoon en narratief net eers vra: is die koei nie dalk reg voor my nie?
En, hoekom wil ek haar nie raaksien nie?