Aandagokrasie en die nuwe maatstaf vir politieke sukses
As die kollig en kalklig die straatlig verdof.
Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek is ten volle daarvan oortuig dat aandag, en dan veral internasionale aandag, werklike en meetbare waarde dra.
Dit kom wel hoe langer hoe meer vir my voor asof die grense tussen politieke doeltreffendheid en publieke sigbaarheid vervaag het. Onlangse besoeke deur allerlei Suid-Afrikaanse politici na die buiteland, en dan veral na die Withuis in die VSA, wil sekerlik ten dele die etiese en morele probleme wat as rede daarvoor aangevoer word bereik, maar die werklike doel daarvan is veel eerder om 'n sein aan kiesers by die huis te stuur dat hierdie party internasionaal “raakgesien” word. Dit voel so bietjie soos 'n “Stem vir my - ek hang pouse met die kaptein van die A-span uit” tipe energie wat uitgestraal word.
Die benadering is nie noodwendig verkeerd nie, naamherkenning na aanleiding van opspraakwekkende berigte in die media lei seersekerlik tot 'n toename in kruisies agter jou naam tydens die volgende verkiesing. Wat my grief is dus nie die poging tot internasionaliteit nie, ek word eerder so effens dwars in die krop gesteek deur hoe hoog hierdie poging op partye se prioriteitslys lê.
Vertoon bo Inhoud: Wanneer Aandag die Doel Word
Wanneer 'n politieke party oorsee reis en 'n opskrif wen, op iemand se podsending beland, of 'n plaaslike opskudding weens hierdie besoek veroorsaak, skep dit die indruk dat iets betekenisvol bereik is. Daar is sosiale media-plasings, foto-geleenthede, kwaai debatte op SABC: Aandag, aandag, aandag.
Ek wonder sommer hardop of dieselfde moeite in die partye se kiesafdelings gedoen is? Kan 'n party regtig aanspraak maak op sukses in die buiteland as hulle nie alles moontlik tuis gedoen het nie? Alhoewel sommige partye meetbaar beter vaar in terme van dienslewering, is selfs die beste partye in ons Parlement 'n langkoppie agter wat ek as voldoende dienslewering, of verandering op plaaslike vlak sou beskou.
Het hierdie partye werklik die plaaslike media oorheers, gemeenskapsforums geaktiveer, en gesorg dat elke raadslid as dienaar van die mense optree? Het hulle die volle krag van digitale media gebruik om beleid te verduidelik, vordering te rapporteer, of gemeenskapsaksie aan te moedig? Indien enige van hierdie vrae 'n negatiewe antwoord ontlok, behoort ons sekerlik te vra of hierdie internasionale aandag regtig die beste aanwending van beperkte hulpbronne is?
Evita se Spektakel, SA se Politiek: Is Ons Leiers Te Gefokus op Kollig?
Om die gevare van hierdie tendens te verstaan, moet ons dalk nie na Pretoria of Washington kyk nie, maar na Buenos Aires. In 1947 het Eva “Evita” Perón, Argentinië se charismatiese eerste dame, haar beroemde “Rainbow Tour” van Europa aangepak. Sy is ontvang deur konings, die pous en presidente, en het 'n gunsteling van die internasionale media geword. Geklee in Dior en oordek met dramatiese flair, het Evita die wêreld se verbeelding aangegryp. Maar agter al die glas en glans het Argentinië gebuk gegaan onder toenemende armoede en inflasie. Swaarkry wat vandag deur heelwat ekonome aan die beleidsbesluite van Eva se man Juan Perón toegeskryf word.
Evita se toer was 'n bemarkingsveldtog. Sy het 'n beeld van Argentinië as modern en goedgunstig uitgevoer, maar wat het sy regtig vir haar mense gedoen? Kritici het gewonder: het die spektakel die mense gedien, of net haar eie legende versterk?
Die ooreenkomste is opvallend en kommerwekkend. Suid-Afrikaanse politieke partye loop gevaar om dieselfde model te volg. Tyd en hulpbronne word spandeer aan die illusie van betrokkenheid en invloed, terwyl gewone burgers steeds worstel met werklike probleme. Die wêreld se kollig vlei, maar dit verlig nie die pad vorentoe vir dié wat daagliks teen teëspoed veg nie.
Van Trump-besoeke tot Wêreldtoere: Politieke Sigbaarheid is nie Regering nie
Diplomatiese handelsendings en kulturele uitruiling is noodsaaklik in 'n geglobaliseerde wêreld en 'n oop ekonomie, maar daar moet 'n prioriteitsorde wees. As die huis brand, is dit nie tyd om die vensters blink te poets vir die bure se bewondering nie.
Wat potensieel meer kommerwekkend is, is die moontlikhede wat hierdie tendens vir nuwe partye bied. In stede daarvan om plaaslik onder die mense te gaan uitvind wat krap, en wat behoort 'n nuwe politieke party te doen ten einde stemme te verseker, sal jong politici dit meer aantreklik vind om beleide na te jaag wat elders aandag trek. Leiers en partye sien internasionale legitimiteit dan as 'n kortpad na plaaslike geloofwaardigheid. In plaas daarvan om vertroue te verdien deur grondvlak-aksie, dienslewering en aanspreeklikheid, jaag hulle die glans van buitelandse erkenning.
Dit raak veral problematies wanneer sosiale media die primêre argief van hierdie besoeke word. Versigtig saamgestelde foto’s, glansryke verklarings en simboliese handdrukke oorstroom tydlyne, en skep die indruk van vooruitgang - wat dit nie noodwendig is nie.
Meta teenoor Materie: Wat Streef Ons Regtig Na?
In wese roep hierdie kwessie 'n filosofiese vraag op: Wat beskou ons vandag as politieke sukses? In die era van invloed en aandag kompeteer almal vir die tien minute wat jy deur X of YouTube of Instagram of watookal rol nadat jou wekker gelui het, of voordat jou vrou jou met 'n elmboog in die ribbekas herinner dat sy probeer slaap. Ook partye kompeteer vir hierdie tyd. Die struktuur van ons inligtingomgewing bevorder 'n tipe opvoerige politiek, 'n valsheid, 'n melodrama, 'n baie duur verhoogstuk. As 'n raadslid slaggate vul maar dit nie plaas nie, het dit dan gebeur? Is 'n beleid wat nie aanlyn bespreek word nie regtig Big Bold and Beautiful?
Sekerlik is dit my punt: Aandag word nie meer 'n middel tot 'n doel nie, maar die doel self. Maandagoggend nuusvergaderings gaan nie meer oor hoeveel meer kinders kos het of hoeveel minder burgers op straat geslaap het nie, dit gaan nou oor indrukke, klikke, en “leads”. (Vir die van u wat nie met massadata werk nie, is dit nodig om te weet dat bruikbare data, wat gekontak kan word, een van die belangrikste dryfvere van die moderne ekonomie is. Dink mooi voor jy op iets klik.) As aandag 'n ruilmiddel met tasbare waarde geword het, dan is 'n besoek aan die eiervormige kantoor waar die kwaai omie met die baie kameras sit die suiwerste goud denkbaar.
Die Kollig of die Straatlig
Ek weet nie regtig of mens uit hierdie bose kringloop kan spring nie. Goeie politici wat nie raakgesien word nie sal nie herkies word nie. So, die masjien moet gevoer word. Een oplossing is dalk die skep van relevante inhoud wat 'n ware verskil maak. Soos Mr Beast, maar dit is 'n ou Suid-Afrikaanse politikus wat spoeltoilette by skole laat bou. Maar selfs dit voel vir my oppervlakkig - is dit hoe ons leiers in die toekoms gekies gaan word? Gebaseer op hoe effektief hulle aandag kan trek?
Die donker vraag, waarmee ek vanaand wakker gaan lê, is een wat my al van die eerste sin van hierdie meningstuk af pla: Is alle demokrasie nie maar net “aandagokrasie” nie? Was dit nie maar nog altyd so dat berugtheid en beroemdheid tot aanstelling en verkiesing lei nie?
Ek hou daarvan om te glo dat die meeste van ons vir 'n leier of politikus, of daardie skaarsste van spesies, 'n politieke leier stem, gebaseer op hul vermoë en beleid, maar hoe ouer ek word, hoe meer skepties raak ek…
Nog nie moeg vir Paul nie?
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: