Die onkeerbaarheid van slegte (en goeie) idees
In een van my eerste stukke op OntLaer het ek die voorstel gemaak dat slegte idees nie deur middel van kansellasie uit die weg geruim kan word nie. Alles wat ek rondom my sien, bevestig hierdie oortuiging. In ‘n effens latere stuk het ek iets oor die idee van subsidiariteit genoem. Alhoewel daardie stuk ‘n politieke fokus gehad het, is een van die aannames van onder-na-bo politiek dat die gesin die belangrikste bousteen van die uiteindelike staat is. Soos wat bakstene saam ‘n muur tot stand bring, mure saam ‘n verdieping genoem word, en ‘n paar verdiepings saam ‘n gebou daarstel, is die gesin die begin van die dorp, die volk, die gemeenskap, die noem-maar-op.
In antieke Athene is Sokrates om twee redes ter dood veroordeel: ateïsme, en die misleiding van die jeug. Die saak teen hom is hoofsaaklik deur die ouers van tieners en jongmense in Athene gedryf - ongelukkig daarmee dat hulle idees en voorgeskrewe norme van buite af uitgedaag word. Hierdie verskynsel, dat ouers se voorskrifte en wette onder hul eie dakke deur eksterne invloede uitgedaag word, groei soos daardie merk waarvan Totius praat, maar aldeur aan. Die enigste manier om eksterne invloede vandag volledig uit te hou sou wees om ’n kulties-afgesonderde samelewing te skep, waar alle bronne van inligting wat met die uitverkose dogma verskil, verban word. Hierdie soort geïsoleerde leefwyse is al beproef, en ek sou aanvoer dat dit in sekere dele van die Midde-Ooste, en moontlik hier-en-daar in spesifieke Westerse gemeenskappe met ’n kultiese karakter, steeds bestaan. Oor die algemeen is so ‘n samelewing egter onrealisties. Dit is nie moontlik om die metaforiese Sokrates keer op keer op keer te vergiftig nie - selfs nie as die ganse samelewing saamstem dat sy inhoud tot ons nadeel is nie. As ek reg is, is daar net een pad vorentoe: Ons moet slegte idees met beter idees oorwin, en die samelewing leer om tussen betroubare en onbetroubare bronne van kennis en inligting te onderskei.
Ek wil vlugtig die ontwikkeling van spraakvryheid deur middel van drie momente halfgenealogies aanbied, en dan soos Oupoot en Saul nog ‘n keer die gedagtes wat ek hierbo vlugtig ingelei het, deurtrap.
Klassieke grondslae: Van Aristoteles tot die Agora
Aristoteles, wat so ‘n katspoegie na Sokrates geleef het, skryf in sy Politiek (Boek I) die beroemde opmerking dat die mens ‘n “politieke dier” is, en dat mense van ander wesens onderskei kan word op grond van ons vermoë tot rasionele spraak. Dit is deur middel van hierdie spraak, het Aristoteles aangevoer, dat mense geregtigheid en ongeregtigheid onderskei, en sodoende die polis—die politieke gemeenskap—bou. Hy was sekerlik nie ‘n voorstander van onbeperkte en absolute vryheid van spraak nie, maar hy plaas ‘n klem op rasionele diskoers as basis vir ‘n funksionele burgerlike samelewing.
Die Reformasie en staande bly: Martin Luther
Die Middeleeue en vroeë moderne tyd is gekenmerk deur die dikwels gewelddadige onderdrukking van andersdenkendes deur beide kerk en staat. Nietemin het die vroeë 16de eeu ’n werklik aardverskuiwende verandering te voorskyn gebring met Martin Luther se protes teen kerklike misbruik van gesag. In 1517 het Luther sy Vyf-en-Negentig Stellings aan die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker—’n oomblik van meningsvryheid waarvan die hamerslae vandag nog hul impulse deur die samelewing stuur.
By die Ryksdag van Worms in 1521 sou Luther op beroemde wyse weier om heelwat van sy inhoud terug te trek, tensy hy op Skrifgronde anders oortuig kon word. Sy beroemde uiting “hier staan ek, ek kan nie anders nie” is vandag nog ‘n slagspreuk vir die morele imperatief van vrye uitdrukking as geneesmiddel teen onderdrukking. Luther se verset was nie bloot teologies nie; dit was ’n diep politieke stelling oor die reg om die waarheid (en Waarheid) teenoor maghebbers uit te spreek. Luther, soos Aristoteles, was nie ‘n voorstander van absolute meningsvryheid nie, maar die beginsel wat hy verteenwoordig, die besem wat hy deur die lyn in die sand trek, het die deur oopgemaak vir nuwe denke oor vryheid van uitdrukking.
Uitdrukking, ongemaklike idees, en demokrasie.
Die 18de en 19de eeue het vryheid van spraak as politieke instrument noodgedwonge na vore gestoot. Edmund Burke, dikwels onthou vir sy kritiek op die Franse Rewolusie, en dikwels gesien as vader van westerse konserwatisme, het ook gewaarsku teen die gevare van die onderdrukking van openbare meningsverskille (Hieroor het ek ‘n rukkie terug ‘n opmerking gemaak). In sy Reflections on the Revolution in France, wat in 1790 vir die eerste keer verskyn het, sou Burke die denkers agter die Franse Rewolusie se optrede so uitdruk:
To those who have observed the spirit of their conduct it has long been clear that nothing was wanted but the power of carrying the intolerance of the tongue and of the pen into a persecution which would strike at property, liberty, and life.
Die Franse politieke filosoof Alexis de Tocqueville - wat in ons eeu ‘n toenemend belangrike stem word, skryf in Democracy in America (1835–40) ‘n paragraaf waarby ek hoe langer hoe meer aanklank vind:
I confess that I do not entertain that firm and complete attachment to the liberty of the press which things that are supremely good in their very nature are wont to excite in the mind; and I approve of it more from a recollection of the evils it prevents than from a consideration of the advantages it ensures.
Uiteindelik sou John Stuart Mill, met wie se denke ek op verskeie punte werklik ernstig verskil, hieroor ‘n punt maak waarmee dit nietemin moeilik is om te stry:
The peculiar evil of silencing the expression of an opinion is, that it is robbing the human race; posterity as well as the existing generation; those who dissent from the opinion, still more than those who hold it. If the opinion is right, they are deprived of the opportunity of exchanging error for truth: if wrong, they lose, what is almost as great a benefit, the clearer perception and livelier impression of truth, produced by its collision with error.
Burke sien raak dat hulle wat die samelewing polities en moreel wil kaap, die stilte van opponerende tonge en penne as groot voordeel beskou, en dit dan juis dikwels so bewerk. Tocqueville stem versigtig met hom saam deur op te merk dat ‘n vrye pers nie as absolute goeie ding opsigself beskryf kan word nie, maar dat dit nietemin nodig is, omdat dit ‘n groter kwaal - onderdrukking - kan voorkom. Ek gee toe dat beide Burke en Tocqueville politiek en die politieke gesprek eerder as die wyer vrye uitdrukking in gedagte het, maar vryheid van spraak en vryheid van die pers is sekerlik twee dorpies langs dieselfde stroom - as ek moes raai is sou ek reken dat vryheid van spraak stroomop lê, en daarom eerder as beginsel verdedig moet word - met persvryheid wat dan as vergestalting daarvan na vore kom. Daarom is Mill se woorde belangrik, daarom sluit ek dit ook in. As ‘n slegte idee na vore kom, hetsy om die braaivleisvuur of op OntLaer of waar dan ook, word die gemeenskap gedien wanneer daardie slegte idee deur ‘n beter idee oorwin word. As die idee goed is, word die gemeenskap gedien deur die aanneming en implimentering van daardie idee.
Vryheid van spraak in praktyk
Mill se uitspraak kan myns insiens met ‘n twee voorbeelde helderder uitgedruk word:
Ek sou ten eerste dink dat die opkoms en uitwerking van identiteitspolitiek, met beide gender en ras as versamelpunte, vir die Weste as geheel ‘n ongemaklike gesprek was, en steeds is. Wat gebeur wanneer die gelykheid voor die reg, die isonomia wat ons sedert Perikles as hoeksteun het, verruil word vir wat ons dalk panisotes (πανισότης) of absolute gelykheid, gelykheid van alles? Ideologies strenger en meer onderdrukkende samelewings het, en so spog hulle ook, die idees van absolute gelykheid skynbaar effektief bekamp deur dit eenvoudig te belet. In die Weste, daarenteen, is hierdie idees oor die afgelope jaar ingeneem en verteer. Slegte elemente daarvan is aangespreek en as vals uitgewys, en word nou stelselmatig (en dalk te stadig na die smaak van sommiges) uitgeskei. Goeie elemente daarvan, veral die herbevestiging van inherente menswaardigheid, het myns insiens behoue gebly. ‘n Idee is na vore gebring, dit is getoets, heelwat daarvan is verwerp, maar die goeie is behou. Daar is hulle wat sou meen dat ons hierdie leerervaring en die littekens na afloop daarvan gespaar kon gewees het. As ons die idees van absolute gelykheid eenvoudig, soos ons midde-oosterse bure, verbied het, sou ons as gemeenskap heelwat trauma gespaar wees. Hierop is my antwoord eenvoudig, soos bo en elders genoem, dat ek nie daarvan oortuig is dat idees werklikwaar meer verbied kan word nie, dat slegte idees die internetgolwe nie belet sal word nie.
Die tweede voorbeeld is die van Paulus in Atene. In Handelinge word dit so beskryf:
Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”
In Rome en baie ander plekke is apostels vermoor vir presies Paulus se woorde in Athene. In Jerusalem ook. Daar is vandag nog vervolging, en sendelinge word vandag nog vermoor. Maar uit my perspektief uit kom dit voor asof Athene, en die Weste, in Paulus die waarheid nie stilgemaak het nie. Vir Athene was daardie oomblik, na my mening, ‘n oomblik van ontlaer.
My voorlopige gevolgtrekking
Vryheid van spraak is nie bloot ’n prosedurele reg nie—dit is ’n kulturele prestasie. Die waarde daarvan lê nie net daarin om die andersdenkende te beskerm nie, maar in die behoud van die kollektiewe vermoë om saam te dink, om foute reg te maak, om slegte idees nie net onder die mat in te vee waar hulle welpies kan kry wat ons later gaan kom verorber nie. Sonder dit raak demokrasie broos, onvermoëns om homself te korrigeer of verskille te akkommodeer. Van Aristoteles se begrip van spraak as die grondslag van burgerlike lewe, deur Luther se dapper standpunt teen kerklike tirannie, tot Mill se vurige verdediging van oop diskoers, was die reg om jou mening te lug deurlopend sentraal tot die ontwikkeling van vrye samelewings. Dit is deur spraak dat burgers regeer, protesteer, oortuig en beraadslaag. Dit is deur spraak, ongemaklike spraak, spraak wat sny, dat slegte idees, ook slegte idees waarop ons al te gemaklik steun, oorwin word.
As dit waar is dat idees nie stilgemaak of belet kan word nie, dan het ons eintlik net twee keuses: Ons kan hulle uitlag, of ons kan luister, leer, en antwoord gee.
Nog nie moeg vir Paul nie?
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: