Marais.
Toe ek eenkeer as student 'n vasvrakompetisie aangebied het, was een van my vrae wie die bekende gedig Skoppensboer geskryf het. Uit die agt-en-twintig deelnemers, almal min of meer my ouderdom, almal met Skoppensboer as deel van hul Graad 11 leerplan, kon nie een my vraag beantwoord nie.
Effens buite karakter, of eerder, buite die koel en kalm vasvraprogram-aanbieder wat ek probeer speel, het ek myself hoor sê: "Wel, ek gaan julle ook nie sê nie. As julle regtig wil weet, gaan Google dit."
Daardie oomblik was presies 'n dekade gelede, maar ek dink steeds gedurig daaraan. Ek was teleurgesteld, wel, ek is nog steeds. Ek sukkel om te dink aan een stuk letterkunde wat so 'n blywende impak op my lewe gehad het - “net pagters ons van stof en dons” - goeie genugtig, die taal het in die bykans twaalf dekades na Skoppensboer selde so van enigiemand se tong af gerol en homself so vas in die siel se groewe gemessel. Hoe diep herinner daardie kenner van pyn en drang en sukkel en swaar ons nie aan wat ons is en kan wees nie? Hoe diep is die dieptes van ons see waaruit hy tot ons roep met hierdie waarskuwing teen die gejaag na wind nie?
Nou goed, op sestien is mens deurmekaar en romanties en hormonaal en baie ander dinge, maar dat leiers en denkers hierdie sielsding op 'n string maar net verby laat gly het, dit gewoon verteer en saam met die week se skindernuus van die hardeskyf gewis het, dít laat my steeds met 'n asynsooibrand tussen die mangels.
Wat amper erger is, is dat hierdie diep gevoel van teleurstelling oor die jare heen nie taan nie. In Suid-Afrika het ons 'n sonskynklimaat, en soveel as wat ek dankbaar is dat ons jaarlikse kerssanggebed vir 'n helder somerkersfees sonder uitsondering jaar na jaar feitlik in sy volheid gehoor word, is geen Kersfeesoratorium al ooit op Struisbaai se strand geskryf nie.
Cloete.
T.T. Cloete skryf in “Behoefte aan ongunstige weers- en ander omstandighede”:
te veel halfgeleerde sportiewe studente
studeer aan te veel universiteite met te veel sosiale personeel
te veel is die somerdae en te kort
is die winters dun is die herfs vals die lente
“Halfgeleerde sportiewe studente”. Ek dink baie oor daai woorde. Noudat ons weer kampusse bou, dink ek selfs meer oor daardie woorde. Bietjie later skryf Cloete verder:
niks steur
die voetbalson nie as hulle vleis braai sneeu
dit nooit geen mis spoel
soos melk teen die ruite nie geen sprokies gebeur
in woude nie
Ek dink nie dat ek hierdie gedig ten volle verstaan toe ek dit op veertien vir die eerste keer teëgekom het nie. Ek is nie seker of ek dit nou veel beter verstaan nie, maar wat ek wel weet, is dat ek daarmee saamstem: As hulle vleis braai sneeu dit nooit. Professor Cloete se kantoor in die Frans du Toit-gebou het uitgekyk oor “Lover’s Lane” - die hart van die georganiseerde studentelewe op daai kampus langs die Mooirivier, en die rede waarom baie studente (ek inkluis) twaalf maande later as aanvanklik beplan by die werksmag aansluit...
Ek hou daarvan om te dink dat Professor Cloete by sy venster uitgekyk en gewonder het: Gaan enige van hierdie studente, wanneer hulle uiteindelik klaar is met vandag se sonskynpret, die honderd tree na die biblioteek aandurf om daar te gaan sit en lees? Gaan hulle die hartverskeurende reis van Anna Karenina onderneem, of die tweespalt in die siel van Raskolnikov in hul eie lewens herken? Gaan hulle saam met Oliver Twist weghardloop, en saam met Holden Caulfield verdwaal? Gaan hulle stadig en peinsend lees en reflekteer, gaan hulle saam met die Bennet-susters deurnag? Dalk net: gaan hulle lees?
Du Plessis.
Alhoewel die abstrakte tema van 'n algemeen teenwoordige afwesigheid van belesenheid deeglik en kategories deur Professor Cloete raakgesien, en in tydlose metrum en rym saamgevat en vasgepen is, kon hy seer sekerlik nie in sy wildste drome voorspel watter nuwe uitdagings nog sou kom nie.
Benewens die voetbalson en immergroen braaivleisweer het die koms van sosiale media en die toegangklikheid van endorfien-maksimerende vermaak die ruimte dertig sentimeter voor ons neuse in sy volheid gekoloniseer. Van diep belesenheid en die bykans 100 uur wat nodig is om War and Peace deur te marseer het voorwaar net “stof en dons” oorgebly. Dit is nie in my aard om pessimisties te wees nie, ek glo nie dat inherent negatiewe mense die lewe ooit werklik kan geniet nie, maar as ek dink oor die algemene waardering vir groot letterkundige werke onder die moderne mens, maar dan in besonder onder hulle wat Afrikaans as moedertaal het, ruk ek my denke liewer spoedig uit daardie gat terug. Ek dink dat die beste Afrikaanse boek wat ek ooit gelees het Fees van die Ongenooides moet wees. Daai boek het meubels tussen my naeltjie en slukderm rondgeskuif, my soos Rafiki vir Simba aan die oor getrek na die naaste reflekterende oppervlak en forseer om hard te kyk en diep na te dink.
Hoeveel mense ken jy wat Fees van die Ongenooides gelees het? Of wat Kringe in 'n Bos vrywillig as volwassene herlees het? Of 'n gesprek daaroor wil voer, selfs kan voer? Elke Rus (en almal in lande onder hul taalinvloed) lees op skool War and Peace. Elke Engelsman wat skool tot in matriek voltooi sou met ten minste Romeo and Juliet of Macbeth kennis gemaak het. Geen Duitser wat die Abitur (matriek) voltooi kan dit doen sonder om deeglik met Goethe en Schiller kennis te maak nie.
Maar ons leiers weet nie wie Skoppensboer geskryf het nie (nog asynsooibrand). As 'n taal homself in sy groot werke en die waardering daarvan oor tydsgrense heen vind, dan sal 'n taal homself sekerlik in die afwesigheid van hierdie selfwaardering verloor.
Om die beste sportnasie op aarde te wees is indrukwekkend, noemenswaardig, en nastrewenswaardig, maar is dit al wat ons land, ons volk, ons taal, ons gemeenskap het om te bied? Is die skatkis van kultuur wat ons aan die volgende geslag oordra gevul met balle, braaitange en buitelugresepteboeke? So waardevol as wat hierdie vaardighede is, en so leeg as wat die opleiding sal wees wat dit nie ten minste aanraak nie, kan dit seker nie die som van ons mensontwikkeling, ons Bildung wees nie? Ek gee toe dat daar natuurlik geleerdes aan fakulteite sit (minder as vroeër, maar tog) en die meesterwerke bewaar, ontleed, en uitlê vir die nuwe generasie, maar ek is nie daarvan oortuig dat die algemene Afrikaanse geleerde, die ingenieur of dokter of dominee of prokureur voldoende kennis geneem het van letterkunde oor die algemeen en Afrikaanse letterkunde in besonder nie. Die verskynsel raak erger, en dit maak my bekommerd.
Plato.
Daar is 'n treffende paragraaf in Plato se Politeia wat in hierdie geval relevant is: Nadat die goeie strewes - wysheid, matigheid, geregtigheid en waagmoed - uit hul pos verwyder is, staan die akropolis, die heuwel waarop die heerser gesetel behoort te wees, verlate.
Wanneer die slegte strewes, die begeertes wat net ondergang te weeg kan bring, die akropolis betree, vind hulle dit onbeman. Ek beskou dit as byna onmoontlik om te glo dat iemand wat nie diep lees nie, vaste en getoetsde beginsels kan koester, beginsels wat enigiets meer as 'n sweempie ongemak kan weerstaan. Om te lees, en dan diep te lees, is hoe die siel sterk word. Hoe wysheid, matigheid, geregtigheid en waagmoed - as Plato reg is dat hierdie vier nagestreef behoort te word - hul setel behou. Wie sy siel ten koste van sy sosiale program (of sy televisieprogram) afskeep, wel, sy akropolis se besetting kan sekerlik nie te stewig wees nie, ten minste nie van ware goedheid nie.
Cilliers. Ten slotte.
Cilliers skryf ywerig “ek hou van ‘n man wat sy man kan staan” en ek wil by hom aansluit en stel dat ek hou van 'n taal wat sy taal kan staan. Ek dink nie dat 'n taal wat homself nie lees, ooit sy taal kan staan nie. Ek rig al vir meer as 'n dekade debat af en ek sien wat sosiale media en die afwesigheid van neuse in boeke en dan veral Afrikaanse boeke aan sinskonstruksie en taalreëls onder ons top akademiese skoliere veroorsaak.
Daar is net een antwoord, en dit is om vet boeke stadig te lees.
(… en Marais het Skoppensboer geskryf. Eugene Marais. Skryf dit neer. Asseblief tog.)
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Dit sal interessant wees om te tel hoeveel romans in Afrikaans meer as, sê nou maar, 700 bladsye het. Miskien 'n arm vol? En vergelyk dit dan met die aantal dik boeke in tale van dieselfde grootte as Afrikaans. Miskien sien 'n mens dan sosiokulturele tendense raak?
Hoe dan ook, ek moet bieg dat ek nie meer kans sien om 'n dik boek te lees nie 🥱😴 Maar luister as oudioboek, definitief! Herman Wouk se Israelromans lê in my Audiblebiblioteek en wag vir my. En Fees van die Ongenooides is daar in my wenslys. Maar dit sal BAIE oortuiging kos om my te oorreed om die 60-uurlange War and Peace (nogal voorgelees deur Thandiwe Newton!) aan te pak!
Hoor, hoor!