
Ons kontemporêre politieke elites bou hul reputasies in groot stede. Dis ook waar kiesers, wat met die werklikhede van mislukking soos slaggate en kragonderbrekings moet leef en uiteindelik hul oordeel oor die politieke elites eerste fel.
Die verkiesingsuitslag in Tshwane is besonder deurmekaar en gefragmenteerd. Die stad het weer eens 'n hangende munisipale raad opgelewer met die DA wat 74 setels gewen het, ActionSA 48 en die ANC 44. ActionSA het sy 2021-uitslag van 19 setels meer as verdubbel, terwyl die ANC van sy vorige 75 setels ingestort het.
Skaars 'n dag na die uitslag het Herman Mashaba verklaar dat enige koalisie-ooreenkoms Nasiphi Moya as burgemeester moet behou.
Die eis wat Mashaba stel berus op 'n storie wat ActionSA al 'n jaar lank voorkomend vertel. In Augustus het die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, beweer dat Moya die stad in minder as twee jaar “laat omgekeer” het en geslaag het waar ANC- sowel as DA-administrasies voorheen misluk het.
In politiek is 'n skurk 'n waardevolle meganisme om 'n narratief te dryf en Beaumont het met hierdie een verskaf. Hy lê die hoofstad se probleme by die deur van die administrasie onder leiding van die voormalige DA-burgemeester Cilliers Brink en voor hom die ANC. Dit is 'n slim kommunikasie- en politieke strategie en die soort wat verkiesings wen. Maar sodra mens na die feite, syfers en die kalender kyk besef mens dit is blote politieke fiksie.
Skuld afskryf is nie inkomste nie?
Neem ActionSA se gevierde daling in die debiteureboek. ActionSA sê dit het van R30 miljard tot R25,69 miljard gedaal, en bied dit aan as bewys van gesonde bestuur deur Moya se administrasie. Tog toon die stad se eie syfers dat R2,42 miljard se skuld afgeskryf het omdat dit nie verhaal kan word nie en 'n verdere R1,83 miljard is afgeskryf afkomstig van meer as 31 500 onaktiewe munisipale rekeninge.
Die sg. R4,25 miljard verbetering is dus eenvoudig net skuld wat afgeskryf is, en nie inkomste wat ingevorder is nie. Die probleem lyk nog steeds sistematies, want teen einde Oktober 2025 het die rekening reeds teruggesak tot R25,9 miljard en dit is nog steeds besig om te styg.
Die stad se benarde elekstrisiteitsituasie vertel dieselfde storie. Die Ouditeur-generaal se 2024/25-verslag het elektrisiteitsverliese van R1,87 miljard aangeteken, 21% van die elektrisiteit wat aangekoop is, teenoor 19% 'n jaar vroeër. Dit is beslis nie hoe 'n verbeterde stadsraad lyk nie.
Waar ActionSA was?
Dan is daar die ongemaklike kwessie van wie vir wat verantwoordelik is. ActionSA stel homself voor as 'n buitestander wat gekom het om ‘n mislukkende stad te red. Maar ons is almal oud genoeg om te onthou dat die party het die deurslaggewende tydperk onder DA-geleide administrasie binne die regering saam met Cilliers Brink deurgebring. Die einste tydperk wat Moya en Beaumont nou veroordeel. Brink was burgemeester van 28 Maart 2023 tot 26 September 2024, vir ongeveer 18 maande. Hy het met 109 stemme teen 102 gewen en gevolglik 'n koalisie gelei wat van die begin af broos was. En Moya het toe die stad se vierde burgemeester in drie jaar geword nadat Brink verwyder is. Voor dit het ActionSA die adjunkburgemeesterskap en verskeie burgemeesterskomitee-poste in daardie koalisie gehad, en Moya self is in Januarie 2024 as adjunkburgemeester verkies.
Toe 120 raadslede Brink uit sy pos gestem het, het ActionSA die ANC-mosie van wantroue gesteun. En kort daarna is 'n ActionSA-regering met 'n skrapse meerderheid gevorm. Moya se burgemeesterskomitee het vyf ANC-lede en 'n enkele ActionSA-verteenwoordiger gehad, en die ANC se Eugene Modise (wat van ernstige korrupsie aangekla word) het die finansiële portefeulje oorgeneem.
Eskom se rol?
Vernaam het die herstel wat nou aan Moya toegeskryf word, reeds voor haar ampstermyn begin. In Februarie 2024 het Brink 'n plan aangekondig om R1 miljard per maand van debiteure in te vorder. Tshwane Ya Tima, die veldtog van elektrisiteit- en waterafsnydings teen wanbetalers, is in 2022 van stapel gestuur en het in Mei 2023 onder Brink standaardprosedure geword. Nasionale beurtkrag het op 26 Maart 2024 geëindig, met 1 656 ure se beurtkrag in 2024 teenoor 6 948 in 2023. Dit was ‘n nasionale prestasie eerder as ‘n munisipale een, maar dit het die druk verlig op ‘n stad wat van elektrisiteitsverkope leef. Eskom het die stad in Julie 2024 hof toe geneem, met Brink nog in die amp. Moya verdien erkenning daarvoor dat sy die skikking afgehandel het, wat op 26 November 2024 ‘n hofbevel gemaak is, maar sy het nie die proses begin nie.
Die stakings?
Cilliers Brink het ook nie ‘n gesonde instelling geërf nie. Tshwane is in Maart 2020 onder provinsiale administrasie geplaas, net toe Covid toegeslaan het, en inkomste-invordering het skerp gedaal. Die Ouditeur-generaal het later gewys op “ondoeltreffende finansiële herstel”-beplanning en swak skuldinvordering. Van wat nou as ‘n buitengewone ommekeer verkoop word, is 'n klim uit ‘n buitengewoon diep gat. Brink moes ook deur 'n vier maande lange staking regeer. Die staking het op 26 Julie 2023 begin oor 'n 5,4% verhoging wat die stad gesê het hy nie kon bekostig nie, teen 'n koste van ongeveer R600 miljoen, en 255 munisipale voertuie is aan die brand gesteek.
Selfs die gespin oor verhoogde inkomste kan nie aan Moya toegeskryf word nie. Op 1 Julie 2025 het 'n nuwe waardasielys in werking getree, en baie eiendomswaardes het verdubbel. Natuurlik berus die basis waarop die stad huiseienaars kan faktureer, op hierdie verbreede eiendomswaardasies
Dit is 'n statutêre oefening, nie die beweerde bestuursgenialiteit van ActionSA of Moya nie. Trouens Beaumont het self gesê die hersiening het onder Brink begin. Enige eerlike rekenskap moet vra of die winste uit beter bestuur of uit 'n groter belastingbasis kom. Die aantal ouditkwalifikasiegebiede het in 2024/25 van ses tot twee gedaal, en Moya se administrasie verdien erkenning daarvoor dat dit opgeklaar is.
Kon die DA beter doen?
Niks hiervan beteken Brink het Tshwane reggemaak nie. Hy het nie, en gegewe die beperkings waaronder hy gewerk het, kon hy waarskynlik nie. Hy het 'n brose koalisie vir ongeveer 18 maande gelei in 'n munisipaliteit met jare se opgehoopte verval en geskiedenis van wanbestuur. Maar daar is 'n aansienlike verskil tussen om te sê hy het nie die werk voltooi nie en om te beweer hy het die stad se agteruitgang veroorsaak, net sodat ActionSA kan opdaag en dit red.
Die afgelope verkiesing het ActionSA se stemme in Pretoria meer as verdubbel, maar afskrywings, 'n nasionale verbetering in die kragnetwerk en 'n statutêre herwaardering van eiendomswaardes is nie 'n regeringsrekord nie. En 'n party wat gehelp het om die stad te bestuur, gehelp het om sy burgemeester te verwyder en dan die herstel as sy eie opgeëis het, het nie 'n ommekeer teweeggebring nie en is bloot oneerlik.
Hügo Krüger is 'n Suid-Afrikaanse siviele en strukturele ingenieur, energie-ontleder en skrywer wat in Parys, Frankryk, woon. Hy het ‘n MSc in Siviele Kerningenieurswese en spesialiseer in kernkrag, infrastruktuur, klimaatsverandering en geopolitiek.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.







