Op 26 September 2026 het sowat 3 000 wit kruise op die gras van die Washington Monument gestaan. Lex Libertas, onder leiding van Ernst Roets, wat voorheen by AfriForum betrokke was, het die uitstalling saam met die New York Young Republican Club aangebied.
Plasmoorde is al lank 'n sensitiewe saak in Suid-Afrika, en gegewe die raspolarisasie wat byna altyd by die debat teenwoordig is, verdien dit om ernstig opgeneem te word. Maar juis omdat dit ernstig is, verdien dit ook om met eerlike statistiek beskou te word.
'n Gelaaide plek om te plant
Die wit kruise is ongelukkig nie in 'n politieke vakuum geplant nie. Net 'n paar dae vroeër, op 15 September, het Marco Rubio visumbeperkings aangekondig vir Suid-Afrikaanse amptenare wat by “rassegebaseerde diskriminasie” en “onvergoede grondonteiening” betrokke sou wees. Donald Trump het reeds in Februarie 2025 'n uitvoerende bevel onderteken wat Amerikaanse hulp aan Suid-Afrika stopgesit het en 59 Afrikaners as vlugtelinge toegelaat.
In Mei 2025 het Trump president Ramaphosa in die Oval Office met wit kruise gekonfronteer wat hy as “grafte” van meer as duisend wit boere beskryf het. Dit was egter 'n gedenkuitstalling vir twee vermoorde boere. President Ramaphosa se administrasie noem die aantygings 'n wanvoorstelling, terwyl Trump se bondgenote dit as ’n regmatige besorgdheid oor minderhede beskou.
Net drie dae voordat die kruise geplant is, op 18 September 2026, het Suid-Afrika se minister van buitelandse sake, Ronald Lamola, self by die African Diaspora Forum van die Congressional Black Caucus Foundation in Washington gepraat. Daar het hy Trump se Afrikaner-hervestigingsprogram “Apartheid 2.0” genoem en ook gewaarsku dat Amerikaanse beleid teenoor Suid-Afrika swart-wit-verhoudinge in die land self kon skaad, en ontken dat die regering enige rassegroep teiken. Die Demokratiese Alliansie het hom summier uitgedaag om dieselfde standaard tuis toe te pas op die ANC se eie rasgebaseerde beleid, soos SEB en grondwetgewing.
Die spanning is ook nie los te maak van ander wrywing tussen Washington en Pretoria nie. Suid-Afrika se opregte volksmoordsaak teen Israel by die Internasionale Geregshof, wat sedert Desember 2023 aanhangig is, het groot wrywing met Washington DC geskep. Volgens Middle East Eye het Israel in 2024 self Amerikaanse Kongreslede genader om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om die saak te laat vaar.
Wat vasstaan, is dat dié pyn van plaasmoorde nou deel van 'n groter politieke stryd is, met wortels wat by die betrokke rolspelers self teruggaan, en dat elke syfer daarom noukeuriger nagegaan moet word.
Wat die kruise wys, en wat hulle nie kan bewys nie
Die naamlys wat Lex Libertas in Augustus vrygestel het, bevat meer as 2 203 slagoffers wat deur hulself geïdentifiseer en nagegaan is. Die publiek is genooi om weglatings en foute te help regstel. Daar is dus sowat 800 meer kruise as name op daardie lys — ongeveer 36% meer. Ek kon egter nie bevestig hoeveel name die finale uitstalling bevat het nie.
Die kruise sê ook nie hoeveel van die slagoffers wit boere was nie. Die polisie se definisie van 'n plaasmoord dek almal wat op plase en kleinhoewes woon, werk of dit besoek. Onder die dooies kan dus ook plaaswerkers, bestuurders en besoekers van alle rasse wees. Dit blyk ook die geval te wees as 'n mens na die foto's kyk.
Roets het lank op een syfer geleun. In 2017 het AfriForum, waar Roets destyds adjunkhoof was, 'n moordkoers van 156 per 100 000 kommersiële boere bekend gemaak. Dit sou beteken dat 'n boer 3,5 keer meer waarskynlik as die gemiddelde Suid-Afrikaner — 50 per 100 000 — vermoor word.
Africa Check het in 2017 gevra hoe die syfer bereken is en Roets het geantwoord dat dit dieselfde berekening was wat reeds vroeër by Africa Check bespreek is, net vir 2016.
Politicsweb het intussen 'n ander stel syfers uitgelig. In 'n 2025-ontleding van die Amerikaanse uitvoerende bevel oor Suid-Afrika het Dave Steward geskryf dat gemiddeld 69 boere per jaar tussen 1994 en 2020 vermoor is, oftewel net minder as 1 800 oor die tydperk. Dieselfde ontleding het AfriForum se berekende moordkoers van 156 per 100 000 aangehaal, teenoor 'n nasionale moordkoers van 45 per 100 000, maar weereens dit nie bevraagteken nie.
Die 69 per jaar is 'n telling van slagoffers oor 'n bepaalde tydperk. Die 156 per 100 000 is 'n berekende koers.
Sterftekoers = slagoffers ÷ bevolking van dieselfde groep × 100 000.
Die nommer het wel 'n groot probleem. Stats SA het 40 122 kommersiële landbou-eenhede vir 2017 getel, maar 'n eenheid is 'n onderneming, nie 'n persoon nie. AfriForum het 49 plaasmoorde in 2023 aangeteken, tydens 296 aanvalle. As jy 49 deur 40 122 deel, kry jy 122 per 100 000 — maar dan is dit 122 per 100 000 landbou-eenhede, nie per mens nie.
Stats SA het op 30 Junie 2023 altesaam bereken en getel dat daar 770 181 persone in die landbousektor werk. Dit is byna 19 keer meer as die 40 122 kommersiële eenhede wat vroeër as noemer gebruik is. Dit is m.a.w. werkers wat saam met boere op dieselfde plase woon en werk en gevolglik dieselfde risiko’s deel. Hierdie persone wat vir alle praktiese doeleindes net so kwesbaar is as die boere en plaaseienaars self moet ingesluit word. Om hulle uit die berekening weg te laat, jaag die koers kunsmatig op. En dit doen dus afbreuk aan die punt wat Roets en ander probeer maak.
Deel 49 deur 770 181, en jy kry ongeveer 6,4 per 100 000.
Dit is steeds nie 'n amptelike plaasmoordkoers nie, want dit sluit nog nie eienaars, familielede, kleinhoewebewoners of besoekers in nie. En die teller en noemer in hierdie som kom uit verskillende bronne. Wat dit wél wys, is hoe drasties die uitkoms verander na gelang van watter groep jy as noemer kies.
Bietjie perspektief
Lex Libertas se eie naamlys lys slagoffers vanaf 1990 tot 2026 (dus 'n periode van 36 jaar). Die 2 203 geverifieerde name op die lys en oor daardie tydperk kom neer op sowat 61 slagoffers per jaar, of ongeveer 0,17 per dag.
Suid-Afrika het in dieselfde tydperk een van die moordaardigste lande ter wêreld gebly. In die 2025/26 bv. het die amptelike misdaadstatistiek 23 096 moorde landwyd aangeteken (sowat 63 per dag). Dit beteken die volle 36 jaar lange plaasmoordregister met elke naam verteenwoordig minder as 'n tiende van een jaar se totale moordsyfer.
Selfs as 'n mens die polisie se onlangse jaarlikse syfer van 49 tot 54 plaasmoorde gebruik, is dit steeds skaars 'n vyfde van een dag se landwye moordsyfer, elke jaar oor en oor.
Dit beteken nie die lyding op plase en van boere is minder werklik nie. Dit beteken wel dat 'n koers van 156 per 100 000 — meer as 20 keer die nasionale gemiddeld van destyds — nie versoenbaar is met die statistiek nie. En dat in die tydperk plaasmoorde konsekwent 'n baie klein breukdeel van die land se algehele, uitsonderlik hoë geweldsvlak was nie.
Volksmoord?
Die debat oor “volksmoord” verdien op sy beurt ook versigtigheid. Dit is propagandisties wanneer kritici voorgee dat elkeen wat die erns van plaasmoorde beklemtoon, noodwendig 'n “wit genocide” beweer, en dan die hele veiligheidsprobleem verwerp deur slegs daardie uiterste etiket te weerlê. AfriForum het wel die taal van die Volksmoordkonvensie gebruik in sy kritiek op die “Kill the Boer”-slagspreuk, maar het nie plaasmoorde konsekwent as 'n bewese wit volksmoord beskryf nie. Trouens, die organisasie het formeel beswaar gemaak toe dié standpunt aan hom toegedig is en doen steeds so indien dit plaasvind.
Die Persraad se uitspraak oor dié geskil wys waarom die onderskeid belangrik is. 'n Mens kan dus tegelyk die volksmoordetiket verwerp, die oordrywing in sommige plaasmoordstatistieke kritiseer en steeds erken dat plaasaanvalle ’n ernstige veiligheidsprobleem is.
Om die hele debat tot 'n keuse tussen “volksmoord” en “geen probleem nie” te reduseer, vervang ontleding met emosie en propaganda.
Om te treur en om te reken
Iemand wat haar pa, ma en suster verloor het, het nie 'n syfer van 156 nodig om haar verlies groot te maak nie, die verlies is reeds onherstelbaar. Die kruise het werklike mense herdenk wat gewelddadig gesterf het, en dit verdien respek, ongeag watter getal langsaan geskryf staan.
Maar respek vir die dooies vra ook eerlikheid oor die syfers wat in hulle naam versprei word. Die kruise bewys nie dat 3 000 wit boere vermoor is nie, en ook nie dat wit boere 'n moordkoers van 156 per 100 000 ervaar nie. Ongelukig klop Ernst Roets se syfers nie vir my nie, as daar bv. net 3 werkers vir elke boer is, dan is die sterftekoers op plase minder as die nasionale gemiddeld.
Wie werklik omgee vir plaasslagoffers, behoort dieselfde streng standaard te eis van almal wat hulle name en getalle gebruik — ook, en juis, van die kampvegters aan hul eie kant.
Hügo Krüger is ’n Suid-Afrikaanse siviele en strukturele ingenieur, energie-ontleder en skrywer wat in Parys, Frankryk, woon. Hy het 'n MSc in Siviele Kerningenieurswese en spesialiseer in kernkrag, infrastruktuur, klimaatsverandering en geopolitiek.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










