Afrikaans100: Laat ons tuis wees in ons taal
Afrikaans is nie net ’n vakgebied nie, dis wie ons is.
Op 8 Mei 2025 vier ons ’n merkwaardige mylpaal: Afrikaans is vir 100 jaar reeds ’n amptelike taal in Suid-Afrika.
Hierdie eeufees bied ’n unieke geleentheid om nuwe lewe en betekenis aan Afrikaans in ons skole te gee, want hoewel die taal dikwels met nostalgie en trots geassosieer word, ervaar baie leerders — en selfs sommige onderwysers — dit vandag as net “nog ’n skoolvak”. Maar Afrikaans is nie net ’n stel reëls of ’n eksamenvak nie — dit is ’n lewende taal, vol ritme, kleur, humor, stories en gemeenskapsklank. Die viering van Afrikaans100 kan die gaping tussen onderrig en belewing oorbrug, mits ons die taal nie net aanleer nie, maar ook laat leef. Dít vra dat onderwysers hul rol herbedink: nie net as oordraers van kennis nie, maar as ontsluiters van betekenis en kreatiwiteit.
Taal is nooit bloot instrumenteel of neutraal nie — dit is méér as grammatika en spelreëls. Taal is ’n draer van menswees, herinnering en identiteit. In die onderwys word Afrikaans egter dikwels gereduseer tot grammatika-oefeninge en literatuuranalise, terwyl die ryk emosionele en kulturele dimensies van die taal maklik verlore raak. Wat van Afrikaans as ’n anker van geheue en ervaring — die stem van oumas en oupas, van kosstories, van gebede, humor en troos? Wanneer leerders hulself nie in die taal herken of daarin leef nie, word dit abstrak en onpersoonlik — ’n vak om die toets te bemeester eerder as ’n leefbare medium. Daar bestaan dus ’n dringende behoefte om sinvolle verbintenisse met Afrikaans te herstel, en die Afrikaans100-vieringe skep ’n ideale geleentheid om juis daardie herverbinding moontlik te maak.
Die Afrikaans100-vieringe moet nie slegs as ’n nostalgiese herdenking van die taal se amptelike status dien nie, maar as ’n geleentheid om Afrikaans weer te bevestig as ’n volwaardige, lewende en dinamiese taal binne die opvoedkundige ruimte. Dit gaan nie oor die feesvieringe as sodanig nie, maar oor wat daardeur moontlik gemaak kan word: om Afrikaans te koester as ’n taal van waardigheid, intellektuele vermoë en kulturele diepte. Deur die taal sinvol te integreer in die klas én in die leefwêreld van leerders — op maniere wat hulle identiteit, kreatiwiteit en toekomsgerigtheid aanspreek — bou ons verder aan ’n taalgemeenskap wat die afgelope 100 jaar se erfenis nie net vier nie, maar aktief voortdra.
Afrikaans100 is ook ’n uitnodiging om die rykdom van Afrikaans in ál sy vorme te vier. Die taal bestaan nie net in een gestandaardiseerde vorm nie — dit leef en groei in gemeenskappe regoor die land, in uiteenlopende aksente, uitdrukkings en woordeskat. Leerders moet die boodskap hoor dat die manier waarop húlle Afrikaans praat, geldig en waardevol is. Niemand hoef skaam te wees oor hul variëteit van Afrikaans nie — of dit nou Kaaps, Namakwalandse Afrikaans, of enige ander streekstaal is. Elke vorm dra by tot die veelsydigheid en kleur van die taal. Wanneer ons ruimte skep vir hierdie taaldiversiteit in die klaskamer, bevorder ons nie net insluiting nie, maar versterk ons ook leerders se taalselfbeeld en hul gevoel van behoort.
Om ware eienaarskap van Afrikaans onder leerders en opvoeders aan te moedig, moet feesvieringe nie bloot simbolies of oppervlakkig wees nie. Dit moet ’n ervaringsgeleentheid word wat ruimte skep vir persoonlike betrokkenheid, kulturele uitdrukking en gemeenskapsherinnering. Wanneer leerders self stories vertel, gedigte skryf, gesprekke voer met familie oor hul taalpad, of kreatief deelneem aan projekte rondom Afrikaans, begin hulle die taal as eie ervaar — nie net as ’n skoolvak nie, maar as deel van hul identiteit. Onderwysers speel hierin ’n sleutelrol deur geleenthede te skep waarin die taal kan leef, beweeg en groei in die klaskamer. Eienaarskap word gebou wanneer leerders voel hulle mag praat, mag speel, mag vra en mag skep in hul taal.
Die rol van die onderwyser strek veel verder as die oordrag van kurrikuluminhoud. In die konteks van taalonderrig, is opvoeders die primêre bemiddelaars van taalhouding, taalgebruik en taalwaardering. Hulle is ook die taalambassadeurs. Wanneer Afrikaans slegs as ’n akademiese vak aangebied word, ontvang leerders die boodskap dat dit bloot funksioneel of afgebaken is. Maar wanneer onderwysers die taal beliggaam — wanneer hulle hul trots, verbondenheid en liefde vir Afrikaans openlik leef — word daardie entoesiasme tasbaar en aansteeklik
Die Afrikaans100-eeufeesvieringe bied ’n unieke geleentheid om nie net die geskiedenis van die taal te herdenk nie, maar ook om by jong mense ’n hernieude liefde en waardering vir Afrikaans aan te wakker. Wanneer leerders die taal kan beleef as iets persoonliks, word dit meer as net ’n skoolvak — dit word deel van hul identiteit. Projekte waarin leerders hul eie Afrikaans-storie vertel, deur byvoorbeeld familiegeskiedenisse, spreekwoorde of taalervarings te deel, help om ’n gevoel van eienaarskap en trots te vestig. Kultuuraspekte soos kos, musiek en stories bied toeganklike ingange om die taal met positiewe emosie en herinnering te assosieer. Daarbenewens kan skole kreatiewe ruimtes skep waar leerders hulself in Afrikaans kan uitleef deur middel van digkuns, podsendings, blogs of sosiale media. Deur jong Afrikaanse rolmodelle — soos kunstenaars, sangers of entrepreneurs — by skoolgeleenthede te betrek, word Afrikaans nie net as waardevol nie, maar ook as relevant en “cool” beleef. Indien leerders sien dat hul taal leef, in musiek, stories en alledaagse kommunikasie, word hulle meer geneig om dit self met trots aan te wend. Belangrik is ook die erkenning van hul deelname: sertifikate, vertonings en publikasie van hul werk kan as motiveringsfaktor dien. Die betrokkenheid van organisasies soos bv die Afrikaanse Taalraad en ATKV kan verdere ondersteuning bied deur hulpbronne en platforms beskikbaar te stel. Só word die eeufeesvieringe nie net ’n terugblik nie, maar ’n betekenisvolle belegging in die toekoms van Afrikaans. Dit is nie slegs ’n simboliese handeling nie, maar ’n noodsaaklike pedagogiese strategie om leerders te help besef dat Afrikaans steeds relevant, bruikbaar en lewensvatbaar is — nie ’n struikelblok tot vooruitgang nie, maar ’n brug tot selfvertroue en selfverstaan. Hierdie bewustheid moet doelbewus gekweek word binne die klaskamer én daarbuite.
Taal word nie net geleer nie — dit word beleef. Onderwysers kan ’n sleutelrol speel in die skep van ’n lewendige en betekenisvolle taalruimte binne die skool en die breër gemeenskap. Deur leerderwerk sigbaar te maak — in skole, gemeenskapsentrums, plaaslike media of op digitale platforms — word ’n gevoel van gedeelde trots gevestig. Die betrek van ouers, biblioteke en organisasies soos die Afrikaanse Taalraad kan hierdie proses versterk en ’n breër taalnetwerk tot stand bring wat veel verder strek as ’n eenmalige geleentheid.
Afrikaans vier nie net sy formele status nie; dit vier sy mense, hul stories, hul styl en hul stemme. Onderwysers is sentraal tot die proses om die taal weer “tuis” te laat voel in skole — nie net as ’n vak nie, maar as ’n lewende instrument van kommunikasie, kreatiwiteit en gemeenskap. Wanneer leerders met oortuiging kan sê: “Afrikaans is nie net ’n vak nie — dis deel van wie ek is,” dan getuig dit van suksesvolle, betekenisvolle taalonderrig.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: