Daar is min dinge so uitputtend soos die daaglikse nuussiklus.
'n Eindelose stroom nuusberigte, opskrifte en “hot takes” dring elke oomblik op ons af: op ons selfoon, op die skerms in ontvangskamers, in die gesprek by die werk. Die wêreld het vinniger geword, maar nie noodwendig wyser nie. In plaas daarvan om ons te help verstaan, oorval die nuus ons met fragmente van feite, vinnige gevolgtrekkings en dikwels oorvereenvoudigde narratiewe.
In hierdie konteks begin 'n stadiger manier van skryf en lees weer sin maak. Sloernalistiek, soos ons dit gedoop het (of “slow journalism” in die internasionale literatuur) het ontstaan as ’n teenvoeter vir hierdie gejaag. Dit is nie net 'n tempo nie. Dit is ’n ingesteldheid, 'n praktyk en 'n filosofie oor hoe ons samelewing kan dink, praat en saamleef.
En in ’n klein Afrikaanse hoek van die aanlyn-wêreld, vind hierdie benadering hopelik 'n tuiste in OntLaer.
Spoed is nie altyd goed
Tradisionele joernalistiek was nog altyd aan tyd gebonde. Wie eerste die nuus breek, wen. Maar met die opkoms van digitale media het hierdie dinamiek drasties verskerp. Sosiale media dwing nuusinstansies om vinniger te wees as ooit, wat dikwels beteken dat diepte, konteks en deernis die prys betaal. Tyd vir deeglike navorsing, meer as een bron, of selfs net 'n oomblik van nadenke, is 'n luuksheid wat die meeste verslaggewers nie meer kan bekostig nie. En met “bekostig” bedoel ek dit letterlik, want elke minuut wat 'n nuusmededinger (tradisioneel en deesdae sosiale media gebruikers op die toneel) sloer, verloor hulle verkeer na hul webtuiste en dus geld.
Die gevolg? Artikels wat vol is van oppervlakkigheid, clichés, presies afgesny tot wat aanlyn deelbaar is, en nie wat betekenis dra nie. Die Britse akademikus Susan Greenberg het reeds in 2007 opgemerk dat die beste joernalistiek dikwels uit ‘n stadiger proses ontstaan, een wat gelyke waarde aan narratief en feite heg. Haar artikel in Prospect het later as die oorspronklike bron vir die term “slow journalism” in die Oxford Dictionary of Journalism gedien.
Maar wat beteken dit in praktyk? Wat is sloernalistiek?
Sloernalistiek is 'n vorm van joernalistiek wat nie gebou is vir vinnige verbruik nie, maar om stadiger oor nagedink te word. Dit wil verstaan voordat dit verduidelik. Dit wil eers luister voordat dit oordeel. En dit wil eerder unieke insig as oortuiging lewer. Die doel is nie om te oortuig nie, maar om alternatiewe perspektiewe te bied.
Internasionale bronne gee ons 'n aantal kenmerke:
Artikels word geskryf na deeglike ondersoek, soms maande of in uitsonderlike gevalle selfs jare na die nuusgebeurtenis.
Journaliste delf dieper in die agtergrond, die motiewe, en die langtermyngevolge van nuusgebeure.
Onbelangrike besonderhede word weggelaat ten gunste van die kern.
Daar is 'n sterk neiging na langvorm artikels: 2 000, 5 000, selfs 10 000 woorde lank.
Dit vermy polarisasie en kitsmenings.
Dit moedig deelname van lesers aan, nie net as kommentators nie, maar as mededenkers. Dit streef dus nie bloot kommentaarafdeling gesprekke of debat na nie, maar nooi lesers uit om self ook te skryf. Want deur te skryf, word denke verbeter.
Hierdie vorm van joernalistiek is nie bloot traag nie. Dis deurdink. Dis volwasse. Dis bereid om met onsekerheid te leef terwyl dit die waarheid stadig nader.
Die OntLaer-benadering
In Suid-Afrika begin hierdie tipe benadering wortelskiet in projekte soos OntLaer en ander. Die redaksie bestaande uit Frederik van Dyk, Paul Maritz en ekself het geen aanspraak op die titel “joernalis” nie. Ons is nie in ‘n nuusredaksie nie. Ons dra nie 'n verslaggewer se notaboek rond nie. Al drie van ons het voltydse werke, buite die mediabedryf, waaroor ons passievol is.
OntLaer is ook nie 'n teenprojek teen hoofstroom Afrikaanse media soos Netwerk24 of Maroela Media nie, inteendeel. Hierdie platforms vervul belangrike funksies in die verslaggewing van daaglikse nuus. Ons glo dat Suid-Afrika 'n gesonde nuusomgewing het met puik nuusverslaggewers in teks by Maroela Media en Netwerk24, op radio by RSG en die verskeidenheid puik gemeenskapsradiostasies soos Pretoria FM, Bok Radio en kie, en op televisie met eNuus, Kyknet en selfs nog die SAUK.
OntLaer wil nie daardie ruimte oorneem nie, maar 'n ander ruimte oopmaak. ‘n Stadiger een. Een waar daar nie ‘n redaksionele horlosie tik nie, maar eerder 'n denkende hart klop.
Die naam “OntLaer” is veelvlakkig: dit verwys na die aksie om 'n laer oop te maak, om mense wat gewoonlik nie saam praat nie, in gesprek te bring. Maar dit beteken ook om lae af te skil, om verstaanshorisonne te verbreed deur die voorveronderstellings van ideologie en identiteit stadiger te verken.
Sommige mense mag dalk vermoed dat 'n projek soos OntLaer grense wil afbreek, of dat dit in diens staan van ‘n soort radikale relativisme. Maar Paul Maritz het dit onlangs duidelik gestel dat OntLaer nie 'n opoffering van identiteit of kultuur is nie. Inteendeel, dit is juis omdat elke skrywer haar of sy eie oortuigings bring, dat die debat sinvol is. 'n Laer is nie per definisie sleg nie. Dit is eers wanneer dit ondeurdringbaar word, dat dit ongesond raak. Die doel is nie om laers af te breek nie, maar om hulle oop te maak vir gesprek.
Volgens my is een van die opvallendste elemente van OntLaer die erns waarmee ons hoop en beplan om meningsverskil te benader. Die redaksie is eerlik oor ons en ander se uiteenlopende menings. Ons probeer nie eenstemmigheid afforseer nie. Dis nie 'n groep met 'n ideologiese agenda nie. Dit is eerder 'n eksperiment: kan 'n platform bestaan waar eerlike meningsverskil as 'n bate eerder as 'n bedreiging gesien word? Die antwoord is nie 'n gegewe nie, maar ons is bereid om te probeer.
Hierdie ingesteldheid is in skrille kontras met die “cancel culture” van die hedendaagse internet wat aan alle kante van die verskeidenheid politieke spektrum manifesteer.
Die waarde van stadige denke
In die dialoë van Plato sien ons 'n voorbeeld van hoe stadige gesprek ‘n intellektuele tuiste kan word. Sokrates begin selde met stellings. Hy begin met vrae. En dikwels stel hy eers sy opponent se argument sterker as wat die self kon, voordat hy dit weerlê. Dit is 'n benadering wat respek wys, wat die waarheid belangriker ag as die oorwinning van ‘n debat.
Sloernalistiek volg dieselfde pad. Dit erken dat meningsverskille en morele vrae nie in 'n twiet opgelos word nie. Dit vra eerder: wat weet ons regtig? Wat aanvaar ons net omdat dit veilig of gemaklik is? En wat sou gebeur as ons met meer respek en minder vrees begin verskil?
Om stadiger te werk beteken nie om minder te werk nie. Inteendeel, dit vereis meer moeite, meer empatie, en dikwels meer moed. Dit is makliker om 'n teenstander tot ‘n karikatuur te reduseer. Dit is moeiliker om hom of haar as 'n mens te verstaan. Dis makliker om saam met die algoritme te skree. Dis moeiliker om stil te staan en self te dink.
Stadiger beteken meer tyd vir navorsing. Meer ruimte vir nuanse. Meer bereidwilligheid om van opinie te verander. Minder sekerheid. Meer waarheid.
En dalk meer begrip.
Ons nederige poging en ‘n oop uitnodiging
OntLaer maak geen groot aansprake nie. Daar is geen vaandels en vuiste nie. Dis 'n projek wat erken dat dit nie altyd reg gaan wees nie, en dat selfs goedbedoelde insigte soms skeef loop. Maar dis juis die poging wat tel. 'n Opregte poging om die Afrikaanse gesprek stadiger, dieper en waardiger te maak.
Maar sloernalistiek is nie 'n modeverskynsel nie. Dis ons poging tot antwoorde, soms onvolledig, soms stamelend, op die gejaagde leegheid van die huidige diskoers. Dis 'n manier om weer die betekenis van gemeenskap, kultuur en waarheid te verken.
As jy glo dat taal kan troos en terg, dat denke tyd nodig het, en dat die waarheid nie skree nie maar gesels, dan is jy welkom.
Kom lees en kom verskil.
Meer artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: