
Afrikaans se toekoms op SABC TV
Volhoubare taalvoortbestaan is in openbare teenwoordigheid gesetel.
Die bestaansrede van 'n openbare uitsaaier soos die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) is om 'n uitsaaidiens te lewer wat so ver as moontlik vry van politieke en kommersiële inmenging is.
Op 1 Augustus 1936 het die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie amptelik tot stand gekom. Deur die jare het dit 'n trotse geskiedenis gebou met die lewering van uitnemende nuusdienste en vermaak. Sodoende het dit ook ’n vername rol gespeel in die ontwikkeling van die land se inheemse tale.
Ongelukkig word dié uitsaaier die afgelope aantal jare deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar, wat twyfel laat ontstaan oor die onafhanklikheid daarvan, en weens swak bestuur die voorbestaan daarvan in die weegskaal plaas. Die bekendste skandaal was waarskynlik dié wat die afdanking van die voormalige uitvoerende hoof, Hlaudi Motsoeneng, voorafgegaan het. 'n Parlementêre ad hoc komitee wat in 2016 aangestel is om klagtes teen hom en die bestuur van die SAUK te ondersoek, het probleme in finansiële nakoming, politieke inmenging, onwettige ontslag van raadslede en personeel, inmenging in redaksionele besluite en swak deursigtigheid in die verkoop van die SAUK se argiewe aan MultiChoice en die aankoop van eksemplare van die New Age-koerant geïdentifiseer.
Helaas was die uiteindelike verslag nie die begin van 'n nuwe, beter era nie. Die skandale duur voort, met personeel wat steeds aan soortgelyke oortredings skuldig bevind word en waardevernietiging wat weens swak bestuur op reuse skaal plaasvind.
In die proses is daar vele slagoffers, wat individue, gemeenskappe en besighede insluit. Een hiervan is die Afrikaanssprekende gemeenskap, wat tans beslis in die visier van die instelling se bestuur is. Oor die redes hiervoor, kan 'n mens net spekuleer. Afrikaans self kan egter nie geblameer word nie, aangesien die taal nog altyd ’n groot bydrae tot die instelling se inkomstestroom gelewer het en die SAUK van eksterne bronne erkenning vir die gehalte van beide radio- en televisieprogramme gekry het.
Die Sistematiese Afskaling van Afrikaanse Uitsendings
Wat die televisie-aanbod op die drie SABC-kanale aanbetref, is die vervaardiging en aankoop van oorspronklike Afrikaanse programme die afgelope twee dekades stelselmatig uitgefaseer. Uiters populêre programme soos 50/50, 7de Laan en nou waarskynlik ook Voetspore, is met kort kennisgewing beëindig en in die proses is almal wat daaraan meegewerk het, sonder inkomste gelaat. Omdat hierdie programme ten tye van die beëindiging daarvan hoë kykersgetalle gehad het, het dit ook beteken dat nog 'n gevolg die betekenisvolle verlies aan advertensie-inkomste was.
Alternatiewe betaalkanale en nuwe kykopsies soos stroming beteken uiteraard dat die openbare uitsaaier kykers sou verloor, maar in die geval van Afrikaanssprekendes het die verlies aan ’n aanbod van programme die proses versnel. Vir baie Suid-Afrikaners is die openbare uitsaaier se televisiekanale hulle enigste opsie as gevolg van onder meer persoonlike begrotings en konnektiwiteit. Selfs SABC3 het ’n beperkte reikwydte. Daar is kykers wat verklaar dat die nuusbulletins die enigste uitsendings is waarin hulle nog belangstel. Die gereelde beskikbaarstelling van die jongste nuus is waarskynlik die belangrikste diens van enige uitsaaier, omdat dit die publiek ingelig hou – ook oor kwessies wat letterlik lewensbelangrik kan wees, soos storm-, brand- of vloedwaarskuwings.
Hierdie diens is duidelik nie vir die SAUK van belang wanneer dit Afrikaanssprekendes aangaan nie. In Maart 2024 is Afrikaanse nuusbulletins byvoorbeeld van SABC 2 na SABC 3 verskuif, wat 'n verlies van honderdduisende kykers veroorsaak het weens die beperkte reikwydte. Afgesien hiervan, is bulletins verskeie kere glad nie uitgesaai nie. Op kort (of geen) kennisgewing nie, is sportwedstryde in die plek daarvan gebeeldsend, wat kykers en adverteerders nog verder vervreem het. Minder as ses maande later, in Augustus 2024, is besluit dat die Afrikaanse nuusbulletins op Saterdae en Sondae om 18:15 weer na SABC2 sou terugkeer, maar op weeksdae steeds op SABC3 in die 20:30 tydsgleuf te sien sou wees. Weer is kykers en advertensie-inkomste ingeboet, maar nog was dit die einde nie.
Hoe die SAUK ’n Gemeenskap Uitsluit
Op Saterdagaand, 5 April 2025, is geen nuusbulletin om 18:15 uitgesaai nie. Geen verklaring is aanvanklik hiervoor aangebied nie, maar gerugte is gehoor dat die bestuur besluit het om Afrikaanse televisienuusuitsendings voortaan oor naweke te staak. Organisasies wat AfriForum en die Afrikaanse Taalraad insluit, het 'n verklaring van die bestuur geëis. Eers op 8 April 2025 is 'n kennisgewing deur die SAUK uitgereik met die verskoning dat die bulletin weens 'n skeduleringsfout weggeval het.
In 'n skrywe aan AfriForum gedateer 9 April 2025, voer Nomsa Chabeli, uitvoerende hoof van die SAUK, die volgende aan:
“Afrikaans remains an important part of our public broadcasting mandate, just as all South African languages are and we are committed to providing equitable access to news and information in all official languages. In conclusion, I would like to emphasise the following: Afrikaans news has not been discontinued. Afrikaans News currently broadcasts at 20:30 Mondays - Fridays on S3 [sic]. Weekend Afrikaans bulletins will continue in their current time slot, 18:00 on Saturdays and Sundays on SABC 2. The SABC remains committed to all languages as part of its constitutional and public service mandate.”
Soos enige persoon weet wat al hofsake oor taalregte in Suid-Afrika gevoer of bestudeer het, lê die duiwel in die detail van die woord “equitable”. Dit is gewoonlik die verskoning om syferspeletjies te speel tot ’n somtotaal gevind word wat die afskaffing van dienslewering in 'n bepaalde taal skynbaar voldoende motiveer. Nie net Afrikaanssprekendes kla oor die afskeep van hulle taal nie, maar ook die sprekers van kleiner amptelike tale, byvoorbeeld Ndebele, wat AfriForum al in 2020 al deur die instelling Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO) genader het om die regverdige behandeling van Ndebele deur die SAUK te versoek. Ten spyte van Chabeli en andere se verskonings en verduidelikings oor 5 April 2025 se verdwene nuusbulletin, is daar verskeie fluitjieblasers wat steeds aan onder meer Pretoria FM, Netwerk 24 en AfriForum bevestig dat daar planne was en steeds is om die uitsending van Afrikaanse televisienuus oor naweke te staak.
Voorlopig het AfriForum op 8 April 2025 'n formele versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die SAUK gerig om antwoorde oor die toekoms van Afrikaanse TV-nuusuitsendings te eis. Van die vrae wat in dié skrywe gevra word, is die kykersgetalle voor én na die bogenoemde kanaal- en tydsgleufverskuiwings, asook hoeveel advertensie-inkomste Afrikaanse TV-nuusbulletins toe gegenereer het en nou kry. AfriForum wil ook weet watter stappe geneem word om te voorkom dat toekomstige uitsendings weggelaat word.
Geen reaksie is nog ontvang nie. Intussen daal kykersgetalle steeds en gaan die waarskynlike einde van Voetspore ook verdere negatiewe gevolge hê. Die instelling spartel om finansieel te oorleef en word uit verskeie oorde vir wanbetaling aanspreeklik gehou. Benewens Kew Produksies (die vervaardiger van Voetspore) wat die SAUK met regsaksie oor wanbetaling dreig, het AfriForum in die verlede ook verskeie akteurs, aktrises en vervaardigers wat deur Hans Strydom verteenwoordig is, met soortgelyke regshulp ondersteun. Mense krepeer letterlik finansieel omdat die SAUK in gebreke bly om kontraktuele verpligtinge teenoor hulle na te kom.
Hierdie laakbare optrede oor die algemeen, maar spesifiek wat Afrikaans aanbetref, laat 'n bitter smaak in die mond. Dan praat ons nog nie eens van die roekelose omgang met die geld van belastingbetalers nie. Sommige mense vra waarom ’n openbare uitsaaier hoegenaamd nog nodig is. Na my mening vereis ’n taal se oorlewing en gesonde groei dat dit in openbare ruimtes hoorbaar en sigbaar bly. Taal kan net so min slegs 'n privaat inisiatief wees, as wat dit net aan owerhede oorgelaat word. Teoreties moet die openbare uitsaaier die een instelling wees wat werklik landswyd kontak met alle inwoners kan hou. Ook daarom is die voortbestaan daarvan noodsaaklik, veral wanneer inligting van nasionale belang gedeel moet word. In 'n land met verskeie amptelike tale soos Suid-Afrika, is die voordeel van 'n nasionale uitsaaier boonop dat die groter en sterker taalgemeenskappe die kleineres kan help subsidieer, wat vir almal die voordeel inhou dat die land ingeligte inwoners het.
Ons kan dus nie toelaat dat enige taal weens onbevoegdheid, onkundigheid of kwaadwilligheid verder afgeskaal en benadeel word nie.
Dit is dringend noodsaaklik dat Afrikaanssprekendes in samewerking met ander taalgemeenskappe groter verantwoordbaarheid van hierdie geplunderde nasionale bate eis.
Ons het ook 'n ereplig in dié verband – nie alleen vier ons vanjaar die honderdste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal nie, maar dit is ook 101 jaar sedert Afrikaans vir die eerste keer deur klein onafhanklike radiostasies oor die eter laat hoor is.
Om nou die uitfasering daarvan te aanvaar, sal ’n ondiens teenoor ons voor-en nageslagte wees.
Alana Bailey is 'n geskiedkundige, taalaktivis, skrywer en reisiger wat in Pretoria woon.
Nog artikels deur gasskrywers:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Dankie vir hierdie artikel. Ek is nie ‘n Afrikaner nie, maar ek is lief vir Afrikaans en dink die land word verryk deur die Afrikaanse TV programmas omdat dit van hoë gehalte is. Dit is treurig dat die SAUK op ‘n oneerlike manier Afrikaners en ander minderheidsgroepe benadeel. Op die einde sal daar niks oorbly nie, net soos die posdiens en ander SEO’s. Ons wag vir ingrypende veranderings, dat alle bevolkingsgroepe van Suid-Afrika op gelyke regte sal ontvang! Dan sal ons land weer ‘n mooie land word.