Almal wil ontwerp, Niemand wil Afteken nie
Wie dra die verantwoordelikheid wanneer 'n drukfout miljoene kan kos?
Die eerste reël wat ek as jongwerkende in die drukbedryf geleer het, was dat jy jou lewe gereeld gaan wegteken. Só het 'n senior grafiese ontwerper van destyds dit aan my verduidelik, wanneer die goedkeuringsdokumente, of altans die proewe, deur die drukkers aangestuur word. Almal wil skep, niemand wil afteken nie.
In die drukbedryf werk grafiese ontwerpers en drukkers nou saam en alhoewel elke rolspeler oor afgebakende verantwoordelikhede beskik, is dit heeltemal moontlik en selfs menslik vir foute om deur te glip, nadat die drukwerk afgehandel is. Om een pamflet oor te laat druk is nie 'n kliënt se grootste verlies nie, maar massaproduksie daarteenoor kan vir 'n maatskappy miljoene rande kos. Dis dan wanneer mense begin vingers wys, want niemand het vir 'n miljoen se skadevergoeding begroot nie.
Wie word aanspreeklik gehou vir 'n fout wat op 'n goedkeuringsdokument goedgekeur is en wie is verantwoordelik vir die skadevergoeding indien die fout op 'n produk reeds gedruk is?
'n Goeie voorbeeld hiervan is Tesco wat vanjaar hul Tesco Special Fried Rice van die winkelrakke af moes verwyder, nadat hul besef het dat die produk koring (gluten) bevat en dit nie op die etiket aangedui is nie. Ontbrekende allergeeninligting hou ernstige gesondheidsrisiko’s in, daarom was dit nodig om die produk onmiddellik van die rakke af te verwyder. Detail! Dis waarom die goedkeuringsproses een van die belangrikste fases in enige drukprojek is. Jy hersien oor en oor en selfs al lyk dit vir jou reg, is dit normaal om nog steeds skepties te wees en jou bedenkinge te hê.
In 'n neutedop kan ons 'n goedkeuringsdokument as die finale gehaltekontroledokument sien, voordat drukkers hul masjiene aan die rol kry en met 'n massaproduksie begin. Wanneer 'n goedkeuringsdokument onderteken of elektronies goedgekeur word, bevestig die grafiese ontwerper of kliënt dat die dokument volledig nagegaan is en dat die inhoud, uitleg en tegniese aspekte aanvaar is. Hierdie goedkeuring dien dan as die amptelike verwysingspunt waarvolgens die finale drukwerk vervaardig word en wie die aanspreeklikheid moet aanvaar indien iets verkeerd loop.
Die Professionele Verhouding
Soos voorheen genoem, is daar noue samewerking tussen grafiese ontwerpers en drukkers, maar die verantwoordelikhede verskil. Die ontwerper fokus op die visuele kommunikasie van die projek wat uitleg, tipografie, handelsmerkspesifikasies en drukgereed dokumente insluit. Die drukker neem daarna die verantwoordelikheid vir die tegniese verwerking van die dokumente, wat kleurbestuur, materiaalkeuses, masjieninstellings en die fisiese produksie van die ontwerp insluit.
Die goedkeuringsfase is die middelpunt waar hierdie twee verantwoordelikhede mekaar ontmoet. Dis die drukker se verantwoordelikheid dat die drukdokumente op 'n tegniese vlak korrek verwerk en geproduseer word, terwyl die ontwerper of kliënt weer moet bevestig dat die inhoud en visuele voorstelling van die drukdokument korrek is.
Finaal.pdf | a.Finaal.100.pdf | FFFFFinal.Final.Urgh.pdf
Uit die praktyk sal baie mense die subopskrif verstaan en dalk selfs humoristies vind, want die “finale” drukdokument is nooit die einddokument nie.
Dis waarom dit belangrik is om jou drukdokumente reg te benoem, omdat deurmekaar dokumente tot verwarring in die produksieproses kan lei.
In 2024 moes Coca-Cola meer as 13 000 Minute Maid Zero Sugar Lemonade-koeldranke van die rakke af verwyder, omdat die blikkies met “Zero Sugar” gemerk was en dit eintlik die gewone weergawe met ongeveer 40g suiker per blikkie bevat het. Die Amerikaanse FDA het die terugtrekking van die produk as 'n Class II Recall geklassifiseer, omdat hierdie fout 'n gesondheidsrisiko vir diabete en ander verbruikers kan skep.
Vanuit 'n kontraktuele hoek het die goedkeuring van 'n goedkeuringsdokument ook natuurlik regsimplikasies. Nadat 'n kliënt of grafiese ontwerper 'n goedkeuringsdokument goedgekeur het, lê die aanspreeklikheid by die persoon wat die ontwerpe goedgekeur het en word die goedkeuringsdokument dan as die amptelike verwysingsdokument waarvolgens die drukker die produksie moet uitvoer, gesien. Geen reëls word in hierdie verwysingsraamwerk deur die drukkers aangepas of gebuig nie. Indien die drukker die finale produk presies volgens die goedgekeurde goedkeuringsdokument vervaardig, word die foute wat reeds op die goedkeuringsdokument was, nie as produksiefoute gesien nie.
Wie se Skuld is dit?
Een van die grootste wanopvattings in die drukbedryf is dat die drukker altyd aanspreeklik gehou moet word wanneer daar 'n fout op die eindproduk voorkom. In die praktyk is dit noodsaaklik vir drukkers én ontwerpers om onderskeid tussen produksiefoute en inhoudsfoute te verstaan.
Produksiefoute gebeur wanneer die einddrukwerk nie ooreenstem met die goedgekeurde goedkeuringsdokument nie. Die gebruik van die verkeerde dokument of ou weergawe, lae gehalte foto’s of beelde, verkeerde fonts, kleurafwykings of selfs die gebruik van verkeerde materiaal kan as voorbeelde hiervan gesien word. As die eindproduk van die goedgekeurde goedkeuringsdokument verskil, berus die aanspreeklikheid gewoonlik dan by die drukker.
Inhoudsfoute, daarenteen, is foute wat reeds op die goedkeuringsdokument voorgekom het toe dit goedgekeur is. Dit sluit onder meer spelfoute, verkeerde produkbeskrywings, handelsmerkinligting en ander inhoudelike onakkuraathede in. Indien hierdie foute tydens die goedkeuringsproses nie geïdentifiseer word nie, word die verantwoordelikheid gewoonlik toegeskryf aan die persoon wat die goedkeuringsdokument goedgekeur het (Legal Clarity, 2026).
Druk dit Waar dit Hoort!
Nie almal besef die waarde en implikasies van 'n goedkeuringsdokument totdat daar 'n fout op die eindproduk is nie. Soms word die dokument haastig geteken sodat die drukproses so gou as moontlik kan begin. Dis die drukkers se verantwoordelikheid om vir kliënte 'n goedkeuringsdokument te stuur en die kliënt se verantwoordelikheid om dit met 'n fynoog deur te werk. Goedgekeurde goedkeuringsdokumente is die amptelike maatstaf vir die eindelike drukwerke. Indien die drukker die goedgekeurde goedkeuringsdokument akkuraat produseer, lê die verantwoordelikheid vir inhoudelike foute by die persoon wat die goedkeuringsdokument goedgekeur het, en nie by die drukker nie.
Sommige foute is so subtiel dat dit selfs ná verskeie gehaltebeheerstappe onopgemerk kan bly. Wanneer 'n fout eers ná massaproduksie raakgesien word en die produkte reeds versprei of uitgestuur is, neem die geldelike verliese aansienlik toe. Benewens die uitgawes om alles te laat herdruk, moet ondernemings dikwels ook die uitgawes verbonde aan vervoer, logistiek, berging en herverpakking dra. En dit, na my mening, is veel erger as om jou lewe in die drukbedryf weg te teken.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









