Ek ken 'n paar vriendinne wat 'n Polaroid-kamera besit. Dit word slegs gebruik vir spesiale geleenthede soos troues, verjaardae, kersdae en nuwejaar. Klein foto’s vir groot geleenthede. Wat my altyd opgewonde maak is om die stadige ontwikkeling van die foto te sien nadat dit geneem is, juis omdat ons nie weet of die foto “mooi” gaan vertoon of nie.
Dis hoe die polaroid-oomblikke werk: Jy glimlag, jy neem en dan kruis jy jou vingers en hoop vir die beste dat jou gesig nie te snaaks lyk nie. Soms is die swakste foto’s die beste foto’s, daarom skryf jy die datum op die foto met 'n pen en plak jy dit dan in 'n boek of op jou yskas. Dis die goeie dae. Die oomblikke wat hou.
Die toenemende implementering van kunsmatige intelligensie het daartoe gelei dat handelsmerke dié tegnologie in hul produkte, dienste en bemarkingsveldtogte integreer, terwyl tegnologie-ondernemings hul KI-vermoëns as 'n strategiese mededingende onderskeidende faktor posisioneer. Teen hierdie agtergrond het Polaroid egter 'n teenstellende strategie gevolg en 'n anti-KI-veldtog geloods. In plaas daarvan om die potensiaal van KI te beklemtoon, het die onderneming hul handelsmerkidentiteit doelbewus rondom fotografie, menslike ervaring en tasbare herinneringe herposisioneer. Polaroid se mees onlangse anti-KI-veldtogte verteenwoordig daarom meer as net konvensionele produkbemarking. Dit vorm 'n kulturele gesprek oor digitalisering, skermafhanklikheid, menslike kreatiwiteit en die rol van tegnologie in die alledaagse lewe. Na my mening was dit slim van Polaroid om deur waardegedrewe handelsmerkkommunikasie, waarin simboliese betekenis, kulturele relevansie en emosionele storievertelling gebruik word, die onderneming van sy mededingers te onderskei, want dit is een van die min handelsmerke wat die menslike ervaring deur tegnologie op 'n tasbare manier kan vasvang.
Polaroid se anti-KI benadering
Polaroid het reeds in 2025 hul internasionale veldtog, The Camera for an Analog Life, saam met die bekendstelling van die nuwe Polaroid Flip-kamera bekendgestel. Die veldtog verteenwoordig 'n doelbewuste teenreaksie op die toenemende digitalisering van die samelewing, waarin skerms en kunsmatige intelligensie 'n groter rol in menslike interaksie speel. Filmgebaseerde fotografie word gevolglik as 'n alternatief geposisioneer wat doelbewuste teenwoordigheid en egte ervaring bo algoritmies bemiddelde kommunikasie stel.
Die kernboodskap van die veldtog is nie dat tegnologie oor die algemeen problematies is nie, maar dat sekere menslike ervarings nie deur digitale platforms vervang behoort te word nie. Die handelsmerk gebruik eenvoudige, emosioneel gelaaide slagspreuke soos Real stories. Not Stories & Reels. en No one on their deathbed ever said: I wish I’d spent more time on my phone. Hierdie uitsprake is doelbewus daarop gemik om verbruikers te laat nadink oor hul verhouding met tegnologie en die waarde van fisiese teenwoordigheid en persoonlike ervarings. Polaroid se kommunikasiestrategie is daarop gemik om filmgebaseerde fotografie as 'n hulpmiddel te herdefinieer wat menslike ervarings en fisiese teenwoordigheid in 'n digitale wêreld bevorder.
Polaroid se pro-mens benadering
Polaroid se mees onlangse veldtog, The Best of Summer is Analog word op 2025 se veldtog gebou deur op omgewingsbewustheid te fokus. Een van die bekendste advertensies was 'n groot advertensiebord op Coney Island in New York met die boodskap: Go jump in some water before the data centers drink it all up.
Hierdie slagspreuk verwys na die toenemende openbare debat oor die groot hoeveelhede water wat moderne datasentrums benodig om hul rekenaarinfrastruktuur af te koel. Alhoewel Polaroid nie direkte tegniese kritiek teen kunsmatige intelligensie lewer nie, gebruik die onderneming hierdie omgewingsvraagstuk as simboliese verwysing na die onsigbare infrastruktuur waarop digitale tegnologieë en generatiewe KI staatmaak. Volgens Business Insider het hierdie advertensie wêreldwye aandag geniet, omdat dit een van die eerste internasionale handelsmerkveldtogte was wat die omgewingsimplikasies van KI in sy kreatiewe kommunikasie geïntegreer het.
Die veldtog is terselfdertyd in verskeie internasionale stede bekendgestel, soos New York, Londen en Seoel. Verdere slagspreuke soos You can’t bask in blue light en Dance like nobody is recording, versterk dieselfde sentrale boodskap dat menslike ervaring, spontaneïteit en fisiese teenwoordigheid nie deur digitale tegnologie vervang behoort te word nie.
Patricia Varella, kreatiewe direkteur van Polaroid, beklemtoon dat die handelsmerk eerder as pro-human gesien wil word. Volgens haar kan die handelsmerk dus ook as tegnologie-behoudend beskou word. Die handelsmerk se fokus verskuif dus weg van tegnologiese weerstand en word eerder op die behoud van menslike ervaring, emosionele herinneringe en kreatiewe outentisiteit geplaas.
Hierdie benadering stem ooreen met hedendaagse beskouings oor handelsmerkdoel, waar ondernemings nie slegs produkte verkoop nie, maar ook waardes, identiteit en wêreldbeskouings kommunikeer. Polaroid se handelsmerkidentiteit word gevolglik nie rondom die tegniese eienskappe van hul kameras opgebou nie, maar eerder rondom die simboliese betekenis van filmgebaseerde fotografie as 'n uitdrukking van egtheid, bewuste teenwoordigheid en menslike verbondenheid.
Vanuit 'n bemarkingsperspektief is Polaroid se strategie 'n voorbeeld van suksesvolle handelsmerkdifferensiasie. In 'n mark waar die meeste tegnologiemaatskappye hul produkte rondom kunsmatige intelligensie ontwikkel, kies Polaroid doelbewus vir 'n teenstellende posisionering. Die onderneming probeer nie sê dat filmgebaseerde fotografie beter as digitale fotografie is nie. Inteendeel, die waarde van die produk word verskuif vanaf tegniese prestasie oor na simboliese betekenis.
Hierdie strategie sluit ook aan by Douglas Holt se teorie van Cultural Branding, waar handelsmerke kulturele spanning identifiseer en hul produkte as simboliese oplossings aanbied. In Polaroid se geval word filmgebaseerde fotografie die simbool van stadiger leef, egte menslike kontak en die behoud van fisiese herinneringe in 'n wêreld wat toenemend deur algoritmes en digitale media oorheers word.
Betekenis gaan Beeld verby
Semiotiek verwys na die studie van hoe tekens, simbole en visuele elemente betekenis oordra en deur mense geïnterpreteer word. Vanuit 'n semiotiese perspektief dra elke Polaroid-foto betekenis wat verder as die beeld strek. Anders as digitale foto’s, wat onbeperk gekopieer, gewysig en selfs volledig deur kunsmatige intelligensie gegenereer kan word, bestaan elke Polaroid-afdruk as 'n unieke fisiese voorwerp. Die chemiese ontwikkelingsproses, subtiele kleurverskille en onvoorspelbare onvolmaakthede word deel van die produk se simboliese waarde.
Hierdie onvolmaaktheid word nie as 'n tekortkoming beskou nie, maar as bewys van egtheid en ja, jou lewensgehalte. In hierdie opsig sluit Polaroid se strategie aan by die groeiende voorkeur vir outentieke en handgemaakte produkte, waarin verbruikers toenemend waarde heg aan menslike betrokkenheid eerder as digitale foutloosheid.
Na my mening is Polaroid se anti-KI-veldtog nie net slim nie, maar ook briljant, omdat dit as 'n voorbeeld dien van hoe handelsmerke hulself deur waardes eerder as tegnologiese innovasie kan onderskei. Die onderneming bevraagteken nie die tegniese vermoëns van kunsmatige intelligensie nie, maar vestig eerder die aandag op die onvervangbare waarde van menslike ervaring. Hierdie benadering sluit aan by hedendaagse teorieë oor handelsmerkaktivisme, kulturele handelsmerkvorming en ervaringsbemarking, waar verbruikers toenemend handelsmerke verkies wat waardes en emosionele verbintenisse kommunikeer.
In 'n tyd waarin kunsmatige intelligensie toenemend die kreatiewe industrie beïnvloed, herinner Polaroid se veldtog die publiek daaraan dat tegnologie wel nuwe moontlikhede skep, maar nie die emosionele, fisiese en simboliese waarde van werklike menslike ervarings kan vervang nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











