Die voortdurende ontwikkeling van generatiewe kunsmatige intelligensie (KI) bring reeds ingrypende veranderinge in die wyse waarop besighede kommunikeer, ontwerp, skryf en bemark.
Elon Musk voorspel dat selfbesturende KI-stelsels teen 2036 die meeste vorme van menslike arbeid kan verrig, wat die ekonomiese waarde van geld kan verander. Geoffrey Hinton, ook bekend as die Godfather of AI, waarsku weer dat toekomstige KI-stelsels moontlik hulself sonder direkte menslike ingryping sal kan optimaliseer en uiteindelik menslike redenasievermoë in verskeie domeine kan oortref (BBC News, 2023; Reuters, 2024). Hoewel hierdie scenario nog nie gerealiseer het nie, waarsku Hinton dat intelligensiestelsels menslike kognitiewe vermoëns kan oorskry voordat voldoende veiligheids- en beheermeganismes ontwikkel is (Hinton, 2023).
Een van die grootste foute wat besigheidseienaars tans maak, is om hul grafiese ontwerpers, bemarkers, fotograwe en kopieskrywers te laat gaan met die oortuiging dat kunsmatige intelligensie (KI) hul rolle kan vervang. Namate generatiewe KI al hoe meer toeganklik geword het, het die behoefte aan professionele kreatiewe oordeel, strategiese leiding en geloofwaardige handelsmerkkommunikasie toegeneem.
Grind & Unwind se oordeelsfout
'n Onlangse internasionale nuusgebeurtenis rondom die onafhanklike koffiewinkel Grind & Unwind in San Francisco illustreer die risiko’s verbonde aan die gebruik van KI-gegenereerde beelde as 'n kostebesparende strategie. Die onderneming het aanvanklik KI-gegenereerde foto’s van hul kos en drankies op die spyskaart gebruik, omdat professionele produkfoto’s nog nie beskikbaar was nie. Hierdie besluit het negatiewe reaksie ontlok, nadat verbruikers die beelde as misleidend beskryf en hul kritiek wyd op sosiale media gedeel het. Die voorval het internasionale media-aandag geniet en die onderneming is uiteindelik genoodsaak om die KI-gegenereerde beelde te verwyder en met foto’s van die werklike produkte te vervang.
Wat besonder interessant, en in sekere opsigte ironies is, is dat talle plaaslike koffiewinkels hul spyskaarte sonder foto’s of illustrasies aan kliënte voorlê. As deel van kostebesparende maatreëls word spyskaarte dikwels in 'n Microsoft Word-dokument saamgestel en uitgedruk, terwyl sommige ondernemings dit verkies om hul spyskaart met die hand op swartborde neer te skryf. Ongeag van die spyskaart se uitleg is daar mense wat vanaf daardie spyskaart 'n koffie of ligte maaltyd sal bestel en met die produk en diens tevrede is. Waarom was mense dan so ongelukkig met Grind & Unwind se KI-gegenereerde inhoud?
Dis belangrik om te weet dat hierdie voorval nie nét oor kunsmatige intelligensie gegaan het nie, maar oor geloofwaardigheid en verbruikersvertroue wat KI-gegenereerde inhoud nie kan dra nie. In talle advertensies weet ons reeds dat die kos wat bedien word nie soos die kos op die advertensiebord langs die snelweg gaan lyk nie. Plaaslike koffiewinkels wen 'n kliënt se vertroue deur die diens wat gelewer word en die karakter van die winkel. Dink bietjie daaraan, as jy vriendelik deur personeel in 'n koffiehuis, wat sy eie huishoudelike karakter het, ontvang word en die tuisgebakte koeke wat reeds in die vertoonkas staan, gaan jy nie noodwendig die mooiste spyskaart nodig hê wat jou moet oortuig dat jy by die tafel vir koek-en-tee moet aansit nie.
Die wêreld is klaar moeg vir KI-uitnodigings en -advertensies. Grind & Unwind was maar net een van baie ondernemings wat KI-gegenereerde foto’s as bemarkingsmateriaal gebruik het en die duur prys daarvoor moes betaal het.
Die Nuwe Mededingende Voordeel in die KI-era
Die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie dui op 'n fundamentele verskuiwing in die kreatiewe industrie. Waar produktiwiteit en die spoed van inhoudskepping voorheen die belangrikste maatstawwe was, is die tegnologiese uitdaging om inhoud vinnig te genereer grootliks opgelos. Die implikasie is dat mededingende voordeel nie meer in die vermoë lê om groot hoeveelhede inhoud te produseer nie, maar eerder om geloofwaardige handelsmerkervarings te skep en te behou.
Die Grind & Unwind-voorval is 'n voorbeeld hiervan. Die KI-beelde was goed genoeg om realisties te lyk, maar die geloofwaardigheid van hul produkte is dadelik bevraagteken en het wantroue en woede onder die publiek aangemoedig.
Een van die belangrikste gevolge van generatiewe KI is die toenemende eenvormigheid van handelsmerkkommunikasie. Wanneer ondernemings op dieselfde KI-modelle staatmaak om inhoud te skep, begin hul visuele identiteit, taalgebruik en boodskappe al hoe meer eentonig raak. Die tegnologie word gevolglik 'n kommoditeit eerder as 'n mededingende voordeel. Vandag se sukses word nie meer bepaal deur wie KI gebruik nie, maar eerder deur die vermoë om tegnologie met kreatiewe insig, strategiese oordeel en handelsmerkgerigte denke toe te pas.
Kreatiewe kapitaal
Vanuit 'n bestuurs- en handelsmerkperspektief word kreatiewe spesialiste nie meer as operasionele hulpbronne gesien nie, maar kreatiewe kapitaal. Kreatiewe kapitaal verwys na die vermoë om oorspronklike idees te ontwikkel, kulturele verandering te interpreteer, emosionele waarde te skep en handelsmerke te posisioneer. Hierdie vermoëns kan nog nie deur algoritmes nageboots word nie, omdat dit afhanklik van menslike ervaring, intuïsie, konteks en etiese oordeel is.
Die Grind & Unwind-voorval wys hoe duur die afwesigheid van hierdie kreatiewe kapitaal kan wees. Die besparing op professionele fotografie en kreatiwiteit het uiteindelik gelei tot negatiewe publisiteit, reputasieskade en vandalisme. In plaas daarvan om kunsmatige intelligensie as 'n plaasvervanger vir menslike kundigheid te sien, behoort ons nou op mens-KI-aanvulling (human–AI augmentation) te fokus. In hierdie benadering neem KI die herhalende, tydrowende en data-intensiewe take oor, terwyl mense steeds vir kreatiewe oordeel, strategie, handelsmerkontwikkeling en kwaliteitbeheer verantwoordelik bly.
Die grootste potensiaal van generatiewe KI lê juis daarin dat dit menslike kreatiwiteit uitbrei, eerder as om dit te vervang. KI is die instrument; die mens bly die kreatiewe direkteur.
Die ironie van die KI-rewolusie
In Grind & Unwind se geval behoort ons 'n waarskuwing én 'n geleentheid raak te sien:
Dit wys dat verbruikers nie noodwendig teen KI gekant is nie, maar dat hulle uiters sensitief is vir enigiets wat hul vertroue in 'n handelsmerk kan ondermyn. Ondernemings wat hul grafiese ontwerpers, fotograwe, bemarkers en kopieskrywers uitsluitlik as inhoudvervaardigers beskou, neem die risiko om hul belangrikste mededingende voordeel prys te gee. Die organisasies wat in die KI-era gaan floreer, sal waarskynlik nie dié wees wat die meeste prosesse outomatiseer nie, maar dié wat tegnologie doelbewus met menslike kreatiwiteit integreer.
Ironies genoeg verminder die groeiende vermoë van KI om inhoud te genereer nie die waarde van menslike kreatiwiteit nie; dit verhoog juis die belang van mense wat geloofwaardige en onderskeidende handelsmerkervarings kan skep. Kunstenaars is nou op aanvraag en besighede wat toegang tot 'n kommunikasiespan het, is reeds 'n trappie bo dié wat KI as die enigste uitweg sien.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









