Professor Koos Malan se onlangse artikel in The Common Sense het baie herinneringe by my teruggebring oor hoe ek die ANC se werkwyse in die binnekring van die staatsadministrasie beleef het. Ek het hulle vier jaar lank “gedien” in 'n senior posisie as professionele staatsamptenaar sonder ANC-kaderskap. Anders gestel: ek is nooit aangestel omdat ek 'n ANC-lid was met kontakte wat my 'n senior pos kon besorg nie. Ek is bloot aangestel weens my professionele kennis en ervaring op 'n gespesialiseerde ontwikkelingsterrein waarvan kaders nie juis veel kennis gehad het nie.
Ek is doelbewus nie meer spesifiek oor die presiese posisie en ontwikkelingsterrein nie, want my doel is nie om spesifieke kaders “aan die kaak te stel” of in die verleentheid te stel nie – dit sou onprofessioneel van my wees, terwyl ek juis op professionele gronde my posisie bekom het.
My besluit om destyds vir 'n staatsdienspos aansoek te doen, en my bereidheid om uit 'n omgewing van groot gemak en persoonlike sekerheid na iets heelwat meer onseker te verskuif, was baie doelbewus. Ek het bykans 'n obsessie gehad om aan die voorpunt van ontwikkeling die nuwe Suid-Afrika in die gees van Madiba te probeer help bou. Ek is dus in 'n posisie om, in aansluiting by prof. Koos Malan, praktiese ervarings uit die binnekring van die ANC-staatsadministrasie met lesers te deel.
Aanvanklik was my ervaring dat die amptenary van die nuwe ANC-administrasie bereid was om by kundiges te leer. Daar was nog enkele kundiges uit die ou bedeling van voor 1994 oor, en hulle was van groot hulp as mentors vir nuwe aanstellings, wat omtrent altyd ANC-kaderontplooiings was. Daar was ook tydens die eerste Regering van Nasionale Eenheid, vanaf 1994 tot 1999 – waarvan die meeste mense reeds vergeet het – ou amptenare met besondere kennis wat saam met sekere senior nuwe amptenare, soos byvoorbeeld direkteurs-generaal, diens gedoen het om die oorgang te fasiliteer. Dit was deel van die voorwaardes van die CODESA-onderhandelings en die tussentydse Grondwet om die oorgang deur middel van gedeelde verantwoordelikhede op baie senior vlakke so glad moontlik te laat verloop. Ek dink nie baie mense is meer – of was ooit – bewus van daardie reëling nie.
Dit het beslis gehelp om ervaring oor te dra, maar het ook groot spanning meegebring. Ek het eerstehands hewige meningsverskille waargeneem waar die nuwe direkteur-generaal byvoorbeeld van beleid wou afwyk, maar die senior amptenaar uit die ou bedeling ernstig kapsie daarteen aangeteken het. Die uiteindelike uitkoms kon sekerlik voorspel word: die nuwe administratiewe amptenare het hulself toenemend laat geld en eenvoudig die advies van die amptenaar uit die ou bedeling geïgnoreer.
As waarnemer het dit vir my geblyk dat die nuwe administratiewe leierskap toenemend deur hul politieke meesters agter die skerms onder druk geplaas is om die handboeie van beleid los te wikkel ten einde politici meer mag te gee om die administrasie te manipuleer en selfs, vir alle praktiese doeleindes, oor te neem. Ongelukkig was die nuwe senior amptenare kaderontplooiings en het hulle, met min of geen ervaring van staatsadministrasie, voor politieke druk geswig. Dit was fataal, soos enige professionele staatsamptenaar sal kan getuig, want sodra beleid nie meer eerbiedig word nie, val die administrasie noodwendig uitmekaar.
Baie van ons onthou nog die ou Britse Yes Minister-TV-reeks. Dit kom uit die dae toe staatsadministrasie en die onderskeid tussen administrasie en politieke inmenging nog verstaan is. In daardie uitstekende Britse TV-reeks is op satiriese wyse uitgebeeld hoe die skeidslyn in stand gehou word met die doel om effektiewe en konsekwente staatsadministrasie te verseker: in die reeks sê die baie bekwame amptenare bloot, op 'n baie ordentlike manier, “Yes, Minister” vir alles waarop die minister aandring – en gaan dan eenvoudig voort om staatsbeleid “volgens die boek” te implementeer. Dit het terselfdertyd die politikus goed laat voel, terwyl staatsadministrasie en -bestuur binne goedgekeurde reëls toegepas is. Dit het beskerming aan albei kante gebied. Nog belangriker: dit het die politici nederig gehou, soos dit hoort. Politici moet hul magte uitoefen waar dit van toepassing is, soos om deur wetgewing beleid daar te stel wat dan deur die amptenary toegepas moet word solank daardie beleid nie deur die korrekte proses gewysig is nie.
Later het alle gesekondeerde amptenare uit die ou bedeling óf vrywillig die pad gevat óf, met die verstryking van hul sekonderingsperiodes, die nuwe bestel vaarwel toegeroep. Ekself het natuurlik aangebly omdat ek 'n permanente aanstelling onder die nuwe bedeling gehad het. Maar dit was nie maklik nie. My meerdere staatsamptenare aan wie ek moes rapporteer, was kaderontplooiings. Hulle was nie noodwendig almal onbekwaam nie, maar het duidelik eerder voor die politici se druk geswig as om by ontwikkelingsbeleid te hou; hulle het hulself selfs deur politici laat oortuig dat hulle wette kon verbreek. Dit was toe heel moontlik om daarmee weg te kom, want almal het mekaar se rug beskerm omdat bykans almal hul poste aan die ANC te danke gehad het.
'n Paar ou hande uit die ou bedeling wat hul rug styf gemaak het, is gou uit die stelsel gewerk. Die maklikste manier was pakkette vir vroeë aftrede. Vir ander wat nie die maklike uitweg wou volg nie, is hul professionele lewe eenvoudig hel gemaak. Hulle is valslik beskuldig, veral van hul sogenaamde “onwilligheid om te transformeer”. Lees dit as hul onwilligheid om by korrupsie en die verkragting van beleidsbepalings betrokke te raak.
'n Ander gewilde metode was om alles wat hulle gedoen het, te bevraagteken en terug te verwys met opmerkings en aanmerkings – of dit nou sin gemaak het of nie. Dit het daardie amptenare se rug geknak, want daar is dan na hulle verwys as onbevoeg – voor kollegas en minderes in vergaderings – omdat hulle nie vordering met hul werk getoon het nie, terwyl vordering natuurlik vir hulle onmoontlik gemaak is. Hulle is dan as onbekwaam gebrandmerk en het gewoonlik uiteindelik vrywillig bedank.
Nog 'n “martelmetode” om ontslae te raak van ongewenste amptenare wat nie wou saamwerk nie – lees: nie wou saamsteel nie – was om hulle toe te gooi onder onmoontlike opdragte, dikwels van 'n aard wat nie eens op hul verantwoordelikheidsterrein betrekking gehad het nie. Die uitkoms was voorspelbaar: daar is dan ook in vergaderings, voor kollegas en minderes, na hul mislukkings verwys en aangekondig dat 'n ander amptenaar – natuurlik 'n kader, meestal onbekwaam – daardie ongewenste amptenaar se verpligtinge sou oorneem. Dit was uiters vernederend en het daarin geslaag om die geteikende amptenaar spoedig te laat besluit om elders 'n heenkome te gaan soek.
Senior bestuursvergaderings was aanvanklik beperk tot die deelname van slegs amptenare en nie politici nie, soos dit hoort. Die mees senior amptenaar was die onsigbare skakel tussen die administrasie en die politikus. Daar is dan, op die oog af, behoorlike bestuursvergaderings gehou waarin besluite geneem en genotuleer is. Dit was egter nie lank voordat dit begin blyk het dat dit net soveel oëverblindery was nie. Al hoe meer bestuursbesluite is tussen bestuursvergaderings eenvoudig gewysig. Natuurlik is dit soms deur bestuurders bevraagteken, veral deur die nie-kaders, maar die antwoord was telkens dat die verantwoordelike politikus nie van die bestuur se besluit gehou het nie.
Gou het dit die presedent geskep dat wetgewende en beleidmakende funksies nie meer afsonderlik van, en onafhanklik van, administratiewe funksies was nie. Die ergste was toe dit aan die lig gekom het dat sogenaamde ANC-koukusse oor naweke by die verantwoordelike politikus se huis plaasgevind het, waar die administratiewe bestuur se besluite dan heroorweeg is. Dit het natuurlik 'n klug gemaak van die skeiding van magte en het, vir alle praktiese doeleindes, die einde van 'n onafhanklike en professionele staatsdiens beteken. Later het politici sommer senior staatsamptenare opgekommandeer en opdragte uitgedeel. Daar was geen ruimte vir besware nie.
Daar is 'n punt bereik waar senior amptenare soos ekself vir miljoene rande se begrotings verantwoordelik gehou is, maar minimale beheer oor daardie begrotings gehad het. Daar is lukraak in bestuursvergaderings bloot aangekondig dat jou begroting nou met miljoene verminder is omdat fondse elders nodig was. Geen geleentheid vir inspraak of insig nie: dit is bloot – gewoonlik deur die politici – besluit, en jy moes daarby inval.
'n Ander praktyk wat toenemend kop uitgesteek het, het met die indiensneming van nuwe amptenare te doen gehad. Aanvanklik is poste geadverteer, waarna aansoeke teen die posvereistes geëvalueer en 'n kortlys van geskikte kandidate opgestel is. Daarna is 'n paneel saamgestel wat bestaan het uit 'n menslikehulpbrondeskundige, 'n vakbondlid en die hoof van die afdeling waarbinne die nuwe aanstelling sou funksioneer. Identiese vraelyste, met 'n puntelys wat tydens die onderhoud deur alle lede van die paneel ingevul moes word, is dan beskikbaar gestel. Ná die onderhoud het die menslikehulpbrondeskundige die punte gesommeer en alle paneellede oor die uitkoms ingelig, met 'n aanbeveling van die mees geskikte kandidaat ingevolge die paneel se gesamentlike puntetoekenning. Met ander woorde: 'n baie objektiewe en regverdige prosedure vir personeelaanstellings.
Met verloop van tyd het iets snaaks egter begin gebeur. Op 'n dag lig jou persoonlike assistent jou in dat so-en-so jou as nuutaangestelde personeellid wil ontmoet. Jy ontmoet die persoon, maar het nog nooit in jou lewe sy of haar naam gehoor nie, hoewel jy deel was van die paneel wat die aanstelling moes doen op grond van 'n baie deeglike en regverdige indiensnemingsproses. Jy steek jou verbasing en onkunde weg en wend jou tot Menslike Hulpbronne vir opklaring.
Nee, sê hulle, daar is opdrag gegee deur die verantwoordelike politikus dat die vreemdeling wat jy vir die eerste keer ontmoet het, in jou departement aangestel moet word. Asof dit nie erg genoeg is nie, vind jy uit dat die aangestelde persoon wat multimiljoenrandprojekte vir lewensvatbaarheid moet evalueer, voorheen evaluasies van laerskoolkinders se vordering gedoen het en aan die verantwoordelike politikus goed bekend is, en aldus met 'n werksgeleentheid geseën is waarvoor hy nie eens naastenby geskik was nie.
Die gevolge van die besteding van miljoene rande van belastingbetalers se geld aan projekte waaroor die amptenaar nie die geringste begrip het om sinvolle aanbevelings te kan maak nie, hinder die politikus nie vir 'n oomblik nie. Inteendeel, dit gee dieselfde politikus meer ruimte vir begunstiging verder af in die ketting, tot by projekimplementering – en natuurlik tot by besluite oor wie, en op watter voorwaardes, as begunstigdes van die projek aangewys sal word.
Ek hoop van harte dat my relaas van persoonlike ervarings van hoe die ANC daarin geslaag het om die Suid-Afrikaanse staatsdiens uit te kalwe, mense se oë sal laat oopgaan vir die ontsaglike skade wat die ANC aan ordentlike en bevoegde staatsadministrasie aangerig het. Min het sedert my eie vrywillige uittrede uit die staatsdiens onder die ANC verander. Inteendeel, dit het groter, lomper en meer korrup geraak – met min uitsonderings. Dit is meestal wat nou 'n “job shop” genoem word: die indiensneming van groot getalle “werkers” om belastingbetalersgeld en diensvoordele in kaders se sakke te laat beland, ten einde hul lojaliteit te koop en hul samewerking te verseker om korrupsie op massiewe skaal moontlik te maak.
Ek eindig met 'n aanhaling uit prof. Koos Malan se artikel waarna ek hierbo verwys het en wat my genoop het om te deel wat ek eerstehands ervaar het van die Suid-Afrikaanse tragedie van staatsdiensineenstorting. Ten einde meer positief te probeer klink oor hoe die ineenstorting omgedraai kan word – indien dit wel moontlik is – gee ek die professor die laaste sê:
“… once the culture of voluntary compliance with the norms (in this case the norms of public office) has largely disappeared, the structures of law and a Constitution, including courts and commissions of inquiry, can no longer correct it.
Only a replacement by a constitutional order or orders with new ruling elites and accompanying new values, including a corrected sense for public office, can do this.”
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










