Militêre Paraatheid as Noodsaak
Lande wat nie vir oorlog voorberei nie, nooi dit uit.
Oorlog of gewapende konflik is so oud soos die menslike geskiedenis. Tog is dit vir die meeste mense moeilik om te aanvaar dat lande geen ander keuse het as om hulle op die gebeurlikheid van oorlog of gewapende konflik voor te berei nie — of hulle nou daarvan hou of nie — omdat dit deel van die menslike natuur is om probleme of verskille soms deur middel van geweld op te los.
Oorlog of gewapende konflik is dus eerder iets waaraan ons nie wil dink nie. Ons ontken die moontlikheid daarvan as 'n geestelike skild teen die onafwendbare. Dit is verstaanbaar, want oorlog spel net ellende. Maar is die ellende wat lande ervaar wanneer hulle deur 'n vyand verslaan word, nie dalk erger as die opoffering wat dit verg om so onoorwinlik moontlik te wees nie?
Si vis pacem, para bellum is 'n bekende Latynse spreuk wat vertaal kan word as: “As jy vrede wil hê, berei voor vir oorlog.” Dit kom oorspronklik van die Romeinse militêre skrywer Vegetius en dra die idee oor dat ware veiligheid, stabiliteit en afskrikking waarskynliker verseker kan word deur die nodige mag en gereedheid te handhaaf om jouself teen aggressors te verdedig.
Die filosofiese konsep draai om die idee van vrede deur magsvertoon. Dit bly hoogs relevant in die hedendaagse wêreldpolitiek, waar state strategies voorbereid moet wees op die moontlikheid van militêre aggressie deur vyandiggesinde lande. Deur die vermoë te handhaaf om vyandelike aanvalle sigbaar af te weer, kan nasies konflik voorkom voordat dit ontstaan. Trouens, dit is een van 'n staat se primêre pligte om voorbereid te bly.
Selfs neutrale state moet voorbereid wees. Switserland is by uitstek 'n voorbeeld van 'n neutrale staat wat 'n hoë vlak van militêre gereedheid handhaaf. Dit staan bekend as “gewapende neutraliteit”. Switserse neutraliteit is dus nie passief nie; dit is hoogs gewapen. Die land handhaaf 'n dienspliggebaseerde militêre stelsel, uitgebreide bergvestings en moderne lug- en grondmagte. Die filosofie is om die koste van 'n inval vir enige aggressor buitensporig hoog te maak: Si vis pacem, para bellum.
Leërs moet eers Leer Veg
Meer nog: om oorlewing te probeer verseker wanneer dít gebeur wat niemand wil hê moet gebeur nie, moet state voortdurend hul gevegseenhede oplei, oorlogsoefeninge uitvoer en hoogs voorbereide gevegsmagte deurlopend gereed hou. Daar kan selfs so ver gegaan word as om te beweer dat lande wat 'n hoë waarskynlikheid het om by oorloë betrokke te raak, nie moet skroom om namens strategiese bondgenote aan konflikte deel te neem nie. Dit gee hul soldate gevegservaring en bied die geleentheid om hul wapentuig, oorlogsbeplanning, bevel en beheer, asook logistieke ondersteuning en rugsteun te toets — alles waarsonder 'n oorlog nie suksesvol gevoer kan word nie.
Moderne militêre alliansies soos NAVO steun swaar op voortdurende gesamentlike oefeninge, soos Steadfast Defender, om te verseker dat verskillende nasies doeltreffend kan kommunikeer, logistieke hulpbronne kan deel en as 'n samehangende eenheid kan veg. Weermagte wat net op papier goed lyk — met ander woorde, slegs in teorie — beteken niks nie. 'n Goeie voorbeeld is die vinnige ineenstorting van die Franse weermag in 1940, wat grootliks te wyte was aan verouderde leerstellings, rigiede bevelstrukture en 'n versuim om by moderne, snelbewegende oorlogvoering, oftewel Blitzkrieg, aan te pas.
Daarenteen het Nazi-Duitsland voor die Tweede Wêreldoorlog, deur middel van die Condor-legioen, saam met die Sowjetunie aktief aan die Spaanse Burgeroorlog deelgeneem. Duitsland het dié konflik spesifiek gebruik om die Luftwaffe se taktieke vir noue lugondersteuning en die vroeë Panzer-tenks te toets. Dit het deurslaggewend geblyk in Duitsland se vroeë oorwinnings tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Werklike konflikte bring gebreke aan die lig wat simulasies nie kan uitwys nie. Die oorlog in Oekraïne dien tans as 'n omvangryke, intydse toetsterrein vir Westerse en Russiese hommeltuigoorlogvoering, elektroniese steuring en lugverdedigingstelsels. Weermagte en kontrakteurs herontwerp hul toerusting blitsvinnig op grond van hierdie “regstreekse” data. Soveel so dat dit klink asof Amerika nou ook skarrel om laer-tegnologiese, maar meer toepaslike en aansienlik goedkoper, wapentuig vir sy oorlog in die Midde-Ooste te vervaardig.
Tech is Top
Die moderne era wys dus dat voorbereiding vir oorlog nie meer net oor die mobilisering van gevegseenhede gaan nie, maar ook oor snelle tegnologiese aanpasbaarheid — selfs wanneer dit tegnologiese afskaling vereis.
Die wapenbedryf, oftewel die militêr-industriële kompleks, is ook van kardinale belang. Talle nasies verskaf byvoorbeeld wapentuig aan Oekraïne, wat effektief as 'n teater dien waarin getoets word hoe Westerse pantservoertuie, artillerie en lugverdediging teen Russiese elektroniese blokkering, hommeltuie, artillerie, tenks en ander wapentuig vaar.
Teen die agtergrond van die argumente hierbo: Hoe lyk ons eie land, Suid-Afrika, wanneer dit beoordeel word aan die hand van die noodsaaklike paraatheid om landsburgers teen aggressie van buite te beskerm, ongeag hoe onwaarskynlik dit tans mag lyk? Of, miskien nader aan die werklikheid: Veronderstel Suid-Afrika moet om die een of ander rede troepe na die Demokratiese Republiek van die Kongo stuur. Sal ons troepe teen 'n rebellemag opgewasse wees? Sal hulle oor die nodige krygstuig, lugsteun en logistieke ondersteuning beskik om doeltreffend te wees? Of sal hulle die wit vlag hys en met hul sterte tussen die bene na Suid-Afrika terugkeer — dalk boonop aan boord van 'n ander land se lugdiens?
Wel, dalk het ons nou ons punt gemaak, al is dit nie noodwendig 'n smaaklike een nie.
“Oor en uit”, dan, soos ons in die dae toe ons as Suid-Afrikaners by 'n veel vroeëre oorlog of konflik betrokke was, oor ons comms — kommunikasie — gesê het.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










