Alle ervare politieke analiste waarsku dat die ANC se vermoë om kiesers te mobiliseer, nooit onderskat moet word nie. Dit geld selfs vir hul huidige pogings in die aanloop tot die plaaslike verkiesings van November 2026, wat deur baie analiste as uiters swak beskou word — en met reg ook — soos ek self onlangs in 'n artikel hier op OntLaer uitgewys het. Tewens, ek het ook na twee onlangse podsendings van baie geloofwaardige organisasies gekyk wat so vol gelagtery was dat 'n mens kon dink dat dit komedie was waaroor die podsendings gegaan het. Maar inderdaad was die ANC se onbeholpe verkiesingsveldtog die besprekingspunt.
Daar is egter redes om die ANC nog nie heeltemal af te skryf nie. Die ANC-handelsmerk is 'n magtige een met baie magiese aantrekkingskrag vir miljoene der miljoene Suid-Afrikaners. Hul destydse geloofwaardigheid as die bevryders van die onderdrukte swart Suid-Afrikaanse bevolking het steeds lojaliteitswaarde onder aansienlike getalle Suid-Afrikaners.
Die ANC is ook by verre die dominante “vennoot” in die RNE, met politieke mag wat skaamteloos deur die partylede in die regering gebruik word om steun op verskeie maniere te “koop”. Die amptenary van staatsdepartemente, plaaslike owerhede en ondernemings in staatsbesit voel ook dat hulle die ANC iets verskuldig is vir hul poste en vir die behoud daarvan. Dis 'n sterk aansporing wat uitkring na afhanklike familielede wat ook besef waar hul lewensmiddele vandaan kom.
Dink dan ook aan die nagenoeg vier uit elke tien Suid-Afrikaners wat elke maand die een of ander maatskaplike toelaag van die regering ontvang en die ANC daarvoor bedank.
Moet ook nie die groot getalle sakelui vergeet wat hul kontrakte te danke het aan die ANC se korrupte tendertoekennings nie. Hulle het met omkooppraktyke hul kontrakte bekom, en vir hul volgende toekenning of kontrakverlenging is hulle afhanklik van 'n korrupte ANC-politikus of -amptenaar aan die voorpunt van die korrupsieketting.
Gemelde ANC-sterkpunte, baie daarvan onsmaaklik in die mond van uitgeslote kaders en ander doodgewone Suid-Afrikaners sonder toegang tot die korrupsieketting, gaan weer baie kiesers oortuig om eerder weer vir “his master’s voice” te stem.
Desnieteenstaande gaan die ANC se steun volgens alle aanduidings wel aansienlik daal in vergelyking met vorige verkiesings. Dit tel uiteraard in die guns van alternatiewe politieke partye, maar ongelukkig blyk dit dat baie kiesers wat deur die ANC se patetiese rekord as regeerders ontnugter is, eerder nie sal gaan stem nie as om vir 'n ander politieke party te stem.
Met alle aanduidings dat die ANC ná die verkiesing van November 2026 aansienlik swakker gaan wees as in enige vorige tydperk, is daar nou baie spekulasie en scenarioskepping waarvolgens die moontlike gevolge van die ANC se aansienlike verswakking gemodelleer word. Sekere uitkomste kan met redelike sekerheid voorspel word, soos die toename in koalisieregerings in plaaslike owerheidsgebiede en dat Zuma se MKP in KwaZulu-Natal koning gaan kraai en selfs elders as 'n faktor gaan ontpop waarvan ernstig kennis geneem sal moet word.
Baie huidige ANC-raadslede gaan ook hul posisies kwyt wees — na raming tussen 500 en 1 000 — wat uit 'n persoonlike perspektief uiters traumaties gaan wees, aangesien hul lewensonderhoud eensklaps gaan verdwyn. Té veel huidige raadslede het nie die nodige kennis en ervaring om buite die patronaatstelsel en sonder die korrupsiepraktyke van die ANC te oorleef nie. Hul reaksies is onvoorspelbaar, maar ons weet dat benoude katte benoude spronge maak. Een teenreaksie kan wees om die nuwe raadslede se lewens so moeilik moontlik te maak. Die ontstellende getal politieke moorde in Suid-Afrika maak dit ook moontlik dat sommige nuwe raadslede se lewens selfs op die spel sal wees. Dit kan baie van die voordele van verandering in administrasies wat uit die verkiesings kan voortspruit, tot niet maak.
Dis dalk teen bogenoemde agtergrond dat die gerespekteerde en uiters bekwame dr. Frans Cronjé van The Common Sense-aanlynkoerant onlangs, in 'n video-onderhoud met Gabriël Makin van dieselfde koerant, na my mening vreemde dinge gesê het. Tewens, ek het sy sienings skokkend gevind. Kyk gerus self by die skakel na die volledige onderhoud.
Waarom is ek persoonlik geskok? My interpretasie van wat dr. Frans sê, is dat ons die ANC in sy uur van swakheid genadig moet wees. Om pragmatiese redes moet ons nie te hard probeer om die ANC tot verantwoording te roep nie. Ons moet eerder die ander pad kyk en probeer om hulle as ANC sover te kry om ons vernietigende ekonomiese beleid reg te stel sodat ons ekonomie weer behoorlik kan groei. In 'n groeiende ekonomie sal dit nie juis nodig wees om oor korrupsie te stres nie, want die impak daarvan sal nie vernietigend wees nie. Korrupsie is in elk geval oral 'n gegewe.
Ek herhaal dat ek hier bloot my eie interpretasie weergee van wat ek glo ek hoor dr. Frans meen 'n goeie benadering sou wees.
Ek is ook, soos hy, ten gunste van pragmatisme wanneer dit van pas is, maar ek voel baie sterker oor etiek en die handhawing van reg en geregtigheid, in plaas daarvan om onbeskaamde skelms hul oortredings te “vergewe” deur hulle daarmee te laat wegkom. Dis die ekwivalent daarvan om aan die eise van 'n afperser toe te gee. Dit laat die afperser bloot glo hy kan maar voortgaan met wat hy doen.
Dalk sou ek minder skepties gewees het oor dr. Frans Cronjé se uitgangspunte, soos deur my geïnterpreteer, as ek nie op bykans dieselfde tyd as die podsending waarna ek verwys het, 'n briljante opiniestuk raakgelees het deur 'n ewe gerespekteerde en kundige opinievormer, David Ansara, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting nie. Die artikel, getiteld “Don’t Compromise with Socialists”, is op 21 Augustus 2026 in The Common Sense van die einste dr. Frans Cronjé gepubliseer. Die titel sê dit alles, en die inhoud daarvan kan opgesom word in die volgende woorde van David, wat ek in Afrikaans laat vertaal het: “Vir dié van ons wat die vordering van sosialisme deur ons samelewing wil stuit, is dit dus nodig om ferm en verantwoordelike vorme van weerstand te bied. Die alternatief is om kompromie te soek, maar die beste wat dit kan bereik, is om jou 'n bietjie tyd te koop. Die ANC verstaan en waardeer die balans van magte.”
David waarsku juis teen wat ek verstaan Frans wil sê moet gebeur ten opsigte van die sosialisties-georiënteerde ANC. David argumenteer dat kompromie met vyandige of sosialisties-georiënteerde beleide 'n strategiese strik is wat slegs skade vertraag, en dat ferm, beginselvaste weerstand eerder nodig is. Dit klink vir my na die teenpool van Frans se gedagtegang soos ek dit interpreteer het. Ansara beskryf die ANC se Marxisties-Leninistiese NDR as 'n geleidelike strategie wat vooruitgaan op grond van die “balans van magte”. Weerstand kan tydelike terugtrekkings afdwing, maar dit is taktiek; die druk hervat later. Ferm, verantwoordelike weerstand is dus noodsaaklik om die vordering van sosialisme te stuit. Kompromie koop slegs beperkte tyd.
Daardie onderduimse ANC-manier van dinge doen, het volgens oorlewering ook uit oudpresident Zuma se mond gekom, deurdat hy blykbaar by geleentheid iets soos die volgende kwytgeraak het: As jy jou vyand met jou bajonet 'n steekwond toedien en jy tref been (m.a.w. daar is weerstand), trek vir eers die bajonet terug en soek dan later 'n sagter plek vir die doodsteek. Duidelik was sy metafoor bedoel om die strategie van aanval, gevolg deur onttrekking indien dit nie volledig suksesvol is nie, te beskryf — wat natuurlik daarop gemik is om jou vyand te laat glo dat hy jou aanslag oorleef het, net om daarna die onverwagte doodsteek toe te dien wat die aanvanklike bedoeling met die aanval was.
Dieselfde sal, na my mening, geld ten opsigte van sagkens omgaan met ANC-kriminele wat belastingbetalers se geld op korrupte wyse tot eie voordeel gesteel het, soos dit klink of dr. Frans om pragmatiese redes meen moet gebeur. Maar wat van beginsels in daardie geval? Kan die versuim om teen korrupsie op te tree om pragmatiese redes geregverdig word, terwyl dit volgens Ansara se siening in elk geval slegs deur die ANC benut sal word om tyd te wen totdat hulle hul onbuigsame Marxisties-Leninistiese ideologie van sosialisme weer volstoom kan implementeer sodra hulle weer — “by hook or by crook” (my woorde) — mag teruggewen het?
Ek het op grond van twee ander baie onlangse podsendings, onderskeidelik onder die vaandels van die Instituut vir Rasseverhoudinge se Daily Friend en die Vryemarkstigting se Rational Standard, verdere regverdiging vir my standpunt gekry dat daar geen genade vir die ANC moet wees noudat sy hegemonie besig is om te verkrummel nie. Deelnemers aan daardie podsendingsdebatte het groot name ingesluit soos dr. Martin van Staden, Nicholas Lorimer, Hermann Pretorius, Nicholas Woode-Smith en Zakhele Mthembu. Hulle het ook 'n geen-genade-ingesteldheid teenoor die ANC voorgestaan, en die woorde “Machiavelliaanse optredes” as noodsaaklik om die ANC se rug te breek, het telkens in die gesprekke na vore gekom.
Ja-nee, soos ons tot anderstaliges se konsternasie sê: As daar die geringste kans is om die onbetroubare en agterbakse ANC se hegemoniese houvas op die land te vernietig of te verswak, moet ons nie huiwer om dit bloot om pragmatiese redes na te laat nie. Korrupsie en diefstal kan onder geen omstandighede oor die hoof gesien word nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










